Foto's: Willem van der Berg

Die Vrystaat kry soms dwarsklappe uit ander provinsies. Daar word gesê die Vrystaat is plat en stowwerig. En die mooiste pad deur die Vrystaat is die N1, want dit vat jou die vinnigste daardeur. Dan is daar die arme Cheetahs wat misken word... Maar wanneer die Haaie, Bulle en Leeus huis toe gaan, kom hulle na hulle ma’s toe, Vrystaat toe.

Wat min mense van die Vrystaat weet, is dat die provinsie in die herfs van die mooiste plekke in die land is, veral op windstil dae wanneer die rooigras en goue populiere uitstaan teen ’n blou lughemel. (Het ons al genoem dat Willem in die Vrystaat grootgeword het? – Red.)

As jy hierdie dae op hulle mooiste wil sien, mik na die Golden Gate-Hoogland- nasionale park. Die park lê neffens Lesotho rofweg tussen Bethlehem en Harrismith, waar die Drakensberg en die Maluti’s sy aan sy lê. Kom ry saam en kyk of jy met dié Vrystater saamstem.

Teen die tyd dat my tentjie regstaan by die Glen Reenen-ruskamp, skyn die son al goud op die populiere. Reg rondom my troon sandsteenkranse uit. ’n Entjie wes hou die bekende Brandwagrots wag oor die landskap.

Dis die middel van die week en die enigste ander kampeerders staan heel aan die ander kant van die kampterrein. Maar die stilte is goed en ek kry nog daarvan op die Blesboksirkelpad (6,7 km). Die pad klim stadig tot op ’n groot, oop plato. Ek hou stil en klim uit. Die park het nie gevaarlike diere wat jou gaan plattrek nie; dus kan jy oral rondstap.

Reg rondom my troon sandsteenkranse uit. ’n Entjie wes hou die bekende Brandwagrots wag oor die landskap.

Dis oop rondom my. Die lug is koel. Agter my sien ek ’n reënbui uit Lesotho nader kom en dan stadig teen die berge afkruip. Die wolke skuif voor die son in. Fyn druppels sif neer tot net-net op die grond. Dan stoot die son die wolke ’n bietjie eenkant toe, knip-knip oog en kyk reguit Golden Gate toe. Die gras, die sandsteen en die golwende berge vat eensklaps vlam! In die ooste bons ’n reënboog regop. En ’n jakkalskoor trek weg met ’n aandlied.

Op hierdie oomblik is daar nie ’n mooier plek op aarde nie. Ek bly tot die skemer die veld kom toegooi.

TOEVLUG. Die Anglo-Boereoorlog het ook hier in en om die Rooiberg gewoed. Van die vroue en kinders het selfs gedurende die oorlog in grotte en uitgeholde kranse weggekruip sodat hulle nie na konsentrasiekampe geneem word nie.

Dis juis dié gloedtonele wat aan Golden Gate sy naam besorg het. Hier was natuurlik nie altyd ’n park nie. In die 1850’s het die destydse Oranje-Vrystaat en Basotholand gereeld baklei oor die omgewing wat bekend gestaan het as die Rooiberg.

Ná die vredesverdrag in 1869 het die Vrystaatse regering plase uitgemerk en verkoop sodat die grens met Basotholand beveilig kon word. Een van die plase, Vuurland, is in 1878 deur die Van Reenen-familie gekoop. Toe hulle teen laatmiddag op hulle nuwe grond aankom en die son se laaste strale die sandsteen goud laat brand, het hulle die plek tot Golden Gate herdoop.

In 1962 het die regering die plaas Golden Gate gekoop en in 1963 is dit as ’n nasionale park verklaar.

Teen 116 km² is dit nie ’n groot park met duisende luspaaie en troppe wild nie. Die volgende môre ry ek die enigste ander sirkelroete in die park, die Oribi-sirkelpad (4,2 km). Die pad kronkel deur golwende heuwels wat strek tot waar die aarde ophou. ’n Skare rooigras wuif in die wind. Hier en daar staan ’n wildebees of sebra afgeëts teen die blou lugruim.

Ek hou stil bo-op ’n plato by ’n netjiese skuiling wat op ’n aasvoëlrestaurant uitkyk. Dié aasvoëlrestaurant lok witrugaasvoëls en skaars lammergeiers, maar vanoggend is dit net ek en ’n paar kaalgevrete bene.

’n Skare rooigras wuif in die wind. Hier en daar staan ’n wildebees of sebra afgeëts teen die blou lugruim.

Volgens die skuiling se besoekersboek het skaars ’n hand vol mense wel die aasvoëls gesien. Ander het darem jakkalse dopgehou. Dis goed so. Die natuur moenie voorspelbaar raak nie.

’n Entjie verder af met die Oribi-sirkelpad hou ek stil by die Drakensberg-uitkykpunt. Van hier af kan jy sien hoe die indrukwekkende kranse van die Koninklike Natalse nasionale park gate steek deur die miswolkies.

Dagsê, Hoofman

Die R712 tussen Clarens en Phuthaditjhaba loop deur Golden Gate en jy kry soms verkeer op die pad, maar dit is ’n mooi roete wat verby fors sandsteenkranse skuur en tussen proteabosse deurvleg. Langs die pad, heel aan die oostekant van die park, is die Basotho Cultural Village.

Die ingang boesem nie veel vertroue in nie... maar die gids Jack Mopeli ontvang my vriendelik. Die doel is om besoekers te wys hoe die Basotho’s se leefstyl die afgelope 400 jaar verander het. Die mense wat jy hier teëkom, bly in Phuthaditjhaba en werk as “akteurs”.

Ons loer in by die hoofman om toestemming te vra of ek deur die huisies kan stap. Jack gesels in Sotho met die hoofman wat toegedraai is in ’n blesbok- en tierboskatvel, met ’n Basothohoed op die hoof. Hy knik stadig ná ’n sluk sorghumbier. Dit smaak beter (soos soetsuur slappap), as wat dit lyk (’n vaal, slymerige gedoente), vind ek later uit.

In Golden Gate gaan jy waarskynlik meer foto’s van die landskap as van wild neem, maar jy sal sebras, wildebeeste, elande, blesbokke, springbokke en hopelik ’n lammergeier te siene kry.

Jack vertel hoe die Basotho’s, wat eens veldmense was, met tyd aangepas het by die moderne samelewing. Velklere het komberse geword. Modderhutte steenhuise. En mielies en perde het saam met die Engelse en Voortrekkers gekom.

“Al waar jy nog iets van die ou Basotho-kultuur sien, is in Lesotho,” sê Jack. “Die grootste rede vir die verandering in ons kultuur was godsdiens. Die Basotho’s het die Christelike geloof aanvaar en moes afstand doen van voorvadergeeste en tradisionele medisynes en sangomas. Toe hulle daarmee breek, het niks hulle vasgehou aan die Basotho-tradisies nie.”

Hier is wel ’n sangoma – ek stap in sy donker hutjie in. Die sangoma is toe onder springbokvelle en om sy kop is ’n jakkalspels vasgemaak. Ek blaas in die leersakkie vol bene en ander ornamentjies. Dan gesels die sangoma met die voorvaders en skud die sakkie uit op die grond: “Die paaie lyk oop vorentoe.”

Dié ernorme stuk sandsteen is die Brandwagrots en jy kan op sy punt gaan staan en oor die Golden Gate-vallei kyk terwyl die son sak.

Op my laaste dag in die park stap ek laatmiddag van die Glen Reenen-ruskamp af met die Echo Ravine-paadjie teen die berg uit. Anderkant ’n smal sandsteenkloof sluit ek aan by die Boskloofroete en stap deur digte bos en onderdeur massiewe sandsteenkranse totdat ek twee uur later bo-op die Brandwagrots staan.

’n Mens wonder so af en toe of jy nog in die Vrystaat is. Dit lyk soveel anders as groot dele van die provinsie. Selfs die toeriste Neathan en Charity Visser van Anchorage in Kanada wat saam met my by die Brandwag staan, dink hulle is op ’n ander plek.

“Ons is verstom oor die sandsteen. Dit laat ons baie aan Utah in Amerika dink,” vertel Neathan. Intussen vang die son se laaste strale die Brandwagrots. Onder ons staptekkies begin die sandsteen gloei.

“Ek kan sien waarom die plek Golden Gate genoem word,” sê Neathan. “Dit lyk soos die ingang na ’n verborge paradys.” Neathan had gelyk; dit lyk soos goue poorte na ’n hemelse plek. Maar dis nie ’n geheim nie. Dit is hier, amper in die middel van die land, in die mooiste provinsie, die Vrystaat. En dit wag om jou te oorrompel.

Emily Tlhapi van die Basotho Cultural Village wys hoe ’n Basotho-energiehappie fyngemaal word.
Die Echo Ravine is ’n massiewe spleet in die sandsteenkranse. Op ’n somers-dag is dit lekker koel hier en jy kan selfs onder ’n watervalletjie staan.


Weet voor jy waai

Hoe kom ek daar? Die park is rofweg tussen Bethlehem (sowat 55 km) en Harrismith (sowat 45 km). Indien jy van Bloemfontein af kom, hou in gedagte dat daar tans gewerk word aan die N8 tussen dié stad en Ladybrand. Ry eerder met die N5 na Bethlehem.

Waar eet ek? Die Glen Reenen-ruskamp het ’n winkeltjie met basiese benodigdhede soos hout, vuuraanstekers, blikkieskos, brood, melk, ys en selfs ‘n paar hemde en hoede.

Dagbesoekers kan aansit by die Golden Gate-hotel se restaurant. Bespreek liefs vir ontbyt en aandetes. Tussen 10 vm. en 6 nm. is die koffiewinkel oop waar jy ligte etes soos geroosterde broodjies, gevulde pannekoeke en slaaie kan bestel.

Net buite die westelike ingangshek is twee padstalle: By Di Bus Stop (dibusstop.co.za) kan jy in ’n ou rooi bus weglê aan gevulde pannekoeke. Die biltong is ook aan te bevole. Sugar and Cinnamon (082 382 3515) het goeie koffie en hulle boere-ontbyt (R80) is gelaai met boerewors en steak. Hier is ’n kaggel vir die kouer dae en hulle het allerhande mooi kuns en geskenke. Clarens is slegs 20 km van die park af en hier is heelwat restaurante en kleinerige kruidenierswinkels.

Beste tyd om te gaan? Somer is reënseisoen: die park is grasgroen met klein watervalle en helder waterpoele. Die winter is ysig, maar die bergspitse is vol sneeu en die meeste huisies het kaggels.

Herfs is mooi – dit raak effe koel in die aande; pak dus ’n warmding. Lente kan vaal en droog wees. Maar as die reëns vroeg val, begin dit gou mooi lyk.

Hoe lyk die paaie? Al die paaie is geteer. Die tweespoorsementpad na die Highland Mountain Retreat-houthuisies is plek-plek steil, maar in ’n goeie toestand.

Brandstof. Hier is ’n klein motorhawe met brandstof by die Glen Reenen-ruskamp.

Toegang en hektye. Die R712 loop deur die park; dus betaal ’n mens nie toegang om in of deur te ry nie. Die hekke is meestal oop. As jy in die park gaan rondry, betaal jy die bewaringstarief (R48 p.p.p.d. en R24 per kind) by die Glen Reenen-ruskamp.

Kontak 058 255 1000; sanparks.org 

Waar bly ek?

Glen Reenen-ruskamp

Glen Reenen het heelwat staanplek en die meeste is op gras onder bome. Die ablusie- en kombuisgeriewe is netjies. Hier is ook rondawels en huisies om in te bly.

Koste Kamp: Vanaf R230 p.n. vir 2 mense (sonder krag), R88 p.p. wat bykom en R44 per kind (slaapplek vir 6 mense); R250 p.n. met krag. Selfsorgrondawel: vanaf R915 p.n. vir 2 mense, R260 p.p. wat bykom en R130 per kind (slaapplek vir 4). Gesinskothuis: vanaf R1600 p.n. vir 4 mense.

Golden Gate-hotel en -chalets

Die hotel was voorheen die Brandwag-hotel, maar het ’n paar jaar gelede ’n metamorfose ondergaan en ’n nuwe naam gekry. Die blyplek is netjies, die restaurant en kroeg spoggerig met gawe uitsigte, en hier is tennisbane.

Koste Selfsorgchalet: Vanaf R1 220 p.n. vir 2 mense, R260 p.p. wat bykom en R130 per kind (slaapplek vir 4). Hotelkamer: vanaf R1 275 p.n. vir 2 mense (ontbyt ingesluit).

Highland Mountain Retreat

Sien heel eerste die son opkom in die Vrystaat uit een van die houthuisies hoog teen die berg se hange. Die kanse dat ’n lammergeier verby sweef, is goed. Stook saans kaggel en luister na jakkalse.

Koste Vanaf R1 500 p.n. vir 2 mense, R430 p.p. wat bykom en R215 per kind (slaapplek vir 4).

Basotho Cultural Village

Hoewel dit rond is met grasdakke, is dit geensins tradisionele hutte nie. Dis modern binne en elke rondawel het ’n kombuis en badkamer en ’n braaiplek buite.

Koste R870 p.n. vir 2 mense, R260 p.p. wat bykom en R130 per kind (slaapplek vir 4).

Noord Brabant-gastehuis

Jy volg ’n tweespoorpaadjie van sowat 3 km om by dié afgeleë plaashuis uit te kom. Jy gaan geen ander besoekers of voertuie sien nie. Om jou hou die berge wag.

Koste Vanaf R1 600 p.n. vir 4 mense, R430 per mens wat bykom en R215 per kind wat bykom (slaapplek vir 6).

Wat nog?

Vir die stappers. Kry ’n kaart by ontvangs. As jy net ’n naweek het, stap die Holkranssirkelroete (1½ uur) van die hotel af. En stap van Glen Reenen af na die Echo Ravine, Boskloof, Brandwagrots en Mushroom Rock – jy kan al dié punte kombineer in een lang roete van sowat 2½ uur. Die twee dae lange Ribbokroete strek oor 28 km. Op dag 2 klim jy tot 2 600 m bo seevlak, maar dis doenbaar vir die gewone ou. Die oornaghut het hout en matrasse. Dit kos R175 p.p. plus die bewaringstarief van R44 p.p.

Vir dies met rooimiere. Nie elke ou wil heel naweek op die stoep sit met ’n boek nie. Perdry kos R150 p.p. vir ’n uur en R200 vir 2 uur. Abseil teen die kranse af of roei in die Ribbokspruit (slegs in die somer). Laasgenoemde aktiwiteite moet vooraf bespreek word. Pryse hang af van die grootte van die groep, maar begin by sowat R200 p.p. vir 4 mense.

Leer meer oor die Basothokultuur. Toere elke dag van 9 vm. tot 4.30 nm. teen R60 p.p. ’n Besoek aan die sangoma kos R30 p.p