Doer ver kom iets aan met ’n stofwolkie agterna op die enkele grondpad wat soos ’n strook maskeerband reguit op die landskap lê.
Ek staan op die rand van die plato by die Erongo Plateau Camp. Dit lyk na ’n toneel uit ’n aksiefilm waar die “goeie ou” op ’n geheime plek wag en sien hoe sy aartsvyand al hoe nader kom... Maar vandag is die enigste ding wat wil wraak neem, die son.
Dis snikheet waar ek en die fotograaf Shelley Christians, saam met Absalom Nghidipohamba deur die kampterrein stap. Dis Novembermaand. Namibië gaan gebuk onder erge droogte. Rondom ons lyk die landskap en die oorblywende bome en plante bros. Absalom en vier ander ouens bly hier iewers in die Erongoberg en sien om na dié kampterrein in die middel van nêrens. In die volgende paar dae sou ons nog talle sulke plekke aandoen. Welkom in die Erongoberg, waar alleenwees nuwe betekenis kry.