Niemand hoef té lank te dink waarom Dinokeng so gewild is nie. Waar anders kan jy skaars ’n uur se ry uit die stad jou tent in die Bosveld opslaan én die Groot Vyf uit jou eie voertuig dophou?

Boonop is die winters hier noord van die Magaliesberg heelwat draagliker, en vir warmer wintersdae kan jy selfs ’n kortbroek of swembroek inpak.

Toe die Dinokeng-reservaat destyds geproklameer is, was daar aanvanklik min kampplekke, maar deesdae lyk dinge heel anders en dit lyk of daar elke klompie maande ’n nuwe een opskiet.

Die Afsaal-woonwa-en-boskamp is een so ’n plek.

Die eienaars, Pieter en Louise Snyman, het ’n paar jaar gelede met hulle aftrede besluit om hulle hier te kom vestig.

’n Rukkie later het die gedagte van ’n kampterrein posgevat en hulle het volstoom aan die werk gespring.

Maar hulle is amper dadelik weer in hulle spore gestuit deur die Covid-19-grendeltyd.

Ná wat “soos ’n ewigheid” gevoel het, kon hulle weer hand aan die hef slaan – en op 12 Maart vanjaar het hulle eerste gaste ingeboek.

Persoonlike diens is die wagwoord by Afsaal.

Voor die tyd stuur Pieter alle inligting per WhatsApp aan die naweek se kampeerders, en ná die naweek word die groepie tot niet gemaak.

By jou aankoms word jy persoonlik ontvang, en hy en Louise kom loer gereeld deur die loop van die naweek in om seker te maak almal is gelukkig.

En laatmiddag kom maak hulle seun Blake ’n draai om te hoor of iemand hout nodig het.

Die uitleg van Afsaal se kampterrein is beplan om die natuur so min as moontlik te versteur.

Pieter sê dit het baie meet en pas gekos om die staanplekke uit te merk; uiteindelik het 15 klein bome in die slag gebly, maar hy het dadelik apiesdorings in hulle plek geplant.

Om mooi tussen die bome in te pas is die 15 staanplekke deur die kamp versprei.

Met ’n gemiddelde grootte van ’n dorpserf het jou staanplek meer as genoeg ruimte, en danksy die 20-30 treë tussen die kampkolle is jy privaat.

Die kamp is vol bladwisselende bome wat heerlike koelte gooi in die somer, maar in die winter die sonnetjie deurlaat om die oggendkoue te verdryf.

Die hele terrein het kortgesnyde veldgras wat sorg vir ’n aangename boskampgevoel.

Nege van die staanplekke (nr. 4, 5, 6, 7, 9, 10, 13, 14 en 15) is langs of baie naby aan die grensdraad, en as jy gelukkig is, stap ’n leeumannetjie of ’n troppie olifante ’n paar meter van jou tent af verby.

Gelukkig kan jy veilig voel, want daar’s ’n elektriese heining tussen jou en die diere.

Staanplek nr. 13 en 15 is ’n goeie keuse as jy effens eenkant wil staan.

En as jy nie van grond onder jou voete hou nie, is daar in die suidoostelike hoek van die kamp vyf staanplekke met ’n gruisvierkant.

Elke staanplek het ’n braaier-op-wiele met ’n rooster, ’n kragpunt (gewone huissok), kraan en vullisdrom.

Onthou jou swartpot, toeknyprooster en driehoekstaander, want hier is ronde grondbraai-plekke vir daardie lekker maak-kos-op-die-grondervaring.

Niemand gaan jou kwalik neem as jy die ablusiegeriewe miskyk nie, want van buite af lyk die gebou soos ’n perdestal, kompleet met houtstaldeure.

Hier is agt “stalle” – vier aan elke lang sykant van die gebou – en as jy die deur agter jou toetrek, het jy alleengebruik van die badkamer.

Ses van die badkamers is toegerus met ’n stort, een met ’n bad en die ander een is vir rolstoelgebruikers.

Die afwerking binne is modern met teëls in aardse kleure.

Die ronde wasbak lyk omtrent soos ’n keramiekkunswerk en die krane het ’n koperafwerking.

Die granietblad weerskante van die wasbak is groot genoeg vir jou badkamergoed en voor die wasbak is ’n groot spieël.

Twee geteëlde bankies, een in die aantrekplek en een in die stort, het pakplek vir jou klere en badsakkie.

In stiller tye (wanneer daar agt of minder besprekings is) kry jy jou eie badkamer en jy kan sommer jou badgoed daar los.

Aan die een sykant van die gebou is die skottelgoedopwasplek, met langsaan ’n klein vertrek waar jy jou kassettoilet kan gaan uitspoel.

Die gewildste uithangplek by enige kampplek is waarskynlik die swembad, veral in die Bosveld – en verál in die somer.

Afsaal s’n is groot genoeg vir almal in die kamp, maar klein genoeg sodat die water nie te ysig raak in die winter nie.

In die middel is ’n klein ronde swembad met ’n ingeboude bankie waar Pa en Ma kan sit terwyl hulle die kleinspan dophou.

By Afsaal kan jy behoorlik jou batterye herlaai. Jou grootste besluit van die dag gaan wees of jy moet gaan swem of eerder rustig voor jou tent moet sit en die wildheining moet dophou. Met al die voëls wat in die Bosveldbome baljaar, is dit ook ’n goeie plek om die jongspan se voëlkykopleiding te begin – onthou dus om die voëlboeke en verkykers te bring.

Reg rondom die swembad is ’n dik kikoejoetapyt met ’n klompie bome, en op die rand hiervan vyf grasafdakkies met ’n geteëlde vloer en een toegeboude sykant.

Die boma en lapa is langs die swemplek en, net soos met die afdakkies by die swembad, geld die beginsel dat jy dit kan gebruik as jy eerste hier is – niemand kan bespreek nie.

Net buite die kamp se agterste hek is ’n klein dammetjie waar jy tot bo-op die wal kan ry vir ’n laatmiddagskemerkelkie terwyl jy wag dat die diere kom drink (vra vir Pieter om die oop te maak).

Pieter-hulle het ook ’n klompie basiese dinge soos hout, ys en lekkergoed te koop.

Die Dinokeng-reservaat het twee opsies vir wildkyk: jy kan op ’n begeleide wildrit gaan saam met een van die lodges, of jy kan in jou eie voertuig op die selfryroetes gaan ry.

Die roete is elke dag van 06:00 tot 18:00 oop en sluit 120 km se grondpaadjies in wat deur die reservaat kronkel.

Onthou, vir die selfryroetes het jy ’n permit nodig – koop dit by die reservaat se hekke, by dinokengreserve.co.za, óf by Dinokeng Events in die Safari Mall (S25.347443 E28.370807), sowat 7 km van die Tau-hek af. (Dinokeng Events is Maandae tot Saterdae van 08:00 tot 17:00 oop en Sondae 08:00-14:00.)

Koop sommer ook vir jou ’n kaart (R30) wanneer jy jou permit gaan kry.

Hierop word die reservaat in 12 gebiede verdeel en al die roetes en padaanwysers word gewys – dus weet jy te alle tye waar jy is.

Die kaart dui ook aan waar die 4x4-roetes, piekniekplekke en restaurante is.

Goeie nuus is dat die roete is geskik vir enige gewone sedanvoertuig.

By elke gebied word die volopste vyf wildsoorte aangedui – natuurlik is gebied nr. 2 en 3, waar onderskeidelik die jagluiperds en leeus graag uithang, die gewildste.

Onthou, Dinokeng is ’n Groot Vyf- reservaat en jy mag slegs by piekniekplekke uit jou voertuig klim.

As jy jou piekniekmandjie by die kamp vergeet het, kan jy by een van die vele lodges op die roetes indraai vir iets te ete.

As jy moeg gery is, kan jy rustig by Larry se dam (gebied nr. 3, padaanwyser 470A) oorkant die Dula Nokeng-piekniekplek sit en die watervoëls en diere dophou wat kom keel natmaak.

Hou veral jou oë oop vir visarende.

Madeleine en Derrick Maree van Pretoria, hulle kinders, Altus (5), Zak (4) en Mienke (1), en die kinders se nefie Markus (3) kamp met ’n Sprite Splash wat hulle met ’n Volkswagen Caravelle sleep.

“Die staanplekke is ruim en ons hou daarvan dat ’n mens so ’n entjie weg is van jou bure. Die ablusiegeriewe is baie mooi en dit is lekker om ’n bad vir die kleintjies te hê. Die deel by die swembad is ’n lekker plek om te kuier, veral onder die grasafdakkies. Die kinders is ook heeldag op hulle fietse. En dan is daar natuurlik die wildrit!”

Kortliks | Afsaal

Kampplek 15 staanplekke met bladwisselende bome en veldgras.

Ablusiegeriewe 8 badkamers, waarvan 1 ingerig is vir rolstoelgebruikers.

Prys R400-R500 per staanplek, afhangend van wanneer jy kamp.

In die hoogseisoen word 6 mense per staanplek toegelaat en in die stiller tye tot 8. ’n Maksimum van 2 ekstra kampeerders word per staanplek toegelaat teen R100-R180 p.p.

Onthou ook die reservaat se toegangsgeld, wat ’n bewaringstarief van R80 p.p. (R50 vir kinders) en ’n voertuigtarief van R50 insluit.

Selfrypermitte kos R250 p.d. (R380 vir 3 dae; R450 vir ’n week).

Kontak 079 754 5442; info@afsaalkaravaanenboskamp.com; afsaalkaravaanenboskamp.com

Aankoms- en vertrektyd 14:00 en 10:00.

Naaste groter dorp Pretoria 40 km.

Hoe lyk die pad? Heelpad teerpad.

GPS S25.379424 E28.336794

Ry & Sleep sê Jy gaan meer as ’n dag nodig hê as jy al die wildpaadjies wil verken – koop dus sommer van die begin af ’n selfrypermit wat vir 3 dae geldig is