Uvongostrand, KwaZulu-Natal

Ek het elke liewe somervakansie van my kinderjare deurgebring in Uvongo, ’n kusdorp noord van Margate, in ’n vakansiehuis wat my ma met haar broer en suster gedeel het.

Ek en my suster het byna uit die kar geval as ons daar gestop het ná ’n lang rit van Johannesburg af.

Ons sou dan na die klipperige strand oorkant ons huis hol, maar ons het die meeste van ons tyd op Uvongostrand deurgebring. Ons het ure lank op die strand baljaar... soms saam met my pa, Roy (foto onder).

Uvongo is steeds ’n mooi plek, maar destyds was die strand wilder, meer dramaties. Die ou La Crete Hotel was nog nie gesloop om plek te maak vir verbeeldinglose vakansiewoonstelle nie. Die bisarre luukse ontwikkeling langs die waterval van die Vungurivier was nog nie aan ’t verbrokkel nie.

Die natuur het nog die oorhand gehad. Groen kuswoude het van die kranse af getuimel en visse het geflits deur die vlak water van die strandmeer. Vir my jong oë was die branders wat teen die kaai geslaan het, woedende monsters – net die dapperste seuns sou durf om hulle te ry.

Daai seuns was my drie nefies, almal ouer as ek, en hulle het in Pretoria gebly. Hulle sou ure aaneen in die branders met hulle lyfplanke verdwyn. Ek sou my vergaap aan hulle gespierde bruin lywe wat dobber in die water en wens ek kon een van hulle wees. (Ek dink een van hulle was dalk ’n finalis vir Mnr. Mini Margate...)

Ons het gesmul aan lietsjies, slaptjips wat drup van die asyn, en samoesas, wat ons jaar ná jaar by dieselfde Indiër-tannie gekoop het. Warm, nat wind. Taai vingers, sandvoete. Weerlig wat oor die see flits. Wafels. Middagslapies in die skaduwee van ’n strandsambreel, doodmoeg en dooddollies.

Later jare het ek wel ’n paar branders gery met my blou Hot Buttered-lyfplank. Ek het skoolvriende en later universiteitsvriende (sonder ouers!) aan Uvongo voorgestel. Ons was dom en is beroof. Ek onthou een middag toe ek in ’n donker bui was, het ek op ’n bankie gesit met Smashing Pumpkins in my ore, en gekyk hoe die lig op die water kaats tot wat ook al stukkend was, weer heel was.

Deesdae kuier ek op Uvongo met my twee seuns, Elliot en Francis. Ek kyk hoe hulle oor die grasperk nael en af met die seepaadjie...

– Jon Minster

Hartenbos, Suid-Kaap

Hartenbos laat mense gewoonlik dink aan ’n lang strand met hope mense en handdoeke en sambrele so ver as wat die oog kan sien.

Of dalk dink jy aan die ou waterwurm (met sy leuse “Ek sluk, jy geniet”), draairoomys wat teen jou gewrig afloop, warm mini donuts en sekerlik die propvolste kampterrein in die land.

As jy ’n grompot is, roep jy te veel lywe op tussen vlooimarkstalletjies wat goed koop wat hulle nie nodig het nie, en ’n hengse gesukkel om parkeerplek te kry. Miskien dink jy aan Cora Marie se “Hartenbos O Hartenbos” (en die jonger geslag aan Snotkop se “Hiekies op Hartenbos”).

Ek dink aan dít alles, en nog meer. Ek het grootgeword op Hartenbos. Hartenbos is waar ek met nerfaf knieë en singende speke leer fietsry het.

Dis waar ek – sommer in die see – leer swem het en later leer branders ry het.

Ek het grootgeword op Hartenbos. Hartenbos is waar ek met nerfaf knieë en singende speke leer fietsry het.

Ek is ’n Januarie-baba en het sommer my partytjies langs die strand gehou. Ek onthou hande wat plaatkoek – dik gesmeer met karamel – verorber en die reuk van Coppertone en kaaskrulle voordat ons al jillend weer gaan swem het. Of strandkrieket gespeel het (op die foto bo probeer ek koel lyk met ’n donkerbril).

Ek het hier leer woeker – terwyl die res van die wêreld vakansie gehou het, het ek Die Burger verkoop vir sakgeld (en later allerhande ander dinge – van juwelierskoonmaakgoed by stalletjies tot vis-en-tjips by ’n restaurant).

By die sokkies in die Skoffelskuur het ek met klam hande leer vas-, los- en close dans, en later leer vry (vir laasgenoemde twee was Boyzone se “No Matter What” ’n treffer).

Ek het gemeensaamheid elke Kersdiens in die Amfiteater beleef, daar waar tienduisende saam “Stille Nag” sing.

Hier het ek my vrou ontmoet, en hier is ons getroud.

My ouers bly steeds hier. Elke Desember (en meer gereeld, soos die begroting toelaat), sal jy ons hier vind.

Ons kou aan warm mini donuts, mor oor ons nie plek het om ons handdoeke op die strand oop te gooi nie en sing saam aan “Stille Nag” by die Kersdiens.

Ons smeer ons twee kinders Coppertone, en leer hulle swem in die soel waters (my dogtertjie, Moya, is versot op branders ry soos haar pa).

Ek hoop tog dat hulle ook so beskut kan grootword, al is die wêreld wilder as toe.

En al is die Koffiehuis en die Sentra nie meer daar nie, is Hartenbos steeds my hartsplek. En weet jy, deesdae is daar meestal parkeerplek vir almal – nou kla die mense weer omdat hulle moet betaal.

– Leon-Ben Lamprecht 

Westbrook, KwaZulu-Natal

Ons gesin het nie veel erg gehad aan strandvakansies nie, want ons het by die see gebly! Ek het grootgeword op Westbrook, ’n kusdorpie noord van Durban. Ek het mens geword op Westbrook. Ek het in die rotspoele geplas voordat ek kon loop en in die branders gejol voordat ek kon swem.

Een somer het ek die eerste keer ’n seun gesoen. En moes later daai selfde somer toekyk hoe hy iemand anders soen! Ek het my branderplank gegryp en dramaties die see ingestorm met die trane wat oor my wange rol.

Ek het in die parkeerterrein leer bestuur (en ook geleer hoe om ’n handbriekdraai te doen met ’n Toyota Conquest – jammer, Ma).

Op Westbrook se strand het dinge soos geldmaak, rekeninge, studies, gewig en die toekoms nie bestaan nie. Ek en my broer en ons spul maats het net vir die oomblik gelewe.

’n Ander somer het die son klein rowe op my wange gebrand ondanks die glimmende Zinc-sonskerm wat aan ons gesigte gekleef het (tot die nadeel van ons handdoeke en beddegoed). Net twee dinge kon ons uit die water dryf: honger of die bloublasies wat saam met die oostewind gekom het. (Ek is die blondekop op die foto’s.)

Op Westbrook se strand het dinge soos geldmaak, rekeninge, studies, gewig en die toekoms nie bestaan nie. Ek en my broer en ons spul maats het net vir die oomblik gelewe.

Ons het meestal geld verdien deur Coke-bottels terug te neem vir die deposito. Dan het ons al ons geld bymekaar gegooi en ’n halwe witbrood en ’n pak Simba-tjips gekoop. Ek het eers later agtergekom dis meestal net kinders van KwaZulu-Natal wat van chip bunnies hou.

Wanneer ons klaar geswem of branders gery het, het ons ons branderplanke en fietse in die skaduwee laat staan. Ons het op die warm teer one bounce gespeel met ’n ou sokkerbal totdat ons voete blase gekry. Dan eers het ons daaraan begin dink om huis te kry... ook maar met bybedoelings, want laatmiddag het ons gewoonlik snackwiches by die bure geëet en vir oulaas in hulle swembad geswem.

Voordat ons uitmekaar gespat het, het ons afgespreek om weer te ontmoet. Dieselfde plek, dieselfde tyd, vir nog ’n sorgvrye somersdag.

– Bryony McCormick

Stilbaai, Suid-Kaap

My ma se familie hou vakansie op Stilbaai sedert sy ’n kind was, en daarom was dit ook ons eerste vakansieplek. Stilbaai het allerlei strande om van te kies: die hoofstrand met die visvywerkrale, die strande langs die Goukourivier en Lappiesbaai met sy lekker branders aan die oostekant.

My oom en tannie se strandhuis, Daheim, is naby die hoofstrand. Van my vroegste herinneringe is my nefie wat my en my suster, Karen (op die foto onder, ek is hierbo) strand toe vat om te gaan klipvisse vang in die poele in die visvywerkrale – die krale is deur die Khoisan in die tussengetysone gebou om vis aan te keer.

Hier was hordes poeletjies waar jy slakke van die rotse af kon loswikkel en met ’n klip vermorsel vir aas om klipvisse mee te lok. My neef het selfs eenkeer ’n seekat gevang!

Siestog, my niggie en nefie was heelwat ouer as ons en is waarskynlik aangesê om die kleintjies besig te hou, want daarna is ons gewoonlik hawe toe vir ’n draairoomys.

Die dae langs die Goukourivier was net so salig. Ons kinders het heeldag in die son baljaar terwyl die grootmense onder die sambrele gedut of gelees het.

Jy kon ure lank probeer “surf” in die vlak brandertjies op een van daai goedkoop lyfplanke gemaak van ’n soort harde spons. Soms sou my pa ons in die rivier rondtrek terwyl hy motorbootgeluide maak.

Teen tienertyd wou ons al hoe minder saam met die ooms en tannies uithang en eerder ons eie vriende maak op Lappiesbaai. Die kampterrein was langs Lappies, en dis natuurlik ook waar die menseredders op hulle hoë rooi staalstoele gesit het.

En touchies is elke jaar gehou op die groot sandplaat om die draai van Lappies. Die stamina van ’n tiener is ongelooflik. Jy kon heeldag in die son kuier tot Miss Touch laatmiddag aangewys is én dan nog die laataand sokkie-sokkie in die Drie Ankers-dansplek!

In daai dae het ons met mening ge-tan (soms selfs met babaolie!) sodat jy goed bruin was wanneer skool weer begin het.

Maar soos die jare aangestap het, het touchies na al hoe meer van ’n deurmekaarspul begin voel en jy het net met een te veel sweterige seun gedans op Bad Boys Blue se “Queen of Hearts”.

In daai dae het ons met mening ge-tan (soms selfs met babaolie!) sodat jy goed bruin was wanneer skool weer begin het.

Ons het weer al hoe meer by die strandhuis begin kuier. Dae verwyl op die stoep met ’n goeie boek (sonder babaolie) en in die aande Balderdash saam met die ooms en tannies gespeel.

En voor ek my kom kry, is ek en my twee dogtertjies – Emilie en Bella – weer terug in die vlak water van die Goukourivier.

– Esma Marnewick

Beach View, Oos-Kaap

Ons is van die Oos-Kaap se binneland – Cradock-distrik – en het nie baie by die see gekom nie. Wolboere het eintlik net een of twee keer per jaar Baai (dis nou Port Elizabeth) toe gegaan wanneer bale by BKB afgelaai moes word. Dan het jy met volksvreemde goed soos Kentucky Fried Chicken, neonligte en die see in aanraking gekom.

Hoewel ons altyd ook op een van die Baai se strande – soos Koningstrand – sou gaan kaalvoet loop, was stadstrande eintlik te gevaarlik vir die Coetzers. Ons het uitgewyk na die rustiger strand by Beach View, sowat 30 km wes van Port Elizabeth. Beach View het in die 1980’s ’n netjiese woonwapark gehad en ons het sommige Aprilvakansies die Jurgens-woonwa agter die Passat (later die Cressida) gehaak en soontoe gesleep.

Régte skaapboere het daai tyd nooit in die somer see toe gegaan nie, want jy kon nie jou vee alleen los oor die feestyd nie. Sê nou daar kom fout by die drinkbakke? Dán kan jy nie op die strand rondlê nie.

By die Beach View-woonwapark het ek, my ouer broer en jonger suster ordentlik met die see kennis gemaak. Daar was ’n getypoel waar dit veilig was om te swem, en in die vlak golwe het my pa saam met ons rondgeplas. (Ek ken geen Coetzer wat al dieper as heuphoogte in die see was nie.) My ma het gesorg dat ons ingesmeer is met sonskermroom, en dat ons altyd hoede dra. Ek dra vandag nog altyd hoed, maar dis omdat ek nou bles is.

Ons het met nette in die rotspoele vissies probeer vang, ons vingers in die grillerige mond van ’n anemoon gedruk en pampoentjieskulpe gesoek.

My ma het gesorg dat ons ingesmeer is met sonskermroom, en dat ons altyd hoede dra. Ek dra vandag nog altyd hoed, maar dis omdat ek nou bles is.

Die woord “periwinkle” het my woordeskat hier binnegekom, ook bloublasie. My pa het ons geleer om “organiese” sandkastele te bou – sonder plastiekvormpies en grafies. Jy grawe in die sand tot waar dit nat is sodat jy “vloeibare” sand het. Dan laat jy dit deur jou vingers drup om stapeltjies en torinkies te maak. Ons het dit “ketottertjies” genoem... (foto bo).

Ek dink ek is sowat ses jaar oud op hierdie foto. Dis goed om te weet dat ek nog steeds daarvan hou om Hawaiise hemde te dra!

– Toast Coetzer

Port St. Johns, Wildekus

In my familie is “strand” gelyk aan “vakansie”! My ma geniet dit om in die branders te speel en my pa is ’n kranige naweek-visserman. My ouma en oupa het ’n vakansiehuis in Kleinkrantz naby Wildernis aan die Tuinroete gehad – dis waar ons die meeste Desembervakansies deurgebring het. Maar toe ek sewe jaar oud was, het my ouers besluit om my en my suster op ’n avontuur te vat na ’n plek waar ons nog nooit was nie: Port St. Johns in die voormalige Transkei. Familie van Kaapstad, Calvinia en Durban het daar byeengekom vir twee weke by ’n oord by Second Beach.

Die avontuur het begin lank voor ons by die strand aangekom het...

Dit sous. Water klots teen een van die brûe (ek kan nie onthou watter een nie) na aan Port St. Johns – dis onveilig om oor te ry. Ons moet ’n ompad ry oor ’n ander, hoër brug en dan verder met ’n grondpad aankruie.

Dit reën hard toe ons die grondpad aandurf in ’n stewige konvooi: ons Conquest, ’n Toyota Liftback, Toyota Camry met ’n sleepwa en ’n VW Golf. Ons sien groot 4x4’s omdraai – die bestuurders sê die pad is te modderig om verder te gaan – maar ons het nie só ver gery net om hier te kom omdraai nie!

Die laaste 40 km tot by Port St. Johns vat ons ses uur. Ons moet die motors teen selfs die kleinste opdraand uitstoot. En in die proses leer ek waardevolle lewenslesse, soos hoe om rubbervloermatjies vir trekkrag te gebruik en hoe om motors te stoot as ’n mens kaalvoet in diep modder staan.

Ons sien groot 4x4’s omdraai – die bestuurders sê die pad is te modderig om verder te gaan – maar ons het nie só ver gery net om hier te kom omdraai nie!

Toe ons uiteindelik by Second Beach aankom, is die voorruite die enigste deel van die motors wat nie toe was in ’n laag modder nie.

Die volgende oggend is die lug blou en die weer fantasties. Die strand is net oorkant die pad en die Bulolorivier loop ook by die oord verby. Die water is warm – nie soos die yskoue Atlantiese Oseaan waaraan ons gewoond is nie. Die branders is ongelooflik en ek plons ure lank in die vlak water rond saam met ouer suster Lee-Ann en ons niggies Amy, Deleen en Natlee.

Vandag kan ek steeds die reuk van die see onthou, en hoe die plaaslike vissermanne vars vis en reuse-krewe aan ons probeer verkoop het. Ons het in ons baaibroeke geleef en ek het saans laat wakker gebly saam met die ouer kinders – ons het op die trampolien gespring en speletjies gespeel by die oord se klubhuis.

My ma sê die rondawels waarin ons gebly het was “baie basies”, maar vir my het dit soos ’n vyfsterhotel gevoel!

– Shelley Christians

Plettenbergbaai, Suid-Kaap

My ma se reëls vir vakansie hou was streng dog eenvoudig: Sy kamp nie, sy kook nie (maar sy moet lekker eet), sy maak nie skoon nie, die see moet naby (en warm) wees, die omgewing moet esteties bevredigend wees en haar drie seuns moet hulleself kan besig hou.

Ek onthou vaagweg flouerige vakansies in Oos-Londen en Port Elizabeth, maar my pa het die boerpot geslaan toe hy ons hier rondom 1977 vir die eerste keer Plet toe geneem het. Ná een week in die Beacon Isle Hotel het my ma verklaar ons kan maar weer hierheen kom.

Daarna het ons omtrent elke jaar in Desember die dag lange reis van Durbanville af na die Tuinroete gepak. Ek het daai vakansiegevoel by Mosselbaai begin kry, net soos jy die eerste keer die see sien en die plantegroei rondom jou begin verander. Duskant Knysna het Plettenbergbaai soos ’n oase aan die einde van ’n groen tonnel gelê.

Plet is ’n lekker vakansiedorp. Mense loop in kortbroeke en plakkies rond. Hulle glimlag vir mekaar. Jy ruik sonbrandroom in die winkels terwyl Boney M se “By the Rivers of Babylon” oor die luidspreker speel.

Maar Plet se strande was die grootste trekpleister. My pa het skaars in die Beacon Isle se parkeerterrein stilgehou of ek en my broers het ons boogie boards uit die kattebak gehaal en afgehardloop na Central Beach om in die golwe te baljaar.

Later jare sou ons opgradeer na branderski’s en heeldag lank in die branders by Lookout-strand of in die armholte van die Robbergskiereiland gaan surf.

Ons sou agter die branders dobber, en ons boeglam skrik wanneer ’n skool dolfyne tussen ons deur die water peul.

Dit was nog groter pret as een van hulle saam met jou ’n brander vang, of akrobaties deur die lug tol net om te wys wie’s baas. Af en toe sou ’n walvis in die verte sy stert teen die water slaan.

Ons sou agter die branders dobber, en ons boeglam skrik wanneer ’n skool dolfyne tussen ons deur die water peul.

Een keer – by Robberg – het ’n groot grys vin tussen die branders my amper ’n hartaanval gegee. Die fliek Jaws was nog vars in my geheue, en ek het in rekordtyd teruggeroei land toe. Was dit ’n haai? Dalk. Ek het effe verleë strandlangs met my branderski onder die arm teruggestap Beacon Isle toe.

Maar die volgende dag was ek en my broers weer in die water. Op die foto staan ek langs Francois (links) voor die Beacon Isle (toe nog in ons boogie board-fase). Hy vang nou nog – 40 jaar later – gereeld ’n brander voor werk. Dis tyd dat ek my bord afstof en saam met hom tussen die dolfyne by Robberg gaan speel.

– Pierre Steyn

Sandbaai, Hermanus, Wes-Kaap

My neus is nerfaf gebrand. Ek is omtrent tien jaar oud en verdiep in die volgende Maasdorp-boek, wat ek by die biblioteek op Hermanus uitgeneem het. Ek is reeds deur die Trompie-, Saartjie-, Jasper- en Uilereeks, en het hierna nog die Keurboslaanboeke oor.

Dan word my rus versteur deur Stoffel, ons wit Franse poedel, wat pas saam met my broer Faani (foto bo) op sy branderplank gery het. Stoffel het hom graag ongenooid kom droogmaak op die strandhanddoeke wat oopgesprei onder die sambreel lê. Hy was nie net mal oor die see nie; hy was ook mal oor karry, en het oral saam met ons gegaan as ons hom net ’n halwe kans gegee het. (Op die foto onder roei ek en my broer Johan.)

Sandbaai se strand kan dalk wat swemplek betref, nie meeding met Grotto en Onrus nie, maar geen ander strand het sagter sand vir boeklees as Sandbaai nie!

Die baaitjies is almal baie klipperig; dus het ons met plakkies en branderplanke geswem. Dit was wel ’n puik strand vir skulpe soek – my ma het ure lank geloop en toontjies, wangetjies en pampoentjies optel wat by die huis in bakkies gesorteer is.

My ma was (is steeds!) baie sonbewus, en ons is net toegelaat om soggens voor tien en smiddae ná drie op die strand te kom. En altyd onder ’n dik laag sonskermroom. Ons strandhuisie is naby die see, ons het dus nie juis op die strand gepiekniek nie. (Dié tweevertrekgehuggie het eers aan my predikant-oupa behoort, en my ma, een van ses pastoriekinders, het al as skoolkind daar vakansie gehou.)

Teen die tyd dat jy honger was, moes jy al terug wees by die huis. Ons vier kinders het sommer al op pad huis toe begin stry oor watter één TV-program ons die aand gaan kyk.

Die huis het eers dekades later, toe ek al op universiteit was, elektrisiteit gekry. In my laerskooljare het ons saans die TV met knyptange aan ’n motorbattery gekoppel. Daar was net-net genoeg krag vir die nuus (my pa se keuse!), plus één program. Die res van die aand het ons Scrabble by ’n gaslamp gespeel of boek gelees by kerslig.

Die huis het eers dekades later, toe ek al op universiteit was, elektrisiteit gekry. In my laerskooljare het ons saans die TV met knyptange aan ’n motorbattery gekoppel.

By die eerste parkeerplek by die swemstrand was daar ’n hoekkafee (deesdae is dit ’n Portugese restaurant) wat soggens vroeg-vroeg Danish custard slices verkoop het. Jy kry nie ’n lekkerder ontbyt as ’n warm vla-danish op ’n somervakansie nie.

Ons Kersgeskenke het elke jaar ’n nuwe swemhanddoek ingesluit, en tot vandag toe gee my ma dit ook as ’n Kersgeskenk as ons nuwe liefdes huis toe bring.

Die afgelope jaar het inbrekers ons huis feitlik afgebreek. Alles is gesteel, tot die kragpype, waterkrane, toiletbak en geiser. Talle mense het voorgestel ons moet eerder die huisie verkoop. Maar dis vir my ondenkbaar om Kersfees op enige ander plek in die wêreld te wees. En waar anders moet ek nou my boek gaan lees as op Sandbaai se strand?

– Gerda Engelbrecht

Waar het ons lesers vakansie gehou?

Lianda Beyers Cronje: Glenmore... suikerriet en piesangbome roer nou nog iets in my hart.

Niel Maree: Ons het elke Desembervakansie Kleinmond toe gegaan. Ek het in die strandmeer leer swem.

Rina Pottas: Sorglose dae van swem en roomys eet op pad na ons rondawel ná swem op Hibberdene. Heerlik!

Elize Coetzee: Ons het vakansie gehou op Kleinmond en Onrus. Baie mense van Villiersdorp en Worcester het daar gekamp. Jy het almal geken.

Bets Ferreira: In die winter het ons Krugerwildtuin toe gegaan en in die somer Hartenbos, ATKV-Natalia-strandoord of op die plaas by familie in Vrede. Alles was net lekker!


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #159 (Januarie 2018) verskyn.