BOEGOEBERG-VAKANSIEOORD

BOEGOEBERG-VAKANSIEOORD
Roete: Boegoebergdam

Ek ken ’n ou, ou liedjie…

“Boegoeberg se dam is ’n doodlekker dam... Dis daar waar die meisies hulle hare was en kam...” Al ooit gewonder waar die dam van dié ou liedjie is?

Die Boegoebergdam lê 158 km suidoos van Upington in die Noord-Kaap en kanaallangs 35 km van Groblershoop af. Dié gebied met sy dorre landskap is bekend vir sy skaaptjops, verskeie beesrasse, die rooi sandduine en dan rosyne en wyn.

Die dam is tussen 1929 en 1933 in die Oranjerivier gebou en is die begin van ’n lang kanaal wat 121 km ver strek tot naby Upington.

Met die grondpad na die dam word jy omring deur lowergroen wingerde voor dit skielik verander in ’n klipwêreld met aalwyne en boegoe teen die rante. En dan, om ’n draai, lê die Boegoebergdam soos ’n oase in die woestyn.

Die koppe by die Boegoeberg-vakansieoord kry hulle naam by die gelyknamige struik, wat volop is hier. Die oord van 11 ha lê langs die dam en ’n mens kan tot teenaan die oewer kamp opslaan.

Groot koeltebome en groen grasperke haal die ergste byt uit die fel Noord-Kaapse son en hier wei springbokke langs die waters. Die badkamers is digby die hek waar ’n mens die kampplek binnery, en die oewer is 330 m verder.

Die swembad is 150 m van die hek af en hier is ’n hand vol staanplekke in die oopte (met krag) as jy nie by die water wil opslaan nie. Die 20 staanplekke teen die oewer is langs mekaar en het kragpunte en koeltebome.

As jy eerder ’n stiller kampkol langs die waters soek, kan jy een van drie ander staanplekke kies – hulle is verder af teen die oewer waar jy op jou eie staan. Hier is nie kragpunte nie, maar wel water en ’n spoeltoilet.

Dié staanplekke se name is Swartstomp, Koegelenberg en Nuwegat. Vir Koegelenberg het jy ’n 4x4-voertuig nodig om die sandpad baas te raak. Langgras is nog ’n ent verder teen die oewer af. Dit is ’n 30 m breë grasstrook van ’n kilometer lank en is ook teen die water. Dis die gesogste staanplekke vir hengelaars, maar hier het jy ook nie ’n kragpunt nie, maar wel spoeltoilette en krane.

Kortliks | Boegoeberg

Vis Karp, baber, geelvis en onderbek.

Kampplek: 20 staanplekke met krag teenaan die oewer, asook ’n hand vol weg van die waters af langs die swembad. Daar’s ook drie private staanplekke (sonder krag) met nog ’n kampterrein van ’n kilometer lank teen die oewer (sonder krag).

Ablusiegeriewe: 1 badkamergebou by die hek, asook toilette by die dam se keerwal. ’n Nuwe opelugstort is in aanbou.

Prys: R120 p.p.p.n. vir ’n staanplek met krag (R110 daarsonder).

Aankoms- en vertrektyd: 2 nm. en 10 vm.

Kontak: 083 257 4730; boegoebergdam@gmail.com; boegoebergdam.co.za

Hoe lyk die pad? Die laaste 15 km is grondpad waarop ’n mens stadig moet ry as die padskraper lanklaas ’n draai gemaak het.

GPS: S29.046982 E22.201277

Weg Ry & Sleep sê: Hier word jaarliks ’n paar hengelkompetisies aangebied. Die Boegoeberg-bonanza is oor Paas- tyd, maar die datum vir die komende Winter Fish Off is nog nie bekend nie.

Kry ’n koelstoel

Die nederige koelboks sien ’n mens oral in die kamp- en 4x4-wêreld, en veral in hengelgeledere.

’n Dag langs die viswaters kan lank word, en uit die aard van die saak sal ’n mens noodwendig jou hoender-en-mayonnaise-toebroodjie en drinkgoed wil koel hou terwyl jy na die stokke kyk.

Een van die groot minuspunte van ’n koelboks is gewoonlik sy grootte, want hulle neem heelwat plek op in jou voertuig. Adrenalin Importers het nou ’n kitsopvoukoelboks bekend gestel. Hy vou klein genoeg op om onder jou motor se sitplek in te pas, maar wanneer jy hom oopvou, staan die 15 l-boks ’n volle 30 cm hoog.

Hy het ’n los dog stewige onderkant, en die ronde los deksel (saam met die sye) is só sterk dat jy dit as ’n stoel kan gebruik. Dis nou as jy nie swaarder is as 85 kg nie.

Ná die dag se hengel spoel jy bloot die koelboks uit en vee hom droog voor jy hom weer wegpak. Hy is net in olyfgroen beskikbaar.

Prys: Vanaf R229 by die meeste goeie hengelwinkels.

Kontak: Adrenalin Importers & Distributors  021 982 1510;  adrenalinfishing.co.za

TEEGEROOKTE VIS

Skaar jou by dié vis

Op dié manier op jou skottelskaar kan jy byna enige vis rook, maar veral snoek werk baie goed. Jy kan natuurlik ook enige tyd die tee met houtsaagsels uit ’n supermark vervang.

Jy benodig

(genoeg vir 4-6)   

  • 1 groot vis van sowat 1 kg, skoongemaak (ons het forel gebruik)  
  • sout en gemaalde swartpeper  
  • 3 eetlepels botter  
  • 1 rooiui, in dun skyfies gesny  
  • ’n hand vol pietersielie, gekap (of gebruik 2 teelepels droë pietersielie)  
  • 2 eetlepels heuningbos- of rooibostee
  • 1 teelepel heuning  
  • 1-2 koppies water  
  • 1 suurlemoen, in skyfies gesny

Só maak jy

1. Geur die maagholte van die vis met sout en peper. Smeer dit dan met botter en pak die ui en pietersielie in lagies in die maagholte.

2. Voer nou ’n skottelskaar met foelie uit. Sprinkel die tee op die foelielaag en drup die heuning oor. Sit ’n metaal-afkoelrakkie of rooster oor die tee in die middel van die skottel. Sit die vis bo-op en maak die hele skottel styf toe met foelie.

3. Verhit die skottel oor lae hitte en rook die vis vir 10 minute. Draai die hitte af en laat dit staan vir 3-4 minute om verder te rook. Haal die boonste laag foelie af en hou dit eenkant. Lig die vis van die skottel af en verwyder die onderste laag foelie. Sit die vis nou terug en skink die water versigtig onderin die skoon skottelskaar.

4. Sit die foeliedeksel terug en verhit dit oor hoë hitte sodat die vis verder gaar stoom. Dit neem sowat 10 minute tot die vleis wit is en ferm voel. Sit dit voor met suurlemoenskyfies. 

Weg Ry & Sleep sê
Skink tussendeur nog water by as die skaar droogkook terwyl jy die vis stoom.