Patrick en Marie Gurney het op 3 Junie 2018 uit Marie se tuisdorp, Valence, Frankryk, vertrek met die doel om hulle huis in Johannesburg binne 18 maande te bereik. Teen die tyd dat hulle Rwanda bereik het, was hulle reeds 15 maande op reis. Hulle het deur Frankryk, Switserland, Italië, Kroasië, Slowenië, Hongarye, Roemenië, Bulgarye, Griekeland, Turkye, Israel, Palestina, Jordanië, Egipte, Soedan, Ethiopië, Kenia en Tanzanië gery. Hulle vertel.

Rwanda is klein maar bittermooi. Teen hierdie tyd is ons moeg van wildkyk in die stowwerige parke van Tanzanië en Kenia, en sien uit na die groen van Rwanda.

Ons kom Rwanda by die Rusumo-grenspos binne. Met ons aankoms in Kenia het ons ons Oos-Afrika-gemeenskapsvisums gekoop en nou kry dit ons vinnig in die land. Die OAG sluit in Kenia, Uganda en Rwanda.

Suid-Afrikaners is bekend met KwaZulu-Natal se Vallei van ’n Duisend Heuwels, maar Rwanda neem dit ’n stappie verder: Hy roem hom daarop dat dit die Land van ’n Duisend Heuwels is. En met ons eerste 70 km (wat 3 uur geneem het) na Kibungo, kon ons dié aanspraak verstaan. Rwanda is ’n uitgestrekte landskap van heuwels en ons Hilux sou maar swaartrek die volgende drie weke. Tweede – dalk derde – rat was sy voorland met ’n totale gewig van drie ton.

Valleie en kruine, hier kom ons.

Baksteenhope, padlangs in Rwanda.
Die Gurneys se kamp in ’n steengroef

Geen plastiek, dankie

’n Vredige gevoel heers toe ons Rwanda binnery. Huise in die platteland spog almal met netjiese tuine, en die mense se trots is opvallend.

Rwanda is net-net groter as die Krugerwildtuin en die digbevolkste land in Afrika: 26 798 km² met 12 miljoen mense. Dalk is die grootte die rede waarom dit makliker is om die land suksesvol te bestuur en vir die regering om wette toe te pas.

In 2008 het die regering Rwanda plastieksakvry verklaar. Dit was deel van ’n groter veldtog om die land skoon te hou. Burgerlike pligte hier is verstommend: Elke laaste Saterdag van die maand kom mense bymekaar om te deel in Umuganda, wat beteken “om met ’n gemeenskaplike doel saam te kom om iets te bereik”. Dis ’n dag van gemeenskapsdiens, en verpligtend vir alle Rwandese tussen 18 en 65 jaar. Van 8 vm. tot 11 vm. maak hulle strate skoon, help bure en bespreek dorpsake.

Ons het gesien hoe ’n hele gemeenskap saam ’n buurman se plaas skoonmaak en gereed kry vir saai. Die ongeveer 50 mense het die grond binne net twee uur voorberei. Umuganda is ’n les wat die hele wêreld by die Rwandese kan leer.

Hierdie stootfiets is ’n speelding, maar groter weergawes word gebruik om swaar vrag te karwei.

Ons sny koek oor die platteland tot by die Nyungwe- nasionale park in die suidwestelike hoek van Rwanda. Ons het gekies om drie dae aan die 250 km te ry. Tanzanië het ons sak geruk; dus was dit weer tyd vir wild kamp.

Twee keer het ons in steengroewe gekamp. Op ons tweede dag het ons Rwanda se verraderlike kleipaaie leer ken. Dit het liggies gereën, en toe ons ’n vlak rivier wou kruis, het die Hilux reeds begin gly. Die 100 m hoë steilte aan die ander kant was onmoontlik om baas te raak. Ons het ’n uur en ’n half vir die pad gewag om droog te word voordat ons verder ry.

Rwandese is behulpsaam en gasvry. Mense het ons uit die modder gehelp sonder om vir vergoeding te vra. Die roete wat meestal grondpad was, het ons voorberei vir die platteland van Rwanda en op die derde dag het ons besef: Alle Rwandese is piesangboere (dit is eintlik meelpiesangs, wat nie soet is nie en meer stysel bevat: dit word fyngemaal en gekook en soos pap geëet) en baksteenmakers. Die meeste huishoudings het ’n klein erf waar piesangs groei, en ’n klein stapel nuwe bakstene staan iewers gereed vir gebruik.

Ek is seker die meeste dorpe kon die Taj Mahal in Indië binne ’n maand bou!

Meelpiesangs (in Engels plantain) is ’n stapelvoedsel in Rwanda.
’n Hut by die paleismuseum, Nyanza.
’n Tradisionele kosmaakdemonstrasie by die koning se paleismuseum in Nyanza.
’n Herder wys vir Patrick ’n inyambo-bees.

Woud-in

Nyanza is ons eerste kulturele aftrekplek. Die monargie het bestaan sedert die jaar 1081, en nadat dit aanvanklik rondbeweeg het, is dit in Nyanza gevestig. By die koning se Paleismuseum het ’n gids ons binne die hutte geneem wat soos byekorwe lyk. Hulle is kundig herbou in die styl van die tradisionele koninklike wonings. Ons het die koninklike herders ontmoet en die bekende langhoringbeeste genaamd Inyambo gesien (dis ’n soort Ankole-bees).

Hulle is mooi met ’n soort elegansie wat ’n mens nie by vee verwag nie. Dié diere is ’n groot deel van die koninklike tradisie en speel ’n rol in belangrike seremonies.

In 1962 het Rwanda onafhanklikheid van België verkry en die monargie het verval. Die laaste koning, Kigeli V Ndahindurwa, het in 1960 uit Rwanda gevlug en in 2016 in armoede in Amerika gesterf.

Die Etnografiese Museum buite die dorp Butare is ’n groot verrassing. Dit word goed onderhou en die sewe galerye huisves van Afrika se beste etnografiese versamelings. Dit het ons ’n goeie insig gegee in Rwanda se landbou, diereboerdery, jag, weef, pottebakkers- en houtwerk.

Van Butare af het ons wes gemik na die Nyungwe- nasionale park. Ons bestemming was die Uwinka-besoekersentrum waar ons twee nagte sou kamp. Die laaste 30 km van die pad was bittermooi. Die piesangplantasie maak plek vir groot bome, varings wat in valleie groei en mis wat uit die rante verrys. Hier voel dinge byna pre-histories.

Die boomtoproete by Uwinka in die Nyungwewoud.
NYUNGWE- NASIONALE PARK

Ons het verby baie gewapende wagte gery, sowat 40, wat elke 500 m langs die pad diens gedoen het. Ons het later uitgevind dat omdat die Nyungwewoud aan Burundi grens, dié wagte eintlik ’n grenslyn vorm.

By Uwinka het ons US$60 betaal vir twee nagte se kamp. Ons het vinnig besef wat ’n reënwoud regtig is! Ná ’n vinnige koppie koffie en toebroodjies is ons tent toe uit die nattigheid.

Die volgende oggend het ons die Igishigishigi-staproete aangedurf wat ’n boomtopplankiespad insluit – vergeet maar hiervan as jy bang is vir hoogtes. Dié 2,4 km-roete neem ongeveer ’n uur en ’n half om te voltooi. Dis erg mooi hier en op die hoogste punt op die plankiespad staan ’n mens 70 m bo die woudvloer. Ons het swart-en-wit colombus-ape gesien, asook kleurryke loeries. Nyungwe is die tuiste van die endemiese Rwenzori-loerie en die groot blouloerie, wie se eiesoortige geroep dit maklik maak om dié voël in die digte woud te hoor.

Nyungwe sou ons weke lank kon besig hou: Hier is 130 km se staproetes, 120 spesies skoenlappers, 275 spesies voëls en 13 spesies ape.

Maar ons moes aanstoot. Ons het die park aan die westekant verlaat en voordat ons nog behoorlik kon groet, het die woud in ’n enorme teeplantasie geëindig. Dis interessant dat die bedryf wat eens die woud bedreig het, nou ’n doeltreffende skans is.

Ons was op pad na Kigali, maar wou eers tyd deurbring by die vakansiedorp Kibuye. Dié dorp lê aan die oewer van die Kivumeer en is prentjiemooi met blou water en groen heuwels. Ons het twee en ’n half uur gery aan ’n 120 km lange kronkelpad wat Marie karsiek gemaak het. Ons het twee nagte by die Bethany Hotel gekamp en ’n paar huis-houdelike takies afgehandel. Toe is dit tyd vir die 130 km-skof (3 uur) tot by Kigali.

L’hoest se aap, Nyungwewoud

Mense genees mekaar

Ons reis het saamgeval met die 25ste herdenking van die volksmoord in Rwanda, wat waarskynlik een van die donkerste dae in die mens se geskiedenis is. Tussen April en Julie 1994 is meer as 800 000 mense vermoor. Dit was oorwegend lede van die Tutsi-stam, maar ook lede van die Hutu- en Twa-stam, asook enigeen wat die moorde teëgestaan het.

Oral het ons plakkate en baniere gesien wat lees “Kwibuka 25”. Dit het burgers aangemoedig om die verlede te onthou, te verenig en te hernu. Dit het mense daaraan herinner dat elke dorpie deur die volksmoord geraak is. ’n Mens kan nooit die omvang van hierdie trauma begryp nie. ’n Unicef-opname het bevind dat 80% van alle Rwandese kinders ’n familielid in 1994 verloor het, 70% het gesien hoe iemand vermoor word, en 90% het geglo dat hulle ook sou sterf.

Die Genocide Memorial in Kigali is ’n belangrike plek om dié gebeurtenis en die gevolge beter te probeer verstaan. Die uitstalling begin met ’n 30 minute lange video waarin oorlewendes hulle stories vertel.

Die hoofuitstalling duur ’n moeilike paar uur. Dis omvattend en vertel die geskiedkundige en maatskaplik-ekonomiese agtergrond van die Hutu en die Tutsi, en hoe propaganda en sielkundige manipulasie gebruik is om mense te oortuig om hulle bure te vermoor. ’n Tradisionele klassestel is gebruik om vertroue tussen die Hutu en die Tutsi te skend, en dis verder gevoer deur etniese klassifikasie deur die Belgiese koloniale heersers.

Dis hartseer hoe die hele wêreld hierdie tragedie misgekyk het tot die verskriklike gebeure in 1994. En hoe mense teen mekaar kan draai.

Daar heers nog ’n verstaanbare wantroue onder die mense van Rwanda, selfs al stem almal saam dinge is nou rustig en “ubumuntu” word bevorder (dis soos ons ubuntu in Suid-Afrika). Dit sal waarskynlik ’n hele paar geslagte neem voordat die volk volkome herstel.

Oral in die land is gedenktekens. Buiten die een in Kigali, het ons die Murambi Genocide Memorial besoek op pad van Butare na die Nyungwe-woud. Albei het ons diep geraak.

’n Teeplantasie aan die soom van die Nyungwewoud.
GENOCIDE MEMORIAL, KIGALI
MIDDESTAD, KIGALI

Kigali is wonderlik – dit voel soos Sentraal-Afrika se stresvrye stad. Dis skoon, die stemming is gemoedelik en die stad is mooi met ’n mengsel van ou en moderne geboue. Niemand toet verwoed hulle motor nie en niemand is gejaagd nie. Ons het ’n hotelkamer bespreek, want ons wou ’n breuk vat van kamp en sodoende kon ons die stad verken sonder om te veel rond te ry. Die boda bodas (motorfietstaxi’s) is die beste manier om rond te gaan en kos net R20 vir tot 5 km.

Ons het die Inema Arts Centre besoek, ’n plek vir opkomende kunstenaars. Hier is interessante kuns, insluitend die bekende gorilla wat uit rekenaarhardeware gebou is.

Kigali se tradisionele kunsvlytmark, Caplaki Craft Village, is interessant. Hier is omtrent 70 stalletjies, maar geen verkoper pla jou nie. In die stad het ons geëet by die German Butchery en gesmul aan spesialiteitsworsies en vark-escalope en die plaaslike Mützigbier. In byderwetse Fair Trade-koffiewinkels het ons Rwandese koffie geniet.

Baie toeriste besoek Rwanda net om die berggorillas in die Volcanoes- nasionale park in die noordweste van die land te sien, en loop baie ander uitsigte mis.

Dis maklik om Rwanda per voertuig te verken. Ons roete het ons deur mooi landskappe geneem en ons is oral met glimlagte begroet. Ongelukkig moes ons wikkel, want ons sou gorillas en sjimpansees in die buurland Uganda gaan soek.

Maar eers moes ons ons seun Callum (18) by die lughawe oppik wat hom by ons aansluit vir ons Uganda-hoofstuk.

’n Maaltyd by die Inzozi Nziza-restaurant in Butare.
PATRICK KYK NA ’N UITSTALLING BY DIE MURAMBI GENOCIDE MEMORIAL

MEER INLIGTING: