“En buitendien – see toe is afdraande,” sluit my vriend Jacques Louw sy beskrywing af. Dit was nou die roetebeskrywing van die beplande fietstoer van Queenstown, oor Hogsback tot by die kusdorpie Cintsa, naby Oos-Londen.

Daardie laaste paar woorde was natuurlik spekskiet, maar dit sou ek eers later uitvind. Maar vir eers was ek nog onkundig, lus vir avontuur en baie gretig vir die fietstoerding.

Ons is drie trappers – Jacques wat die roete so maklik-maklik aframmel, Christoff Truter wat berge kafdraf en fietse stukkend ry, en ek – die amateur, die rookie, die grootoog-saamryer.

’n Fietstoer sonder ’n ondersteuningsvoertuig is nie sommer net vir opklim en trap nie. Alles wat ons vir die volgende vyf dae gaan nodig hê – minus ’n paar dae se kos wat ons langs die pad sou koop – moet op ons fietse vasgemaak word. Dis soos ’n staptoer, dink ek later, op wiele en oor báie meer kilometers!

Nog voor die eerste speek kon sing, besef ek daar is drie soorte fietspakkers. Dié wat net die nodigste saamneem, en dit netjies in die saalsakke pak en die res op die fietsrak met rekke vasbind. Dan is daar dié wat sterk genoeg is om ’n bietjie ekstra saam te neem en dit vernuftig op die fiets stapel sodat die bonkige sakke lyk soos klein bobbejaantjies wat behendig aan hulle ma klou.

Daar is ook ’n derde soort fietspakker. Die een wat net soveel saamneem as eersgenoemde fietspakker, maar dit laat lyk asof sy vyf mense se bagasie op haar fiets saamry. Dié soort fietspakker is ’n rookie se redding. Want sien, op grondpaaie skud en wikkel daardie pakkerasies só dat die fietsgeselskap kort-kort moet stop sodat álles weer losgemaak, oorgepak en stewiger vasgemaak moet word. En so kry die rookie dan ’n broodnodige ruskans...


DAG EEN, 67 KM

QUEENSTOWN NA CATHCART

Ons trap die eerste paar kilometer deur die strate van Queenstown, verby Spar om die nodige proviand te koop, en toe suidwaarts Cathcart toe. Die toer sou hoofsaaklik grondpaaie volg.

Die pad uit Queenstown uit is stampvol mense en taxi’s en rommel en waterplasse en luidsprekers waaruit musiek bulder. My Afrika-hart klop warm vir dié geroesemoes, maar ons moet ons storie ken om dié miernes sonder enige beseerdes – of self as beseerde – te verlaat.
Uiteindelik verdwyn die netjiese grondpad oor ’n heuwel voor ons. Binne ’n paar kilometer besef ek skoon bly en fietstoer is so ver verwyder van mekaar soos Lashies en Versace.

Dis vet pret toe ons voorwiele tydens een lang afdraande klontjies modder in ons gesigte spat. Met ons monde toe en oë op skrefies ry ons lag-lag tot onder, en toe lag ons éérs. Ons lyk soos siekes wat ’n soort moddermasels onder lede het. Waar die Wet Wipes nie al die modder kon afvee nie, was die reën dit later af.
Die laaste ent tot op Cathcart is teerpad. ’n Genade ná 45 km se grondpad, sou ’n mens dink. Maar Hobbs Hill lê vir ons voor. ’n Pas wat soos ’n lui kat uitgestrek lê en bitter stadig, styl en pynlik tot ’n einde kom.


DAG TWEE, 37 KM

CATHCART NA IEWERS LANGS ’N RIVIER

Vroegoggend begin die wiele rol in Hogsback se rigting. Die landskap is gemaak van groen koppies, lang dun populiere en beeste wat stadig opkyk as ons verbyry.
Die grondpad tussen Cathcart en Hogsback blyk ’n gewilde roete te wees vir vakansiegangers. Kort-kort gee iemand ’n vriendelike toet in die verbyry. Soos die vorige dag, ruim ons genoeg tyd in om bene te rek en te eet. Christoff laat voel ons soos vyfsterhotelgaste in die oop veld met sy Kovea-stofie... Ons diep koffie en hawermoutkoekies, appels en kaas uit ons saalsakke op. En eet later die middag gisteraand se polonie-pasta.

Ons mengsel van neute, smarties, rosyne en Liquorice All Sorts sorg tussendeur vir ’n opkikker. Stappers noem dit “gorp”, en dié happies selfgemengde energie word handevol maag toe gestuur voordat ons ’n groot bult aandurf.

Nog voor ons Hogsback bereik, ry ons oor ’n rivier wat vrolik verby ’n klompie reuse-akkerbome verbyvloei. Dit is die perfekte plek om af te saal en kamp op te slaan. Christoff bied aan om sy saalsakke af te haak, en vir die boer toestemming te gaan vra. Die ouens laat die rivier die dag se sweet afwas, maar die rookie was gans te koulik – Wet Wipes doen mos ook die truuk.


DAG DRIE, 16 KM

HOGSBACK

Ons kom vroegmiddag op Hogsback aan. Op dié woudryke dorpie kan fietsryers vir maande besig bly. Hier is enkelspoorpaadjies en watervalle, plantasies en grondpaaie.  En goeie restaurante, lekker blyplek en gerieflike kampplekke. Ons skep asem by die Swallowtail-kampeerterrein en rus uit vir die volgende dag se rit na die Isidenge-plantasie toe.


DAG VIER, 66 KM

HOGSBACK NA ISIDENGE-BOSBOUSTASIE

Die grondpad wat afdraai by die Hogsback Inn lei ons deur plantasies en inheemse woude. By tye is die pad stamperig en klipperig. Die boomreuse wat stil toekyk, laat voel die rit ’n bietjie sagter. ’n Mens kan nie help om in verwondering te staan voor sulke indrukwekkende blaardraers nie.

Anderkant die plantasie ry ons nog ’n paar kilo’s verby ’n uitgespreide nedersetting, die Sandiledam en Keiskammahoek – die grootste dorp in dié geweste.

Dis ’n warm dag, en die kafee met sy halwe brode en groot pakke mieliemeel het gelukkig yskoue Cokes. Nuuskierige verbygangers vra uit oor ons roete. Toe ons verduidelik dat ons na die Isidenge-bosboustasie toe gaan, knik een ou begrypend en hou sy hand in ’n amperse saluut. “Dis baie steil soontoe,” sê daardie hand.
“Ag, nog ’n opdraandetjie,” dink ek en klim op my fiets – agter Jacques en Christoff aan. En so begin die wreedste 15 km van my lewe. Die pas kronkel en draai, kronkel en draai. En om elke draai dink ek: dáár moet die afdraande weer begin. Maar my hoop word telkemale verpletter.

Terwyl die sonbesies skreeu en die son skitterwit op die grondpad neerbrand, bereik ek die grense van my liggaamlike vermoëns. En toe ry ek nóg ’n paar kronkels en draaie. Die woorde van Christoff in my kop: “Jy het geen idee waartoe jy in staat is nie.”

Toe ek na die soveelste draai, die afdraande die doer verte gewaar, bars ek spontaan in trane uit. Ek was klaar. My grense is verskuif.
Dié wrede verskuiwing sal ek altyd in my kop en in my hart saamdra. En dit vir ’n volgende keer bêre.


DAG VYF, 43 KM

ISIDENGE NA WRIGGLESWADE-DAM

Ons trek weg by die inspekteurshuisie van die Isidenge-bosboustasie waar ons gisteraand geslaap het. ’n Bietjie teleurgesteld om te sien dat geboue, wat eens netjies en goed opgepas was, nou verwaarloos staan en vergaan.

Ons roete bestaan uit tweespoorpaadjies verby velde met beeste wat wei, ente teerpad met geen skouers vir fietse en op-en-af modderige grondpaaie tussen wildkampe en plase deur. ’n Paar kilometer voor die Wriggleswade-dam trek die mis soos ’n sluier oor ons maar ons trap voort tot by die waterrand.

Die een oomblik bak ons in die son op die oewer, en maak middagete van brood en tjips wat ons by ’n huiswinkel langs die pad gekoop het. Die volgende oomblik sif die reën oor ons neer.

Dis egter perfekte visvangweer. Só blyk dit uit die ry kleurvolle tente en woonwaens in die Wriggleswade-damwoonwapark (Amanda Cohen; 083 752 4545). Ons is baie dankbaar dat ons nie ons tentjies in die siftende reën hoef op te slaan nie. ’n Selfsorgvissermanwoonwa is ons oornagplek.

En al drup die reën deur die skadunet vol gate waaronder ons ons mieliepap en sojamaalvleis gaarmaak. En al is ons klere deurnat. En al huisves die woonwa ’n verskeidenheid van reuke (waarvan die meeste aan die stinkerige kant was), is ons dankbaar. Dankbaar vir ’n droë slaapplek. Dankbaar vir warm kos. Dankbaar (al het ons dit nie hardop gesê nie) dat ons die volgende dag in die pylvak sou wees.


DAG SES, 102 KM

WRIGGLESWADE-DAM NA CINTSA

My hart sing saam met die speke en die klippies wat my bergfiets se wiele tref. Soos Jacques dit stel: “Dié perd ruik nou stal.” Ons is op pad see toe! En teen dié tyd is ons bene so sterk dat ons ’n Boeing kan kick start.

Met die seelug wat ons nader wink, durf ons die laaste 90 km met nuwe energie aan. ’n Bietjie spyt dat dié avontuur tot ’n einde moes kom. Maar gelukkig en tevrede om te weet dat die saalsakke van ons lewe nou gevul is met kosbare ervarings, kameraadskap en nuwe grense.