Af is die enigste pad wat daar is sodra jou bakkie eers daardie eerste, weifelende treetjie gee teen die (vir sommige) vreesaanjaende Vanzylspas af. Maar hou kop, volg die aanwysings van jou maat wat voor staan en die pad beduie.
Sodra jy hierdie struikelblok oorkom, kry jy jou beloning. Jy ry die ooptes (grasvlaktes as daar reën in die somer geval het) van die Marienfluss binne. Skielik begin hierdie avontuur ook na vakansie voel. Jy volg jou toerleier se spore, en stop waar hy stop, soos by die Rooidrom, ’n dieseldrom wat al dekades lank hier ’n kruispad aandui. Daar draai julle konvooi suid. Oral om jou lê die Kaokoveld, ’n plek sonder selfoonsein, petrolstasies en die ander fieterjasies van jou bestaan by die huis.
Daar is min sulke plekke oor, en jy is hier om hierdie andersheid te ervaar en om jou vir ’n paar dae te begeef in ’n nuwe ritme, bepaal deur hoe die skurwe tweespoorpaadjies jou nuwe bande kou, hoe gereeld die konvooi stop om iets te bewonder: ’n ou marmermyn dalk, of ’n mooi staning sprokiesbome, wat herinner aan miniatuur-kremetartjies as jy vinnig kyk.