Die plan is om eers net deur Suid-Afrika te reis, vertel Vorster. Want hoe kan ’n mens die grens oorsteek as jy nog nie jou eie land verken het nie? Waar moet ’n mens begin? Watter roete moet jy ry?
Dis onmoontlik om te beplan, want daar is te veel mooi plekke om te sien. Daarom besluit ons om te toer soos die wind ons waai. Ons doen geen beplanning nie, en bespreek nét by ons eerste bestemming plek. Ons besluit om see toe te mik. En omdat ons nie van skares hou nie, moet dit ’n stil plek wees. Ons bespreek by die Mabibi Beach-kamp in die Wildekus en begin ons avontuur.
Ons het geen huis om na terug te keer nie. Al ons goed word gestoor. Daar is niks agter ons nie, net die ooppad voor ons met al die afdraaie wat roep.