Die koffiewinkel op die Rosemary Hill-plaas het so ’n kuierstoep, en in die wintermaande is die kaggel ook ’n lekker wegkruipplek. Rosemary Hill is ’n organiese plaas en die mense is baie gesteld op die omgewing. Soveel as moontlik word herwin en herbruik en waar beskikbaar, word vars produkte vir die spyskaart op die plaas gekweek.
Behalwe vir die koffiewinkel, is hier 33 km se fietsry-, hardloop- en stappaadjies. Vandaar die The Original BBB oftewel Bikers Breakfast Bun (R36). Dis ’n sesam-broodrolletjie met cheddar, spek, tamatie en ’n gebakte eier. Die Plaas Brêkfis (R100) is ook aan te beveel – jy kry eiers, spek en ’n 150 g-beeslendestuk afgerond met chakalakasous en kluitjies. Heerlik.
Die spyskaart het ’n paar Banting-vriendelike opsies en glutenvrye brood. Jy kan verder ’n verskeidenheid ligte etes bestel en op die spyskaart is ’n hele paar opsies vir kinders. Hier is ook speelplek vir die jongspan, en ouers kan van die stoep af ’n oog hou.