Ons het ons Isuzu-4x4-dubbelkajuitbakkie se neus in die pad gedruk en sowat twee uur later by die Warmwaterberg-spa-en-mineralebaddens net langs die ikoniese R62-roete stilgehou. Omdat ons bakkie met ’n daktent toegerus is, is ons altyd gereed om te kamp.

Hoekom het julle hier kom kamp?

Dit het baie aanloklik gelyk en ons het iets nodig gehad om ons af te koel. Die water was lou en verfrissend, ondanks die buitetemperatuur wat gevoel het of dit naby kookpunt draai.

Ons wou ook die oorspronklike badhuis sien wat in 1886 gebou is. Dit was die eerste ontwikkeling hier.

Hoe lyk dit deesdae?

Ons neem aan dit het nogal aansienlik verander van die oorspronklike geriewe wat bestaan het uit ses aparte kamers, elk met ’n bed en bad. Dit is nou omskep in ’n kombuis en tweeslaapkamereenhede. Hier is ook ’n nuwe studio-badhuis met deurvlegte ysterware en hekwerk van gietyster.

Die luukste eenhede op die eiendom is in 2015 voltooi en dít is omtrent iets om te sien.

Vertel ons meer oor die kampterrein… Hier is wisselende vlakke van skaduwee oor die staanplekke, maar elkeen het sy eie braaiplek en kragpunt (as jy op een van die staanplekke met krag kamp).

Die ablusiegeriewe is eenvoudig, maar dit word netjies en skoon gehou.

Hoe bring ’n mens jou tyd deur?

As jy ’n foodie is, soos ons, kan jy dit gate uit geniet hier. Die omgewing se kookkuns hou vir ons ’n sekere bekoring in en by so te sê elke restaurant in die omgewing het hulle volstruis op die spyskaart. Dit is nie net smaaklik nie, maar ook gesond.

Ons het geregte teëgekom soos volstruisfilet met appelliefie-en-Amarulasous, volstruisschnitzels, volstruisnek in ’n tradisionele bredie, die heerlikste volstruislewerpatee, volstruishart in ’n rooiwynsous en ’n volstruismaag wat op dieselfde manier as beestong gebind word.

Hier is ook ’n verskeidenheid wildsvleisgeregte om van te kies, en dan die heerlikste vrugte soos granaat en songedroogde vye vir nagereg.

Maar die Romeinse baddens is natuurlik die groot attraksie. Hier is twee buitebaddens, die een warmer as die ander, én dan ’n kouewaterswembad.

As jy jou bergfiets gelaai het, kan jy die grondpaaie in die omgewing gaan verken, óf jy kan sommer net in die veld gaan stap.

Enige ander voorstelle?

Iemand het aanbeveel ons moet oor die Rooibergpas tussen Vanwyksdorp en Calitzdorp gaan ry omdat dit glo in die nabye toekoms gesluit gaan word. Die pas is eintlik heel goed onderhou tot by die afdraai na die Rooiberg-lodge. Ons het daar stilgehou en tee op die groot stoep geniet.

Ons het in die laatmiddag opgedaag en voor ons het sebra en njala op die groen grasperk gewei omdat daar weens die onlangse droogte nie veel van hulle natuurlike weiding oor was nie. Daar was ook ’n reuse-reier in die lodge se dam.

Van die lodge af is ons verby die vervalle Dwars-in-die-Weg-plaas waar ons gesien het hoe volstruise hulle kuikens beskut hou.

Op die bopunt van die pas is ’n padteken wat die hoogte bo seespieël aandui en dan ’n kleiner verbleikte padpredikant wat sê die pad word opgeknap. As jy ons vra, moet hier nog heelwat opknappingswerk gedoen word voor enigiemand met ’n gewone sedanmotor tot hier sal vorder.

Ons is met die pas af met die panoramiese uitsigte van die vallei om ons, en om dit ekstraspesiaal te maak was die Swartbergreeks in die die noorde in ’n wolkkombers gehul.

KONTAK

028 572 1609

warmwaterbergspa.co.za

book@warmwaterbergspa.co.za

GPS: S33.765096 E20.900968