Wanneer ’n mens die Kalahari besoek, verwag jy rooi duine. As jy dan skielik ’n strook wit duine – sowat 9 km lank en 5 km wyd – in die verte sien verrys, voel dit soos oëverblindery.

Dié sandduine is deel van Witsand-natuurreservaat (35 km²) wat byna reg in die middel van die groot blok plase tussen Upington, Olifantshoek, Griekwastad en Groblershoop aan die voet van die Langberg lê. Die kleur is te danke aan kwartsietklip diep onder die duine. Dié ondeurdringbare klip vorm ’n kom waar reën- en grondwater opgaar – na raming is daar sowat 1 211 miljoen m³ water! Oor die jare heen het dié water die ysteroksied wat die Kalahari-duine rooi maak, uitgewas en die sand ’n bleekwit kleur agtergelaat.

Maar die eintlike trekpleister is nie hoe die duine lyk nie, maar hoe hulle klínk. In warm, droë toestande rammel die sand op die suidelike hellings van die suidelikste duine in die reservaat.

Dis September 2020 en net 26° C, maar ek besluit om tog te gaan hoor wat die duine te sê het. John Martiens, die reservaat se bestuurder van geriewe, ry saam met my na die brulsandgebied.

“Die beste plek om die duine te hoor brul is na links van die groot duin by die parkeerterrein. Ons sal nog ’n bordjie opsit. Soek ’n deel van die duin wat nie versteur is nie en loop stadig teen die wand af – die sand sal dan ’n brulgeluid maak,” verduidelik hy.

John skuifel ’n paar keer teen die duin af, maar die geluk blyk nie vandag aan ons kant te wees nie. Ek het wel al vantevore die sand hoor brul – ek het die reservaat op ’n skoolkamp in 2004 besoek en die diep, weerklinkende geluid het my bygebly.

Maar die eintlike trekpleister is nie hoe die duine lyk nie, maar hoe hulle klínk. In warm, droë toestande rammel die sand op die suidelike hellings van die suidelikste duine in die reservaat.

Dié brullende duine laat wetenskaplikes omtrent kopkrap. Die klank wat die sand maak, wissel van ’n lae bromgeluid tot ’n harde brul. Dis nie ’n unieke verskynsel nie. Duine wat brul, sing of fluit is al wêreldwyd aangeteken, insluitend in Namibië, Wallis, Japan en Egipte.

Daar is verskillende teorieë oor hoe die klank ontstaan. Die wit duine in die reservaat bestaan uit ’n byna poeieragtige waaisand. Dit blyk dat die trillende geluid opklink wanneer die gladde, ewe groot sandkorrels teen mekaar skuur en die lug tussen die korrels ontsnap.

Maar selfs al wil die duine nie brul nie, is die duinestelsel iets om te beleef. Die duine toring 20 m-30 m bo die omringende veld uit en dis ’n stywe klim tot bo. Ná maande van die nasionale inperking kla my longe en kuite ewe hard toe ek later op my eie terugkeer om die duine te verken. “Dis nie soseer jou lyf wat moet fiks wees om die duine uit te klim nie, maar eerder jou kop,” het John vroeër raad gegee.

“Baie gaste dink hulle sal dit nooit tot bo maak nie, maar ons raai hulle aan om stadig te klim en gereeld te rus. En as jy eers bo is, kan jy iewers gaan sit en stil raak. Jy moet tyd vat om die natuur in te drink en die skoonheid van Witsand te waardeer.”

Ek klim tot op die hoogste kruin en kyk uit oor die landskap. Voor my lê die grys voue van die Langberg in die ooste; die veld na die suide is dor en bruin, maar hier en daar staan hakiesdoringbosse wit in blom. As ek effens na links draai, golf duine voor my uit so ver as wat die oog kan sien.

Dit voel asof ek die laaste lewende wese op aarde is. Die land het pas na vlak een van die grendeltydperk beweeg en hier is byna geen ander gaste in die reservaat nie. (Vroeër het die ontvangsdame, Tendani Rambuwani, my egter verseker dat ek net te haastig was – die reservaat is volbespreek vir die volgende week.)

Hoe dieper jy die duine inbeweeg, hoe makliker is dit om te verdwaal, want alles lyk dieselfde as jy nie die horison kan sien nie. Sê altyd vir iemand as jy gaan stap en bly weg van die duine wanneer daar ’n donderstorm aan die broei is – weerlig slaan dikwels in die duine omdat dit bo die landskap uitstaan en ’n hoë watertafel het.

Op die grondpad van die ontvangskantoor af tot by die duine het ek heelwat van die reservaat se gemsbokke en springbokke gesien, maar hier bo is dit egter net ek en ’n dowwe ry spoortjies in die sand – dalk ’n muskeljaatkat of ’n bakoorjakkals?

Witsand het een van die min standhoudende waterbronne in die gebied en onderhou al eeue lank mens en dier. Argeoloë sê potskerwe en klipgereedskap wat hier gevind is, dui daarop dat mense reeds in die Steentydperk sowat 40 000 jaar gelede hier geleef het. Koranna-, Boesman- en Tswana-mense het almal ’n bestaan hier probeer maak en wit boere het hulle in die laat 19de eeu hier begin vestig.

Die roete wat die brulsandgebied in die suidweste met die verste uitkykpunt in die noordooste verbind, is skaars 7 km in totaal. Ek ry na dié Birdhide-uitkykpunt, waar jy ook die duin na links kan uitklim.

Hier het ’n groep Afrikanerrebelle onder leiding van genl. Jan Kemp in 1914 oorgestaan op pad na die destydse Duits-Suidwes-Afrika – hulle het hulle verset teen die eerste minister, genl. Louis Botha, se besluit om die Unie van Suid-Afrika saam met die Geallieerdes te laat veg tydens die Eerste Wêreldoorlog. Van die klipmure wat hulle gebou het, staan nog. Die reservaat het iets wat elkeen sal interesseer, of jy belang stel in die geskiedenis, geologie of net op soek is na ’n mooi uitsig en ’n bietjie vars lug.

Foto: Jon Minster

Witsand is klein en stil, maar dis wat die reservaat ’n besoek werd maak: Dis ’n lekker plek om vir ’n nag of twee oor te staan as jy op pad is na die Kgalagadi-oorgrenspark, die Richtersveld of Namibië en jy kan die hoogtepunte sien en doen sonder om jou moeg te ry.

Al is Witsand al sedert 1994 ’n reservaat, kleef daar nog ’n bietjie van die ou plaas-atmosfeer aan die plek. Die landskap is getem – hier loop ’n grensdraad; daar ry ’n plaasbakkie – en die diere is wild, maar gewoond aan mense. Jy kan die buitelewe hier geniet sonder om oor jou skouer te loer vir ’n leeu of ’n olifant in die bosse.

En net soos met ’n plaaskuier, is dit die klein plesiertjies wat jou hierheen lok. Ja, jy kan gaan sandplankry en die duine uitklim, maar jy kan ook net op die patio by jou chalet ontspan. Maak ’n groot vuur, kyk hoe die Melkweg tussen die takke van ’n kameeldoringboom flonker en gesels ounagstories. Vroegoggend sal rooioogtiptolle en bonthoutkappers naderhop om water uit die voëlbadjie te drink en ’n duiker sal jou sku uit die ruigtes dophou.

Op my laaste oggend in die reservaat ry ek vir oulaas duine toe. Die temperatuur is steeds in die lae twintigs, maar dalk brul die sand vandag vir my. By die parkeerterrein mik ek weer links soos John beduie het. Ek loop teen die duinwand af, maar hoor niks... nie eens ’n sagte grom nie.

’n Koel briesie ruis deur die geel gras langs my en ek kyk hoe ’n toktokkie gly-gly die duin probeer uitklim.

Alles is stil en wit en rustig en ná maande van pandemiepaniek voel dit asof alles tog uiteindelik oukei gaan wees. Selfs al is ons nie meer hier nie, sal hierdie duine nog tydloos in die landskap staan.

Die duine wou nie brul nie, maar soms is ’n fluistering van gerusstelling genoeg.

Bronne: Op pad in Suid-Afrika deur B.P.J. Erasmus; Witsand Tourist Guide (2018)

Gemsbok

Wat sê die mense?

Tendani Rambuwani, ontvangsdame by die reservaat:

“Ek werk al twee jaar by Witsand en die brulsand is beslis die beste deel van die reservaat – dit grom regtig soos ’n leeu!”

John Martiens, bestuurder van geriewe:

“Die reservaat het só baie potensiaal en ons het baie planne in die pyplyn. Nie net het die gebied ’n ryk en interessante geskiedenis nie, maar die landskap is uniek: Rooi en wit duine word selde só langs mekaar gesien.”

DOEN DIÉ SES DINGE

1. Hoor die duine brul

Moenie dadelik teen die groot duin by die Brulsand-parkeerterrein opklim nie – soek eers ’n deel van die duin waar ander besoekers nog nie voetspore gelos het nie. As die sand warm, droog en skoon is, sal dit ’n duidelike brulgeluid maak wanneer dit teen die helling van die duin afgly of as jy daaroor loop. Jy sal dit ook snags kan hoor wanneer die wind reg waai – die brulgeluid kan tot 400 m ver trek.

Kies jou tyd reg: Die sand brul net in die warm maande – September tot April – en net wanneer dit droog is. Gaan rondom 1 nm. as jy kan.

Besoek die inligtingsentrum by die ontvangskantoor vir meer oor die navorsing wat al oor die duine gedoen is.

2. Ry sandplank

Hou jou lyf Kelly Slater op droë grond en “surf” teen die wit duine af. Jy kan regop op die sandplank staan as jou balans goed is, of sommer net op die plank sit en teen die helling afgly – albei is vet pret. Jy gáán val, maar jy land sag in die sand en jy sal nog weke lank daarna sandkorrels uit jou hare skud.

Jy kan ’n sandplank by die ontvangskantoor huur teen R80 vir ’n halwe dag; R160 vir ’n voldag. Koop ook daar ’n potjie Doctor Dune-waks (R20) om aan die sandplank te smeer – dit sal jou help spoed optel.

3. Kyk voëls

Die voëlskuiling naby die Birdhide-uitkykpunt is laer gebou as die watergat waarop dit uitkyk; dus kan jy die voëls en diere wat hier kom suip mooi op oogvlak afneem.

Meer as 170 voëlspesies is al in die reservaat aangeteken, waaronder rooiborslaksmanne (ook die reservaat se kenteken), kelkiewyne, sekretarisvoëls, gompoue en roofvoëls soos dwergvalke en roofarende. Jy sal ook net soveel voëls sien as jy stadig op die roetes in die veld ry of rustig op die patio by jou chalet ontspan – voëls kom drink graag by die waterbadjie.

4. Stap in die veld

Die veld in die Kalahari lyk op die oog af yl, maar dis verbasend uiteenlopend. Drie plantegroeistreke kom hier voor: Kalaharibosveld, Oranjerivier-Nama-Karoo en Kalaharibergbosveld. Op die Botanical Meander (3,2 km), ’n sirkelroete wat by die ontvangskantoor begin, maak jy kennis met 43 verskillende spesies wat met bordjies aangedui word. Wees op die uitkyk vir kameeldoring- en witgatbome.

Hier is ook ’n piekniekplek en opelugmuseum op die roete, met onder meer plaasimplemente wat eens deur boere in die streek gebruik is om gate in die duine te grawe op soek na water. (Gepraat van: Vat altyd ’n bottel water saam as jy gaan stap.)

5. Verken die reservaat op wiele

Jy kan ’n bergfiets by ontvangs huur (R100 vir ’n halfdag; R200 vir ’n voldag) of in jou voertuig die twee roetes in die reservaat verken – albei begin by die ontvangskantoor. Die eerste roete loop 5,5 km suidwes na die brulsandduine toe. Omtrent halfpad is die Brulsand-uitkykpunt van waar jy die wit duine kan sien – die inligtingsbord verduidelik mooi wat waar in die landskap lê.

Die tweede roete loop 1,4 km noordoos na die Birdhide-uitkykpunt, waar die inligtingsbord jou meer oor die geskiedenis en geologie van die gebied vertel. (Die kort stappaadjies van die parkeerterrein af tot by die uitkykpunte is meestal klipperig en ongelyk.)

Hou jou oë oop soos jy deur die veld ry: gemsbokke, rooihartebeeste, springbokke, duikers, steenbokke, grondeekhorings en meerkatte is volop en snags kan jy ook ystervarke, erdvarke, aardwolwe en springhase sien.

6. Ry in die duine

Die 15 km lange Witsand-4x4-roete begin by die kampterrein en lei jou deur die duine in die noordelike deel van die reservaat wat voorheen nie vir besoekers oop was nie. Dis ’n uitdagende roete en jy moet ken van sand- en duinery. Dit neem sowat 2½ uur om te voltooi. Stop by Pepler se Gat – dié oog in die middel van die duine word gebruik om die watertafel te meet.

Koste: R300 per voertuig – slegs twee tot ses voertuie word toegelaat.

BLY HIER

KAMPTERREIN
CHALETS
SWEMBAD BY DIE CHALETS

Die kampterrein het 10 staanplekke op sand en die meeste is onder groot kameeldoringbome. Elke staanplek het ’n kragpunt, ’n braaiplek en ’n nabygeleë waterkraan. Die ablusieblok is netjies en skoon en daar is plek om jou skottelgoed te was en nat klere op te hang.

Kampeerders kan in die swembad afkoel. R150 p.n. vir twee mense; R75 per ekstra volwassene en R50 per ekstra kind (slaapplek vir ses mense).

Die 10 selfsorgchalets het elk slaapplek vir ses mense. Elke grasdakchalet bestaan uit drie geboue wat in ’n hoefystervorm uitgelê is. Die een been huisves die leefgedeelte en ’n oopplankombuis met die nodige eetgerei, ’n mikrogolf en ’n oondjie.

Die ander been het twee slaapkamers. Die derde gebou wat die twee bene verbind, het een slaapkamer en ’n badkamer. Hier is lugverkoeling – ’n móét in dié wêreld waar die kwik tot 40° C styg in die somer. Een van die chalets is ingerig vir rolstoelgebruikers.

Die patio het piekniektafels, ’n braaiplek en ’n waterbadjie waar voëls en kleinwild gereeld kom water drink. Die chalets is naby mekaar geleë, maar digte bosse bied privaatheid en jy sal nie eens jou buurman sien nie. R950 p.n. vir twee mense; R290 per ekstra volwassene en R225 per ekstra kind (2-16 jaar).

Die bungalows is tans gesluit vir opknapping – die bouwerk behoort teen Maart vanjaar voltooi te wees.

Dié verblyfopsie is meer basies met gemeenskaplike ablusie- en kombuisgeriewe; R250 p.p.

Let wel: Dié tariewe is tydens die grendeltydperk ingestel en kan moontlik verander.

Maak seker jy los nét jou voetspore in die duine ná jou besoek. Die sand moet skoon wees om te kan brul; bring dus jou kant om een van die reservaat se hoogtepunte te bewaar.
WEET VOOR JY WAAI

Hoe kom ek daar? Witsand is sowat 200 km oos van Upington in die Noord-Kaap. Jy kan dit met die N14 tussen Upington en Olifantshoek of die N8 tussen Groblershoop en Griekwastad bereik. Gaan na die webwerf vir aanwysings.

Jy sal 45 -75 km grondpad moet ry afhangende van die roete wat jy kies – die grondpad is gewoonlik in ’n gangbare toestand, maar maak seker wanneer jy bespreek. Jou voertuig moet ’n goeie grondvryhoogte hê.

Hektye? Heeljaar 8 vm.-6 nm.

Beste tyd van die jaar? Die duine brul tussen September en April en die temperatuur is meer gematig in die herfs en lente. Die veld is gewoonlik groener in die herfs ná die somerreëns, maar die gebied gaan tans ook gebuk onder erge droogte.

Die somer is ongemaklik warm, maar die chalets het lugverkoeling en hier is ’n swembad om in af te koel. In die winter is dit droog en koud.

Waar doen ek inkopies? Doen ’n winkel en/of ’n slaghuis aan in Groblershoop (100 km), Olifantshoek (80 km), Postmasburg (105 km) of Griekwastad (125 km). Die reservaatkiosk verkoop net die nodigste, maar jy kan darem ’n sak braaihout (R30), ’n koeldrank (R14) en ’n pakkie Simba-skyfies (R10) aanskaf.

Brandstof? Daar is geen brandstof in die reservaat nie. Maak jou tenk vol op een van die nabygeleë dorpe.

Selfoonopvangs? Hier is opvangs vir MTN-gebruikers. As jy Vodacom-, Cell C- of Telkom-opvangs benodig, sal jy net soms by die twee uitkykpunte met die buitewêreld kan kommunikeer.

Koste: Die bewaringstarief is R60 per volwassene en R40 per kind vir dagbesoekers.

Kontak: 083 234 7573 (ontvangs); witsandkalahari.co.za