My rugsak plof op die grond neer. Ná 6 km se tawwe opdraande stap, staan ek uiteindelik bo-op Komsberg en kyk uit oor die Moordenaarskaroo… Al die pad tot by Laingsburg waar ons ses dae gelede begin het. Ek is nie seker wie die sogenaamde moordenaar is na wie dié stuk aarde vernoem is nie, maar ek het ’n sterk vermoede dit was dalk die bult wat ons pas uitgeklim het…

Doer onder strek die Buffelsrivier en haar sytakke – droë kerwe in die landskap. Wanneer dit die slag hier reën, loop haar waters gedurende Oktober en November. Dis nou middel September en die loop lê kaal, afwagtend – net soos byna 40 jaar gelede op die dag van die Laingsburgvloed. My begrip van tyd voel verdraai. Die Karoo het ’n manier om die nietighede waaroor ’n mens jou verknies, met die hede te vervang. Hoewel ek net laasweek my voordeur in Kaapstad gesluit het, voel daardie bestaan nou ligjare ver.

DAG 1: 12,5 KM

Swem saam met die Shosholoza Ladies

Ek gaan die Buffelsrivierroete deur die Moordenaarskaroo stap. Alles wat ek vir die volgende week sal nodig kry, is in ’n 50 l-ammokrat in my kattebak – van ekstra sokkies en pleisters tot my verekussing en ’n bottel rooiwyn. Dis immers ’n slenterstap wat voorlê, maar nietemin steeds ’n stewige 90 km. Van Laingsburg af, al met die droë Buffelsrivierloop langs tot by sy oorsprong in die Komsberg.

’n Brug oor die einste rivier lei my die dorp binne en ek draai in by die Vloedmuseum. Daar staan sowat 20 mense in die parkeerterrein. Hulle is van kop tot tone in stapklere. Tensy die inwoners van Laingsburg nét K-Way-klere dra, is ek op die regte plek.

Kate Badenhorst
Kate Badenhorst koel af in ’n sementdam naby die Bloukrans-plaaskamp.

“Die meeste mense ry met die N1 langs hier verby sonder om eens te dink oor wat weerskante van die snelweg lê,” sê Franci Vosloo, die staptogköordineerder en -gids.

Sy stel voor ons gaan kyk eers deur die museum om beter te verstaan watter impak die vloed gehad het op die landskap waardeur ons die volgende paar dae gaan stap.

Dis ’n somber plek. Die uitstallings van alledaagse gebruiksartikels (’n sakhorlosie, ’n ketel…) wat ná die vloed heeltemal verniel en beskadig uit huise opgediep is, gee nuwe betekenis aan die tragedie.

Toe die groot waters daardie middag van 25 Januarie 1981 hier deur gebruis het, het dit álles voor die voet – mense, vee, motors, meubels, selfs huise – saamgesleur. Meer as 100 mense het gesterf. Vloedslagoffers se liggame is so ver as Mosselbaai – 200 km hiervandaan – opgespoor. Maar die meerderheid s’n nooit nie.

Ná ’n uur se rondkyk en lees van ou koerant-uitknipsels verlaat ons die dorp en ry tot op ’n plaas waar ons motors vir die week bly staan. Ons laai ons kratte vol goedjies op die ondersteuningsvoertuig waarmee Dave en Sue Uberstein (vriende van Franci van Knysna af) elke dag van die een na die volgende oornagpunt sal vervoer.

Dis ’n verligting om te hoor dat ons ná ’n dag se stap slegs ons eie tent hoef op te slaan – die res word voor gesorg: Daar sal warmwater-emmerstorte en semelbaktoilette opgeslaan wees, kos gemaak word en Dave belowe ook om as kroegman diens te doen. Uiteraard is hy van die begin af ons almal se beste vriend.

Franci se ouers, Koos en Jean Vosloo, se plaas, Bloukrans, lê sowat 10 km dorp-uit in Sutherland se rigting en ’n familievriend, Jacques Leftley, ry ons 20 stuks in ’n ou Mercedes-vragmotor soontoe.

Die tweespoor het ’n effense helling en ons ry verby skurwe rante en leiklipkranse. Maar hoe dieper ons die Moordenaarskaroo ingaan, hoe platter raak die wêreld.

Op die middaguur hou Jacques by ’n plaashek langs die grondpad stil – van hier af stap ons. Ek val in langs Alma Janse van Rensburg, ’n onderwyseres van Kaapstad. Sy dra bloedrooi lipstiffie en ek hou sommer dadelik van haar.

Die son sak oor die eerste kampplek – Bloukransplaas – op die Buffelsrivierstaptog. Die kampplek is langs ’n skaapkraal gebou uit droë bossies, wat goeie skuiling was teen die wind.

“Ek het Karoo toe gekom om my lewe ’n slag in oënskou te neem,” deel Alma. “Een dag van stap vir elke dekade van my bestaan tot dusver.”

Ons stap ’n goeie vyf en ’n half uur voordat die kamp op Bloukrans in sig kom. Dit het my genoeg tyd gegee om ’n prentjie van my medestappers te vorm: Daar’s die groep vriendinne wat van Johannesburg af tot op Laingsburg met die Shosholoza Meyl gereis het – voortaan bekend as die Shosholoza Ladies: Sheenagh Levy, Shayleen Peeke, Sandi Husted, Anne Fraser, Janet Kennedy, Heather Barcklay en Fransa Cole. Twee susters, Maude en Kate Badenhorst, knyp elke jaar tyd af om saam te stap. Hein Groenewald is ’n avontuurlustige reisiger wat Suider-Afrika met sy Suzuki Jimny verken; Jaco de Wet het die stilte van die veld kom opsoek en praat slegs wanneer hy iets noodsaaklik (of snaaks!) te sê het; Glandy Visagie, ’n wiskundejuffrou van Calvinia ken haar plante; Anita de la Porte is die groep se aardrykskundekenner, en Klaus en Magda von Pressentin het vir Kosie en Christine Smit by die Stellenbosch-stapklub ontmoet.

Dis nog taamlik vroeg en wárm, en ek en die Shosholoza Ladies mik vir ’n swem in ’n plaasdam naby die kamp. Die water is ysig! Maar ek spring tog in en toe ek vir asem opkom, voel die wêreld sommer weer nuut.

Nuuskierige donkies groet die groep op die Bloukrans-plaaspad

DAG 2: 19 KM 

Wanneer tyd vervaag

Die oggend is kraakvars. Gisteraand se kampvuur is weer aangeblaas, koffie is geskink en ons bondel om die vlammetjies saam vir ’n bietjie hitte. Ontbyt is glo op pad. Mmm… hawermoutpap, hardgekookte eiers en vrugte.

Van vandag af volg ons die loop van die Buffelsrivier. Voordat ons vertrek, verduidelik Franci eers die dag se roete. Sy stap met ’n GPS en die eindpunt van ’n skof word vooraf vasgemaak. Hoe ons egter daar uitkom, hang grotendeels van ons en die terrein af. Die enigste reël is om altyd seker te maak jy weet wie stap agter jou – ingeval iemand deur die loop van die dag afdwaal.

Soos wat ons noordwaarts oor die Vosloos se grond aanstap, kleef die roete eers styf teen ’n krans langs. Die rivierloop wissel tussen klipbankies en sagte sand, en ons moet ook kort-kort oor groot rotsblokke klouter. “Dis goeie voorbereiding vir die Visriviercanyon,” merk Hein op.

Alma Janse van Rensburg in die ruïne van ’n ou plaashuis

Ek stap ’n ent saam met Franci en vra haar uit oor die roete se ontstaan.

“My ouers het dié stuk grond sowat 10 jaar gelede aangeskaf. Voor dit was die Moordenaarskaroo vir my onbekend en onvoorspelbaar. Onheilspellend selfs! Hierdie berge en veld wat altyd net lê en smag na reën… En wanneer die reën dan wel kom, en die Buffelsrivier is in vloed… dis betowerend. Ek wou dít met stappers deel.”

Sy’s reg. En dit wat ons nou doen, om die roete van ’n rivier na te spoor is boeiend. ’n Mens kan slegs te voet die teenwoordigheid van water wat lank gelede hier verby is, aanvoel. En begin verstaan hoe meedoënloos die vormingskrag van erosie kan wees.

Geologies gesproke is die Moordenaarskaroo deel van die sogenaamde Onder-Karoo wat omtrent 310 miljoen gelede die seebodem was.

Só vertel die onderskeie lae in die rotswande ons; dit wissel tussen sandsteen en versteende modder.

Ná ’n ruk word my voetval die agtergrondmusiek vir wispelturige gedagtes. My sintuie neem oor en my oë pas heeltyd aan by die landskap. Wat eens net beige en bar was, onthul nou ’n spektrum van kleur en tekstuur.

In die rotsskeure wink donkerpers skadu’s waarin koggelmanders skuil. Slangverklikkers fladder tussen die papierdroë grashalms rond. In die verte toring wasige blou berge en rondom my, uit die hittegolfies, slaan die roesreuk van die veld op.

Toe ’n brandwag-bobbejaan iewers stroomop blaf, kondig Franci aan dis tyd vir middagete. Sy lei ons na ’n kransoorhang en hoog teen die wand gewaar ons… okerkleurige hand- en voetafdrukke! Khoisan-rotskuns.

Beskeie, maar tog ook beduidend van ’n era wat net die rivier kan onthou. Die roep van ’n witkruisarend laat my opkyk, en dis asof ek hom hoor sê: “Én ek – ek was ook nog van altyd af hier.”

Khoisan
Khoisan-tekeninge op ’n oorhang langs ’n rivier

DAG 3: 13 KM 

Om die oneindigheid te probeer meet

Die gekrys van ’n nonnetjiesuil maak my wakker. Dis nog vriesend vroeg, maar ek hoor reeds tente ooprits en trek maar gedwee nog ’n paar lae aan en verlaat my snoesige kokon. Ons het gisteraand vir ’n bietjie skuilte teen die ergste wind ín die rivierbedding kamp gemaak en vanoggend lyk die helderkleurige seiltjies heel uit plek in die silwerige dagbreek.

’n Aangename roetine volg: koffie drink, ontbyt eet, aantrek, oppak, en in die pad val. My gemoed is lig, wetende daar is vandag geen spertye nie, geen bekommernisse, spitsverkeer of afsprake nie.

Ons volg vir sowat 3 km ’n tweespoorpad voordat die voetpad weer terugswenk rivier toe.

Af en toe is daar ’n grensdraad en in die week lange stap kruis ons tree vir tree etlike plase: Sandkraal, Leeuvlei, Middelstevlei, Boonstevlei, Kerksdrif, Spitskop, Kareedoorn-kraal, Ventersrivier, Welgemoed…

Dag en datum vervloei totdat net ’n waserige swygsaamheid oorbly wat soms ’n geselsie aanroer, net om weer te verstil. Dit val my by hoe mense meer gewillig word om lewensverhale uit te ruil wanneer ons blote spikkels teen ’n onmeetbare uitgestrektheid word. Dis soms makliker om diep dinge met ’n vreemdeling te gesels.

Toe ons die geurigheid van ’n skaappotjie oor die kole in die aandlug ruik, weet ons die kampplek kan nie meer ver wees nie. “Nêrens anders in die lewe kan ’n mens vooruitgang só maklik meet soos op ’n staptog nie – een tree na die ander,” filosofeer Anne.

Op die Buffelsivier-staproete is sommige dae se afstande langer, en dan is padlangs ’n gouer roete as deur die rivierbedding

DAG 4: 14 KM 

Magtige waters

Teen 8 vm. is ons aan die gang en die groep stap die eerste uur van die dag in absolute stilte. My voete is seer, maar ek kan nie onthou wanneer laas my lyf so lewendig gevoel het nie.

Elke dan en wan tref ons skape of boerbokke aan wat in die rivierbedding kom water soek het. Party diere het klokke om die nek – dit maak dinge makliker om ’n trop op dié plase met hulle massiewe weikampe bymekaar te maak.

Middagete is varsgebakte roosterkoek met kaas, waarna ons ’n veepaadjie uit die bedding uit tot op ’n rantjie volg. Van die hoogtetjie af lyk “ons” rivier skoon anders – ek kan nou sien hoe haar kronkels vallei-in strek. Dit sal baie vinniger wees om soos die kraai vlieg, reguit na Komsberg te stap, maar om só by die rivier se swerftog langs te hou herinner my daaraan dat die mees direkte roete selde die mooiste een is.

Ons daal weer af in die rivierloop en sowat ’n halfuur later staan die ding daar: ’n Vanghok teen ’n draadheining en binne-in ’n paniekerige duikertjie. Boere stel dikwels van dié wippe om diere te vang wat hulle lammers doodbyt. Dis ’n gebruik waaroor baie ’n wenkbrou lig, maar ongelukkig nog algemeen in dié streke.

Om die vreesbevange bokkie so te aanskou laat my met ’n naar kol op die maag. Hein en Jaco haas hulle nader en maak die hok vir hom oop. Die duiker skarrel ongedeerd weg.

Vir die meeste van ons verdring dié episode ons nuutgevonde vredigheid. Maar die gemoedere lig darem weer toe ons Neil Brink se plaas, Spitskop, haal. Vanaand slaap ons in ’n ten volle toegeruste kampterrein met warmwaterstorte en spoeltoilette.

Hein Groenewald (staande) en Jaco de Wet vat ’n blaaskans.

Neil kom maak later ’n draai en Kosie vra hom uit na ’n ou, verroeste Nissan-bakkie wat ons dié dag langs die rivier sien lê het.

“Dit was ’n dr. Le Roux s’n, hy’t ’n hele paar kilometer hiervandaan gewoon,” antwoord Neil. “Die vloed het die bakkie hier kom neersit.”

“Ja,” las Alma by, “wanneer groot water in só ’n droë loop afkom, hoor ’n mens kilometers ver hoe die stene teen mekaar stamp.”

Laataand in my tentjie probeer ek my dié gerammel van ’n rivier wat skielik lewe kry, verbeel. En ek wonder: Kon die mense van Laingsburg dit ook hoor aankom?

DAG 5: 21 KM  

Dís mos vryheid

Dis die langste skof van die hele week, maar ons mik met ’n opgeruimdheid steeds verder noord in Komsberg se koers. Die roete swaai nou weg uit die Buffelsrivier en ons volg een van haar sytakke. Dié rivierloop is smaller en op plekke is daar nog poele water – ’n welkome gesig toe ons later vir middagete stop en ons moeë voete (tot ’n paar paddavisse se ontsteltenis!) in die koeligheid lawe.

Toe ons weer begin stap, hou ek agterlangs en stap die res van die dag op my eie. En gewaar ’n duiker, ’n steenbokkie en selfs ’n verkleurmannetjie wat huiwerige op ’n takkie aanskuif.

Sowat 9 km voor vanaand se kamp (waar ons vir twee nagte sal oorstaan), skarrel ons uit die rivierloop vir ons eerste onbelemmerde uitsig oor Komsberg. Van daar af volg ons ’n tweespoor wat skynbaar g’n einde het nie, maar die padoppervlak sorg dat ons vinniger kan aanstoot en die eens klipperige veld verander nou in ’n heuwelagtigheid, oortrek met bossiegoed in donker skakerings van pers en groen.

“Dit raak nou al meer soos die Roggeveld,” vertel Franci en wys aan ons uit hoe die plantegroei van Karoo-bossies en vetplante soos vygies verander na die dorre grasserigheid van die platorand rondom Sutherland.

Ons laaste kampplek lê tussen die murasies van ’n ou plaasopstal. Weer eens lok ’n nabye plaasdam ’n paar dapper swemmers en toe ons – ná dié lafenissie – met ’n bier in die hand om die vuur stelling inneem, dink ek: As dít nou nie vryheid is nie, dan weet ek nie.

’n Karoo-gordelakkedis
’n Vybos
’n Vybos
’n Brakbos
’n Brakbos

DAG 6: 11 KM  

Die koersvaste Karoo

Omdat ons nóg ’n aand hier oorslaap, hoef niemand vanoggend al op te pak nie. Die dag se stap begin ook ’n bietjie later as gewoonlik en ons smul eers aan ’n warm ontbyt met eiers, spek en tamatie.

Innerlik versterk takel ons Komsberg. Dis nie kinderspeletjies nie – oor ’n afstand van 5,5 km sal ons 1 721 m moet klim om heel bo uit te kom. Ons bereik die draadheining wat die Wes-Kaap van die Noord-Kaap skei en klim sonder meer van een provinsie na die aangrensende. Nou lê Besemgoedgatkloof voor – verbeel jou iets soos die Sanipas vir voetgangers!

Net voor die laaste draai onder die platorand wip ’n koedoe met enorme krulhorings skielik op. Almal steek in hulle spore vas en vergaap hulle aan die bok se spoed en grasie. Elke sprong is só presies dit lyk amper asof ons hom in stadige aksie gadeslaan. Op enige ander dag sou dit dalk net ’n gewone ou koedoe gewees het. Maar vandag voel dit asof die Karoo ons vir oulaas met iets moois wou bederf.

Alma groet ’n paar vriendelike boerbokke
Franci braai tamaties vir ontbyt
Klaus kies koers in die rivierbedding.

Ons ses dae lange tog eindig op ’n ietwat onbeduidende rotsknoetsie hoog bo-op Komsberg. Ek kyk af na waar die oostelike hoek van die Roggeveld en die westelike rand van die Moordenaarskaroo saamsoom. Tien kilometer bo ons in die lug trek ’n straler sy wit strepie teen die hemelruim – ’n voorloper van die regte wêreld waarheen ons môre moet terugkeer.

Maar dis gerusstellend om te weet dat terwyl die res van die samelewing voortsnel, die Karoo steeds grootliks onveranderd bly. En dat daar in hierdie tydlose landskap net enkele dinge is wat saak maak: Die ritme van een voet voor die ander, die tentatiewe roep van ’n uiltjie en die skielike gebulder van ’n rivier wat afkom.

WEET VOOR JY WAAI

Wanneer? Die staptog vind slegs in die koeler maande plaas. Bespreek by Franci Vosloo via e-pos francivosloo1@gmail.com) of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 083 386 6270. ’n Stapgroep is nooit groter as 20 mense nie.

Koste? R4 800 p.p. vir die stap, drie maaltye per dag, ontbyt voor ’n mens vertrek, vervoer na die beginpunt en na afloop van die stap weer terug tot waar stappers se motors veilig op ’n plaas buite Laingsburg staan.

Wat moet ek inpak? ’n Tent, slaapgoed en ’n kampstoel. Al jou klere moet in ’n 50 l-ammokrat pas. Waterbottels is noodsaaklik – jy dra elke dag se drinkwater saam. (Ek het sowat 3 liter per dag gedrink.)

Maak seker jou stapskoene is goed ingeloop.

Waar vind ek meer uit? Besoek die Faceboekblad “Buffels River/Moordenaarskaroo hike” of loer op Instragram by @moordenaarskaroohike.