book-icon Uitgawe Maart 2018

Mic se rubriek: Ken die gevare

akkreditasie
Organisasies wat in beheer is van wildernisgebiede waar gevaarlike diere na willekeur in die kampterrein kan rondloop, moet meer doen om besoekers oor die moontlike gevare in te lig, sê Mic van Zyl.

Ek het ’n ruk gelede teruggekeer van ’n langnaweek by ’n private lodge in die Madikwe-wildreservaat. Hoewel dit nie ’n veldrynaweek was nie, was dit nietemin vir my ’n goeie blaaskans.

Ons was op wildritte in die oggend én namiddag, en ons wildbewaarder was deurgaans op sy radio met die bestuurders van ander voertuie in die reservaat. Dit het gehelp dat ons nie te lank moes soek om wild te sien nie en dit was lekker om vir ’n slag bederf te word.

Ek is nie regtig een vir stap nie. Ek het my kans gehad in die weermag. Ek is egter op die drumpel van my middeljare en danksy my vrou se aanmoediging kyk ek nou na ander moontlikhede om fiks en gesond te bly. Toe die geleentheid hom dus voor- doen om vroegoggend te gaan stap en wildkyk eerder as ry, het ek besluit om dit te probeer.

Ons het bykans drie uur gestap en heelwat kilometers afgelê. Die afstand is gemeet deur een van daardie horlosies wat ’n mense se treë kan tel. Dit was een van my kollegas s’n en dit was nogal fassinerend om hom dop te hou.

Dinge kan soms skeef loop, en ’n mens kan nie anders nie as om te dink aan die vrou wat onlangs ’n lelike ondervinding gehad het met ’n luiperd in die Kgalagadi.

Ek het ’n rukkie later besef sy was die kortste een van ons almal en het ook die kleinste treë gegee. Dit is dus nie heeltemal duidelik presies hoe ver ons gestap het nie.

DAAR WAS SES van ons plus die wildbewaarder met sy groot geweer en ’n hand vol ammunisie. Ons het die vorige aand ’n klompie diere in die omgewing gesien wat die potensiaal gehad het om ons dag te bederf. As ek moet raai, is mensvleis beslis op die spyskaart in dié geweste.

Maar terwyl daardie gedagtes deur my kop maal, het ek nie vir een oomblik bedreig gevoel nie. Ek het die volste vertroue gehad in Dave, ons gids en wildbewaarder. Hy het ons vooraf deeglik ingelig oor die moets en moenies ingeval ons paaie met ’n leeu of renoster s’n kruis en dié dalk té belangstellend na ons kyk. Ek het myself betrap dat ek deurgaans die hoogste boom soek en wonder hoe vinnig ek hom sal kan uitklim. Gelukkig was ek taamlik seker ek is nie die stadigste in ons groep nie.

DIE ERVARING het my opnuut laat besef hoe gelukkig ons hier in Afrika is om só naby aan die ongerepte – en potensieel gevaarlike – natuur te kom. Dit het my stoutste verwagtinge oortref, en as ’n ywerige amateurfotograaf was ek in my element.

Dinge kan egter soms skeef loop, en ’n mens kan nie anders nie as om te dink aan die vrou wat onlangs ’n lelike ondervinding gehad het met ’n luiperd in die Kgalagadi. Ek kan my net die afgryse van só iets voorstel, en ek wens daardie vrou ’n spoedige herstel toe.

Ek gaan nie nog ’n stuiwer in die armbeurs gooi oor wat die mense moontlik verkeerd gedoen het of oor die luiperd se aksie nie. Meer as genoeg menings oor dié onderwerp is al gelug.

WILDE DIERE HET nie ’n stel reëls wat hulle getrou volg nie. Hulle tree meestal instinktief op en is daarom onvoorspelbaar. Enige ou of gewonde roofdier – óf een wat al voorheen deur mense gevoer is – gaan waarskynlik ’n kans waag as daar mense in die omgewing is. Trouens, ek is effens verbaas daar is nie méér sulke voorvalle in gebiede soos dié nie.

Ek glo egter die organisasies wat sulke wildernisgebiede beheer, veral dié waar gevaarlike roofdiere na willekeur in die kampterrein kan loop, moet meer doen om besoekers oor die moontlike gevare in te lig. Ek dink nie vir een oomblik die mense wat by die voorval betrokke was, het dom of nalatig opgetree nie. Ek dink net hulle was onervare en het nie genoeg inligting oor die moontlike gevare gehad nie.

Jy sal my nié in ’n tent op die grond kry in ’n gebied waar leeus, hiënas, seekoeie en olifante vry rondloop nie. Ek gee nie om of dit ’n seil- of nylontent is nie. Ek slaap in ’n daktent of niks. Dit word met goeie rede “wild” genoem. ’n Mens moet jou deel doen om veilig te bly.

Mic van Zyl is die direkteur van Ironman 4x4 Africa, die eksklusiewe invoerder van die volledige reeks Ironman-4x4-produkte. ironman4x4.co.za