‘Ek’s seker dié roete het al menige stapper van sy stokperdjie laat afsien,” sê Wadda Louw peinsend op die eerste dag van die Arangieskopstaproete. Ons het nog net 5 km gestap en agter ons lê reeds drie, vier of vyf groot heuwels – ons het lankal ophou tel – en voor ons wag nóg. Robertson lê vergete in die verte en Arangieskop troon stil en betowerend bo ons uit.
Arangieskop in die Dassieshoek-natuurreservaat is deel van die Langeberg en sy hange het ’n ooraanbod van mooi natuurtonele: plate suikerbosse, groen woude, varings, kabbelende stroompies, duiselingwekkende rotshange, en ’n wind bo-op die berg wat hartseer huil.
Ek stap saam met Wadda, Charl de Wit, Roland Truter, Gerrit van Deventer en Francois Albertyn. Ons is minder dapper as die groepie in J.R.R. Tolkien se The Lord of the Rings, ’n boek waarna ons telkemale op die staptog verwys, wat Mordor toe gepiekel het om ’n ring in die Mount Doom-vulkaan te gooi.