Hier deel Weg-lesers hulle liefde vir die Drakensberg.


Toe ek ’n baba was – ek was nog nie eens ’n jaar oud nie – het my ouers, Rita en Tom, my saamgevat op ’n staptog in die Drakensberg.

Ons het oornag in die Bannerman-hut in die Giant’s Castle-natuurreservaat. Iewers is ook ’n baie interessante foto van ’n toegesneeude tent wat sowat nege maande voor my geboorte geneem is...

My ouers noem my “the Berg Rat”, en dié berg het nog altyd vir my na ’n tuiste gevoel. Ek gaan stap twee tot drie keer elke jaar daar.

Ek het in Maart 2015 die eerste keer tot bo-op Cathedral Peak geklim. Dis 20 km (heen en weer) tot bo en jy styg met meer as 1 500 m. Ons het dit in ’n dag gestap. Dié foto is sowat halfpad na Orange Peel Gap geneem. Sedertdien was ek al twee keer weer by Cathedral Peak.

In Februarie 2018 kon ons nie die kruin haal nie – ’n donderstorm het ons verjaag. Ons was wel in September daai jaar op die kruin met die Cathedral Peak Challenge – ’n veldwedloop.

Die Drakensberg is ongeëwenaar – die terrein is epies en jy ontsnap ten volle van die samelewing. Hier het jy ’n oormaat sterre, vars lug en water, én uitsigte.

Ek glo ’n mens moet tyd deurbring op plekke waar jy goed voel oor die lewe; en die Drakensberg is só ’n plek.

Ek stap graag saam met my meisie, Kerry Lowe (foto links), en vriende Chris Grose en Nick Schwenke.

Chris, Nick en ek het ’n projek genaamd Wayward South Africa – ons reël staptogte vir mense landwyd.

Wie is ’n goeie stapmaat? Iemand wat die buitelewe geniet, selfonderhoudend is, verantwoordelikheid neem vir hulle veiligheid, bewus is van die mense om hulle én die omgewing bewaar.

- Dan Eden Johannesburg, Gauteng

Gaan na waywardsouthafrica.com; @wayward_south_africa of @thewaywarddan op Instagram

GOEIE TOERUSTING

Ek is gaande oor my 75 l- Nature-hike-rugsak en my termiese slaapsakbinnelaag van First Ascent.

Ek heg my Canon EOS M50-kamera aan my rugsak se skouerband vas met ’n Peak Design Capture-kamerahakie – dan is my kamera altyd byderhand.

WENK
Pak iets vir elke seisoen as jy in die Drakensberg stap en trek verskeie lae klere aan. Hoog bo in die berg draai die weer in ’n oogwink, selfs in die somer.


Ons is nie stappers nie, maar ry graag 4x4 en die Drakensberg het baie lekker roetes – ons besoek dit twee of drie keer per jaar. Hierdie foto is geneem van Brandon in die Pholelarivier naby die Cobham-kampplek (bo) – ons gunsteling.

Brandon het pas kamp opgeslaan en by die heuwel afgestap om my te soek. Dit was vreeslik warm, omtrent 34° C, met geen skaduwee nie. Hy het in die rivier afgekoel. Dié foto is ’n wonderlike herinnering. 

Die Drakensberg is nog wild – dís wat ons aantrek. Elke seisoen is anders. Die yskoue winters is net so mooi soos die grasgroen somers.

Ons verken die omgewing gewoonlik in ons Ford Ranger of Land Cruiser 80-reeks. Ons het ’n Oztent RV-5 – dis ’n puik tent.

’n Mens moet eenvoudig die Sanipas ry terwyl dit nog grondpad is. Dit bly die Drakensberg se klassieke roete. Die uitsig oor die berge laat jou sprakeloos om elke draai! Ons ry ook graag die Lower Lotheni-pad wat die dorpie Underberg met Nottingham Road verbind. 

- Marcelle en Brandon Danks Pinetown, KwaZulu-Natal

Instagram: @wandering_soul_za (Marcelle); @lets_get_lost_za_ (Brandon)

GOEIE TOERUSTING

Ons reis nêrens sonder ’n mesmoertang nie – ’n Leatherman is ons gunsteling.


Ek het ses jaar gelede begin stap; eers net in en rondom Gauteng en toe later wyer.

Toe ek in 2018 die Sentinel Peak-roete in die Drakensberg gestap het, het ek besef in watter mooi land ons bly. Sedertdien probeer ek elke maand iewers anders stap.

Die uiteenlopende natuurtonele is wat die Drakensberg só besonders maak. Elke keer as ek daar stap, vra ek myself: “Hoeveel Suid-Afrikaners weet van dié plek?”

Ek hou ook van die vreedsaamheid van die berge, veral vroegoggend. Net om van die stad en my selfoon te ontsnap is terapie! En dan natuurlik, die hoogtepunt: Om ’n goeie koppie koffie in die berge te drink.

Al twee dié foto’s is geneem op ’n driedagroete in die Mnweni-omgewing.

Dis een van die mooiste roetes wat ek nog in die Drakensberg gestap het, maar jy moet fiks wees!

Die eerste dag het ons na Shepherd’s Cave gestap en ook by Marble Baths geswem. Die water is glashelder en dit lyk na ’n geboude swembad, maar dis ’n natuurlike rotspoel.

Dié roete hou ’n mens nederig. Ek het baie gesukkel met my swaar sak. Daar is baie luukshede wat jy maar kan los, soos ’n opblaasmatras of ’n fênsie kussing.

Dit laat dink ’n mens oor die lewe. Hoe ons ’n groot huis, vinnige kar en die jongste katoeters najaag – goed wat ons eintlik nie nodig het nie.

In die berge besef jy dat ’n eenvoudige lewe ook ’n gelukkige lewe kan wees.

- Kabelo Malela Pretoria, Gauteng

Instagram: @kabelo_malela

TOPROETE VIR BEGINNERS

Die Sentinel Peak-roete (12 km) is goed gemerk en ná sowat 3 km se stap het jy ’n goeie uitsig oor die Amfiteater, Devil’s Tooth en Inner Tower. Dis ’n gewilde roete. Jy sal ander stappers teëkom, maar moet dit liefs nie alleen aanpak nie.


As kind het ek die Drakensberg saam met my ouers ontdek. Ons het deur Lesotho getoer, by die Sanipas afgery en in die Highmoor-natuurreservaat naby die Kamberg gaan stap.

Ek hou van die uitsigte in die Drakensberg, en as stapper waardeer ek die uitdagings wat die verskillende passe bied.

Hierdie foto is in Oktober 2020 geneem by die Fangspas in die Mnweni-omgewing. Ons het ’n oornagroete gestap van die Mnweni-kultuursentrum af, op teen die Fangspas, in die Fang’s Cave oornag en is die volgende dag weer terug met dieselfde roete.

Om in die berge te stap is ’n belangrike deel van my lewe. Ek het tyd in die berge nodig om my kop stil te kry en om vergenoeg en tevrede te voel.

Kies die regte stapmaats. Dis my ander helfte op dié foto – Marieul Vermaak. Dinge is nie altyd rooskleurig op ’n lang staptog nie en ’n mens raak soms moedeloos, maar goeie stapmaats maak beurte om moedeloos, moeg of negatief te voel. 

- Helene Muller Herbertsdale, Wes-Kaap

Instagram: @lienmuller8

WENKE

Gaan stap in die Drakensberg saam met mense wat die omgewing ken. Doen andersins vooraf sorgvuldige navorsing en beplan jou roete mooi. Ek kry die meeste inligting op vertical-endeavour.com.

My Garmin Fenix-horlosie en Samsung A51-selfoon is my belangrikste toerusting. Die horlosie het ’n ingeboude GPS wat help met navigasie, veral as jy vooraf die roete laai. Die slimfoon is my kaart, boek, musiek én kamera als-in-een. Ek gebruik ook die app Alpine Quest vir navigasie.


My vriend Leonard Hagger het my genooi op ’n staptog na die Keith Bush Camp in Giant’s Castle.

Dit was in 2008, en die eerste keer wat ek in die Drakensberg kom. Ek kon gelukkig allerlei kamptoerusting by Leonard leen.

Dit was ’n ysige winter en báie koud. Ek het ’n dun slaapsak gehad wat eintlik net geskik was vir temperature bo 5° C – en dit was báie kouer as dit! Ek het vinnig besef hoe onvoorbereid ek was. So mooi soos wat die berge is, so brutaal kan dit wees; veral snags. Ek het net sowat twee uur geslaap daai eerste aand, en het wakker geword met vriesbrand op my boonste lip!

Ná daai uitstappie het ek eindelose respek vir die Drakensberg en het ek myself voorgeneem om áltyd die regte toerusting saam te bring.

Die foto is geneem op Gray se Pas in September 2020. Kyk of jy die ander stappers teen die helling kan sien.

’n Mens klim van die basiskamp by Monk’s Cowl af verby die Sphinx en Blind Man’s Corner tot by die Keith Bush Camp.

Die volgende dag is ’n stywe klim teen Gray se Pas tot op die kruin van Champagne Castle.

Geen plek hou kersvas by die Drakensberg nie. Dis beeldskoon en ’n uitdaging om te verken. Die uiteenlopendheid van die omgewing is simbolies van die uiteenlopendheid van die mense en kulture in Suid-Afrika.

Elke seisoen lyk heeltemal anders. Elke besoek voel soos die eerste keer. Elke kruin wat ek uitklim, is spesiaal.

Ek’s gaande oor die winter, want dis nie so bedrywig nie en ’n mens kan verder stap wanneer dit koeler is.

Ek is ’n verkoopsbestuurder in die IT-bedryf en dinge raak soms besig en stresvol. Dis bevrydend om in die Drakensberg te wees; weg van die werk. Wanneer ek stap, voel die lewe eenvoudig, sonder die eise wat ons aan onsself stel. In die berge kan jy jou losmaak van die samelewing en jouself weer ontdek. Op die kruin van ’n berg besef ek dinge wat ek in my daaglikse lewe doer onder toepas. 

- Ndamu Gumani Sibasa, Limpopo

Instagram: @hi_king_mule

GOEIE TOERUSTING

My K-Way Drake Down ‘18-baadjie en Osprey Aether 70 l-rugsak werk perfek. Dit het ’n teengravitasiekrag-meganisme – dis amper asof daar ingeboude vere in die skouerbande is. Danksy die tegnologie versprei die sak gewig baie beter as my vorige rugsakke.


Ons staptog na die Sleeping Beauty Cave in die Garden Castle-omgewing naby Underberg het rustig begin totdat die wind opgesteek het.

Dit was in September 2020 en ondraaglik warm veral die laaste 100 m se klim tot by die bek van die grot.

Maar die uitsigte was die gesweet werd. Net toe ons wou terugstap, gewaar ons die weerkaatsing in die poeletjie water en besef dit sal vir mooi foto’s sorg.

Acacia het hierdie foto van my geneem. Ons is albei fotograwe en bestuur ’n klein produksie-maatskappy genaamd Salty-C Productions, wat fokus op toerisme en reis.

Ek het die Drakensberg die eerste keer besoek toe ek 14 jaar oud was. Dit was ’n tipiese gesinsvakansie: Ons het alles gedoen – van stap tot kabelgly.

Die Champagne Valley is my gunstelingdeel. Die rotsformasies, watervalle en wolke sorg vir uiteenlopende landskapfoto’s.

Dis altyd lekkerder om saam met iemand te stap wat dieselfde belangstellings het.

Wanneer ek en Acacia saam voetslaan, stop ons gereeld en neem foto’s. Wanneer ons saam met vriende stap wat nie fotomal is nie, raak ons gou ver agter!

Michael Monk en Acacia Denison
Michael Monk en Acacia Denison

- Michael Monk en Acacia Denison, Oos-Londen, Oos-Kaap

Instagram: @acacia.denison; @michael.monk; @salty.c_productions

FOTOWENKE Pak lig. Acacia stap met ’n liggewig Fujifilm X-T30 met ’n 35 mm-lens en ek met ’n Fujifilm X-T4 met ’n 16-55 mm-lens, en ’n GoPro HERO 8. Indien moontlik neem ons ook hommeltuie saam – ’n DJI Mavic 2 Air en DJI Phantom 4.

Die beste foto-oomblikke is in sagteligtoestande, veral laatmiddag en vroegaand. Die berge in die verte – dynserig in die dag – word dan skielik in mooi kleure getooi. Jy het net ’n zoemlens nodig vir goeie komposisie. Ek hou ook daarvan as die wolke verstrooi lê in die lugruim – dis dan asof die wolke by die oneweredige vorm van die berge pas.


Ek en Egan het vroeg in 2020 ’n reisblog begin om ons liefde vir Suid-Afrika met ander te deel.

Ek hou van reisstories en het sedert my kinderjare dagboek gehou van ons gesinsvakansies, en foto’s geneem.

Egan is gaande oor allerhande voertuie, met ’n sagte plekkie vir ons Land Rover Defender, Winston. Winston hou baie daarvan om stadig teen die voet van die berge af te kruie – nes ons!

Hierdie foto van Winston is geneem buite die Koninklike Natalse nasionale park.

Ek en Egan het in Johannesburg grootgeword. Ons was in dieselfde skool en was albei vir gesinsvakansies na die Drakensberg – ’n wonderlike week van stap, spring in waterpoele en soveel avontuur as wat ’n tienerlyf kon vat.

Ons werk in die stad, en dis gerustellend om te weet ons kan Vrydag ná werk na die Drakensberg ry. Jy kan op ’n Saterdag wakker word omring deur die hoogste pieke in Suid-Afrika.

In die natuur voel ons nader aan ons Skepper. Ons herhaal dikwels dieselfde frase as dinge op ’n staptog woes raak in ons daaglikse lewe: “Sit net een voet voor die ander.”

Ons beveel Oliviershoekpas aan as jy ’n lekker roete wil ry. Die pad lei na die hart van die Amfi-teater met uitsonderlike uitsigte oor die vallei. 

- Tegan en Egan White Johannesburg, Gauteng

Volg hulle op eganandtegan.com of op Instagram: @eganandtegan; @eandtapparel (hulle klerereeks)

WENK
Onthou altyd sonskermroom – ons het al lekker verbrand op ’n staproete. Asook ’n behoorlike hoed, goeie stapskoene en baie water. Ons GoPro HERO 8 is natuurlik ’n noodsaaklikheid!


In Julie 2018 is ek, Mark Tuna (’n vriend en mede-avonturier) en Justin Baker (’n vriend en ook ’n stapgids) die Drakensberg in vir drie dae.

Ons het by die Cathedral Peak-hotel se parkeerterrein begin en opgeskiet met die Organ Pipes-pas, en toe oorgeslaap in Roland’s Cave. Om in grotte te oornag is waarskynlik my gunstelingding van die Drakensberg, en Roland’s het een van die beste uitsigte!

Die volgende oggend het ons vroeg begin en oor Cleft Peak gestap.

Ons moes eers onder die kransgedeelte van Mahout Peak verby en toe klim, waarna ons op die ikoniese Elephant Peak en Cockade Peak kon uitkyk.

Daarvandaan het ons ’n ent afgestap met die Xeni Cutback (dié voetpad vat jou van Leopard Peak, verby Xenipas, na Mlambonja Buttress) in die Kwakwatsi-vallei waar ons uiteindelik weer ’n bietjie drinkwater kon kry.

Toe moes ons weer opklouter tot bo-op die plato, en kon ná ’n paar kilometer effens afdaal met Mlambonjapas om Twins Cave te bereik vir die nag.

Dit was ’n bietjie stresvol omdat die waterbronne vuil was en ons ook Basotho’s teëgekom het wat aangedring het op sigarette (en foto’s van hulleself) voor hulle ons laat verbystap het.

Dié foto is op die derde dag geneem toe ons van Twins Cave met Bell Traverse afgestap het. Hierdie is die laaste deel van Bell Traverse, bekend as Bugger Gulley.

Jy moet jou storie goed ken! Die approach na Bugger Gulley is al langs ’n smal voetpaadjie met ’n byna loodregte afgrond aan jou een kant.

In Bugger Gulley is óral los klippe, en jy moet fyn trap en goed vasklou aan rotse terwyl jy opskarrel. Ons moes fyn trap tussen die ys en sneeu, en met swaar rugsakke was ons al goed moeg. Ons voete was al gevries van die nat en koue weer!

Veral in die Drakensberg verkies ek dat my stapmaats ervare en fiks moet wees. Hulle moet lus wees vir ’n bietjie off the beaten track en gemaklik wees om in alle weerstoestande te stap. Al waai die wind, en al reën of sneeu dit – as jy géés het, sal die avontuur volg!

O, ja, my stapmaats moet ook lekker kan kos maak... 

- Henk Brand Kaapstad, Wes-Kaap

Instagram: @thesecretadventurer

GOEIE TOERUSTING

Ek wil gemaklik slaap, veral op veeldagstappe sodat jy kan uitrus en weer lekker kan stap die volgende dag. My opblaasmatrassie gaan altyd saam – dis ’n Sea to Summit Ultralight wat 395 g weeg.


Ek is ’n taalkundenavorser en dis seker hoekom die woord “Drakensberg” my as tiener in die vroeë 1990’s aangegryp het. Dit klink net te indrukwekkend om te ignoreer!

’n Ander inspirasie in my jeug was die legendariese bergklimmer Sibusiso Vilane. Hy het destyds sy oefenlopies in die Drakensberg gedoen voor hy in die Himalajas gaan klim en later – in 2003 – Berg Everest uitgeklim het.

In die “Drakies” stap ek altyd saam met ’n groep vriende wat nou soos familie voel. Dis mense wie ek sonder enige vrae met my lewe vertrou wanneer ek in die berge is.

My gunstelingroete is die Mafadi-wildernisroete, veral as jy dit begin stap teen die moordende Cornerpas uit, en dan teen Leslie se Pas af. Dis ’n ernstige klim; dus moet jy fiks wees – en effe mallerig!

Vier dae lank sien jy net jou stapvriende, en dalk een of twee Basotho-veewagters. Dis hemels, want jy vergeet geheel en al van die buitewêreld. Hierdie foto is in November 2019 tydens ons trek na die bopunt van Mafadi Peak geneem.

Stap gun my die kans om op allerhande maniere “oor te begin”. Dit gee my die tyd om na myself te luister en op daardie wyse weer te ontdek wat my heel maak.

In die natuur is dit duidelik hoe klein en onbelangrik my plek in die groter Skepping is. Dis ’n gewaarwording wat my nederig maak, én ’n beter mens; só glo ek. 

- Xolani Tembu Kempton Park, Gauteng

Instagram: @bmabhalane

GOEIE TOERUSTING

Goeie stapstewels is die verskil tussen ’n genotvolle stap en ’n aaklige een. Ek kan Salomon se Evasion 2-skoen aanbeveel. Pak soos ’n Kapenaar – iets van als, want die weer kan vinnig draai bo in die berge (as jy weer sien, slaan die weerlig sommer!).


Sonsopkoms, Amfiteater.

Ek raak sommer nostalgies wanneer ek deur die foto’s in my Drakensberg-argief kyk. Ek onthou dadelik weer my eerste besoek in 2015, toe ek alleen die berge in is. Dit was liefde met die eerste oogopslag...

Vier dae lank het ek gekamp, gestap en grotte verken in die meredistrik rondom Cobham. Ek het foto’s geneem, boek gelees en my vrese trompop geloop. Die alleenheid het later soos ’n toevlug begin voel. Ek het respek gekry vir die wispelturige weer en vir die aard van die wildernis. My passie vir stap en fotografie het vlamgevat op dié trippie.

Sedertdien leer elke nuwe staptog in die Drakensberg my iets nuuts van myself. Ek leer wat goed is vir my, en wat nie. Stap gee jou die geleentheid om dit wat jou in die lewe terughou agter te laat en sodoende ’n vars perspektief op jou lewe te kry.

Dit begin aan die begin. Ek staan aan die voet van ’n steil pas en dink dit lyk onmoontlik om bo uit te kom. Maar daar is altyd ’n manier.

En wanneer ek bo kom, en my rugsak van my skouers afgly – drink ek die uitsig in, en voel sommer hoe my longe groter swel in my borskas. Dís waaroor die lewe gaan, of hoe?

Daarna slaan ek kamp op, kook koffiewater, en sit terug met ’n koppie koffie en ’n boek. Saans lê ek knus in my slaapsak onder die sterrekombers – dís die Drakensberg!

Die volgende oggend word ek wakker ná ’n koue nag met die eerste strale van die opkomende son op my gesig. Onder in die vallei maal die miswolke...

Dalk is dit die endorfiene van die oefening en die adrenalien van die opwinding saam met die dun lug en die min slaap wat jou skoon lighoofdig laat. Hoe dit ook al sy, wanneer ek later weer uit die Drakensberg stap, voel ek soos ’n nuwe mens, ligter as toe ek aangekom het. 

- Graeme Holliday Kloof, KwaZulu-Natal

Instagram: @graeholliday

Vroegaand, Rockeriespas (Mnweni-omgewing).

GOEIE KAMERATOERUSTING

Ek vat my Sony a6500 met twee lense – ’n 16 mm f1.4-wyehoeklens en ’n 30 mm f1.4-lens saam. Dié toerusting is klein genoeg om in te pak op ’n staptog, maar lewer steeds hoëgehaltefoto’s en -video’s