Deel

Dra drie ‘gidse’ tot die Langeberg-streek in jou gatsak

akkreditasie
Dis van die mooiste dele in Suid-Afrika met die beste kos en wyne. En nou maak ’n reeks gratis apps seker dat jy niks misloop as jy weer in Robertson, McGregor, Ashton of Montagu kom draai nie.

Dis van die mooiste dele in Suid-Afrika met die beste kos en wyne. En nou maak ’n reeks gratis apps seker dat jy niks misloop as jy weer in Robertson, McGregor, Ashton of Montagu kom draai nie.

Jy het nog nie gasvryheid beleef voordat jy ankers gegooi het in die Langeberg-streek nie. Dis die tuiste van ’n hele paar topwynkelders in die land, goeie restaurante, staproetes en swemgate…  Hier is selfs ’n warmwaterbron. Maar waar kry jy al die inligting oor die streek in ’n japtrap bymekaar as jy wil kom kuier? Die Wynlande het onlangs 13 apps oor dorpe in die streek beskikbaar gestel. Hier is alles wat jy van die dorpe in die Langeberge kan uitvind.

1. Robertson

Só maak jy kontak

Web: www.robertsontourism.co.za

Tel: 023 626 4437

E-pos: info@robertson.org.za

Stap deur ’n dorp met ’n geskiedenis wat oor 160 jaar strek en verwonder jou aan mooi uitsigte en natuurskoon. Op die dorp self staan pragtige Victoriaanse geboue langs strate waar die jakarandas bloupers blom. Robertson is bekend vir sy wyn en is die oorsprong van “klippies-en-Coke”, maar jy sal hier baie meer vind as wingerde. Die laaste paar jaar het die dorp ook ’n baken geword vir avontuurreisigers wat wil valskermspring, perdry of stap. Met ’n verskeidenheid van verblyfopsies – vanaf herberge vir rugsakreisigers tot vyfsterakkommodasie, B&B, gastehuise en gasteplase – sal jy iewers ’n plekkie kry waar jy jou kan tuismaak.

Laai die app hier af: Android | iOS


2. McGregor 

Só maak jy kontak.

Web: www.tourismmcgregor.co.za

Tel: 023 625 1954

E-pos: info@tourismmcgregor.co.za

As jy rus en vrede soek, kom blaas stoom af op McGregor, ’n dorpie skaars 20 km buite Robertson wat aan die voet van die Riviersonderend-berge geleë is. Trouens, dis so rustig hier dat selfs die donkies by die versorgingsplaas Eseltjiesrus kom aftree. Hier lyk dit asof die tyd in die 19de eeu gaan stilstaan het, met pragtige rietdak-kothuisies, vrugte- en olyfboorde en wingerde. Vir dié met rysmiere is daar hope buitelug-aktiwiteite, soos stap-, bergfiets- en 4x4-roetes, terwyl dié met “reismiere” luilekker in die kunsgalerye, wynkelders en restaurante kan kuier. Verblyfopsies sluit in elegante B&B’s, basiese selfsorgeenhede en plaashuise. 

Laai die app hier af: Android | iOS


3. Montagu en Ashton

Só maak jy kontak.

Web: www.montagu-ashton.info 

Tel: +27 (0) 23 614 2471 of +27 (0) 23 614 2728
E-pos: anne-marie@montagu-ashton.info 

Straatdadres: 24 Bath-straat, Montagu, 6720

As jy vanaf Robertson die bekende R62 in die teenoorgestelde rigting as McGregor neem, kry jy weer vir Ashton (18 km) en Montagu (30 km). Ashton is ’n vriendelike en gasvrye plaasgemeenskap, en die dorp word met Montagu verbind deur die pragtige Kogmanskloofpas, wat oorspronklik deur Thomas Bain gebou is. Die oorblyfsels van ’n ou Britse fort kan steeds in die pas gesien word. Montagu is so mooi en die wyn so lekker, dat dit vir David Kramer aan die sing gesit het. Montagu het verblyf vir elke smaak en begroting. Hier kan jy kamp, in ’n berghut of stylvolle gastehuis bly, of jou batterye by Montagu se warmwaterbron kom herlaai.

Laai die app hier af: Android | iOS


Laai só enige van die Wynland-apps af

Wat kan jy verwag: Elke app bevat ’n kaart, verblyfinligting, doendinge in die streek, nuusbrokkies en ’n kalender met gebeure en feeste in die omgewing. As jy effens rigtingbeduiweld is, gee die GPS-funksie akkurate aanwysings na eet- en blyplekke. 

Die apps is gratis vir iOS- en Android-toestelle.

Apps is beskikbaar vir:

Stellenbosch 

Franschhoek 

Dwarsrivier

 Paarl 

Wellington 

Worcester 

Breedekloof 

Wolseley 

Tulbagh 

Ceres 

Robertson 

McGregor 

Montagu-Ashton

Laai dit af in die App Store of by Google Play. Soek vir die dorpnaam of “Indigo New Media” en laai die app af wat jy wil gebruik.