
Dit voel soos ’n ingebore ding, en ek kan dit aan my kinders ook sien. Dis asof hulle verstaan die enigste regte vakansie gaan gepaard met ’n tent of ’n woonwa.
Daar is nou maar net eenmaal ’n verskil tussen ’n kampvakansie en wanneer mense in ’n chalet bly, veral as jy met kinders vakansie hou.
Met kamp is daar net so baie vir hulle om te doen – jy sien hulle amper nooit nie.
Maar as jy in ’n chalet is, is dit jou verantwoordelikheid om die kinders besig te hou.
Ek glo die nageslag van enigiemand wat as kind die genot van kamp beleef het, sal vir altyd aanhou kamp.
Dalk is dit geneties, of dalk is dit iets wat ’n mens aan jou nasate oordra.
Met dít in gedagte het ek toe ’n bietjie deur ons ou familiefoto’s gaan soek om te probeer vasstel hoe lank gelede die Dillmans begin kamp het.
Die eerste foto (foto hierbo) wat ek kon opspoor van die Dillman-familie se kampeerdery was toe my oupa Wilhelm Albertus Dillman hier in 1928 rond met ’n tent gaan kamp het.
Hy staan regs op die foto en ek het nie ’n benul wie die man saam met hom is nie. Waar hy gekamp het, sal ek nou nie weet nie.
Ek aanvaar egter dat hy daarvan gehou het, want kort daarna het hy ’n plan gemaak om met ’n woonwa te begin kamp.
In 1936 het Oupa sy eerste woonwa self gebou. Hy het ’n plan van ’n Amerikaanse woonwa in die hande gekry en ingespring en hom van begin tot einde aanmekaargeslaan. Die wa het hy met 'n 1934 Chevrolet gesleep.
Ek vermoed dit was een van die eerste woonwaens in Suid-Afrika. Of ten minste een van die eerste selfgeboude woonwaens in die land. Ek dink hy lyk alte spoggerig, veral vir daardie tyd.
Dis Ouma Dillman wat daar by die kar sit.
My oupa-hulle het in daardie jare in die Kaap gewoon en het hoofsaaklik in die geweste gekamp op plekke soos Yzerfontein, waar die foto geneem is. Mense het destyds nie so ver gery met hulle woonwaens nie.
Ek dink nie eens Oupa-hulle sou so ver as Stilbaai gery het nie. Daar was destyds mos nie yskaste in die klas van dinge nie.
Dit was seker baie aardig en anders en meer van ’n aanpassing om met ’n woonwa vakansie te hou as wat dit nou is.
Vandag kamp ons met huise-op-wiele, maar in daardie jare was dit seker nader aan beddens-op-wiele!
Ek is nie so seker wie almal op die foto is nie. Links staan my pa se broer, Francois. Die blonde seuntjie in die vrou se arms is my pa, Hercules, en die res is seker maar tannies en niggies.
Wat ek wel weet, is daardie kampvakansies by die see het vir net goeie herinneringe gesorg by my pa-hulle.
In daardie tyd het hulle na Prins Albert verhuis, en die groot wa het ’n ereplek op die erf gehad. Hier pronk my pa en sy broer, Francois, saam met die honde voor hulle wielewa.
Sowat 10 jaar later is die selfgeboude wa met ’n groter woonwa vervang (hooffoto).
My pa kan ongelukkig nie meer onthou watter wa dit was nie en ek kon ook nog nie vasstel wie hom destyds gemaak het nie.
My pa sê met die wa het hulle die wêreld ordentlik verken.
My oupa se voorliefde vir kamp het ook oorgespoel na my pa. Van voor my geboorte af tot verlede jaar nog het my ouers met hulle Gypsey Romany gekamp.
Ons het elke Desember afgetrek Stilbaai toe en amper die hele maand daar gekamp, en in die winter het ons opgetrek na Die Eiland toe.
Die Desembervakansies moet vir my dierbare ouers baie lekker gewees het, want ek en albei my broers is in Septembermaand gebore...net mooi nege maande later.
Op die foto het ons in 1982 by Die Eiland gekamp. Dit was met my pa se eerste Sprite.
Ons was ’n bietjie skaam vir die wa, want my pa het dit dieselfde bruin kleur geverf as die Valiant waarmee hy hom gesleep het.
Dit maak egter nie saak hoe eiesoortig die woonwa geverf was nie; die vakansies was steeds lekker met baie herinneringe en ’n prettige skade of twee.