“Ek soek ’n maatjie! Ek soek ’n maatjie!” loop en kerm Deon Meyer in die gange van Eendrag. Nog ’n inwoner van dié Stellenbosse manskoshuis, Bok Visser, het sy arm gedraai om in die Junievakansie met fietse van Tsumeb af tot in die Kaap te ry. Maar nou is Bok genooi na ’n oorlewingskamp in die Krugerwildtuin en hy kan slegs die eerste skof tot in Otjiwarongo saamtrap voordat hy Kruger toe moet vertrek. Deon soek iemand wat Bok se fiets van dag twee af kan oorneem.

So word ek Deon se maatjie en ons tref reëlings: Bok se fiets is twee weke tevore al met die trein Tsumeb toe gestuur, en Deon en sy fiets het ’n saamrygeleentheid op ’n lorrie wat ’n klomp studente vir ’n uitreikaksie Ovamboland toe neem. Maar daar’s nie plek vir nog een nie; ek sal moet ryloop. Nie een van ons ken Suidwes óf die noorde van ons land nie – ek het as kind darem al die Clanwilliamdam besoek en Deon was die vorige jaar vir ’n rugbywedstryd op Piketberg.

Ons spreek af om mekaar op Maandag 26 Junie om 7 nm. by die Otjiwarongo-polisiestasie te ontmoet. Daar sal tog seker ’n polisiestasie wees, of hoe?

Otjiwarongo toe, Oom

Suidwes was in daardie dae nog onder Suid-Afrikaanse bestuur; dus het ons nie ’n paspoort nodig nie. Maar ’n paar “geloofsbriewe” van my en Deon se burgemeesters (onderskeidelik van die Paarl en Kuilsrivier) sou handig te pas kom. 

Die Paarlse burgemeester, dr. Hofmeyr, skryf vir my ’n getuigskrif wat wemel van frases soos “avontuurlustige jongman”, “uitstekende opvoeding” en “stabiele huislike omstandighede”.

My broer laai my en my weermagsak die oggend van Saterdag 24 Junie af waar die pad uit Malmesbury by die N7 aansluit. Nie lank nie toe laai ’n kêrel my op en ek ry saam tot by die Vanrhynsdorp-afdraai. ’n Ambulans met ’n Springbok-nommerplaat hou stil: hy het pasiënte Kaap toe gevat en is nou op pad huis toe. Die Volkswagen Kombi lê laag, sy agterwiele dy sommer so uit na die kante toe. Ek vra of daar steeds pasiënte agterin is, en die bestuurder verduidelik laggend hy ry altyd ’n vrag vars produkte uit die Kaap saam. 

Ek klim voor langs hom in en die man skuif die ruite agter ons oop sodat ek kan sien: Die ambulans is tot teen die dak gelaai met sakkies aartappels, skorsies, uie en lemoene, en kratte vol slaai, kissies tamaties, kool en pampoen... 

Ons stoot aan en ek besef algaande Namakwaland is nie so plat as wat ek gedink het nie. Ná die Knersvlakte raak die landskap heuwelagtig, en by Nuwerus hou die teerpad op. ’n Nuwe pad, parallel met ons s’n, is in aanbou, maar tot op Kamieskroon ry ons grondpad. Die volgelaaide ambulans sukkel teen die bulte uit en ek begin tel hoeveel ek en Deon op pad terug sal moet uittrap…

Dis al skemer toe ons Springbok binnery. Die ambulansman bied vir my oornagplek aan vir die aand. Die volgende oggend neem hy en sy vrou my – en ’n stewige pakkie padkos! – tot net anderkant Okiep. My weldoeners is skaars buite sig toe ’n Studebaker Lark aftrek.

 “Waar gaan jy heen, Boeta?” vra die man agter die stuur. “Otjiwarongo toe, Oom,” antwoord ek, en met ’n “Klim, Boeta!” word daar vir my en my sak plek gemaak tussen die kinders op die agtersitplek (saam met hom en sy vrou is daar sewe van hulle in die kar!).

Die man werk by die kopermyn op Okiep, maar vir ’n ekstra inkomste vat hy elke naweek die pos verder noord. Hulle neem my tot op Noordoewer, waar die teerpad wat by Kamieskroon begin het, ophou.

Noordoewer is ’n klein plekkie met ’n hotel, vulstasie en ’n veekampie waarin twee kamele wei. Ek staan omtrent ’n uur daar rond voordat ’n Bedford-lorrietjie indraai om vol te maak. Ons raak aan die gesels met die mense en ek hoor hulle ry al met die uitgemerkte nuwe pad langs om grondmonsters in seilsakkies te laai vir ingenieurs. Ek kan saamry tot op Keetmanshoop, en die res van die dag is dit kort-kort stop en sakkies aandra totdat die lorrietjie behoorlik onder die vrag kreun.

In die Karasberg sien ons bouers wat aan die nuwe pad werk, maar ons hou steeds grondpad langs – dík sand. Ek sien swarigheid vir die fietstrappers. Maar naby Narubis, sowat 60 suid van Keetmanshoop, tref ons die splinternuwe teerpad. Dis al 6 nm. en byna donker toe ons op Keetmans aankom. Dis nog ver Otjiwarongo toe en ek sal deur die nag moet duimgooi.

’n Jong egpaar ry verby op pad kerk toe en wil weet waarheen ek op pad is. Ek verduidelik, en hulle belowe om ná kerk te kom kyk of ek nog daar staan. Maar skaars tien minute later is die twee terug: Hulle het kerk ge-bunk om hulle oor my te ontferm! By hulle woonstel kry ek aandete en slaapplek vir die nag.

Die volgende oggend net ná vyfuur is ek terug op my pos langs die hoofpad. Teen halfses hou ’n splinternuwe Chevrolet C10-bakkie met ’n kappie stil. Voorin sit ’n man, vrou en hulle tienerdogter, en agter ’n jonger seun toegewikkel in ’n kombers. Weer vertel ek my storietjie en weer kry ek ’n geleentheid. Dié slag is die geluk regtig aan my kant – die mense is op pad Etosha toe; dus kan ek heelpad saamry tot op Otjiwarongo! Ek mik nog om agter in te klim, maar die man boender sy dogter agter by haar boetie in.

Toe ons wegtrek, sien ek die mense is nie haastig nie. Die man kruie seker vir ’n halfuur aan teen so 60 km/h, en dan sê hy: “So ja, nou’s sy lekker warm.” En dan trap hy die Chev se lepel weg en ons vlieg teen 130 km/h deur die landskap tot op Mariental, waar die man voor die hotel stilhou. Sy vrou vra: “Ai, Pappa, is dit regtig nodig?”, maar hy ignoreer haar en sleep my saam kroeg toe en bestel twee klein Windhoekies. Vir my is dit nog te vroeg in die dag, maar wil nie aanstoot gee nie en slaan die bier weg.

Ons ry verder: Kalkrand – twee klein Windhoekies; by ’n hotel kort duskant Windhoek – twee klein Windhoekies; Windhoek self – twee klein Windhoekies; Okahandja – twee klein Windhoekies; Sukses – twee klein Windhoekies. Genadiglik is Otjiwarongo ons volgende stop. Toe ek tien oor sewe by die polisiestasie inloer, sê die sersant aan diens: “Jou pêlle is vyf voor sewe hier uit. Jy moet hulle by die hotel net hier om die hoek kry.”

Op die hotelstoep sit Deon en Bok – elkeen met ’n klein Windhoekie.

Ryers gereed…

Op ons eerste dag trap ek en Deon lekker en kom die middag by Sukses aan. Voor die hotelletjie staan ’n Land Rover van Malmesbury en die mense kom uitgestap nes ons arriveer. 

“Waar gaan julle heen?” vra die een man.

“Ons wil tot in die Kaap ry, Oom.”

“Julle is lekker laf, maar as julle Malmesbury haal, kom slaap julle by my. Ek is Fritz Brink, en besit die Swartland-hotel. Ons gaan jag, maar sal terug wees voordat julle daar kom.”

Laatmiddag laat die honger ons weer rondkyk vir ’n aftrekplek, en ’n plaashuis kom in sig. Ons gaan klop aan en die tannie sê sy’s juis besig om vetkoek te bak. Ons ry daar weg met vier reusagtige vetkoeke, twee bottels melk en ’n tros biltong en droëwors wat ons ’n week aan die lewe kan hou. Die gulhartige Suidwesters wil natuurlik nie betaling hê vir al die kos nie, en die oom maan ons om versigtig te wees ná donker, “want hier rond is nog ’n paar wilde leeus”.

Dis nog ’n hele ent Okahandja toe. Suidwes het onlangs goeie reën gehad, en die gras aan weerskante van die pad staan ’n meter hoog. Toe dit al goed donker is, storm daar skielik ’n gedierte uit die ruigtes op ons af. Natuurlik sien ons hom dadelik vir ’n leeu aan en skrik ons boeglam. Die dier skrik óók toe hy die fietse sien, en word nóg groter. Hy probeer omskarrel, maar skielik lyk die grasmuur ondeurdringbaar en sy enigste ontsnappingsroete is… padlangs, agter ons aan! 

Ek en Deon laat spat met ’n versnelling wat Chris Froome jaloers sal maak, en ’n meter of twintig pad-af kry die ding gelukkig ’n gaping in die gras en swenk weg.

Dit was toe net ’n ystervark wat sy penne gelig het.

Ons stap laataand met seer bene by die Okahandja-hotel in, en dié slag bestel ons twee gróót Windhoeke.

Eers tronkvoël, dan kaatjie van die baan

Die skof tot in Windhoek verloop sonder voorval. Ons bly twee nagte by ’n mede-Matie wat ons toevallig langs die pad ontmoet het. Ons was wasgoed en pas ook sommer ’n onderhoud met ’n plaaslike koerant in. 

Die Vrydagoggend mik ons Rehoboth toe, en dis hier waar ons die eerste keer die burgemeesters se “geloofsbriewe” nodig kry. Dit is nog in die tyd van apartheid en Rehoboth is die Bastergebied se hoofdorp – saans ná sewe mag daar nie meer wit mense op straat wees nie. Die offisier aan diens by die polisiestasie lees ons briewe, maar kan ongelukkig nie vir ons slaapplek in sy huis aanbied nie – sy familie het kom kuier. Die alternatief? ’n Sel met twee dun matrassies en vier komberse. Kort voor sewe knars sy sleutel in ons seldeur se slot, en twaalf uur later word ons weer “vrygelaat”.

Die eindpunt vir die dag is Kalkrand, en ons haal dit laatmiddag – teëspoed met pap wiele ten spyt. In die kroeg sit ’n man wat in die koerant van ons gelees het, en die aanbiedinge om ’n dop te koop stroom in. Daar’s dié aand ’n 21ste verjaardagviering en gaste van heinde en ver slaap in die hotel oor. Al die kamers is vol, maar ons kry slaapplek in ’n sinkhuisie regoor die treinspoor en word gul saamgenooi na die partytjie. Swart Wrangler-jeans, gekreukelde hemde en Buccaneer-suèdeskoene moet maar deug. Dié aand dans en eet en drink ons tot in die oggendure. Toe ons Kalkrand daardie middag binnegery het, het ons gewonder hoeveel die inwoners moes betaal om die “L” in die dorpsnaam te kry, maar ons trek dié lelike gedagtes onvoorwaardelik terug!

Dis Sondagoggend, en ná ’n regruk-hotelontbyt sing die fietsspeke lekker teerpad langs tot op Mariental. Weer doen ons geloofsbriewe hulle ding, en die burgemeester reël vir ons verblyf vir die nag. Boonop neem hy ons net voor sononder op ’n besigtingingstoer van die Hardapdam wat skaars vyf jaar tevore gebou is.

Die Maandag trap ons tot by Asab en my fiets begin probleme gee. Die moer wat die pedale se as in plek moet hou, kom kort-kort los. Vasdraai help net vir ’n entjie, dan is hy weer los. Ons sukkel voort en kry gelukkig die winkel op Asab nog oop. Die laers van die pedale-as het stuk-stuk verloor, maar wonder bo wonder hou die winkel al die nodige onderdele aan. Die eienaar wil egter niks weet van betaal nie; hy’t ook in die koerant van ons gelees en beskou dit as ’n skenking.

Die volgende oggend hou ons onwillig verby die afdraai na die Vingerklip, maar belowe mekaar plegtig ons sal “eendag” kom kyk hoe dié wonder lyk. (Ek was bevoorreg genoeg om Mukurob in 1974 te besoek; of Deon die klip ooit gesien het voordat dit in 1988 omgeval het, weet ek nie.) Op Keetmanshoop maak ons ’n draai by ’n groot afdelingswinkel waar ’n koshuismaat van ons, Robert Gordon, se pa hoofman is. Die ontvangs is hartlik, en twee dae later ry ons daar weg met skoon wasgoed en elk ’n stel binne- en buitebande vir ons fiets – weer eens op die huis!Teen die Donderdag is ons terug waar ek en die manne met die Bedford-lorrietjie die monsters opgelaai het. Anders gestel: terug op die grondpad, en dié volg die land se kontoere – elke afdraande is tot onder in die droë, sanderige lopie, en elke opdraande tot heel bo-op elke bultjie. Nêrens is die pad opgevul of ’n uitgrawing gemaak nie, en ons moet telkens afklim en fiets stoot.

Ons is in die hartjie van die Karasberg. Ons slaap een nag sommer net daar langs die pad, laat die volgende dag op Grünau herstelwerk doen (die fietse se drarakke het van al die gestamp op die grondpad losgebreek), en stoot aan suide toe. 

Ons vorder fluks, en laatmiddag stop Fritz Brink en sy jagvriende by ons. Ek en Deon kry weer ’n groot vrag biltong en ’n herinnering om tog in Malmesbury by sy Swartland-hotel in te swaai.

Laatnag sleep ons Noordoewer binne. Die hotelkamers is vol, maar ons kry twee matrasse waarmee ons in ’n ongebruikte badkamer ’n lêplek kan inrig. Deon slaap in ’n groot stort en ek op die vloer voor die bad. Dis ons laaste aand in Suidwes.

Terug in die Republiek

Suid van die Oranjeriviervallei loop die pad vir bykans 40 km geleidelik opdraand. Dis nie steil genoeg om af te klim en te stoot nie, en ons swoeg en sweet!

Toe dit al sterk skemer is en ons nog so 15 km oor het tot op Springbok, hou ’n Holden-stasiewa by ons stil. Dis ’n Van Rensburg van Springbok en sy twee seuns. Die stasiewa het genoeg plek vir ons én die fietse, en ons aanvaar sy aanbod – dis die enigste entjie van die hele tog wat ons nie self getrap het nie.

Ons bly oor by die Van Rensburgs – nie net die Saterdag nie, maar ook die Sondagaand–  en hulle wys vir ons Okiep en Nababeep.

Maandag is ons weer in die saal, en by Kamieskroon hou die teerpad op. Ons skud oor slegte sinkplaat tot op Garies, slaap die aand hier in ’n hotel en die Dinsdagnag by mense op Vanrhynsdorp – weer eens weldoeners wat ons langs die pad teëgekom en summier genooi het. Die Woensdagoggend kan ons voel die Kaap is nie meer ver nie. ’n Ysige suidooster maak die lewe vir my en Deon moeilik, maar ons beur voort. Op Clanwilliam knoop Britse toeriste ’n geselsie met ons aan en dring daarna aan om vir ons aandete te betaal. Die Strassberger-hotel is net so gaaf: Bed en ontbyt is op die huis.

Tot op Citrusdal vorder ons goed, maar dan kos dit fiets stoot tot op die Piekenierskloofpas. Wat opgaan, moet egter afkom, en ons jaag vinnig berg-af. Net voor 4 nm. kom ons op Piketberg aan. Dié aand kom die geloofsbriefies – nou al ’n bietjie gehawend! – weer uit en die burgemeester neem ons in. Sy naam is Piet Koorts en hy word gehuldig as die boegoekoning van die dorp. Hy’t ’n span werkers wat die berge invaar om boegoe te pluk, wat hy dan op sy werf droog en verder verwerk. Die hele omgewing ruik na hospitaal. 

Die oggend vat hy ons eers op ’n toer deur sy boegoe-aanleg, maar gelukkig is Malmesbury nie ver nie en ons weet Fritz Brink hou vir ons slaapplek. Fritz self is egter nie tuis toe ons daar opdaag nie, maar ons word op die hande gedra en sit die aand aan vir steak en tjips.Op Saterdag 15 Julie 1967 pak ons die laaste kort skof aan. Alles loop voor die wind, en teen elfuur die oggend kry ons ons ouers waar die N7 by die N1 aansluit. Maar ons het nie só ver gekom om nie al die pad tot in Kaapstad te trap nie, en ons byt vas tot aan die voet van Jan van Riebeeck se standbeeld in Adderleystraat.

As ek reg onthou, was daar ’n verslaggewer van ’n koerant, maar of daar ooit ’n berig of foto van ons tog verskyn het, weet ek nie. Wat ek wel onthou, is drie van die mees avontuurlike weke van my studentejare – en die vakansie het my ’n volle R14 uit die sak gejaag!


Hierdie artikel het in 2018 op Weg se webtuiste verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook