book-icon Uitgawe Maart 2020
Deel

Leser vertel: Nuwe vriende langs die pad

akkreditasie
Dis die dag van die Bokke en die Wêreldbekerrugby-eindstryd, en Salma en Nantes le Roux van Kaapstad is op pad Kgalagadi toe. Alles verloop seepglad tot daar...

Die Bokke wen en ons is op pad na die oornagplek by Oranjerus.

Ons is drie paartjies wat oral saam kuier, elk met sy eie woonwa: ons, Martin Le Roux en Nerina Meyburgh, en dan Theo de Villiers en Nelia Jansen. Ons mik om teen 11:00 op Calvinia te wees sodat ons die Bokke by die plaaslike hotel kan ondersteun. 

Omtrent 30 km buite Keimoes begin ons Jeep swaar sluk en ruk. Ek kyk dadelik na die handrem, want voorheen het ek ons Landie byna laat uitbrand omdat dié rem teen 120 km/h opgetrek was. Dis nie die geval nie, maar die Jeep is nou heeltemal haaks.

Ons trek af, hou stil en raadpleeg Google: ontkoppel die battery, wag 10 minute en daar ry ons weer.

Dit gaan goed, tot 5 km voor Oranjerus. Dis weer ’n gehoes en proes, maar ons maak dit en slaan kamp op.

Ons gaan drink toe maar ’n drankie in die restaurant. Dis waar ons die De Wet-gesin van Upington raakloop – Koos, Sonja en hulle seun Johan. Koos ontferm hom oor ons, maar min weet ons ons gaan weer van hom hoor.

Ons stoot aan Twee Rivieren toe – die suidelikste kamp in die Kgalagadi – en Koos bel om te hoor of alles nog in die haak is. Met minder as 20 km oor tot by Twee Rivieren is dit weer sulke tyd en ons hinkepink die kamp binne.

Ons slaan op, maar is onrustig en ontsteld, want ’n beplande vier dae in Nossob lê nog voor. Noodgedwonge is dit die volgende dag eers terug Upington toe om die Jeep te herstel, en ons los ons vriende en ons Bush Lapa Kewer agter.

Ons hoop die herstelwerk neem nie langer as ’n dag nie. Die mense by Motolek sê die petrolpomp is daarmee heen, en bestel een. Een nag word toe vier terwyl ons vir die onderdeel wag.

Naderhand bied Koos sy Toyota Hilux aan sodat ons die Kewer by Twee Rivieren kan gaan haal. Ons gebruik die Hilux en sleep solank terug Oranjerus toe waar ons maar vir ons vriende sal moet wag.

Die onderdeel het darem opgedaag en die Jeep kon ons weer by die huis kry. Al het ons omtrent net die Kgalagadi se hek gesien en gehoor van al die leeus, het ons lewenslange vriende gemaak.

Baie dankie aan Koos, al die mense van Motolek, die Jeepklub van Suid-Afrika asook Jeep se WhatsApp-groep, 4x4 Lighting Solutions wat die pomp verskaf en verskeep het, en die Brackenfell-Facebook-groep vir al hulle ondersteuning.

Ons ry binnekort weer... dié slag Addo toe.