Upington en omstreke laat ’n mens dink aan die De Aar-stasie van ouds – ’n rushalte, ’n poort tot ’n ander plek. Reisigers uit alle uithoeke van die land staan hier oor en skep asem (en doen inkopies) op pad na of van Namibië, Namakwaland se blomme, die Kgalagadi of Augrabies.

Hier is ses kampplekke (en ’n bonusplek!) naby die Oranjerivier in die Upington-omgewing wat ons kan aanbeveel, asook oornagplekke op pad na die Kgalagadi en Augrabies.


WEET VOOR JY WAAI

Beste tyd om te gaan? Die deel langs die rivier is op sy mooiste tussen Oktober en Maart wanneer die wingerde groen is, maar dan is dit ook vrékwarm. In die winter is die dae gematig, maar die nagte kan bitterlik koud wees.

As jy in die winter hier kom, wees voorbereid op die volgende: Van die kampplekke se gras is geel (dit ryp hier), die swembaddens is dikwels leeg, en baie plekke is besig met instandhoudingswerk.


Beste kaart? Die kaart op die Kokerboomroete-brosjure – kry een by die toerismekantoor op Keimoes, in die ou sendingkerkie oorkant die pad van die waterwiel. 054 461 6400


Nuttige webblad/kontaknommers? upington.com; openafrica.org/route/Kokerboom-Food-and-Wine-Route; greenkalahari.co.za 


As jy net een ding doen ’n Flip se rib by die Kalahari-vleishuis op Keimoes. Jy gaan weer een koop op pad huis toe, ek belowe. En kamp minstens twee aande by Oranjerus.


Hou maar liefs hier verby Die Eiland was op sy dag dié plek op Upington om te kamp. Vandag lyk die geriewe maar so-so – jy kry die gevoel die plek is gemaak en so gelaat staan.


Wat kan ek nog doen? Gaan kyk na die waterwiel in Keimoes se hoofstraat, en loer in by die toerismekantoor en koffiewinkel oorkant die pad. Maxi Compion, ’n toerismebeampte daar, ken die Noord-Kaap beter as wat jy jou tandeborsel ken.