Soms wanneer ’n mens ’n afgeleë dorpie binnery, wonder jy waarom iemand besluit het om juis daar te kom bly en ’n dorp te stig. Jy soek vergeefs na ’n rivier om landerye te besproei, of selfs ’n mynhoop waar iemand rykdom uit die aarde gegrawe het.

Die noordelike deel van die Weskus het ’n hand vol sulke plekke. Dorpe teen dié stuk kus is yl gesaai en kampplek nóg skaarser. Tussen Hondeklipbaai en Alexanderbaai, uitgestrek oor ’n kuslyn van 200 km – een vol diamante en skeepswrakke – lê Koingnaas, Noup, Kleinsee en Port Nolloth. Tussenin is twee munisipale kampplekke waar jy jou wa kan kom staanmaak.

Dié streek staan nie verniet bekend as die Diamantkus nie. Hoewel dit eintlik die Noord-Kaap se kopermyne is wat die aanvanklike dryfkrag agter die kusdorpies was, is dit die blink klippies wat deesdae die pot hier aan die kook – of eerder prut – hou. Van die Hondeklipbaai-woonwapark af sien jy ’n paar skuite in ’n klein baai geanker wat lyk of hulle ’n lang slurp het. Dis die bootjies waarmee die prospekteerders diamante van die seebodem af opsuig. By Port Nolloth staan dieselfde soort diamantsuiers gereed wanneer die weer saamspeel, en wanneer jy uiteindelik op McDougallsbaai kom, sal George Moyses, wat sy lewe lank al ’n diamantduiker is, vir jou die hele verhaal vertel.


Klik op die kampplek se naam vir meer inligting

1. Hondeklipbaai-woonwapark, Weskus



As jy Hondeklipbaai op Google Earth bekyk, sal jy sien die dorp is min of meer in ’n reghoek uitgelê waarvan die sye ongeveer 750 m en 1,5 km lank is. Die kampplek lê teen die see, aan die lang (noordelike) sy van die blok.

Dis nie ’n bedrywige plek nie en dit lyk nie of die bestuur onverwagte gaste gewoond is nie. Op die muur langs die hek is die  telefoonnommer van die kantoor geverf. 

Die kampplek is ook in ’n reghoek uitgelê, op ’n kaal stuk grond wat met ’n effense helling val van die Weskusbossies aan die een kant tot by die see aan die ander. As jy koelte soek, moet jy dit maar saambring, want hier is nêrens ’n boom of skadukol nie. Dit beteken darem niks belemmer jou uitsig see se kant toe nie. ’n Diamantbootjie staan en dobber in die hawe en ’n paar duikers – die geveerde soort – gebruik die maste as rusplek terwyl die boot in die branders wieg. Na regs steek nog een van die Weskus se skeepswrakke uit.

Lees meer...


2. McDougallsbaai-woonwapark



By die ingang na Port Nolloth, skaars ’n kilometer voor die kus, draai die pad links af na McDougallsbaai, wat sowat 3 km verder lê.

Die hek is ’n valboom, en net anderkant dit is ’n stuk of 20 chalets wat ook te huur is, maar die eerste “kamer” is in der waarheid die kantoor

Die oord lê soos ’n lang 600 m lange wurm teen die see. Hier is vyf ablusieblokke waarvan die middelste een (waar jy die kamp inry) net toilette het – die res het wasplek by en drie het ook ’n opwasplek. Lorraine stel voor ’n mens stap eers deur die kampplek en kies vir jou ’n staanplek sodat sy vir jou ’n sleutel vir die naaste ablusieblok kan gee.

Dit maak nie saak waar in die kamp jy jou staan kry nie; jy gaan jou moet tuismaak op ’n harde plat sandoppervlak. ’n Personeellid “kam” die sand met ’n hark en die kampplek is netjies.

Lees meer...