Foto's: LESLIE MERCIER

Sjoe, ek is vér van die huis af! Dís wat ek gedink het toe ek voor die klipboogdeurgang staan by die Amicalola Falls State Park, Georgia. Dis die begin van (waarskynlik) die bekendste staptog ter wêreld. Ek het so lank van dié oomblik gedroom, maar dit het soos ’n anti-klimaks gevoel: Net die stil woud en ’n smal voetpaadjie wat die onbekende in loop.

Ek het diep asemgehaal en onderdeur die klipboog gestap – met ewe veel opwinding én senuagtigheid wat deur my are bruis.

Die Appalachiese roete is ’n 2 200 myl lange staproete (sowat 3 500 km) in Amerika wat oor 14 state strek – van Springerberg in Georgia tot Berg Katahdin in die noorde van Maine. Sedert die roete se ontstaan in die 1930’s het duisende “deurstappers” probeer om hierdie groot uitdaging te voltooi en binne vier of ses maande van die een punt na die ander te stap.

Die voetpad slinger deur woude, velde en plase, oor berge en stroompies, al die pad van diep in die suide tot by die koue Alpynse woude na aan die Kanadese grens. Langs die pad stap ’n mens deur ’n paar nasionale parke, insluitend die Shenandoah- en Great Smoky Mountains- nasionale park. Die roete loop ook gereeld deur (of verby) plattelandse dorpies waar jy jou kos en toerusting kan aanvul.

LESLIE MERCIER
Almero vat ’n blaaskans voor ’n stywe klim in Georgia

Die roete het op verskeie maniere gewild geword, veral deur Bill Bryson se boek A Walk in the Woods en die onlangse fliekweergawe hiervan. Ek het jare gelede die eerste keer van die roete gehoor toe ek dié boek gelees het. Ek het dadelik begin droom om dit self te doen. In April 2018, nadat ek my kar verkoop en my werk gelos het, het ek uiteindelik die kans gekry. Met ’n rugsak wat te swaar is en stewels wat te groot is, het ek in die pad geval.

Heeltemal op my eie.

Al is dit ’n gewilde roete – sowat 4 000 stappers het die deurstap in 2018 aangepak – laat die digte woud die buitewêreld gou verdwyn. Mense verskyn onverwags van agter bome en verdwyn net so gou weer sonder ’n geluid. ’n Kabbelende stroompie of ’n singende voëltjie is dalk jou enigste geselskap vir ure aaneen.

Op die eerste nag van my avontuur was ek dankbaar om my kampvuur as geselskap te hê in die oopte tussen bome waar ek my tent opgeslaan het. Maar tog kon ek nie aan die slaap raak nie – deels oor opwinding dat ek uiteindelik hiér is, maar meestal omdat ek nie kon ophou om aan bere te dink nie.

En hier ís bere. Noord-Amerikaanse swartbere woon in die Appalache en natuurliefhebbers wat hier deurstap, kom hulle dikwels teë. Saans moet jy jou kos aan ’n hoë boomtak ophang. Anders lok die reuk van stapkos ’n wollerige vriend na jou tent toe.

“Bearanoia” is algemeen onder stappers: Elke tak wat kraak of blaar wat in die wind ritsel, laat ’n mens se hart wild aan die klop gaan. Beerstories is algemeen rondom die kampvuur; gewoonlik gaan dit oor niksvermoedende stappers wat aangeval word terwyl hulle in hulle tente lê en slaap…

My enigste skrikwekkende beerontmoeting was eers maande later in Virginië. Ek was vroegaand besig om my kos ’n entjie van my kamp af op te hang toe ’n yslike swart gestalte my oog vang. Hierdie spesifieke kampplek was bekend vir ’n aggressiewe beer, en daar was hy, net ’n paar treë weg. ’n Yslike dier met ’n kop soos ’n waatlemoen. Ondanks my paniek kon ek die beerprotokol onthou: Rek jouself lank uit, staan jou man en skréé. Dit het die ou grote laat spat. Hy het ná donker teruggekeer na die kampterrein en twee stappers se kossakke gevat… maar gelukkig het hy my tent uitgelos.

Nog ’n paar vreedsame beerontmoetings het my laat besef “bearanoia” is onnodig. Bere lyk dalk vreesaanjaend, maar hulle is nie veel meer as opportunistiese aasdiere nie – amper soos ons jakkalse.

My alleentyd het nie lank gehou nie. ’n Paar dae nadat ek begin stap het, het ek my “tramily” (“trail family”) ontmoet – die groep wat in een of ander vorm vir die res van die roete my reisgenote sou wees.

Die groep het meestal uit jonger mense soos ek bestaan wat almal op hulle eie kom stap het. Ons het onsself die Haiku Crew genoem vanweë ’n gedeelde liefde vir stories, gedigte, humor en musiek. Die lede van die groep was DNA, Professor, Bubbles, Bush-Baby, Pixie, Hummingbird, Caesar, Still-Water, King of the Hill en Slack-Pack. Hierdie name klink dalk ’n bietjie simpel, maar die Appalachiese roete is op ’n ander vlak as die “normale” lewe.

leslie mercier
Dié foto van Davey Victory oftewel DNA en Luke Spencer (Professor, regs) is geneem in Noord-Carolina net voordat die temperatuur tot onder -10°C gedaal het en die groep slaapplek in ’n motel moes kry.

Daarom kry jy ’n roetenaam. Myne was Fire-Breather, natuurlik danksy my Suid- Afrikaanse vuurmaakvaardighede. Wanneer ons nie gestap het nie, het ons musiek gemaak.

Ons het ’n paar instrumente tussen ons gehad, insluitend ’n klein kitaar en my ou ukulele. Die groep sou ’n bietjie roeteroem verwerf nadat die gewilde Amerikaanse stapwebblad TheTrek.com oor ons geskryf het.

Ons het selfs een Saterdagaand gratis verblyf in ’n Tennessee-stappersherberg gekry – in ruil daarvoor moes ons dié aand musiek maak in die kroeg.

Virginië word soms die groen tonnel genoem en is bekend as die uithouskof op die Appalachiese roete; hier bekyk Caesar (Shawn O’Neill) dinge.

Die roete word byna heeltemal deur vrywilligers in stand gehou – mense wat lief is vir die buitelewe en dit wil bewaar. Die ondersteuning wat stappers langs die pad van die plaaslike mense kry, het my verstom. Ons sou dikwels afkom op ’n klein hopie eetgoed wat tussen bome weggesteek is deur ’n anonieme skenker. Soms sou ’n plaaslike stapklub ’n buffettafel in die middel van die woud opstel, die naweek daar kamp en braai vir enige moeë siele wat verbykom. Kerke bied slaapplek aan stappers wie se stapplanne in die wiele gery word deur reënbuie. En die volgende oggend help die gemeente se dokters en verpleegsters om blase en skeenpyne te verlig.

Een van my gunsteling-ervarings was die tyd wat ek op ’n plaas in Virginië gewerk het. Die boer, self ’n voormalige Appalachiese stapper, neem stappers in en bied hulle verblyf en kos aan in ruil vir basiese arbeid op die plaas. Die kos word alles plaaslik geproduseer, insluitend groente wat vars geoes word, tuisgebakte brood en gevlokte varkvleis van een van die plaas se diere – ’n welkome verandering van die gewone suikerryke kos vol preserveermiddels wat dae lank in jou rugsak moet hou.

My tydelike huis was ’n groot rooi skuur en sy hooibedekte mure het my beskerm teen die weerstoestande buite wat soms nogal taai was.

Die weer wissel heelwat omdat die staproete so lank is en deur verskillende klimaatsones loop en omdat ’n mens veranderende seisoene gaan ervaar as jy die hele ding stap. Aan die begin was dit algemeen vir die temperatuur om tot onder die vriespunt te daal.

leslie mercier
Hier in Tennessee het Bush-Baby (Mike van Meter) oor ’n stuk private grond, ’n grasvlakte, geloop en son vang.

Een dag in Meimaand moes ons in ’n motel in Franklin, Noord-Carolina, slaapplek kry. Die weer was erg en ’n woeste sneeustorm het ’n lagie sneeu op die grond gelaat en die bome wit gemaak. Junie en Julie het weer intense hitte en hoë humiditeit gebring. En dan is daar die reën. Dit reën báie op die Appalachiese roete.

Soms het dit Virginië tot drie weke aaneen gereën. Dan behels ’n mens se daaglikse program die volgende: Klim uit jou nat slaapsak, vou jou nat tent op, trek jou nat sokkies aan en stap die res van die dag in die reën. Stappers sou inbondel in skuilings langs die roete – dis basiese houtstrukture by sekere van die kampplekke. Die skuilings was omtrent altyd vuil, stowwerig en vol knaagdiere.

Maar dis tog beter om soos ’n sardientjie saam met vreemdelinge in ’n skuiling te lê as om in ’n poeletjie wakker te word.

Maar water is lewe, en daar’s lewe in oorvloed langs dié roete. Woude strek oor die heuwels so ver as wat die oog kan sien, met net kragdrade en brandpaaie wat groewe in dié dierasie se pels sny. Moerbeie en bloubessies groei in ooptes in die woude – ’n vitamienryke happie vir ’n ondervoede stapper.

McAffee’s Knob in Virginië is een van die bekendste bakens op die roete. Hier poseer Still-Water (Mike Cesarini, links) en Bubbles.

Bokke en wilde ponies speel tussen die bome en staan net stil om vir jou te loer voordat hulle weer verdwyn.

Bergspitse maak dikwels oop in “balds” – natuurlike grasvelde wat uitsigte bied oor die mooi landskappe. En wanneer dit skemer raak, verrys honderde vuurvliegies uit die gras soos Kersfeesliggies.

Ek het nie die roete voltooi nie. By die Delaware Water Gap het ek die derde kwart van die roete oorgeslaan, en weer in Maine begin. Ek het Florida, Washington DC en New York besoek, wat my my deurstap gekos het. Ek het darem in totaal 2 500 km afgelê en ses maande se ervaringe beleef wat ek vir niks sal verruil nie, én baie nuwe vriende gemaak.

Onthou jy vir Hummingbird van die Haiku Crew? Wel, daar wag trouklokkies op ons twee… En eendag sal ek weer die Appalachiese aanpak en die oorgeslane deel voltooi.

Gaan na appalachiantrail.org vir inligting

Maine is van die mooiste én moeilikste dele op die Appalachiese roete – hier is oral vertikale kranse en gladde rotse.

Vertel ons van jou avontuur!

Was jy op ’n vakansie wat jy dink ander Weg-lesers ook sal geniet? Skryf oor die ervaring en ons publiseer dalk jou storie. Hou dit asseblief kort (maksimum 1 500 woorde) en stuur ’n paar voorbeeldfoto’s.

As ons wel besluit om die storie te gebruik, gaan ons oorspronklike hoëresolusie- foto’s nodig hê; maak dus seker jou kamera is op die regte verstelling.

Stuur jou storie na redakteur@weg.co.za. Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za