Foto's: Kevin Ravno

Al ooit van ’n picathartes gehoor? Dis een van die ontwykendste Afrika-voëls om op jou lys af te merk. Daar is min bekend oor dié bedreigde voël wat net in die reënwoude van Wes- en Sentraal-Afrika voorkom. (’n Mens spreek dit uit pieka-thaar-ties en hy word ook soms ’n rotsvoël genoem omdat hy modderneste op rotswande in die woude bou). Daar is net twee spesies in die Picathartidae-familie: die witnek- en grysnek-picathartes.

’n Mens kan die grysnek-picathartes in die Korup- nasionale park in die Kameroen te siene kry. Ek was onlangs daar op vakansie om dié voël en ’n hele rits ander ongelooflike spesies wat ek nog net in dokumentêre natuurfilms gesien het te gaan soek.

Die Kameroen het ’n wye verskeidenheid habitatte en daar is nie soveel mensgemaakte druk op die omgewing soos in buurlande soos Nigerië en die Kongo nie. Hier is amper soveel voëlspesies soos in die hele Suider-Afrika tesame! Voeg hierby berge, oerwoude en woestynagtige gebiede en jy het ’n droombestemming vir enigiemand wat betotteld is met voëls.

Die swaelstertblouvalk

My reis was ’n wilde drie weke lange tog. Ek het min van die Kameroen geweet voordat ek soontoe gevlieg het. Die avontuur daarvan om per motorfiets en met openbare vervoer te reis was amper net so opwindend soos die soektog na die picathartes!

Ek het in die stad Douala geland en met twee busse en ’n oornagtrein gereis na die Waza- nasionale park in die Sahel-woestyn in die verre noorde van die land.

In die park het ek spesies soos die swaelstertblouvalk (“scissor-tailed kite”) , swartkopmahem (“black-crowned crane”), vosvalk (“fox kestrel”) en rooipenssandpatrys (“chestnut-bellied sandgrouse”) gesien. Dit was harde werk: Party dae was dit tot 50 °C!

Die swartkopmahem

Hierna is ek na die afgeleë vulkaniese landskap rondom Rumsiki op die grens met Nigerië. Hier kon ek die Kameroen se plattelandse dorpies en die landelike lewe eerstehands ervaar. Van hier af het ek suid geskuif na die hooglandwoude van Ngaoundéré, waar heelwat miombobosveld-spesies soos die “piapiac” (’n soort kraai), witkuifloerie (“white-crested turaco”), Dybowski se kolpensie (“Dybowski’s twin-spot”), witbandspreeu (“white-collared starling”), Bamenda-kleinjantjie en bruinborskiewiet (“brown-chested lapwing”) voorkom.

Toe stel ek my visier op Berg Kameroen. Ek het ’n oornagtrein van Ngaoundéré tot Yaoundé geneem, maar die trein het tweeuur die oggend gebreek en ek moes ’n motorfiets kry om my reis voort te sit. Ek het uiteindelik by die dorp Buea aan die voet van die berg aangekom – net betyds om later daardie dag my klim na die 4 000 m-bergspits te begin!

Kevin het onder meer die vulkaniese landskap rondom Rumsiki besoek.

Daar is verskillende oornaghutte op pad boontoe. Heelwat voëlspesies kom net op die berg voor, soos die Berg Kameroen-speirops (“Mount Cameroon speirops”, Berg Kameroen-fisant (“Mount Cameroon spurfowl”) en die bergsaagvlerkswael (“mountain saw-wing”), en jy kan ook ander wonderlike voëls soos die Kameroense bosduif (“Cameroon olive pigeon”) en bleekborsnigrita (“pale-fronted nigrita”) sien.

Onder gekom het ek weer ’n vinnige draai by die Bakossiberg gaan maak, sowat 160 km noord van Berg Kameroen. Drie van ons het op een motorfiets gery (natuurlik sonder valhelms): ek en al my toerusting, ’n plaaslike gids en die bestuurder. Ons het vir ’n dorpie op die rand van ’n afgeleë wildernisgebied gemik – ’n gebied waar besoekers so skaars soos hoendertande is.

Een van die oornaghutte op pad na die spits van Berg Kameroen.

Ná ’n reëndeurdrenkte reis het ons uiteindelik by die dorpie uitgekom. Hier het die hoofman ’n spesiale tradisionele seremonie net vir my gehou. Die meeste van die dorpie se mense was daar om die gebeurtenis te aanskou. Nie lank hierna nie het ek een van Afrika se skaarsste voëlspesies gesien: die Berg Kupe-boslaksman (“Mount Kupe bushshrike”). Daar is net ’n geskatte 20 van dié voëls in die natuur oor.

Van die Bakossiberg af het ek teruggedraai na die grens met Nigerië en die dorpie Mundemba, waar die Korup- nasionale park se hoofkantoor geleë is. Dis waar ek die picathartes wou sien. Die 150 km lange reis soontoe het 14 uur geduur en daar was verskeie plekke waar ons die motorfiets moes dra om deur modderdele te kom – en dít was die droë seisoen! Die motorfiets het ook halfpad gebreek en moes toe eers versien word, maar dit was alles deel van die avontuur.

Die volgende dag is ek saam met ’n gids die park in.

Die reis na die Korup- nasionale park was reëndeurdrenk.

Ons het in die digte oerwoud verdwyn, met honderde onbekende roepgeluide oral om ons. Ons kon egter min van die voëls by wie dié geluide pas te siene kry omdat die woud uiters dig is. Ná baie ure het ons by ’n klein opening met ’n paar lendelam hutte gekom – ons basis vir die volgende paar dae. Daar was geen storte nie, net ’n helder stroompie wat naby verbyloop.

Ons het die volgende dag verder woud-in gestap. Laat daardie middag het ons by ’n hoop rotsblokke onder die blaredak gekom. Die gids was vol hoop en het gesê ons moet onder ’n oorhangrots wegkruip. Ons het ’n paar minute gewag tot ons uiteindelik die geritsel gehoor het van iets wat deur die blare op die woudvloer beweeg. Ek het koud geword en begin bewe van afwagting. Uiteindelik het hy uitgespring tot op die rots voor my – ’n grysnek-picathartes!

Dit het gevoel soos ’n oomblik uit Jurassic Park, want daar is beslis iets prehistories aan hierdie voël. (Wetenskaplikes dink sy “stamboom” strek tot so ver as 44 miljoen jaar gelede.)

My hande het gebewe, maar ek het ’n vinnige foto geneem.

Kevin kon uiteindelik die grysnek-"picathartes" te siene kry.

Die voël het omgedraai om te sien wie sy gebied betree. Hy het ’n katagtige sisgeluid gemaak (hulle het, sover bekend, nie ’n roepgeluid nie) en tot in die boom agter hom gespring.

Uit die boom het hy toe gehop op wat lyk soos ’n soort beker gemaak van modder wat aan die wand van een van die rotse geplak was – sy nes. Die gids het besluit ons moet padgee en die picathartes los om reg te maak vir die nag.

Dankie picathartes, die reis was fantasties.


Dié artikel het in Oktober 2018 (#168) in Weg verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.

Kevin Ravno

“Ek het op hoërskool begin voëlskyk op my eerste reis na die Kurgerwildtuin saam met my gesin. Ons het by Pretoriuskop aangekom nadat ’n veldbrand onlangs die omgewing verwoes het. Met geen soogdiere in sig nie het ons maar voëls gesoek. Sedertdien is ek versot daarop.

“Ek werk as ’n IT-spesialis met ’n fokus op die omgewing en voëls. Ek het al verskeie apps en webtuistes ontwerp wat met voëls te doen het, soos die Rare Bird Alert Southern Africa-app (saam met Trevor Hardaker) en Birds of Mauritius-app (saam met Rockjumper Tours en African Bird Club).

“Ek was tot dusver gelukkig om al wyd in Afrika te kon reis. Om verskillende voëlspesies te soek is ’n lekker manier om jou op afgeleë wildernisplekke te kry waar jy andersins nooit sou kom nie.”

WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za