Deel

Kyk: Avonturiers takel die Seweweekspoortpiek!

akkreditasie
Die Seweweekspoort Peak-staproete
Die Seweweekspoort Peak-staproete

Die avonturiers Michael Green en Thinus Brink het die YouTube-kanaal Why Not Adventures begin om hulle passie vir die buitelewe te deel. In dié video stap hulle tot by die Seweweekspoortpiek: Die hoogste spits in die Wes-Kaap!

Ons gesels met Michael.

Wat is Why Not Adventures?

Ons is passievol oor die buitelewe, fotografie en videografie. Ons is siviele ingenieurs en bring die res van ons tyd deur in die berge, op soek na ons volgende avontuur! Ons hou daarvan om ons reise te dokumenteer en toe begin ons Why Not Adventures om die mooi van die buitelewe met ander te deel.

Ons wil graag die fantastiese staproetes en berge van Suid-Afrika met ons volgelinge deel.

Verskaf: Why Not Adventures
Verskaf: Why Not Adventures

Hoe uitdagend was die staptog?

Seweweekspoort het sneeu op die berg in die winter – dit is ’n epiese avontuur! Dis een van net twee pieke in Suid-Afrika wat geklassifiseer word as ’n 'Ultra Prominent Peak', en is die hoogste berg in die Wes-Kaap. Dis ’n uitstekende uitdaging.

Ons het dit uit die suide benader (die Hoeko-benadering) en op ongeveer 810 m begin. Ons het die piek van 2 325m ná 12 km bereik. Die eerste deel van die staptog volg ’n ou tweespoorpad wat nie meer gebruik word nie totdat jy ’n klein skuiling in die berg bereik. Jy stap met ’n mooi enkelpaadjie tot by ’n reënmeter en die rand van die berg, van waar jy die Seweweekspoortpas kan sien.

Van daar af maak jy staat op klipstapels om jou te lei na ’n groot grot in die kant van die berg; dis nogal ’n tegniese klim. Stap die laaste 310 m tot heel bo as jy nog kan: Wees gewaarsku, dit is die moeilikste deel van die staptog. Die panoramiese uitsigte oor die Karoo en die Tuinroete is egter die moeite werd!

Verskaf: Why Not Adventures
Verskaf: Why Not Adventures

Enige wenke vir ander stappers?

Maak seker jy’t iemand in die groep wat reeds die staptog gedoen het, of kry ’n goeie GPS en laai die roete daarop. Die eerste 2 km (die tweepoorpad) is verspoel en is nie duidelik gemerk nie, stap oor die klofie by ’n veiliger deel tot by die skuiling. Die enkelpaadjie van die skuiling af tot by die bergrand is redelik duidelik – hou net by die regte roete. Hou jou oë oop vir die klipstapels, die paadjie raak minder duidelik nadat jy die reënmeter verbysteek.

Die grot is effe versteek – kyk op die webwerf (sien skakel onder) vir bakens wat jy soontoe kan volg. Verder raak die klippe losser en die roete raak steiler en meer uitdagend.

Daar is nie veel lopende water langs die pad nie – doen jou navorsing voordat jy die roete aanpak en wees voorbereid.

Verskaf: Why Not Adventures
Verskaf: Why Not Adventures
Verskaf: Why Not Adventures
Verskaf: Why Not Adventures

Wat is volgende op julle lysie?

Elke naweek en berg bied ’n geleentheid om iets op ons lysie af te merk… al is dit net om Leeukop uit te klim! Maar ons volgende groot uitdaging is die Drakensberg.

Nog inligting oor die roete:

Kyk by www.towerkopinfo.co.za/Seweweekspoort-Peak vir alle inligting oor die roete.

Kontak:

Jan Viljoen (gee jou groep se grootte, die datums wat julle wil stap en die besonderhede van julle groepleier): jpbviljoen@gmail.com, 083 698 2973

Gerrit Nel (vir toestemming om te parkeer by die begin van die roete): 028 561 1628

Parkeerplek is op Gerrit se plaas by die dam. As jy ’n 4x4-voertuig met ’n ewenaarslot het en gewillig is om op ’n steil tweespoorpad te ry tot by die volgende parkeerplek, kan jy 30 minute van jou staptyd aftrek.


Volg Michael en Thinus se avonture op Instagram en Youtube.