
Die R600 (die hoofroete wat swaai en draai deur die Champagnevallei) loop dood by dié kampterrein aan die voet van die Drakensberg – die Monk’s Cowl- (3 229 m) en Cathkin-piek (3 148 m) toring behoorlik uit bo oor die tente.
Terwyl jy kyk hoe die son vir die berg koebaai sê, ry kinders fiets en speel krieket op die groen grasperke. En pas op, want Adoons kom gaps dalk jou tjippies en biltong.
Wat kan ek hier doen?
Hier’s agt staproetes wat wissel in moeilikheidsgraad, van ’n wandeling saam met Oupa tot ’n oefenlopie vir Everest se basiskamp.
Stap na die nabygeleë Sterkspruit-waterval (3 km) of dapper stappers kan via Gray se pas tot by die platorand stap (sowat 17 km) – dis ver, slaap liefs oor in ’n grot.
Terug by die kampterrein kan jy jou stewels uitskop en ’n toebroodjie en ’n koeldrank of ’n bier by die teetuin bestel.
Geriewe 18 staanplekke met krag; 12 staanplekke sonder krag. Hier is twee van die ablusieblokke met plek om skottelgoed en wasgoed te was.
Hoe kom ek daar? Monk’s Cowl is 35 km suidwes van Winterton langs die R600.
GPS S29.04899 E29.40700
Vir die jongste pryse Bel 036 468 1103 of gaan na kznwildlife.com
Hierdie artikel het oorspronklik in Oktober 2017 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.