Deel

Kuier by die sjimpansees in Tanzanië

akkreditasie
Uit die argief: ’n Besoek aan ’n sjimpanseekolonie was ’n hoogtepunt op die leser Leonore Botha se Afrika-toer. ’n Mens kan egter nie net inval en foto’s neem nie. Dit verg beplanning om by dié groot ape te kuier.

Ek en my man, Bernard, droom al lank om van Pretoria tot in Dar es Salaam in Tanzanië te ry, en 2014 was dié jaar. Ons beplan ses maande lank aan ons maand lange toer: Op pad sou ons onder meer die Kasanka- nasionale park, die Kapishya-warmbronne, die Katavi- nasionale park besoek en die Serengeti- nasionale park aandoen.  

Daar was hope inligting oor die meeste van die plekke op ons roete, maar vir ’n besoek aan die sjimpansees in Tanzanië se Gombe- nasionale park was daar weinig. Per e-pos kon ons nie agter die kap van die byl kom nie. Ons het besluit om vir eers te reis tot op Kigoma, die naaste dorp aan die park. Sou ons planne nie uitwerk nie, kon ons net voortgaan op ons roete.

Ná sowat twee weke het ons in gietende reën van Sitalike, die naaste dorpie aan die Katavi- nasionale park, af vertrek na Kigoma. Ons kon nie vooraf inligting opspoor oor die toestand van die pad nie en ry op die ou einde agt uur aan sowat 400 km. Ons kom ’n paar busse, trokke en Toyota Cruisers teë  – almal met Tanzaniese registrasienommers. 

Op Kigoma saal ons af by Jakobsen Beach and Guesthouse op die oewer van die Tanganjikameer. Ons wil vier aande bly om die sjimpansees te sien, en voorraad aan te vul. 

Die meeste toeriste wat die park besoek, vlieg soontoe en bly in ’n vyfsterlodge. Hier kom nie eintlik toeriste op die dorp nie.

Die inwoners praat nie juis Engels nie, en kommunikeer met handgebare. Die winkeltjies verkoop van ingevoerde blikkieskos, pap, pasta en Pringles tot Heineken. Gebottelde water en seisoengroente en vrugte is goedkoop (sowat R2 vir 500 ml water, en R10 vir ’n pynappel, drie tamaties, ’n komkommer, vier piesangs en ’n avokadopeer). Hier’s ’n bank en ’n OTM vir sjielings. 

Ná ’n bedrywige oggend mik ons vir die Sun City Restaurant met ’n stoep waar jy kan sit en mense kyk en baie drooggebakte hoender en vis eet. 

Ná ete ry ons na die hawedorpie Ujiji sowat 10 km suid van Kigoma, waar die avonturier Henry Morton Stanley vir David Livingstone opgespoor het met: “Dr. Livingstone, I presume?” 

Die Dr. Livingstone-museum is verlate en verwaarloos. Hier is ’n gedenkplaatjie onder die mangoboom waar hulle glo ontmoet het. Tog is hier ’n hele paar mangobome...

Hier’s twee parke waar jy die sjimpansees kan sien: die Gombe- en die Mahale- nasionale park. Albei is moeilik en duur om by uit te kom. Gombe is wel makliker. 

Jakobsen Beach and Guesthouse reël vir ons ’n boot van ’n plaaslike visserman. Ons vertrek die volgende oggend 5.30 vm. In gure weer kan die rit skrikwekkend wees, maar die hemelruim is donkerblou en wolkloos. Jy vaar verby klein gehuggies op die oewer en verskeie watertaxi’s. Dié bootjies stop gedurig en laai goedere en mense op en af. Ons is dankbaar vir ons boot wat direk Gombe toe gaan.

Ná sowat twee en ’n half uur se getjommel op die water stop ons by ’n klein houtkaai op ’n strandjie – die ingang van die park. 

Die eggo’s en die roepgeluide van die sjimpansees in die woud verwelkom ons. ’n Paar colobusape en olyfbobbejane baljaar in die oewerbos. 

Gombe- nasionale park

Ons koop permitte by die kantoortjie en ontmoet ons gids. Net ’n sekere aantal mense word per dag toegelaat en jy kan nie vooraf bespreek nie. 

Hier is tans sowat 100 sjimpansees in die park. Vanweë Jane Goodall se werk is die sjimpansees nie menssku nie. Haar instituut is naby die kaai waar ons gestop het. Sy het in 1960 hier begin navorsing doen en een van die oudste sjimpansees in die park, Fifi (nou in haar vyftigs), is nog hier. 

Jy stap berg op en berg af; vir tot vier uur. Spoorsnyers met radio’s stap vooruit en luister vir die geroep van die sjimpansees. Die gidse is geduldig en sal niemand aanjaag nie. 

Skielik heers opwinding onder die gidse – hulle het ’n verwelkomingsroep gehoor. ’n Halfuur later sien ons die eerste een. Hy lê omtrent 30 m ver en slaap in die mik van ’n boom. Skielik begin hulle weer met hulle roepgeluide, die woud weergalm soos almal mekaar antwoord en binne 10 minute krioel die blaredak van sjimpansees. Dis die park se grootste groep – sowat 40 sjimpansees van drie troppe. 

Ná ’n rukkie kom die eerste een af en bekyk ons. Dan volg vyf hom. Hulle speel, praat en liefkoos mekaar. Party lê en slaap en ander slaan bollemakiesie.

Jy mag nie nader as 10 m aan die ape kom nie, maar dikwels baljaar hulle rondom jou, en as jy weer sien, is een reg agter jou. 

Ná ’n uur moet ons aanstap. Om dié ape in hulle natuurlike habitat te sien is voorwaar die rit, geld en moeite werd.  

Ons het in 2012 na die gorillas en sjimpansees in Uganda gaan kyk, maar hulle was glad nie so spelerig en nuuskierig soos Gombe s’n nie. Daar word hulle gejag, wat hulle bang maak. Die gorillas is natuurlik heelwat groter en die geslaan op hulle borste is nie vergelykbaar met die sjimpansees nie.  

Daarenteen is Gombe se sjimpansees gewoond aan mense. Die sjimpansees is kleiner, maar as Ta so teen die bome opklim en die stam slaan, kry jy ’n oergevoel in jou hart. 

Daarna loop ons na die Kakombe-waterval en Jane’s Peak, ’n heuwel waar me. Goodall glo na die ape gesit en luister het. Die gidse wys ook die oorspronklike eethuis en navorsingstasie. 

Ons vertrek 2.30 nm. As jy met jou eie boot ry, kan jy vertrek wanneer jy wil, maar met ’n watertaxi moet jy eers wag tot daar weer een verbykom. 

Naas Ujiji se hawe, die vissersdorpie Katonga en die strande langs die meer is hier nie veel om te doen nie. Maar die uur met die sjimpansees sal my vir altyd bybly – ek’s baie dankbaar vir dié ompad. 


Gaan na die volgende webwerf vir inligting oor die Mahale- nasionale park: 

www.tanzaniatourism.go.tz/en/destination/mahale-mountains-national-park


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #129 (Julie 2015) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien. 

Lus vir vakansie?
Gebruik die Afrikaanse soekenjin www.wegreis.co.za om vliegkaartjiepryse vir binne- en buitelandse vlugte te vergelyk. Teken in vir die nuusbrief om koeponkodes te ontvang vir afslag op enige binnelandse- of buitelandse bespreking (geldig tot 31 Maart 2020)!