
Toe ek ’n tiener was, het ons gereeld met die Bainskloofpas verby Tweede Tol in die Limietberg-natuurreservaat gery. Maar onder die vorige bedeling is ons nie toegelaat om daar kamp nie.
Ek het egter geweet ek sal wel eendag hier kom uitspan. Ek en my vrou, Joan, het onlangs al ons kamptoerusting in my Nissan NP200 gepak en saam met familie (my suster Amberine Layman en haar dogter Maxine Smith) en vriende (Eugene en Audrey Dryding, en Leon en Charlene Manuel) op ’n private staanplek uitgespan.
Beskryf Tweede Tol.
Dit is pragtig. Die natuurskoon, bome, rivier en ooraanbod van ongelooflike rotspoele is my idee van hemel op aarde.
Hoe lyk die staanplekke?
Hier is nie elektrisiteit nie, en dit is ’n goeie ding. Die meeste van die staanplekke het koelte, maar gras is skaars. ’n Mens moet ook mooi kyk waar jy jou tent opslaan, want hier is heelwat boomwortels, en van die staanplekke is nogal skuins.
Die private staanplekke is omhein en elkeen het sy eie ablusiegeriewe en kombuis. Hier is ook ’n tafel met bankies by elkeen.
Hoe lyk die ablusiegeriewe?
Dit is basies, maar netjies. Niks deftigs nie, maar dit word daagliks skoongemaak. Die ligte in die ablusiegeriewe word elke aand om 10 nm. afgeskakel.
Watter aktiwiteite is hier om ’n mens besig te hou?
Hier is ’n speelparkie vir die kinders. Maar behalwe dit kan jy ook gaan stap of swem en ontspan by die rotspoele.
Het jy enige spesiale voorbereidings getref vir julle besoek?
Omdat die staanplekke nie krag het nie, het ek my gassilinders gepak vir kosmaak, my LED-lampe se batterye gelaai, en seker gemaak ek het genoeg ys en hout.
Ek wou nie die kampterrein verlaat terwyl ons hier kamp nie. Die naaste winkel is op Wellington, 12 km weg, en ons het met dit in gedagte gepak. Hulle verkoop wel hout by die hek.
Kontak 021 483 0190; capenature.co.za
GPS S33.570379 E29.097977
Hierdie artikel het oorspronklik in Mei 2018 verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.