Die Bosveld het geen bekendstelling nodig nie – allermins onder kampeerders. Veral die suide van dié streek met sy groot konsentrasie kampeerplekke is ’n baie gewilde bestemming.
Tog moet ’n mens jouself soms herinner dat die Bosveld veel verder strek as die omgewing rondom Bela-Bela. Ja, jy gaan nou wel ’n uur of wat langer op die pad moet deurbring, maar die beloning is ’n klomp ordentlike kampplekke waar jy in rus en vrede kan uitspan vir ’n naweek. Een van hulle is Edenpark, sowat 12 km noordwes van Mookgophong.
Met die intrapslag by Edenpark se ontvangskantoor ontmoet jy vir Hannetjie Fouché. Sy staan aan die stuur van sake en sorg dat alles hier glad verloop.