book-icon Uitgawe Januarie 2018
Deel

’n Kampreis deur Angola

akkreditasie
Uit die argief: Met fyn beplanning, baie geduld en ’n klomp goeie vriende aan hulle sy, was hulle amperse maand in Angola ’n belewenis wat hulle nog lank gaan onthou, sê John en Marie Tait van Ottosdal.

Die Taits is deel van ’n groep vriende wat gereeld saam kamp. Hulle het in 2016 met die idee begin speel om hulle boswaens te haak en Angola toe te sleep. In Februarie 2018 het hulle die praatjies laat staan en ernstig begin beplan aan logistieke dinge, soos die roete, kosbeurte, die beskikbaarheid van brandstof, besienswaardighede waar hulle moet aandoen, kampplekke waar hulle sou bly en plekke waar hulle voorraad sou koop.

Die Taits sou die reis noord saam met Nic en Dorothy Theron; Leon en Vasti Jordaan en hulle kinders, Mareli en Gerard; en George Basson en Nici Maree – almal van Pretoria – aandurf.

Hulle paspoorte is nagegaan, visumaansoeke ingedien en die voertuie gediens. Hulle het ook teen die idee van ’n gids besluit en John het vir hom ’n eksemplaar van Portuguese in Your Pocket aangeskaf vir wanneer die taalgrens ’n probleem blyk te wees.

John vertel...

Ons sleep ’n Brakah-boswa met ’n Land Cruiser 80 4.5, Leon haak ’n Jurgens Xplorer aan sy Ford Ranger 3.2 (outomaties), Nic-hulle het ook ’n Brakah-boswa wat hulle met ’n Land Cruiser 70 V8 sleep, en George-hulle het ’n Front Runner-daktent op hulle Land Cruiser V8-dubbelkajuitbakkie. 

28 Junie

Ek en Nic besluit om vroeër te ry en dit rustig te vat tot by ons bymekaarkomplek op Zeerust. Ons ry van daar af na die grenspos by Skilpadshek. Die dinge loop glad en ons word aan die Botswanakant deursoek vir enige vars groente of vrugte. Ons is sommer gou daar weg en kies koers na Phuduhudu by Sharon du Plessis se kampplek, sowat 15 km suidwes van Lobatse op die Ramatlabamapad. Dit kos 100 pula p.p.p.n. en 50 pula per motor. Dit werk uit tot sowat R330. Dit is ’n gawe kampplek met krag, water en mooi ablusiegeriewe. Ons kry hout vir braai en kuier tot laat.

GPS S25.31756 E25.61283

IETS VAN ALS. In Angola lewer elke dag iets nuuts op. Die paaie is nou wel uitdagend, maar die wonderlike kampgeleenthede en besienswaardighede vergoed dubbel en dwars daarvoor. Soms slaan die Taits en hulle vriende sommer ‘n boskamp op waar hulle ‘n mooi lappie aarde teëkom. Dit verg gewoonlik ‘n bietjie onderhandel met ‘n plaaslike inwoner, maar kort voor lank staan die kamp, die vuur brand hoog en daar word ordentlik gekuier.

29 Junie

Ons val vroeg in die pad, want ons wil so ver as moontlik ry. Die pad na Kang is mooi en skoon, en ons kom skuins voor vyfuur by die Thakadu-boskamp aan. Dis sowat 8 km duskant Ghanzi. Dis ’n private wildreservaat met ’n kroeg, restaurant, swembad en goeie geriewe, en ons betaal 400 pula (R520) per staanplek. Ons eet die aand heerlik in die restaurant.

30 Junie

Ons maak in Ghanzi vol en my Cruiser sluk ná 450 km ’n allemintige 119 l. Maar ons is met vakansie en ek kla nie te veel oor die verbruik van bykans 28 l/100 km nie.

Die pad van Sehitwa noord na die Mohembu-grenspos is ’n nagmerrie. Ons ry nooit vinniger 45 km/h nie en moet vir een slaggat ná die ander uitswaai. Gelukkig draf ons vinnig deur die grens sonder om deursoek te word, en ry verder na die Shametu River-lodge. Wat ’n verrassing! Dis ’n pragtige plek onder die Popavalle op die Okavangorivier. Die kampplekke is netjies, elkeen met sy eie stort en toilet, kombuis, krag en braaigeriewe. Dit kos ons R200 p.p.p.n.

GPS S18.11767 E21.58740 

1 Julie

Ons ry rustig Rundu toe, maak vol en mik na die Samsitu Riverside-kamp. Ons kamp langs die Okavango en die geriewe is netjies met warm water en skoon toilette. Dit kos R150 p.p.p.n. Laatmiddag daag Leon en George-hulle op. Ons kuier lekker en almal is opgewonde oor die reis na Angola.

GPS S17.84989 E19.66949

MODDERMOERAS. ‘n Mens moet versigtig wees as jy op die strand buite Sumbe ry, soos Nic uitgevind het toe hy in dik swartmodder vasgeval het.

2 Julie

Ons trek vroeg weg Katwitwi toe en gaan sonder drama oor die Namibiese grens. Aan Angola se kant neem sake effens langer. Ons ruil ons rande vir Angolese kwanzas en vat die pad noord in Menongue se rigting. Dis half snaaks om aan die regterkant van die pad te ry... en die pad is in ’n toestand. Ons sukkel teen 35 km/h aan, en 100 km verder hou ons stil en slaan vir ons ’n boskamp op. ’n Paar nuuskierige oë kom loer en ek wend my tot my Portugese woordeboekie. “Podemos acampar aqui de noite?” (Mag ons hier kamp?) Ons kry ’n knik van die kop en ’n “sim”, wat “ja” beteken. Ons maak vuur, braai, was en gaan slaap om krag te kry vir die res van dié aaklige pad.

3 Julie

Skaars 15 km nadat ons weggetrek het, kom Leon agter die regteragterband en velling van sy wa is aan flarde gery. Ons vervang dit met die noordwiel en ry verder. ’n Entjie verder moet ons oor ’n hoë wal ry en die plaat wat sy wa se watertenk beskerm, word afgeruk. Praat van skade.

Naby Carundu is ons genadiglik weer op teerpad en ek loer onder my wa in. Dit lyk nie goed nie. Die onderstel het begin kraak, maar gelukkig ry ek altyd ’n stuk hoekyster saam. Ek lig die wa en maak die yster in plek vas. Nou kan ons verder ry. Ons draai af na Cuito Cuanavale. Die pad is geteer tot 8 km voor die dorp, waar ons by die Halo-trust se kampplek inry.

Op sommige van Angola se hoofweë moet ‘n mens ook Job se geduld hê terwyl jy teen 35 km/h aankruie om die een slaggat na die ander te vermy.

4 Julie

Ons besoek vandag die Angolese oorlogmuseum en ander plekke waar die destydse grensoorlog geveg is. ’n Plaaslike weermagkolonel en oorlogveteraan vergesel ons saam met ’n tolk. Dis ’n interessante belewenis.

Hier is geen brandstofgeriewe in Cuito nie. Ons ry terug Menongue toe waar ons geld ruil. Ons kry kampplek by die Kambumbe-lodge, maar die plek is nie wat hy eens was nie en ons kamp sommer in die parkeerterrein.

5 Julie

Die pad na Chinguar is gangbaar, maar by tye vol slaggate. Ons soek plek vir ’n boskamp en kom af op ’n verlate fabriek wat op betonkolomme vir brûe gebou is. Al die masjiene en toerusting staan nog net so. Ons besluit om hier te oornag, en nadat ek met behulp van my woordeboekie met die sekerheidswag, Richardo, gesels het, word alles gereël en ons kamp lekker.

6 Julie

Ons groet vir Richardo en kry ons ry Quibala toe oor Alto Hama en Waku Cunga. Die pad is by tye baie sleg met al die padwerke. Petrol en diesel is oral te kry en in Quibala sien ons Russiese tenks wat stukkend gekiet is. Die pad is mooi en ons ry deur die Sumbira-bosreservaat. Sowat 50 km duskant Sumbe draai ons van die pad af en maak kamp langs ’n ou uitgediende meule. Weer eens kom my boekie goed te pas en die ou man wat hier bly, sê ons kan maar hier slaap. Teen skemer daag ’n klomp kinders op en Leon vermaak hulle met sy hommeltuig. Later speel Gerard hokkie saam met die seuns.

7 Julie

Die Cachoeira-waterval is ’n entjie van waar ons gekamp het. Hier kan jy kamp of piekniek hou. Dit kos Kw150 p.p. (sowat R6,50). Dis baie mooi, maar verwaarloos. Verder, net duskant Sumbe, draai ons af om na grotte te gaan kyk. Ek kan dié besoek aanbeveel. Vat ’n sterk flits en gaan kyk. Die plaaslike mense vra ’n paar kwanzas, maar dit is die geld werd (GPS S11.26172 E013.91457). Die pad na Sumbe is ook in aanbou met erge slaggate. Ons maak vol met die nodige brandstof en maak kamp op die strand net buite Sumbe.

8 Julie

Ons slaap vanaand weer op die strand en soek groot stukke hout vir die kampvuur. Nic besluit om met sy Cruiser te gaan soek en hy val sleg vas in ’n leegte net agter die duine. Dis dikswart modder en ons moet ons eerste herwinning doen. Nà drie plukke met die koorde is hy uit, maar die modder is dik aangepak aan die onderstel.

9 Julie

Ons reis na Lobito en maak ’n draai by die Cubal-ravyn waar ons foto’s neem voor ons verder ry. Die pad is sleg en by die Zulu Bar trek ons in en slaan kamp op. Ons eet in die restaurant en die kos smaak vorentoe.

GPS S12.31765 E13.58001

10 Julie

Die eienaar van Zulu Bar help my om iemand te kry wat my wa se onderstel kan herstel. Eric Thouillot doen baie goeie werk en ek kan hom ten sterkste aanbeveel as jy ooit in Lobito is en iets het wat herstel moet word.

11 Julie

Vandag ry ons verder suid na Benguela en verby Baia Farte deur Dombe Grande. Dis teerpad tot 3 km voor die Dombe Grande-pas. Hier is van die mooiste bruê gebou, maar ons moet daaronder of daarlangs verby. Die pad is erg. Ons draai af na Binga Bay en slaan kamp op net buite hulle hek op ’n stuk gelyk grond.

12 Julie

Ons gaan maak ’n draai by Binga Bay se strand, neem foto’s en vat die pad Mevabaai toe. Hier is ’n heerlike kampplek teenaan die see, en as iemand in jou geselskap dol is oor mooi klippies, is dit die plek om te wees. Hier is miljoene spierwit, koeëlronde klippe.

13 Julie

Ons ry die 21 km terug na die groot grondpad, en sowat 4 km voor Lucira is ons weer op teer. Ons maak vol en val in die pad Bentiaba toe. Die dorpie is mooi, met grootskaalse boerdery al langs en ín die rivierbedding. Die landskap waar ons afdraai na Turtle Bay (Mucuio), laat ’n mens dink aan die Karoo. By Turtle Bay draai ons weg na Pipas Bay, waar ons kamp opslaan.

14 Julie

Ons lê laat en ry die oggend noord teen die kus op. Die wêreld hier is onbeskryflik mooi. Veral die ou hawemeestergebou by Turtle Bay is iets om te sien. Verder op ry ons op die rand van die kranse al langs die see en dan af in die kloof af na die Babe-vissersdorp. Ons verkyk ons aan die rotsformasies en gronderosie voor ons.

15 Julie

Van Pipas Bay na Namibe ry ons teerpad. Ons gooi brandstof in, vul ons voorrade aan en eet gou pizza. Ons ry verder na die beroemde Flamingo Bay, en ná ’n uitdagende 23 km se hobbelrige sandpad word ons deur Theresa verwelkom. Ons slaan ons kamp op en gaan eet in die restaurant. Ons beplan om more ’n bietjie rond te ry en dalk ’n vissie te vang.

16 Julie

Die weer speel nie saam nie. Dis koud en winderig, maar ons probeer steeds visvang. Dit is egter onsuksesvol en ons besluit om die bekende canyon te besoek. Die rots- en sandsteenformasies is omtrent iets om te sien... ons neem foto op foto. Van hier af ry ons Tombua toe, maar die strand is besoedel met plastiekbottels en ander gemors. By die kamp bring hulle vir ons vyf mooi groot elwe en dis my werk om dit te bewerk en braai. Ná ete sê George en Nici nag, maar Vasti roep oor die radio en sê hulle het vasgeval in die sand agter die duin. Hulle het agter ’n jakkals aan gejaag. Nic word afgevaardig om die herwinning te behartig, maar ons almal help om hulle uit te kry. Dis al laat toe almal omval vir die nag.

GOEIE TYE. Die herinneringe van dié besonderse reis gaan nog lank by hulle vassteek. Die Suid-Afrikaners kry hulle staan by die bekende Flamingo Bay en gaan oes mossels op die strand (bo).

17 Julie

Ons eet ’n heerlike ontbyt en besluit om die wêreld in Flamingo Bay se omgewing verder te verken. Ons oes mossels op die strand, wat ons die aand na die restaurant neem waar ons saam met die eienaar, Ricco, eet. Ons groet heelwat later en gaan almal as vriende uitmekaar.

18 Julie

Teen 8 vm. vertrek ons op die hobbelrige sandpad van Flamingo af. Skielik staan ’n jagluiperd voor ons in die pad en ons neem mooi foto’s van hom. Ons ry Namibe toe en doen verdere inkopies voor ons Lubango toe mik. Ons beleef die Lebapas en gaan drink bo by die uitkykpunt ’n heildronk op mevrou Leba wat die pas ontwerp het. Ons trek in by die Tundavala-pad, sowat 3 km van die Tundavala-uitkykpunt af. Dis ’n baie netjiese kampplek met gawe staanplekke, braaigeriewe, ablusiegeriewe en skoon water.

GPS S14.841213 E13.402660

19 Julie

Ons besoek die uitkykpunt van Tundavala. Dis verbluffend mooi met regaf kranse van tot 1 000 m. Hier sien ’n mens sommer baie ver. Leon sê die swart en wit wat ’n mens in die verte sien, is die dag en nag wat aankom. Terug by die kampplek word ons bederf met lekker kos en ons beplan om vroeg die pad te vat Cahama toe.

20 Julie

Die pad na Cahama is gangbaar en ons soek die Mirage 111-vegvliegtuig wat glo hier neergeskiet is. Ons kry niks, en op die pad Onjiva toe groet Leon en sy familie. Trane sit dik in die oë, want dit was ’n mooi reis tot dusver. Ek, Nic en George draai om en mik na die Calueque-grenspos. Buite Cahama draai ons op ’n mooi sandpad en ry tot 50 km voor die grens. Ons maak ’n baie lekker boskamp.

21 Julie

Voor die grens in Calueque ruil ons ons laaste kwanzas vir Namibiese dollar. In Namibië is dit vir ’n rukkie amper snaaks om weer aan die linkerkant van die pad te ry. Ons ry na die Ruacanaval (dis leeg, maar tog baie mooi) en kom uiteindelik by die Omunjandi-ruskamp op die Swartbooisdrifpad. Die kamp is op die Kunenerivier en hier is al die geriewe wat ’n mens graag wil hê. Ons braai en kuier met die wete dat ons reis so te sê verby is. George en Nici vat môre die pad na Swakopmund en ons wil oor Grootfontein huis toe ry.

GPS S17.42286 E14.15568

Op pad huis toe kamp almal vir ‘n laaste keer saam by Tundavala. John, Nic en George-hulle reis nog deur Namibië vóór die toer, na amper ‘n maand, eindig waar hy begin het ... in Zeerust.

22 Julie

Die pad na Tsumeb is ’n absolute plesier. Tsumeb is ’n skoon dorp en ons kamp by die Bush Baby-lodge net duskant Grootfontein. Dis skoon met netjiese geriewe en oral is waterkrane. Die plekke vir braai en kuier is privaat, skoon en mooi.

GPS S19.52681 E18.01973

23 Julie

Dis ’n lang stuk pad wat vandag op ons wag en ons wil graag in of naby Gobabis oornag. Ons maak vol op Grootfontein en maak ’n draai by die Hoba-meteoriet. Ons ry teerpad tot net verby Otjiwarongo en draai af op die C30-grondpad Gobabis toe. Dis 300 km grondpad, maar ’n mens kan tussen 90 km/h en 100 km/h op hom ry. Ons kom laat op Gobabis aan en kamp by die Goba-lodge.

24 Julie

Ons groet die Goba-lodge vroegoggend en ry na die Buitepos-grenspos. Ons gaan sonder moeite deur en ry tot by Jwaneng. Hier gaan ons in by die Dladeng-kampterrein om die laaste aand te braai en saam te wees.

25 Julie

Die pad huis toe is mooi. Ons glip deur die grens en besluit om op Zeerust ’n koffie te drink by die plek waar ons reis op 28 Junie begin het. Ons groet met ’n swaar gemoed, maar ook met dank vir ’n veilige reis sonder enige groot probleme.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep (Januarie 2018) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien