Deel

Trap-trap teen die Sanipas uit

akkreditasie
Uit die argief: Vier maltrap bergfietsryers het na die kruin van Thabana Ntlenyana getrap – die hoogste punt in Afrika suid van Kilimandjaro.

In September 2013 het vier maltrap bergfietsryers die Sanipas in Lesotho uitgetrap en op na die kruin van Thabana Ntlenyana – die hoogste punt in Afrika suid van Kilimandjaro. Gavin Raubenheimer was een van hulle.

In die kroeg op die kruin van die Sanipas het iemand ’n nota gelos: “Lesotho is nie vir sissies nie.” Die skrywer het waarskynlik verwys na die ysige winters, uitgeryde paaie, yl bevolkte valleie en duur bier. Dit geld egter ook vir bergfietsry in dié wilde koninkryk. 

Sedert die tyd van Gondwanaland het die dik laag basalt wat die meeste van Lesotho se oppervlak bedek, verweer. Een area – omtrent die grootte van ’n netbalveld – het stadiger verweer en staan nou uit bo die res van die omgewing. In 1951 het ’n groep bergklimmers onder leiding van Des Watkins na die kruin van dié klein berg geklim om die hoogte met ’n landmeterteodoliet te meet: Dit was 3 482 bo seevlak. Vandag word Thabana Ntlenyana –  wat “mooi bergie” in die plaaslike Basotho-dialek beteken – gesien as die hoogste punt in Suider-Afrika. 

Dis nou 63 jaar later wat ons in Watkins se voetspore volg. Pleks van landmetertoerusting stoot , het ons ons fietse gedra.

Thabana Ntlenyana gaan dalk nie jou asem wegslaan nie, maar die oploop daarheen is vol uitdagende enkelspoorfietsryroetes. Ons doel was om by die Sanipas op te ry, ons fietse tot op die kruin van die berg te dra, en dan weswaarts in die Sakengvallei af na die St. James-sendingstasie te ry. Skaap en beeste het die enkelspoorpaaie in die Sakeng-omgewing plat getrap en dis om daai rede hoekom die paaie so lekker is vir trap. En ons was gereed. 

Op, op… en op

My vriendin Caroline Storrar is ’n fisioterapeut van Pietermaritzburg en wou graag saamkom op die reis. Ek het ook twee ander oorgehaal: Ann-Marie Smith, ’n skoolberader wat almal altyd aan die gesels hou, en James Voortman, ’n ingenieur wat kan verduidelik hoe enigiets meganies en chemies gemaak (en opgeblaas) kan word. Ons het ook ’n ondersteuningspan van twee wat in ’n 4x4 volg: Kim Breytenbach en Audrey Lotter. 

Ons het vertrek van die Sani Backpackers’ Lodge naby Underberg en vir ongeveer 30 km op ’n makkerige pad gery tot by die Suid-Afrikaanse grenspos op die Sanipas. Die enigste haakplek was die stewige westewind wat in ons gesig gewaai het. 

Die eerste groot uitdaging op die eerste dag was om van die grenspos met ’n 9 km lange heuwelpad tot bo-op die Lesothoplato te trap. Ons het dinge maar sta-a-a-dig gevat. Die gesels het opgedroog en selfs Ann-Marie was vir kort rukkies stil. 

Die pas was pas geskraap en die oppervlak los wat ons fietsbande en moeë bene behoorlik laat werk het. En dan was daar die konstante wind. Ek, James en Caro het deur die laaste haarnaald deurgedruk tot by die eskarp, maar Ann-Marie was vasbeslote om tot by die kruin te ry. Dis was ’n byna onbegonne taak, en sy het uiteindelik ver agter ons beland en van die een kant van die pad na die ander geslinger tot groot vermaak vir die res. 

Nadat ons paspoorte gestempel is by die grenspos, het ons die laaste 8 km weswaarts aangepak na die Sani Stone Lodge naby die voet van die Black Mountain-pas. Ten spyte daarvan dat dit afdraand was, het die wind ons steeds net toegelaat om teen ’n slakkegang te beweeg. Uiteindelik het ons van die hoofpad afgedraai en ’n gemaklike 2 km tot by die lodge getrap. Ons ondersteuningspan en koue bier het hier op ons gewag.  

Ongetwyfeld epies 

Dag twee het aangebreek: Die groot dag wat ons Thabana Ntlenyana takel en onderhandel oor die lang trap na St. James-sendingstasie. Ons plan was om omtrent 60 km te ry. 

Genadiglik het die wind gaan lê. Ann-Marie en James was in hulle element en ek en Caro is voortdurend gepeper met vrae en opinies. Weer het ons na die hoofpad getrap en vroegoggend ’n tipiese Lesotho-verkeersknoop teëgekom: ’n trop skape. Ons het die pad gekruis en die Sanirivier oorgesteek na ’n wye, plat stuk grasveld waardeur  ’n skaaproete sigsag. 

Met die hulp van ’n topografiese kaart het ons stroom-op gery tot by ’n steil rant. Elkeen het die gemaklikste manier probeer vind om sy fiets te ry; en ’n fiets laat hom nie gemaklik dra nie. Die ingenieur het natuurlik die beste manier gekry: Hy het sy kop deur die raamwerk gedruk en die fiets soos ’n halssnoer gedra. 

Aan die bopunt van die rant het ons ons saals laer laat sak vir ekstra stabiliteit en riverwaarts gemik. Die laaste dra was op na die kruin van Thabana Ntlenyana; dit het omtrent ’n uur gevat. Dele van die laaste seksie is rybaar, maar verg tegniek; én dis natuurlik baie moeiliker om 3 000 m bo seevlak asem te haal. 

Op die kruin het ons vlugtig ons oorwinning gevier en skuiling net onder die rant gesoek. Oor middagete het ons onsself aan die uitsigte na die ooste oor die eskarp verwonder. ’n Kouefront het van KwaZulu-Natal se kant af aangerol gekom, en ’n bolling wolke het ongeveer 5 km van die kranswand af saamgebondel. Dit het ons byna 4 uur geneem om 14 km af te lê van Sani Sandstone Lodge af…. En die grootste deel van die dag se ry het nog voorgelê.  

Van die kruin af het ons roete weswaarts geloop vir etlike kilometer. Ons het getrap tot by  ’n oop veld met heelwat bultjies. Dis hier waar die Sakengrivier ontspruit, en hiervandaan het ons die rivier gevolg. Ná ’n paar afdraande en groot dele enkelspoorpaaie was ons ín die Sakengvallei. 

Die paadjie langs die rivier het al breër geword hoe verder wes ons gery het. Ons het begin op ’n paar skaappaaie, wat later dubbelbaanskaaphoofpaaie geword het. Ná omtrent 30 km – aan die einde van die vallei – was ons op ’n pad wat goed genoeg is vir voertuie. 

Twee uur nadat ons op die kruin was, kon ons die eerste dorpie sien. Die dorpie se enigste lewenslyn met die buitewêreld was ’n enkele stofpad. 

Dit was nie lank nie, of Ann-Marie staar die dood in die oë: By ’n baie steil afdraand het sy oor haar stuurstang gevlieg. Sy het heel grasieus deur die lug getrek en onelegant op haar bas beland. Haar ego het darem gou herstel. 

Toe die son aan die groet was, het ons by Mokhotlongpad aangekom.  Ná die kort rit langs die hoofpad, het ons regs in St. James gedraai. Dit was al byna donker, en ons moes ons kopligte aanskakel. By die lodge aangekom was almal dit eens: die reis was epies. 

Ons effens bekommerde ondersteuningspan het ons ingewag, later het ons heel rustig ’n lekker aandjie voor die vuur uitgespan en oorlogstories uitruil. 

As gevolg van tydsbeperkinge op die laaste dag en ook om ’n pad te systap wat opgeblaas word om geteer te word, besluit ons om nie die volle 90 km te ry oor die Swartbergpas en weer af met die Sanipas nie. Ons het eerder van die kruin van die Swartbergpas af gesigsag na die Sani-grenspos. 

Hoe nader ons aan die eskarp kom, het die blou lug gewyk en moes ons deur ’n bank van mis en wolke ry. Die temperatuur was na aan nul toe ons weer in Suid-Afrika land en ons daaglikse lewe het op ons gewag. 

Dankie, Lesotho, dit was pret.


Hierdie artikel het oorspronklik in Mei 2017 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.