Big Fish-Woonwapark Hengelplaas

Skaars 700 m van waar die N2 by Jeffreysbaai oor die Gamtoosrivier loop, lê die Big Fish-woonwapark teen die oewer.

Die oord loop byna ’n kilometer teen die rivier af, en boonop mond die rivier skaars 5 km verder in die see uit.

Dit beteken jy gaan hier in die “binneland” seevis uittrek.

Hier is altesame 38 staanplekke waarvan 14 in ’n ry langs die water lê.

Al die staanplekke is mooi gelyk en op gras.

Elkeen het ’n kraan met munisipale water, ’n gemesselde braaiplek (met sy rooster), ’n lig met sy eie skakelaar, en ’n kragpunt (blou Fredlin-proppe).

Hier is twee aparte badkamergeboue met altesame 14 gesinsbadkamers tussen die staanplekke, elk met ’n opwasplek langsaan.

Elke badkamer het ’n bad of stort plus ’n toilet.

Die parkie vir die kinders het twee trampoliens, swaaie en wipplanke – en dan die klouterraam en ’n swembad, vanwaar jy nog ’n uitsig het oor die rivier.

Wanneer dit by hengel kom, het alle kampeerders maklike toegang tot die rivieroewer, maar onthou, jy het ’n hengelpermit nodig.

As joune verval het of jy kom dalk uit die binneland, kan jy by die poskantoor op Jeffreysbaai gaan aanklop.

Maak net seker oor die soort en getalle vis wat jy mag vang.

Die oordmense is voorstanders van die vang-en-vrylaatreël, maar as jy ’n vars vis op die kole wil gooi, is dit in die haak.

As jy van ’n boot af wil hengel, is hier ’n gawe lanseerplek net verby die laaste staanplekke by die oewer.

Naby die swembad is die eienaars besig om vier private staanplekke teenaan die rivier in te rig.

Elk van hulle kry plaveisel en, natuurlik, ’n eie badkamer.

 

Kortliks | Big Fish

Vis Onder meer harder, kabeljou, knorhaan, elf, steenbras, josefvis, balkstertplatkop, Indiese draadvin, baberpaling, wit seebaber en leervis.

Kampplek 38 gelyk staanplekke op gras waarvan die helfte koeltebome het. Altesame 14 van die staanplekke is teen die water.

Ablusiegeriewe 14 gesinsbadkamers vir almal se gebruik.

Prys Afhangend van die seisoen R350 of R550 p.d. per staanplek vir tot 2 mense en 1 voertuig. Daarna R75 p.p. of R100 p.p. (maksiumum 6 mense per staanplek).

Na gelang van die seisoen kan 2-16-jariges of 7-16-jariges gratis kamp.

Aankoms- en vertrektyd Binne seisoen 12:00 en 11:00 (oor naweke buite seisoen is dit 08:00 op Vrydae en 16:00 op Sondae).

Kontak 079 202 5143; info@bigfish caravan.co.za; bigfishcaravan.co.za

Naaste dorp Jeffreysbaai 20 km.

Hoe lyk die pad? Jy gaan minstens 1,2 km goeie grondpad ry.

GPS S33.940875 E25.015927

Ry & Sleep sê Die oord is op die werkende melkplaas Cosa-Moo-Selot wat aan Christo en Adelé Bain behoort. Gaan kyk gerus na die wit holstein-melkkudde met hulle swart vlekke.

Die visduiker

Wanneer jy swartbaars, tiervis of selfs geelvis in die visier het en jy verwag die visse op ’n diepte van rondom 1-2 m, kan jy gerus Komatsu se Shallow Shad Crankbait oorweeg.

Die sogenaamde crankbait-kunsaas het ’n harde lyf en twee stelle drieweerhaakhoeke, en ander ook verskillende groottes lippies wat die duikdiepte bepaal.

Hoe groter die lippie, hoe dieper duik die aas. Wanneer jy skiet gee, dryf die aas boontoe.

As jy dan weer begin katrol, mik hy weer bodem toe.

Die Shallow Shad is ’n goeie nabootsing van ’n vis en 8 cm lank.

Hy het ’n aanloklike swembeweging soos jy inkatrol, en daar is vyf weergawes beskikbaar: die Europese baars, sardyn, kurper, baars of harder.

Die outjie weeg 13 g, wat beteken jy kan hom omtrent 25 m ingooi.

Met die twee stelle hoeke is jou kanse byna dubbel om ’n nuuskierige vis te laat les opsê.

Prys R125 elk.

Kontak Beskikbaar in hengelwinkels landwyd, ook in Namibië. catches@4adrenalin.co.za; adrenalinfishing.co.za

Vinnige Viskoekies

Resep en stilering Johané Neilson |Foto Ed O’Riley

Iets te snoep? Dié vinnige viskoekies is ’n heerlike manier om enige gebraaide oorskietvis nog ’n kans te gee – jy kan selfs verskillende soorte vis saamgooi.

Jy benodig (maak 4 snoephappies)

  • 3 koppies gepluiste gaar vis
  • ¾ koppie panko-broodkrummels (of gebruik gewone droë broodkrummels)
  • 3 groot eiers, geklits
  • 4 sprietuie, gekap
  • 1 teelepel suurlemoensap olyfolie vir vlakbraai
  • mayonnaise en suurlemoenwiggies om voor te sit

Só maak jy

1 Meng die vis, broodkrummels, eier, sprietuie, suurlemoensap en geur dit met sout en gemaalde swartpeper. Die mengsel moenie te droog of te loperig wees nie – voeg óf nog krummels óf nog vis by.

2 Verhit ’n ruim skeut olyfolie in ’n pan en skep eetlepels vol van die vismengsel om die koekies te vorm. Druk hulle effens plat met ’n spaan en braai dan die koekies oor matige hitte tot albei kante mooi goudbruin is. Skep dit uit en braai die res van die koekies tot gaar.

3 Eet die viskoekies terwyl dit nog warm is, met mayonnaise en suurlemoenwiggies óf jou gunsteling-doopsous.

Ry & Sleep sê Pleks van oorskietvis kan jy ook gerookte vis gebruik, óf spesiaal vir die koekies ’n vis panbraai of smoor.