Sowat 30 km voor China se grens doem die eerste beheerpuntgebou op. Daar gekom, word ons paspoorte en die gidse se permitte bestudeer.

Twee uur en 20 km later is dit dieselfde storie. Dié keer word ons bagasie ook nagegaan en paspoorte gestempel om Kirgistan te verlaat.

Kirgi-waar, vra jy.

Hoekom reis na bekende bestemmings soos die Serengeti, Italië of Portugal as plekke soos Kirgistan, Tibet of China wag, is my en my reisvriende, Dok van der Merwe en Paul Andrag, se motto. En om dinge interessant te hou gaan ons by China se agterdeur inglip oor die Torugartpas in die Tian Shan-berg doer in die weste van dié groot en geheimsinnige land. Die plan is om sowat 4500 km deur Kirgistan, China en Tibet te reis – drie weke op van die hoogste paaie ter wêreld. Dít klink mos nou na ’n vakansie.

Die Tibettaanse plato en die Karakoramberg gesien van die G219-pad.

Ek kan nie glo ons is uiteindelik hier nie. Dit het vier jaar se beplanning en ’n berg papierwerk geverg om by die Torugartpas (3 750 m) tussen Kirgistan en China te kom. Jy het steeds g’n idee waar ons is nie, nè? Kirgistan is ’n klein land tussen China se westelike hoek, Kazakstan en nog ’n paar lande wat eindig met “stan”.

Ons het reeds 1 000 km agter die blad. Ons het ses dae gelede in Kirgistan se hoofstad, Bishkek, geland (hier’s geen direkte vlugte nie; dié lugreis alleen was drie dae lank). By die lughawe het twee gidse gewag – hulle was noodsaaklik, want g’n mens hier verstaan Engels nie.

Kirgistan is ’n klein land tussen China se westelike hoek, Kazakstan en nog ’n paar lande wat eindig met “stan”

Saam met die motorbestuurder Alexi Karaulnyh en die gids, Lisa Kropacheva, het ons die potblou Issyk-Kul-meer en Altyn-Arashan-vallei verken. Ons het gesien hoe ouens met arende jag en die Tash Rabat-woonwaherberg besoek, ’n uitspanplek langs die Syroete, die destydse handelsroete tussen China en die Mediterreense streek.

Die Tibettaanse dorpie Darchen aan die voet van die heilige berg Kailash.

Die grenspos se enorme hek en elektriese heining word goed bewaak – oral staan sekerheidswagte en loer kamera-oë vir jou. Aan die ander kant van die hek wag ons Chinese gidse. Die grensposte werk ook heel anders. Jy kan net tussen 9 vm. en 1 nm. van Kirgistan na China reis en in die teenoorgestelde rigting tussen 2 nm. en 6 nm.

Dus moet julle julle dinge so beplan dat albei partye gelyktydig by die hek is. En moenie dink hier is selfoonontvangs in die Torugartpas nie. Verder is albei grensposte gesluit op naweke, vakansiedae en in gure weer. Alexi en Lisa laai ons by die hek af en ons stap verder alleen met ons bagasie. Dit voel skoon soos ’n toneel uit ’n Koueoorlog-fliek, waar jy stap na Checkpoint Charlie tussen Oos- en Wes-Berlyn met gewapende soldate wat jou van alkant af dophou.

Die Chinese gidse is verlig om ons te sien. Hulle waarsku dat jy geen foto’s mag neem of oor geloof of politiek mag praat nie. Iewers luister iemand of loer ’n kamera vir jou...

Inderdaad so, daar is elke 5 km tot 10 km langs die pad ’n kamera. Ná 10 km doem daar wéér ’n beheerpunt op. Alles word geskandeer en wéér nagegaan. Paspoorte word sorgvuldig deurgeblaai en bestudeer. Selfs ons selfone word geskandeer vir geheime inligting of populistiese boodskappe. Hoekom is julle hier, wat is julle planne, waarheen reis julle, vir hoe lank... hulle peper ons behoorlik.

Die kosbare Tibettaanse permit waarsonder ’n mens nêrens in die gebied kan reis nie.

Ná 40 km is daar weer ’n beheerpunt. Alles word wéér geskandeer. Die gidse kry permitte om ons in die land in te neem en ’n polisieklaring vir die voertuig.

Google, Gmail, WhatsApp, Instagram en Twitter – werk nie in China nie. Ek neem altyd ’n GPS saam as ek reis, en skaf die land se kaarte aan, maar die Chinese kaart wat ek ten duurste aangeskaf het, het min besonderhede.

Uiteindelik is ons op pad. By die ingang van die stad Kashgar is weer ’n beheerpunt. Die regering weet dus altyd hoeveel mense in die stad is en hoe lank elkeen bly.

Van hier af ry ons sowat 3 000 km na Tibet se hoofstad, Lhasa, op die Chinese nasionale hoofweë 219 (G219) en 318 (G318).

Die volgende oggend oorhandig die Chinese gids ons aan die Tibettaanse gidse aan die buitewyke van die dorp Yecheng – ons mag nie op die dorp oornag nie, want net Chinese word toegelaat. Phurbu is ons gids en Dorge die bestuurder.

Chinese
’n Tipiese Chinese ete.

Twaalfuur die nag ry ons ’n piepklein dorp Shan Xi Li binne. Hier’s net een plek om te bly: kamers in ’n effens vervalle gebou. Aandete bestaan uit pasta met groente wat daarin dryf en groentee. Op 4 800 m bo seespieël voel ’n mens (gelukkig) nie juis honger nie.

Op dié roete oor die Karakoramberg ry jy meestal op hoogtes tussen 4 500 m en 5 300 m. Dis ’n landskap van uiterstes. Die Karakoram vorm saam met die Hindu Kush en die Himalajas die hoogste berge op aarde. Die Tibettaanse plato is die grootste en hoogste plato op aarde. Dit strek oor 1 000 km van noord tot suid en 2500 km van oos tot wes. Van die grootste riviere in Asië – die Indus en Ganges – ontspring hier.

Himalajaberg
'n Dam in die Himalajaberg – 4 800 m hoog – word gebruik om hidro-elektrisiteit op te wek.

Skud blad met Tibet

Ná twee dae bereik ons die Tibettaanse grens. Hier kry jy ’n spesiale Tibettaanse permit. Dié moet altyd by jou wees en moet weer aan die einde van jou reis ingehandig word. Nie-Chinese mag glad nie in Tibet toer sonder ’n gids nie.

En die Tibettane het permitte nodig vir bykans enige reis in Tibet en China – die arme mense mag glad nie binne 50 km van ’n grens af kom nie. Paspoort? Watwou! ’n Tibettaan kan net in buitengewone omstandighede buite Tibet of China reis.

Op die dorpie Douma lei Phurbu ons tot op die tweede verdieping van ’n vervalle geboutjie. Versigtig wys hy vir ons die lendelam beddens. Die badkamer? Dié is in die gang, maar daar is geen water en die toilet werk nie. Hy beduie ons na die dorp se gemeenskaplike puttoilette.

Die G219-pad kronkel verby Berg Kailash (6 683 m). Die spits is nog nooit geklim nie – Hindoes en Boeddhiste beskou dit as heilig. Elke jaar stap honderde plaaslike toeriste ’n drie dae lange pelgrimstog van sowat 50 km om die voet van die berg.

By die dorpie Lhatse sluit die G219 aan by die G318. Laasgenoemde pad strek oor 5 476 km van die stad Sjanghai af tot by die Nepalese grens – dis die langste pad in China.

Berg Everest
Kenners sê dat Berg Everest (8 848 m) in die Himalajareeks se piek elke jaar met sowat 6 mm styg.

Ons oornag op die dorpie Shegar. Die volgende oggend vertrek ons na die Berg Everest-basiskamp aan die Tibettaanse kant van dié bekende berg. Die basiskamp lê sowat 100 km suid van die G318. ’n Mens kan nie help om verstom te staan oor die teerpaaie wat die Chinese regering in hierdie woesste gebergtes gebou het nie. Op een van die passe sien ons op ’n helder oggend vyf van die bergspitse wat hoër as 8000 m is: Makalu (8 481 m), Lhotse (8 516 m), Berg Everest (8 848 m), Cho Oyu (8 201 m) en Shishapangma (8 027 m).

Daar is slegs 14 van dié spitse op aarde. Ons ry tot sowat 8 km voor die basiskamp. Slegs bergklimmers met permitte word verder toegelaat. Berg Everest troon manjifiek bo ons uit.

Een van vele hoë passe op pad na Berg Everest.

Drie weke later eindig ons reis in Lhasa. Die Potala-paleis is dié toeristetrekpleister in Lhasa. ’n Koning het die paleis in die 7de eeu gebou en die 5de Dalai Lama het dit in die 17de eeu vergroot. Die onderskeie Dalai Lamas het hier gebly tot China die land in 1959 ingeval het. Die 14de Dalai Lama, Tenzin Gyatso, het gevlug en bly sedertdien in Indië. Deesdae is die paleis in ’n museum omskep.

Die Potala-paleis in Lhasa.

Die vakansie staan einde se kant toe. Phurbu ry saam lughawe toe. Hy sê hy wag totdat die vliegtuig opstyg, net ingeval...

Op pad na paspoortbeheer hardloop ’n Chinese vrou na ons toe. Sy het ons Tibettaanse permitte nodig. Net een probleem, Phurbu het dié permit, want dit moet terug na die regering in Lhasa. Maar ons kan nie die land verlaat daarsonder nie. Nou hoe nou?!

Die lughawepersoneel is in rep en roer.

Dok hardloop stroomop by sekuriteit verby na Phurdu toe. Die sekerheidswagte is so verstom hulle weet nie wat om te maak nie. ’n Storm in die kleine bars rondom Phurbu los terwyl Dok teruggelei word deur sekerheid.

Op die ou einde het die Chinese owerhede waarskynlik gedink: Dié ou manne gaan nie vandag ’n staatsgreep uitoefen nie.

Kort daarna was ons in die lug op pad na Nepal se hoofstad, Katmandoe, op die enigste internasionale vlug wat China toelaat van die Lhasa- “internasionale” lughawe af. Maar ook dié vlug se dae is glo getel.


Dié artikel het oorspronklik in die November 2019-uitgawe van Weg verskyn (#181).
Vertel ons van jou avontuur!

Was jy op ’n vakansie wat jy dink ander Weg-lesers ook sal geniet? Skryf oor die ervaring en ons publiseer dalk jou storie. Hou dit asseblief kort (maksimum 1 500 woorde) en stuur ’n paar voorbeeldfoto’s.

As ons wel besluit om die storie te gebruik, gaan ons oorspronklike hoëresolusie- foto’s nodig hê; maak dus seker jou kamera is op die regte verstelling. Stuur jou storie na redakteur@weg.co.za.

Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za