
Johannesburg Fourways-boeremark
Dit voel byna asof ’n mens by ’n feestelike tuinpartytjie is. Kleurryke vlaggies wapper in die bries, hier’s hoë bome en houtspaanders, en dennebolle lê gestrooi op die loopvlak tussen afgekampte graskolle waar jy jou piekniekkombers kan oopgooi en heeloggend uitspan. En hier is kos – o, so baie kos! As jy dit stadig vat, kan jy ontbyt, brunch én middagete inpas!
Kinders sal gaande wees oor dié mark. Hier’s melkskommels en oorgenoeg plek om te speel.
Wanneer? Sondag 9 vm.-4 nm.
Koste: R10 toegangsgeld
Waar? Oorkant Montecasino langs William Nicol-rylaan.
Nog inligting: ffmarket.co.za
Bryanston- organiese mark
Hierdie mark is op twee maniere organies: Dit was een van Johannesburg se eerste markte – lank voordat Saterdagmarkte mode was – en hier’s heelwat kos waaaraan jy met ’n skoon gewete kan smul.
Die stalletjies is semi-permanent en het dakkies, wat beteken dié mark is een van die beste opsies op ’n reënerige Saterdagoggend in die somer. Dit verander ook die gevoel hier: Dit lyk asof almal mekaar ken en baie mense kom vul weekliks hulle voorraad aan.
Die mark werk met ’n slim sentrale kasregisterstelsel. Loop jou rondes en elke stalletjie-eienaar gee jou ’n faktuur. Vat jou fakture na een van die kasregisterpunte en betaal met kontant, kaart of SnapScan en gaan dan terug na die stalletjie toe met jou gestempelde faktuur om jou aankope te kry. (Party stalletjies het bordjies wat aandui as kontant aanvaar word).
Baie stalletjies verkoop handgemaakte produkte en klere van ’n hoë gehalte. Wees op die uitkyk vir Chappy Holtzhausen se mooi handgemaakte penne en sout- en pepermeule van hout. En moenie huis toe gaan voordat jy ’n koppie chai-tee gedrink het by Meera’s nie – dis die geurigste tee wat ek nog buite Indië gedrink het.
Wanneer? Donderdag, Saterdag en openbare vakansiedae: 9 vm.-3 nm. Hier is ook maanligmarkte rondom die Kerstyd.
Waar? Culrossweg 40 (draai van Hoofweg af) in Bryanston.
Nog inligting: 011 706 3671; bryanstonorganicmarket.co.za
Johannesburgse Neighbourgoods-mark
Die Neighbourgoods-mark het begin as die kleinboet van die gelyknamige mark in Kaapstad. Maar soos alle kleinboeties het dit in ’n oogwink grootgeword. By Neighbourgoods gebeur dinge teen ’n vinnige pas, dis stedelik en koel.
Dis die kos en die pret wat hierdie mark so gewild maak. Op ’n bedrywige dag wedywer meer as 4 000 mense vir ’n plek in een van die kosrye. (As julle in ’n groep is, beweeg strategies: Laat een mens sitplek soek terwyl die ander kos koop.)
Proe ’n wye verskeidenheid boetiekbier en mengeldrankies.
Die meeste van die kos is gemaak om hier te eet, maar jy kan ook kolwyntjies en ander lekkernye koop om huis toe te vat.
Neighbourgoods is meestal binnenshuis en dit sál gons hier, maak nie saak hoe die weer lyk nie.
Wanneer? Saterdae 10 vm.-4 nm.
Koste: Toegang tot die mark is gratis, maar vir die beste en naaste parkeerplekke moet jy betaal.
Waar? 73 Jutastraat, Braamfontein
Nog inligting: neighbourgoodsmarket.co.za
Johannesburg: Rosebank-Sondagmark
’n Mark op die vyfde verdieping van ’n parkeergarage klink dalk nie baie aanloklik nie, maar dié mark sal jou verras. En omdat dit in ’n winkelsentrum is, kan jy sommer jou weeklikse inkopies doen of ’n fliek gaan kyk.
Hier is meer as 200 handelaars, maar vergeet van ontwerpersprodukte – hierdie mark gaan oor goed. Jy kan enigiets van ’n etswerk op olifantmispapier tot prinses Diana-gedenkwaardighede, tweedehandse boeke, ou ammunisiekiste of ’n plastiekgeraamte koop.
Hier is ook baie kosstalletjies met lang tafels vir die hele gesin.
Hier tree ook kunstenaars op. Hou die webtuise dop vir meer inligting.
Wenk: Moeg gery ná ’n week in die verkeer? Geen problem nie: die Gautrein hou stil by die winkelsentrum.
Wanneer? Sondag 9 vm.-4 nm.
Waar? Boonste vlak, Rosebank-winkelsentrum
Nog inligting: rosebanksundaymarket.co.za
Pretoria: Boeremark
Dis 5.30 vm. op ’n Saterdagoggend. ’n Paar mense gewapen met ’n koplampie snuister in die donker vir kraakvars produkte. En terwyl die son begin gesig wys, kom staan mense in toue vir die ou gunstelinge soos pap-en-kaiings, moerkoffie en melkkos.
Nadat die huurkontrak by die Pioniersmuseum verstryk het, het dié mark na ’n ander perseel geskuif, ook in Silverton. Tafels kreun onder vars groente, vleis, handgemaakte items, ingemaakte produkte, gebak, blomme en plante.
Dis nie net die kos wat klante lok nie. Helder, bont klere en lappe is te koop, hier is handgemaakte produkte van hout en juwele.
Oop: Saterdae van 5.30 vm. tot 9.30 vm. (Besoek die webtuise vir datums wanneer die mark nie op Saterdae oop is nie.)
Waar? Moreletastraat 665, Silverton, sowat 1,5 km van die vorige perseel by die Pioniersmusem.
Nog inligting: 079 987 1025; pretoriaboeremark.co.za