Die plan is eenvoudig: Ons wil van Marie se grootworddorp in Frankryk, Valence, terug na Johannesburg, Suid-Afrika, ry.

Maar die reis begin nie soos ons ons dit voorgestel het nie. Om die waarheid te sê begin dit glád nie, want dit is ’n hengse gesukkel om ons geliefde toerkar, Kukuza (’n 2001 Toyota Hilux KZTE), in Valence te kry.

Patrick Gurney geniet padkos op die oewer van die
Patrick Gurney geniet padkos op die oewer van die Annecy-meer in Frankryk.

Die voertuig is na Antwerpen, België, verskeep en dié takie van ses weke het ontaard in ’n drie maande lange beproewing.

Ons beskikbare toertyd was reeds aan ’t minder word en ons het gejeuk om op die pad te kom. Maar eers moes ons die administratiewe rompslomp uitsorteer.

Die skeepsagentskap het ons reeds vroeg teleurgestel. Hy het aangedring dat die Belgiese doeane ons Carnet de Passage (’n “paspoort” vir die voertuig) moet sien terwyl AA-riglyne bepaal dat ’n mens net ’n tydelike invoerpermit (TIP) moet uitneem.

Die TIP sou dinge eenvoudig gehou het, en die agentskap se nalatigheid sou ons later op die reis voortdurend moeilikheid besorg. Op 28 Mei 2018 kom Kukuza uiteindelik in Valence aan.

Die hoofbootkanaal in Annecy, Frankryk
Die hoofbootkanaal in Annecy, Frankryk

Ons het haastig gepak en ’n paar dae daarna vertrek, reguit Alpe toe. Ons het deur die Franse platteland laat waai, op die dorpie Annecy langs ’n meer aan die voet van die bergreeks oornag en van daar gery na Mont Blanc waar ons in Chamonix oorgebly het.

Ons het beplan om so ver moontlik te kamp eerder as om ’n gastehuisie of kamer te huur en daardie nag in Chamonix was ons eerste in die tent. Ons het die Howling Moon Stargazer-daktent tweedehands in Suid-Afrika aangeskaf en nog nie eens een keer opgeslaan nie!

Dit het sowat ’n kwartier se kopkrap geverg om uit te pluis hoe die ding werk. Toe ons egter die slag het, was die daktent ’n plesier, veral omdat ons selde ’n kampterrein aangetref het waar ’n mens gelyk grond vir ’n gewone tent kon kry.

Plan de I’Aiguille op pad na die kruin van Mont Bl
Plan de I’Aiguille op pad na die kruin van Mont Blanc, Frankryk

In Chamonix het ons met ’n sweefspoor gery na Plan de l’Aiguille van waar ’n mens ’n pragtige uitsig oor die ysblou Bossons-gletser het. Hoewel dit reeds somer was in Europa, was daar steeds ’n byt in die lug.

Daardie aand lê ons opgebondel in ons daktentjie en luister hoe die gletser se kraakgeluide deur die koue naglug eggo.

Dík sneeu met die Gurneys se aankoms in Italië.
Dík sneeu met die Gurneys se aankoms in Italië.

Nog ’n crema di caffè, asseblief!

Dis maklik om deur Europa te reis omdat jy landsgrense bykans sonder moeite kan oorsteek. Jy kom soms nie eens agter jy’s in ’n ander land nie – totdat die padborde en taal skielik verander.

Ons kon maklik Italië met die 12 km lange Mont Blanc-tonnel onder-deur die Alpe binnery, maar het besluit om liewer ’n 150 km-roete vol bergpasse met Kukuza aan te durf.

’n Kapel aan die Roselendmeer in Frankryk
’n Kapel aan die Roselendmeer in Frankryk waar die Gurneys ’n aand oornag het.

Dit het ’n kombinasie van teer- en grondpaaie behels en ’n hele paar dae geneem. Maar die tyd in die ongeskonde berge met plek-plek ’n sneeukombers oor die pieke was besonders.

Ons raak elke dag meer behendig met die daktent: Ons rekord staan nou op vier minute, en dit sluit die staanmaak van ons tafeltjie en kampstoele sowel as die opsit van koffiewater in!

Ons eerste proeseltjie van Italië is ’n dorpie genaamd La Thuile in die Aostavallei. Heelwat van die huise se dakke is gebou van leiklipstene so groot soos ’n koffietafelblad.

Buite die dorp het ’n gros mense en bokke vir die jaarlikse Batailles des Chèvres saamgetrek.

’n Bokgevegkompetisie in La Thuile, Italië
’n Bokgevegkompetisie in La Thuile, Italië

Ons eerste kulturele ervaring is ’n bokgeveg! Die plaaslike inwoners verduidelik hoe dit werk: Twee bokramme daag mekaar kop aan kop uit totdat die een voor die ander se stukrag swig. Dit sorg vir groot opwinding en luide aanmoediging onder die meer as 100 eienaars.

Hoewel ons vir die Italië-skof van die reis meer as ’n maand begroot het, het ons gou besef dat ons dit nooit tot aan die onderpunt van die land se “stewel” sal maak nie. Daarom fokus ons toe eerder op die sentrale Toskane-streek – veral die platteland rondom plekke soos Genua, Pisa, Siëna en Florence.

Die Skewe Toring van Pisa in Italië – steeds staan
Die Skewe Toring van Pisa in Italië – steeds staande!

Die Italianers het beslis ’n voorliefde vir swierige bouwerk. In Pisa het ons die Skewe Toring bekyk en in Florence baie mooi kerke besoek.

Maar vir ons was die Italianers se groot triomf nie hulle argitektuur nie, maar eerder hulle crema di caffè – ’n yskoue koffiedrankie waarvan ons op die warm somerdae net nie genoeg kon kry nie. ’n Mens kon dit oral koop en Marie was so te sê verslaaf daaraan. En al die ander koffies wat ons in Italië geproe het, was net so geurig en van ’n hoë gehalte.

Heerlike Affagato-koffie in Florence, Italië
Heerlike Affagato-koffie in Florence, Italië

Ons het op Google Earth en verskeie selfoontoepassings soos Park4Night en iOverlander staatgemaak om elke aand ’n stil, ietwat eenkant kampplek op te spoor en sodoende ’n hele rits onvergeetlike staanplekke uitgesnuffel.

Die plattelandse paaie het ons na plantasies en deur natuurlike velde en mooi wingerde gelei – oral met die begeleiding van voëlsang. Die groot dorpe en stede was ’n uitdaging vir ons kampbeleid.

Met ’n ry-huis sou ons enige plek langs die pad stilhou, maar met ons Hilux en daktent moes ons elke aand ’n formele kampterrein opspoor wat gewoonlik buite die stadsgrense was.

Siëna met haar mooie markplein het vir ons die kern van Italië vasgevang; Florence was heelwat groter en bedrywiger met hordes toeriste wat stoei om ’n perfekte selfie te neem.

Net soos in Frankryk is kos ’n integrale deel van die kultuur en elke gereg is gewortel in die land se ryk geskiedenis. Ons is albei gek oor pasta, en hier is bykans 500 verskillende soorte om van te kies. Dis onmoontlik om te kies wat jy volgende wil proe!

Italiaanse middagete van parmaham en salm
’n Eenvoudige Italiaanse middagete van parmaham en salm met baguettes

Die mozzarellakaas van buffelmelk wat jy sommer in enige supermark te koop kry is van uitsonderlike gehalte, en hulle maak so baie verskillende gelatos (roomyse) dat ons gou geleer het om eers ’n paar geure te proe – sodat jy nie later spyt is jy loop ’n nuwe soort mis nie!

Ons het in ’n stadium langs ’n antieke Romeinse keisteenpad sowat 20 km buite Siëna gekamp en die nabygeleë dorpie Fonterutoli te voet verken. Marie kom toe toevallig af op ’n plaaslike restaurant genaamd Osteria di Fonterutoli. Die konyn-confit en lewer wat ons daar geëet het, was een van die heerlikste maaltye nog.

Kort hierna moes Marie terugvlieg Suid-Afrika toe vir werk, en ek het ’n week lank die stad Perugia in die Umbrië-streek saam met vriende verken. Dié gebied se natuurskoon is net so uitsonderlik soos Toskane s’n, maar hier is minder toeriste.

Ek het ook gaan kyk hoe lyk die mooi bewaarde heuwelstad Assisi se kerkies en St. Francis – die beskermheer van diere en die omgewing – se grafkelder besoek.

Maar dit was nie heeltyd speeltyd nie. Voordat ek en Marie mekaar weer in Venesië sou ontmoet, moes ek ’n bietjie instandhouding doen.

’n Kampplek op die Romeinse keisteenpad, Toskane,
’n Kampplek op die Romeinse keisteenpad, Toskane, Italië

Die grootste taak was om ’n plan met ons sonpaneel te maak – dit het te veel spasie op die agterste sitplek opgeneem. Met die hulp van ’n ingenieurswerkswinkel in Perugia kon ek ’n stoorplekkie daarvoor onder die dak van die bakkie se kap monteer.

Die tafel wat los gelê het, het ons met ’n raam aan die binnekant van die kapflap vasgesit en die homokinetiese koppelings (CV joints) het ek by ’n Toyota-handelaar laat vervang.

Daarna het ek die sowat 350 km van Perugia na Venesië rustig gery en teen die ooskus ’n aand by die Poriviermonding oorgestaan. Dit is die grootste beskermde vleiland in Italië en ’n gewilde Europese voëlkykplek.

In Venesië, Italië, trek ’n mens sommer per boot
In Venesië, Italië, trek ’n mens sommer per boot

Omdat dit ’n toeristevertrapping is, het baie Italianers ons afgeraai om Venesië te besoek. Maar dit is ’n aangrypende plek – veral laataand. Die argitektuur en die vervoer – geen motors, slegs bote! – is uniek.

Ons was mal oor die Aperol Spritz, ’n helderoranje drankie gemeng met gelyke hoeveelhede witwyn, Prosecco en ys. En ons kon glad nie kla oor die stad se tradisie van cicchetti eet nie – dié ronde snytjies brood met heerlike toppings is oral te koop.

Ons het die eiland Murano – bekend vir sy glaswerk – besoek en ek was baie in my noppies om ’n paar ou Venesiese handelskraletjies op te spoor.

Plitvice, Kroasië
Die ongelooflike Plitvice, Kroasië

Gesellige Kroasië

Ons het van die stad Trieste vir sowat 20 km deur Slowenië gery om by Kroasië uit te kom waar ons ’n maand wou deurbring.

Die eerste deel daarvan ry ons al met die Dalmatiese Kus langs tot in Pula met sy groot arena uit die Romeinse tyd.

Ons en die Hilux het op ’n veerboot van die dorpie Zagorje af gevaar na Cres-eiland. Die seereis het skaars 10 minute geduur, maar dit het ’n goeie uur geneem om al die mense en voertuie aanboord te kry!

Toe ons daardie Saterdagmiddag – dit was 18 Julie 2018 – op Cres voet aan wal sit, het ons dadelik ’n strandrestaurant met ’n groot televisieskerm en koue bier gaan soek.

Die Wêreldbeker-sokkereindstryd tussen Kroasië en Frankryk sou oor drie uur afskop en terwyl Marie heimlik Frankryk ondersteun, het ons vir die geleentheid Kukuza in die Kroatiese vlag uitgedos. ’n Plek genaamd Sumica was perfek – met lekker pizzas en die sterk plaaslike bier, Tomislav.

Kroasië het ongelukkig dié dag 2-4 verloor, maar dit kon steeds nie die geesdrif blus nie en die partytjie het tot in die oggendure aangehou.

Ons het die aand in ’n groot olyfboord kamp opgeslaan en vir ’n verandering geselskap gehad: ’n Jong paartjie, Raphael en Carol, het gesukkel om hulle ou Mercedes-bussie teen ’n steilte uit te kry.

Ons het ’n handjie bygesit en sommer langs mekaar gekamp vir die nag, saam aandete gemaak en oor die swerwerslewe gesels. Hulle is twee van ’n menigte mense wat ons só langs die pad ontmoet het en tot vandag toe mee kontak behou.

’n Rit deur olyfboorde op Cres-eiland, Kroasië.
’n Rit deur olyfboorde op Cres-eiland, Kroasië.

Steeds op die eiland Cres het ons by Camp Bijar buite die dorpie Osor oorgestaan. Die was ’n spiekeries kampterrein met tot ’n bakkery waar jy elke dag vars baguettes en croissants kon koop.

Ek en Marie moes ’n slag wasgoed was, maar het vier dae daar gebly en sulke lieflike mense ontmoet dat ons ons “straat” se kampeerders sommer een aand vir ’n langtafel met drankies en peuselhappies genooi het.

Een van die paartjies, Katia en Joseph, het ons genooi om by hulle in Hongarye te kom kuier en ’n man genaamd Peter het heerlike vis gaargemaak.

Kai, Callum en Marie op Pag-eiland
Kai, Callum en Marie op Pag-eiland

Dié dae was salig en die lewe het eenvoudig en tog idillies gevoel. Ons seuns Kai (20) en Callum (18) het besluit om tien dae uit Parys weg te glip en die eilandlewe ’n rukkie saam met ons te kom geniet. Ons het hulle in Split opgelaai en toe aangery na Pag-eiland.

Van die vasteland af lyk Pag nie na veel nie – net ’n homp rotse in die Adriatiese See. Maar wat ons seuns nie geweet het nie, is dat Pag oor die jare heen die reputasie van “Klein Ibiza” gekry het. Hulle was in vir ’n ding!

Die AirBnB waar ons in die dorp Novalja tuisgegaan het, was reg in die seuns se kraal: In alle rigtings was dit strandkroegies, restaurante, markies en vakansiegangers waar jy kyk.

Zrce-strand se nagklubs was skaars 7 km ver en ’n baie stiptelike partytjiebussie het tot nanag mense soontoe en terug vervoer. Selfs ek en Marie het een aand gaan boogie!

Camp Bijar, Osor op Cres-eiland, Kroasië
Drankies saam met kampbure by Camp Bijar, Osor op Cres-eiland, Kroasië

’n Draai in die parke

Terug op die vasteland het ons ’n draai gaan gooi in die Krka- nasionale park wat rondom die Visovacmeer strek.

’n Mens kan van die parkingang af met ’n boot uitvaar na ’n Franciskaanse klooster op ’n eilandjie in die meer wat uit die 15de eeu dateer. Jy kan die meeste dele van die park se natuurskoon ook só per boot bereik en van die water af betrag, maar ons wou graag ’n staproete na watervalle en poele doen.

Ons het by Skradinski Buk van die boot afgeklim en al met ’n rivier langs opgestap. Ek het nog nooit voorheen só iets gesien nie – dis net poel op poel op waterval sover jy kyk!

En dan is daar die hoogtepunt: ’n uitsig oor die Skradinski Buk-waterval. Al die ander besoekers was onder in die water en ons het ook nie op ons laat wag nie!

Die kuiertjie met Kai en Callum was verby en die seuns het van Split af teruggevlieg Frankryk toe terwyl ek en Marie noord gemik het na die Plitvice-mere- nasionale park. Die reservaat het etlike plankiespaaie wat ’n mens verby poele en watervalle lei wat in terrasse na benede stort.

Plankiespaadjies in Plitvice, Kroasië
Plankiespaadjies in Plitvice, Kroasië

’n Mens kan nie help om te wonder hoeveel eeue lank dié landskap al vorm aanneem nie. Die kalksteen in die fonteinwater vorm stadig maar seker ’n neerslag wat per jaar sowat 1 cm in hoogte toeneem en uiteindelik 5 m tot 10 m hoë watervalle vorm! Ek het nog nooit sulke helder water gesien nie.

Dit het gevoel asof ons deur die filmstel van ’n feeverhaal dwaal. Geen foto kan Plitvice se skoonheid vasvang nie.

’n Strandkroeg in Novaljabaai, Pag-eiland
’n Strandkroeg in Novaljabaai, Pag-eiland

Soen-soen deur Zagreb

Zagreb is beslis een van die mees eksentrieke hoofstede wat ek al beleef het. Dit spog met die wêreld se kortste kabelspoorweg (66 m) en baie eienaardige museums.

Een van die stad se groot trekpleisters is die “soenroete”. Ons het ons goed by ’n AirBnB-gastehuis gaan aflaai en toe koers gekry na die Museum van Gebroke Verhoudings. Ja, jy’ t reg gelees! Elke item wat in dié museum uitgestal word, verteenwoordig ’n gebroke verhouding.

Die items is skenkings van reg oor die wêreld en die rol wat elke ding in die verbrokkeling van ’n verhouding gespeel het, word kortliks beskryf. Van die verhale is roerend en selfs hartverskeurend. Ander laat jou grinnik.

Ek en Marie het ook by die Wetenskapmuseum gaan inloer. Dit lyk soos ’n plek wat in die 1970’s vasgehaak het en het eerder die gevoel van ’n opvoedkundige antiekwinkel as ’n museum. ’n Wêreldkaart teen ’n muur toon steeds Zambië en Zimbabwe as Noord- en Suid-Rhodesië.

Die “nuwe” deel van Zagreb is meestal in die 19de eeu gebou en het heelwat winkeltjies, kafees, markies en parke.

Ons het groente en vrugte by die groot Dolac-mark met sy rooi sambrele op die dorpsplein gaan koop, rondgedrentel, koffie gedrink en van die plaaslike disse – soos štrukli – geniet. Jy kry sout én soet weergawes van dié gebakte dis, en dit word gewoonlik gemaak met pasta en ’n mengsel eier en suurroom.

Maar om terug te kom na die “soenroete”... Dit is ’n vindingryke manier om toeriste aan te spoor om die stad te verken. Daar’s ’n kaart waarop verskeie “soenplekke” aangedui is en soos ’n mens die roete volg, loop jy oral ander vryende paartjies raak en álmal glimlag alte breed!

Ons het die ouer deel van die stad se Strossmartre-promenade met sy dekstoele, versnaperinge en musiek ook besoek. Van daar af het ’n mens ’n uitsig oor die stad en dit het na ’n heel gepaste plek gevoel om ons laaste aandjie af te sluit.

Ons het die Kroate as reguit, eerlike mense ervaar. Hulle bedoeling is altyd duidelik, jy weet waar jy met hulle staan.

’n Vriendelike Kroatiese kat
’n Vriendelike Kroatiese kat

Ek en Marie wil beslis eendag weer daar gaan kuier, en nie net vir al die dinge waarby ons nie by kon uitkom nie, maar ook vir die katte! Hulle is óral op straat en flikflooi met die voetgangers.

As jy weer sien, dop een hom voor jou voete om sodat jy sy magie kan krap. Dit het my sommer laat tuis voel. Hoe kry ’n land dít reg?

Vinnige feite

UITGAWES

Hierdie pryse is na beraming. Die Gurneys het in 2018 in Europa gereis; tariewe sou sedertdien gestyg het.

Verskeping

Om ons bakkie per skip van Kaapstad na Antwerpen, België, te vervoer het R33 000 gekos. Die skeepsagent van wie se dienste ons gebruik gemaak het, het sedertdien sy onderneming gesluit. (Ek is nie verras nie – ons het nie ’n goeie ervaring gehad nie.) In 2019 het ander maatskappye ons vir dieselfde vrag tussen R38 000 en R42 000 gevra.

Italië

Verblyf:

’n Staanplek in die kampterreine naby Siëna en Florence het sowat R500 p.n. vir 2 gekos.

Vervoer:

’n 75 minuut lange vaart met ’n vaporetto (waterbus) op die kanale van Venesië kos sowat R135 p.p. Dis heerlik – ons het dit sommer ’n paar keer gedoen!

Etes:

’n Crema di caffè kos sowat R20 en die deftiger affogato el caffè tot R30. ’n Bordjie met vyf cichetti (peuselhappies) kos R80 tot R100. En ’n Aperol Spritz (skemerkelkie) sowat R125.

Kroasië

Vervoer:

’n Eenrigtingkaartjie op die veerboot na Cres-eiland het ons en die Hilux saam omtrent R300 gekos.

Blyplek:

Die AirBnB in Novalja vir 4 vir 6 nagte (in spitsseisoen) het sowat R15 000 gekos. In Zagreb het ons R1 000 p.n. vir 2 mense betaal. ’n Staning (sonder elektrisiteit) in die Bijar-kampterrein naby Osor het sowat R500 p.n. gekos.

Toegangstariewe:

R85 p.p. vir die Krka- nasionale park (’n bootrit na die klooster op die eiland ingesluit); R360 p.p. vir die Plitvice-mere- nasionale park (treinrit ingesluit). R80 p.p. vir die Museum van Gebroke Verhoudings.

NOG INLIGTING

info@skultcha.com; skultcha.com; Facebook: “skultcha”; Instagram: @skulcha

NOTA

Die Afrika-skof van Patrick en Marie se reis deur Egipte, Soedan, Kenia, Tanzanië, Uganda, Rwanda, Malawi, Zambië en Zimbabwe het in uitgawes #178-#186 verskyn. Hierdie Europese reis het hulle Afrika-reis voorafgegaan. Hulle het in totaal 23 lande besoek, meer as 50 000 km gereis en op 19 Desember 2019 weer by hulle huis in Johannesburg aangekom