Toe ek die tent ooprits, stoot ’n ligte seebries onmiddellik sy soutasem na binne.

Die branders slaan teen die rotse slegs etlike meters voor my. Dit druis in my ore soos ’n radio wat kliphard stasie soek.

Ek klim uit en sien ’n potblou hemelruim. Ek draai in die rondte en bespied die horison.

Niks. Nie ’n enkele wolkie nie.

“Sam!” skreeu ek opgewonde vir my meisie.

“Die son is uit! Ons gaan uiteindelik vandag blomme sien!”

Dis ons derde oggend in die Namakwa- nasionale park en ons kamp by die Skuins-baai-Noord-kampplek.

Ons kon net vier dae afknyp om Namakwaland se blomvertoning te aanskou.

Tot dusver was dit nog heeltyd bewolk of reënerig. ’n Mens mog nie kla oor reën in hierdie gebied nie, maar vanoggend is ek ekstaties oor die gebrek daaraan.

“Laat ons oppak en ry,” sê ek.

Ons trek weg en ry kuslangs tot by die Spoegriviermonding. Al wat jy vir kilometers aaneen sien, is ’n strook donkerblou see, skuimwit branders en donker rotse.

By die monding swenk ons regs en mik vir die noordelike deel van die park.

Ons ry dié deel binne by die Hondeklipbaaihek, en volg dan weer die Rooikat-ekoroete se kronkels.

Eers ry jy met ’n tweespoorpad deur vetplantkaroovlaktes vol melkbosse, vygies en soutslaai in skakerings van vaal en groen voordat jy by die verlate Riethuis-plaasopstal uitkom.

Ons gaan loer na die houtwiel van ’n ou perdemeul in ’n skuur agter die plaashuis voordat ons verder ry.

Van Riethuis af klim jy teen die plato op met die Wildeperdehoekpas (hier was glo lank gelede bergkwaggas, vandaar die naam).

Agter ons val die son se strale oor die wye vlaktes van Namakwaland.

Sien jy daardie aardige groot kolle op die grond?

Dis die sogenaamde heuweltjies, kolle waar uitgestorwe termietneste die samestelling van die grond verander het.

Dit veroorsaak dat verskillende plantsoorte eerder binne die kolle groei as buite en dus sien jy ’n landskap vol spikkels.

In die lente is die “heuweltjies” dikwels goudgeel wanneer surings daarin blom.

Ná die pas draai ons regs, verby die bouvalle van Kookfontein en Koeroebees (ou plaasopstalle uit die dae voordat die park uitgelê is).

Padlangs sien ons ’n handjievol gemsbokke, ’n meerkatgesin wat nuuskierig kop uitsteek tussen trossies geel surings en ’n paar bleeksingvalke wat die veld van bo af dophou.

By die Skilpad-deel van die park gewaar ons die eerste keer ander voertuie tussen die helderoranje madeliefies wat soos lawa oor die vaal bossielandskap loop.

Blomkykers stap rond met veldgidse in die hand. Lang lense loer by voertuie se vensters uit.

Dis gewis ’n skouspel!

Maar dis ’n bedrywige gedoente.

Ek verlang meteens na die see se gedruis en die eenvoud van vroeër jare en grondpaaie wat lyk asof hulle na die einde van die aardbol lei...

Die Namakwa- nasionale park is wêreldbekend vir sy jaarlikse blomskouspel. En sjoe, dit ís mooi!

Maar die landskap bied soveel meer.

Dis ’n plek waar jy kan wegraak, met ’n stuk wilde kuslyn wat lyk asof jy eerder ’n skipbreukeling as ’n toeris gaan teëkom.

Pak dus jou veldblomboek en kamera, maar ook ’n visstok, ’n bergfiets, stapstewels, voëlboek én ’n verkyker.

As die blomkoors eers bedaar het, lê die res van die park en wag vir jou.

Só groei ’n park

In 1988 koop die Wêreld-natuurfonds (WWF) ’n deel van die plaas genaamd Skilpad. Sowat 10 jaar later neem Sanparke die bestuur van dié veldblomreservaat oor en koop nóg plase in die omgewing.

In 2008 word die stuk kuslyn tussen die Spoegrivier- en die Groenriviermonding, voorheen ’n De Beers-diamantgebied, ook by die park gevoeg. Sanparke is deurgaans besig om nog grond by die park, deesdae 1 400 km2 groot, te voeg.

 
Riethuis-omgewing

Doen dié 7 dinge

1 Kyk hiér blomme

Die gewildste plek vir blomme in die park is sonder twyfel Skilpad.

Hier is plate en plate helderoranje blomme, die einstes wat jy altyd op ’n brosjure van Namakwaland sien.

Dié grond was voorheen saailand.

Mettertyd het die madeliefies oorgeneem en nou het jy ’n landskap wat elke jaar ’n uitspattige oranje kleed aantrek.

Van Skilpad af kan jy met die Rooikat-ekoroete weswaarts teen die Kamiesberg afdaal. Die plate madeliefies lê nou in jou truspieëltjie.

Rondom Koeroebees en Soebatsfontein kan jy begin uitkyk vir veldblomme soos blou sporries, helderpienk t’neitjies en liggeel pietsnotte.

Hier groei die blomme veelkleurig en verweefd tussen die veldbosse.

Wees ook op die uitkyk vir kokerbome teen die koppies.

Teen die kus lyk die blomme heeltemal anders.

Hier kry jy ’n verskeidenheid vygies en vetplantjies laer op die grond met ’n meer subtiele kleurvertoning.

Hier is die geel-en-wit knopiesbos, die pers douvygie en die rooi klokkies van kankerbos.

Bring ’n makrolens, want hierdie outjies wil jy beslis van naderby afneem.

Hoe laat? Op ’n blomkykvakansie kan jy maar laatlê. Die beste tyd van die dag vir blommekyk is tussen 10 vm. en 3 nm. wanneer die son op sy helderste is.

Onthou om te ry met die son agter jou sodat jy die blomgesiggies mooi kan sien. Verken dus soggens in ’n westelike rigting, en ooswaarts in die namiddag.

Spoegriviermonding
2 Waar kan ek stap?

Die Skilpadroete (5 km) is ’n sirkelroete van die Skilpadkantoor af. In blomseisoen is hierdie die heel beste manier om die blommetapyt te ervaar.

Jy stap min of meer langs dieselfde roete waar die voertuie ry, maar te voet kan jy die blomme behoorlik bekyk en afneem.

Die Korhaansirkelroete (3 km) begin ook by die Skilpadkantoor.

Dié roete kies koers deur ’n stuk veld suidoos van die kantoor wat jou deur kolle fynbos met ’n groter verskeidenheid veldblomme lei.

Volg die Heaviside-roete (6 km) noordwaarts van die Abjoel-uitkykpunt af in die suidelike deel van die park. Jy stap oor ’n duin en rotse tot jy ’n strand bereik.

Soos die naam verklap, is jou kans goed om Heaviside-dolfyne, én boggelrugwalvisse, te sien.

Die roete is in een rigting; dus moet jy reël dat iemand jou by die eindpunt (’n loopplank na die strand) optel of jy moet omdraai en na jou voertuig terugstap.

Wildeperdehoekpas

3 Ry dié roetes

By Skilpad is ’n sirkelroete (5 km) wat baie gewild is in die blomseisoen en dus besig raak.

Dis ’n netjiese grondpad wat jy met jou Polo kan ry. Maak seker jy stop by die Dak van Namakwaland, ’n uitkykpunt met ’n puik uitsig oor die plate blomme en die Kamiesberg.

[Slegs 4x4]

As jy die verste uithoeke van die park wil verken, het jy ’n 4x4 nodig.

Die Rooikat-ekoroete van 200 km is een van die langste veldryroetes in die land.

Die roete begin by Skilpad, daal af teen die Kamiesberg en neem jou oor die Wildeperdehoekpas voordat dit kus toe swenk en by die Groenriviermonding eindig.

Sit ’n hele dag opsy (jy hoef natuurlik nie die hele roete te ry nie).

Padlangs kan jy onder ’n koelteboom of op ’n verlate plaashuis se stoep ’n toebroodjie geniet.

Daar is braaiplekke by Groenriviermonding se piekniekplek (sowat 140 km van Skilpad af).

Indien jy by Skilpad oorslaap, begroot sowat 2 uur vir die terugrit.

Kry ’n kaart by die Skilpadkantoor.

In jou plat kar (mits jy nie skrik vir grondpaaie nie) kan jy drie passe in een dag ry.

Draai ongeveer 14 km suid van Springbok af van die N7 en volg die Messelpadpas na die Wildeperdehoekpas.

Neem ’n kiekie aan die bopunt en kyk of jy die dun strepie van die Atlantiese Oseaan doer ver kan sien.

Aan die onderpunt kan jy regs draai na die gehuggie Komaggas of reguit aanhou tot op Koingnaas en vandaar kuslangs tot op Kleinsee ry.

Ry oor die Spektakelpas terug Springbok se kant toe.

Dis ’n sirkelroete van sowat 275 km.

Spoegriviergrotte

4 Gaan kyk ’n skaapskuilplek

[Slegs 4x4]

In die Spoegriviergrotte het argeoloë skaapbeendere van sowat 2 000 jaar oud gevind en hulle reken dis die vroegste bewyse van Khoi-skaapboerdery in die land.

Die grotte is vlak bakkranse wat uitkyk op die vloedvlakte van die Spoegriviermonding.

Jy kan sien hoekom die trekboere hier kom rus het – dis die enigste skadukol in die omtrek.

Kyk of jy die kransvalke en swaeltjies sien wat lief is om hier nes te maak.

Noorde van die Namakwa- nasionale park

5 Waar is die diere?

Wetenskaplikes sê in die verre verlede, lank voor die eerste plase in hierdie hoek van Namakwaland uitgelê is, het grootwild soos olifante, leeus, renosters, jagluiperde en elande op die vlaktes rondgeloop.

Kyk jy deesdae na die park se dierelys lyk dit asof daar net klein soogdiere soos die vlakhaas, bakoor-jakkals en ystervark oor is.

Nietemin hou hier ’n paar interessante skepsels soos die maanhaarjakkals, namakwa-duinemol, dassierot en gemsbokmuis, maar jy sien hulle nie maklik nie.

Jou kanse is beter om dassies, stokstertmeerkatte, steenbokkies, duikers en dalk ’n rooikat te gewaar.

By Skilpad kan jy rondkyk vir ploegskaarskilpaaie, asook die namakwa- gespikkelde padloper, wat net in Namakwaland voorkom.

In die noordelike deel van die park, veral rondom Kookfontein, sien jy gereeld gemsbok, rooihartebees en springbok. Dié spesies is in die park hervestig.

Spoegrivier-voëlskuiling

6 Voëlkyker, lig jou verkyker

Die park het twee voëlskuilings, by die Groenrivier-monding en by die Spoegriviermonding (slegs 4x4).

Die paadjie na die Groenriviermondskuiling draai sowat 50 m voor die Groenrivierhek af na links.

Ry agter die geboue verby en parkeer sowat 500 m verder. Volg die loopplank na die skuiling. Hier is gereeld flaminke en pelikane.

Die Spoegrivierskuiling (GPS S30.472633 E 17.360059) is sowat 17 km van die Hondeklip-baaihek af, ánderkant die Spoegriviergrotte.

Vertoef ’n rukkie en kyk of jy ’n hamerkop of skoorsteenveër gewaar voordat jy ’n draai stap op die wye wit strand by die riviermonding.

Wees hier op die uitkyk vir swarttobies, driebandstrandkiewiete en trekduikers.

Kusdeel van die Namakwa- nasionale park.

7 Braai by die see

Hier is ’n piekniekplek met braaiplekke vir dag-besoekers by die Groenriviermonding (dis sowat 70 km van Garies af).

Hier is puttoilette, maar nie water, elektrisiteit of skaduwee nie.

Wat nog van ’n winkel! Bring dus alles wat jy vir die uitstappie nodig het.

By die Dak van Namakwaland naby Skilpad is ’n lekker piekniekplek.

Wat nog?

• Hier is nie formele fietsroetes nie, maar jy kan enige van die openbare paaie op jou bergfiets verken, hoewel die dik sand op die kusdeel jou kuite gaan uitdaag.

• Bring jou visstok en duikpak as jy lief is vir seekos, want jy mag hengel en kreefduik (binne kreefseisoentyd) in spesifieke sones langs die kus. Kry ’n kaart by ontvangs sodat jy weet waar jy toegelaat word. Gewilde sones vir hengel (kabeljou, steenbras, stompneus) en kreefduik is by Delwerskamp, Abjoel, Bamboes-kamp, Boulderbaai en Policeman’s Helmet. Maak seker jy neem vooraf ’n permit uit by enige poskantoor.

Weet voor jy waai

Beste tyd om te gaan In Augustus en September is die blomme op hulle mooiste, maar in die herfsmaande van Maart tot Mei is die park stiller en die weer gematig.

Hoe kom ek daar? Draai by Kamieskroon wes van die N7 af. Byna onmiddellik kry jy ’n T-aansluiting. Draai links en volg die grondpad deur ’n duikweg onder die snelweg. Die Skilpadkantoor is sowat 20 km verder.

Koste Daaglikse bewaringstarief: R48 p.p. en R24 per kind. Toegang is gratis met ’n Wild Card.

Kontak Skilpadkantoor 027 672 1948; Groenrivierkantoor 027 5311 015; Besprekings 012 428 9111; sanparks.org

Só lyk die paaie

Die park word in twee verdeel deur die openbare grondpad wat Hondeklipbaai met die N7 net buite Garies verbind.

Die noordelike deel sluit Skilpad in. Dis die hoofhek – jy kan tot by Skilpad en die 5 km-sirkelroete van die ontvangskantoor af ry in ’n sedan, maar vir die res van die noordelike deel het jy ’n ryding met goeie grondvryhoogte (en ’n 4x4 vir sekere paaie) nodig.

Die suidelike deel strek van die Groenrivierhek vir sowat 60 km noord langs die kus tot by die Spoegriviermonding.

As jy nie terugdeins vir grondpad ry in jou sedan nie, kan jy ry tot by die Groenrivierhek en die eerste vier kampplekke (Moon Bay, Seeduiker, Delwerskamp en Groenrivier).

Vir die res van dié deel het jy ook ’n 4x4 nodig, maar die beloning is groot, want dis een van die mees ongerepte stukke kuslyn in die land.

Wat sê die mense?

Audrey Lategan, Hondeklipbaai “Moenie Hondeklipbaai misloop nie. Die dorpie is uniek; jy vind rustig-heid. Om só na aan die see te wees bly ’n voorreg.”

Serene en Lottie van Wyk, Wolwepoort- en Blouklippe-plaas “Moenie jou blindstaar teen die massas oranje blomme nie, stap die wandelpaaie en kyk na al die ander verskillende soorte veldblomme. En verken die minder bekende dele van die park. Jy voel na aan die natuur en jou Skepper wanneer jy oor hierdie pragtige landskap uitkyk.”

Ray en Linda Castelyn, Soebatsfontein “Jy móét uit jou kar uit klim om die blomme behoorlik te waardeer. Praat met die mense om te hoor waar die blomme is, want dit verskil van jaar tot jaar. Hier is ander mooi dinge ook, soos die pad Riethuis toe. Daar het ons al troppe van 40-50 gemsbokke gesien. En gaan maak ook ’n draai by die Spoegriviergrotte.”

Die Murasie
Eet hier

Die Murasie is sowat 3 km voor die Skilpadhek. Saal af vir ontbyt (R75) voordat jy die park invaar.

Dié eetplekkie is net in die blomseisoen oop (vanaf die eerste naweek in Augustus) en word deur boervroue uit die omgewing bestuur.

Jy kan tuisgemaakte disse soos bobotie (R90), skaap- en hoenderpasteie (R85) en koek (R35 per sny) verwag.

Kontak 027 672 1787; 082 873 4299 (Serene) of vanwykserene@gmail.com

Op Kamieskroon kan jy iets te ete opspoor by die Kliphuis Kombuis.

Die spyskaart wissel, maar jy sal boerekos, varsgebakte brood en ’n verskeidenheid tuisgemaakte produkte hier kry.

Kontak 084 601 0485

As jou mond water vir seekos, mik na die Rooi Spinnekop Restaurant op Hondeklipbaai – die naam verwys genadiglik na kreef en nie na ’n agtpotige gogga nie.

Hier is iets van alles uit die see, van garnale en snoek tot mosselsop en vis-en-tjips, maar ook disse soos steak en lamsbredie.

Bel vooraf; die restaurant maak net op bespreking oop.

Kontak 076 430 8300; 027 692 3966; skulpieskraal.co.za

Skuinsbaai-Noord-kampplek

Bly hier

Skilpad-ruskamp Op die platorand van die Kamies-berg kyk vier selfsorgchalets uit oor ’n wye vlakte. Elke chalet is volledig toegerus met twee enkelbeddens en ’n driekwartslaapbank in die leefgedeelte.

Koste vanaf R800 p.n. vir twee mense, R290 per ekstra persoon, R145 per ekstra kind (slaapplek vir 3 mense of twee volwassenes en 2 kinders).

Kuskampe Tussen die Groenrivier- en die Spoegriviermonding is 11 kampplekke. Elke kampplek het 2-5 staanplekke, ver genoeg uitmekaar sodat jy nie oor jou buurman se tentpenne sal struikel nie.

Elke staanplek het ’n windbeskutte braaiplek (’n klipmuur rondom ’n braaiput). Daar is gemeenskaplike puttoilette, maar verder moet jy alles saambring.

Hier is geen water, elektrisiteit, skadu of selfoonsein nie. Die gewilde Kwass se Baai- of Koringkorrelbaai-kampplekke lê albei langs lang spierwit strande – bespreek dus vroegtydig.

Koste R175 p.n. (slaapplek vir 6)

Luukse blomtentkampe Twee tydelike fênsie tentkampe word in blomseisoen in die park opgerig, by Skilpad en digby die Groenriviermonding. Hulle is bereikbaar met ’n sedan.

Slaap in een van 15 safaritente (slaapplek vir 2) wat elkeen met ’n elektriese kombers en elektrisiteit toegerus is. Die kamp het warm storte en chemiese toilette.

’n Gemeenskaplike tent dien as eetlokaal en sitkamer. Ontbyt, namiddagtee en ’n driegang-aandete is ingesluit. Dit kos vanaf R2 700 p.p. wat deel, R1 250 per kind tussen 11 en 15 jaar oud, R1 000 per kind tussen 5 en 11 jaar oud. Gratis vir kinders jonger as ’n jaar.

Onthou om ook die daaglikse bewaringstarief in te reken (R48 p.p. en R24 per kind).

Oop 13 Augustus tot 12 September 2021

Kontak Charmane Johnston 083 652 5489; flowercamps.co.za

Blyplekke buite die park

Honne-Pondokkies, Hondeklipbaai Kom kamp in die middel van die dorpie op een van ses kampplekke (R400 per staanplek, 4 mense), elkeen met opwasgeriewe en ’n braaiplek.

Jy sien die see tussendeur die huise.

As jy eerder op ’n bed wil slaap, mik vir een van die pondokkies: drie selfsorgchalets en vier -houthuisies. Dit kos vanaf R700 p.n. vir 2 mense, R1 250 p.n. vir 4 mense.

Kontak 083 321 1600, honnepondokkies.co.za

Kamieskroon-hotel ’n Ou gunsteling op die dorpie met allerlei blyplek. Kamp: vanaf R110 p.p. Selfsorgeenheid: vanaf R800 p.n. (vir 2 mense) tot vanaf R1 200 p.n. vir 4 mense; 24 en-suite slaapkamers: vanaf R400 p.p.

Kontak 027 672 1614; kamieskroonhotel.com

Soebatsfontein Guest Lodge Bly buite die noordelike deel van die park en oornag in een van 12 selfsorggastekamers (2 mense elk) vir R900 p.n.

Vyf van die slaapkamers het eie braaiplekke, maar hier is ook ’n gemeenskaplike braaiplek en toegeruste kombuis.

Waar? Hier is nie behoorlike straatname nie – soek na die lodge se blou dak sowat 350 m buite die parkhek.

Kontak 082 822 4488; soebatsfontein.co.za

Steunerskop ’n Selfsorghuis op ’n plaas sowat 4 km van die Skilpadhek af. Hier is slaapplek vir 4 (R350 p.p.) in twee en suite-kamers en ’n toegeruste kombuis en ’n braaiplek.

Die huis is net in seisoentyd oop, gewoonlik vanaf die eerste week in Augustus.

Kontak 027 672 1787; 082 873 4299 (Serene); vanwykserene@gmail.com