Reeds van ver af sien ek die pluim sproeireën wat my soos ’n lang vinger nader wink: Kom kyk, hiér skeur reuse-granietplate onverwags oop in ’n diep ravyn en tuimel die Oranjerivier – tans in vloed – sowat 56 m na benede.
Wanneer ek my bakkie se ruit afdraai, kan ek die sagte geruis van ’n haastige rivier hoor. Dis skuins voor 7 vm. en ek wag in ’n kort ry by die ingangshek na die Augrabies-waterval- nasionale park sowat 40 km noordwes van Kakamas.
Ek was vroeg uit die vere, want dis middel Februarie. Nie net sal die somerson binnekort fel op die klip begin neerbak nie, maar die park se besoekers het die afgelope paar weke toegeneem en ek wou seker maak ek is voor in die watervalkoor.