
1. Die DJ
O hoor jy die Magtige Dreuning? Of liewer, hoor jy die Magtige Doef-Doef?
Dit maak nie saak of julle in stilte oor die Namib wil uitkyk en of julle die son in die Kalahari wil sien ondergaan nie, die platejoggie glo dat musiek – hárde musiek – die Oros-man van enige buitelewe-ervaring is. Gooi song, pappie, gooi song! Selfs al wil die ander mense na die krieke en naglewe onder ’n volmaan luister.
2. Bear Grylls
Het jy al gehoor van “Stap altyd eers deur ’n hindernis” of “Probeer om eerder óm ’n groot hindernis te ry”? Nie dié ou nie!
En as hy sy ryding in die proses kan breek, nóg beter. Hy jaag halsoorkop in plekke in. En hy’s lief om te sê: “Daar is nie iets soos verdwaal nie, jy’s net tydelik onseker van jou ligging!” Hy het gewoonlik ook ’n baie senuweeagtige vrou en kinders.
3. Inspekteur Gadget
Hy’t alles – van ’n hol bulbar waarin jy 18,75 liter brandewyn kan bêre, tot ’n tuisgemaakte satellietskottel.
Wil jy weet hoe lyk die jongste, mees ingewikkelde braai? Wel, hy’t hom klaar aangeskaf. Plus, hy het die braai intussen gou in sy werkswinkel ’n bietjie “verbeter” omdat die ontwerp volgens hom “hier en daar nie goed genoeg was nie”.
4. Die legende
Sy kar is volgeplak met Save the Earth-, Stop Fracking- en I love Zambiaplakkers. Aandenkings van orals in Afrika hang aan sy truspieël en hy dra genoeg armbande dat sy rug skeeftrek.
Hy lyk meer soos Kingsley Holgate as Kingsley Holgate self. Maar daar is net een probleem. Hy kan nie baie goed 4x4 ry nie. Hy weet nie so lekker hoe die diff lock werk nie en sy bande word teen een banddruk gery. En wanneer sy wiele begin tol, gee hy gas.
5. Vader Tyd
Hy staan altyd laaste op, pak laaste in en sorg dat die groep 1½ uur later as beplan in die pad val.
Hy “wil nie jaag nie, want hy’s op vakansie”, daarom veroorsaak hy dat die groep altyd donker by hulle bestemming aankom. Hy kan nooit verstaan hoekom mense nooit dik is van die lag as hulle twee uur ná sononder in Malawi moet ry en iewers in die gitswart nag tente moet opslaan nie.
6. Die ruimtekapsule
Hulle is heeltemal selfversorgend en koop nêrens enigiets langs die pad nie. Hulle vermy so ver moontlik ook enige interaksie met die plaaslike mense.
’n Mens wonder soms hoekom hulle in die eerste plek die landsgrens noordwaarts oorgesteek het.
7. Steven Spielberg
Alles moet met ’n kamera verfilm word. Is jy nou nét deur ’n moeilike hindernis? Wel, jy moet omdraai en weer probeer, want hy kon dit nie met sy kamera vasvang nie.
Hy jaag gereeld vooruit en gaan neem stelling langs die pad in met sy kamera sodat hy die oomblik kan verewig. Hy lyk nooit heeltemal ontspanne nie en jy vermoed dat hy glo niks bestaan of het regtig gebeur as dit nie afgeneem is nie.
8. Die eetmasjien
Hy eet nie om te leef nie, hy leef om te eet. Elke dag word om die maaltye – nee, feesmale – beplan.
Kyk, niemand hou van slegte kos nie, maar jy hoef nie elke ete twee uur lank kos te maak en nóg ’n uur lank te sit en eet nie. Soms kan jy vinnig iets aanmekaarslaan en verder reis sodat jy vanaand kan ontspan, iets eet, ’n paar knertse maak en lekker met die mense kan gesels.
9. Mnr. Sleeptong
Almal hou van joligheid en niemand gaan op reis omdat hulle daarvan hou om suur gesigte te hê nie. En ja, die meeste aande sit ’n mens mos maar rondom die vuur en geniet ’n ou ietsie. Niks fout daarmee nie.
Maar wat wel ’n groot verleentheid (vir die res) veroorsaak, is die manne wie se tong keer op keer ná die vierde dop begin sleep soos ’n El Camino-bakkie voor ’n Jurgens.
10. Die grapkas
Geen minuut mag verbygaan sonder die bulderende “kwaah-kwhaah-kwhaaah!” van die Grapkas wat vir sy eie grappe of kwinkslae lag nie.
En as daar nie genoeg “humor” in die omtrek is nie of ’n stilte uitgerek voel, begin hy sommer poetse bak. Spinnekoppe op mense, die wegsteek van karsleutels of sommer net ’n storie wat begin met: “Hoor’ie, het jy al die grap gehoor van . . .”
11. Sarel Senuwees
Hy wil nie hê sy kar moet krap nie. Hy kla oor klippies wat sy ryding se verfwerk kan beskadig en “wil nie sy bande opd*nder nie”. In die Kaokoland van alle plekke. Hy vra pal “of die pad vorentoe darem ’n bietjie beter gaan raak” en maak ses keer per dag seker dat sy satellietfoon nog in ’n goeie, werkende toestand is.
Uiteindelik, wanneer julle weer terug by die huis is, is jy namens hom net so verlig.