Dis verbasend modern dat ’n geskiedkundige goudmyndorp uit die 1800’s QR-kodes gebruik om toeriste meer oor die plek te leer. Maar dan, dié dorp was die tweede landwyd om elektrisiteit te kry – sommige beweer nog selfs voor Londen.
Die QR-kodes is in November 2019 op geboue van belang aangebring sodat geskiedenisboffins met slimfone meer oor die betrokke gebou en sy inwoners kan leer.
Die projek word bestuur deur René Reinders met die ondersteuning van die departement van kultuur, sport en ontspanning in Mpumalanga. René is getroud met Johnny Reinders, die dorp se legendariese restaurateur en kroegman. René is ook betrokke by die instandhouding van verskeie museums op die dorp.