Kalahari
Kalahari
Foto’s: Evan Naudé

Die wolke bo die Shell-vulstasie in Ghanzi vorm spierwit vlekke teen die potblou lug. Deur die raam van die bakkie se voorruit lyk dit soos ’n screensaver op ’n rekenaar.

Dis al namiddag en die kwik raak-raak nog aan 40 ºC. Maar in dié geweste is sulke versengende hitte niks vreemds nie, want jy is immers op die rand van die Sentraal-Kalahari-wildreservaat. ’n Mens is dit te wagte.

Heel dikwels is die vertrekpunt van ’n veldrytoer deur Afrika se mees afgesonderde dele ’n vulstasie se parkeerterrein. Vandag ontmoet ons vir Phil van Wyk en Moagi Rain Robson, ons toergidse van Bhejane 4x4 Adventures.

Hulle deel eers handdrukke en dan radio’s uit aan die toergroep van agt voertuie en dan, met die tenks vol brandstof en inkopiesakkie vol padkos, val die konvooi in die pad. Ons het immers nie gekom om tyd te mors in ’n parkeerterrein nie, want die ganse 52 800 km2 van die wêreld se naasgrootste natuurreservaat (’n grondgebied groter as Nederland) lê oop om verken te word. 

Ál dieper in die Kalahari in

Ons vertrek en vat die A3-teerpad noord uit Ghanzi. In die laatmiddag is die pad oortrek met wit en oranje fladderings van ’n magdom skoenlappers, ’n verskynsel wat ons later ook telkemale teëkom – oral waar die Kalaharivlaktes onlangs reën gehad het.

By D’Kar, sowat 37 km van Ghanzi af, draai ons oos op ’n grondpad wat ons na ons eerste oornagplek, Grasslands Safaris, neem. Die volgende oggend is ons vroeg uit die vere omdat byna ’n voldag se ry voorlê. Ons mikpunt is die kampplekke in die Deceptionvallei, en hoewel die 260 km soontoe min klink, verhinder die sanderige paaie jou om veel vinniger as 40 km/h te ry.

Van Grasslands af mik ons noordoos tot ons die westelike grensdraad van die Sentraal-Kalahari-wildreservaat bereik. Hier draai ons noord en ry ongeveer 60 km langs ’n breë kaplyn wat soos ’n ellelange graslint die horison voor ons met die een agter ons verbind. Dis skuins voor middagete wanneer ons die Tsau-hek in die noordwestelike hoek van die reservaat bereik.

In die lug verskyn ’n reënboog... en dan nog een. Daar is ’n oomblik van stilte terwyl ons almal se mond oophang.

Dit lyk of ’n veldbrand, ’n stormwind, Vader Tyd óf dalk al drie saam in ’n stadium die ontvangsgeboue verwoes het. Die vensters is weg, die toilette voos en die dalkbalke staan ontbloot in die middagson soos die ribbekas van ’n karkas wat kaalgevreet is.

Nadat ons onder ’n weermagtent agter die geboue by ’n amptenaar se lessenaar ingeteken het, vaar ons die reservaat binne. Onmiddellik hardloop ’n klompie gemsbokke oor die pad voor ons en binne 10 minute sien ons ’n olifant.

Kort voor lank swenk ons suidwaarts met ’n tweespoorpad wat ons verby Matopipan en later Passargepan neem. Van Passarge af is dit 55 km tot by die Deception-kampplekke.

Ons kamp op nr. 5 en 6 waar daar oorgenoeg groot bome is om al die tente in ’n skadukol op te slaan. Die kampplekke word omring deur digte bosse, en wanneer dit donker word, trek ons laer rondom die kampvuur. Dis leeuwêreld dié, en al wil ons hulle graag sien, verkies ons dit in die daglig.

Waar die wildehonde lê

Skuins ná ses die volgende oggend, terwyl die son opkom, ry ons af na Deception. Sommer dadelik sien ons ’n groep van 8 wildehonde wat besig is om ’n karkas uitmekaar te skeur. “Ek skat as ons net ’n halfuur vroeër hier was, het ons gesien hoe hulle jag,” sê Phil oor die radio.

Ons hou stil en hou die honde ’n ruk lank dop. Mettertyd kom drink hulle water by ’n plas langs die pad, waarna hulle met vol pense in die gras gaan lê en slaap. Eenkant rek ’n spul witrugaasvoëls hulle nek om te sien of daar oorskiet is.

Soos ons suid in die vallei af ry, kom ons groot troppe springbokke en gemsbokke teë, plus heelwat gompoue én die gereelde swartrugjakkals wat met sy slinkse houding deur die gras draf. “Ons het ’n cheetah hier,” sê Phil skielik, maar voor ons kans kry om foto’s te neem verdwyn die kat tussen die bosse met ’n stukkie ontbyt in sy bek.

Vanoggend is die Kalahari bésig. Wanneer die dag op sy warmste raak, is hier nie veel te sien nie, want al wat dier is, gaan soek skaduwee of skuiling. Ons volg hulle voorbeeld en stel die roetine vir die volgende drie dae: wildkyk vroegoggend en laatmiddag, met ’n kort middagslapie tussenin.

In die namiddag kry ons die wildehonde waar hulle op dieselfde plek lê. ’n Trop gemsbokke kom aangestap en mik-mik vir die waterpoel langs die honde, maar hulle kry net nie genoeg moed bymekaargeskraap om hulle te verwilder nie.

Wanneer ’n groep blouwildebeeste egter met vier kleintjies opdaag, sak hulle bloot hulle kop, storm op die honde af en jaag hulle in ’n stofstreep oor die vlakte.

Wanneer alles gelyk gebeur

Die volgende oggend is ons ná die gebruiklike koffie en beskuit weer vroeg in ons voertuie. Dié slag draai ons noordwes na die Sundays- en Leopardpan.

Op pad sien ons weer groot troppe gemsbokke, jagluiperdspore en selfs vars olifantmis in die pad. Die bosveld is egter só dig tussen die panne dat die grootvoete ons bly ontwyk, ondanks ons beste pogings om ’n foto te kry.

Wanneer ons die Sundayspan bereik, gewaar die voorste voertuie in ons konvooi drie jagluiperds onder ’n boom, maar hulle laat spaander in ’n oogwink oor die pad en die bosse in.

Op pad terug kamp toe maak ons ’n draai by die watergat op Sundayspan, maar teen dié tyd is dit al só warm dat ons net ’n trop gemsbokke hier aantref.

Op ons namiddagwildrit maak ons weer ’n draai by die watergat, en net soos gister pak dik donderwolke in die lug saam. Dié slag is hulle nader, donkerder en meer intimiderend, maar die wind stoot die reën net-net verby ons.

Die volgende dag is ons laaste voldag by Deception en ons besluit om die namiddag net op die vlaktes van die vallei deur te bring eerder as om wye draaie te ry. Terwyl ons ’n hengse groep springbokke dophou, pak die donderwolke nogmaals bo ons saam, en nou val daar swaar druppels. Soos ’n stadiggroeiende applous aan die einde van ’n verhoogstuk klap-klap eers net ’n paar druppels, maar kort voor lank is dit ’n oorverdowende gedruis om ons.

Die springbokke hou op beweeg en staan kromrug met hulle kop laag. Hulle ken al die storie: Wag net ’n bietjie; die reën hou nou-nou op. En sowaar, enkele minute later is die ergste verby en die hele vlakte se gras glinster. Oral lê nuwe waterpoele. Skielik kry die springbokke weer lewe en begin bokspring, oënskynlik van blydskap oor die reën.

In die agtergrond jaag jong blouwildebeeste mekaar speels al in die rondte en swaai die koppe heen en weer. Die diere kom drink by die poele langs die pad en soen hulle spieëlbeeld in die weerkaatsing.

In die lug verskyn ’n reënboog... en dan nog een. Daar is ’n oomblik van stilte terwyl ons almal se mond oophang. Dan, in daardie heilige oomblik, terwyl die trop se aandag afgelei is, trek drie jakkalse ’n springboklam plat.

In die lug verskyn ’n reënboog... en dan nog een. Daar is ’n oomblik van stilte terwyl ons almal se mond oophang

Dit herinner ’n mens dat die natuur kan gee én neem, soms sommer tegelyktydig. “Dit was nou ’n great drive met baie dinge wat op dieselfde tyd gebeur,” sê Phil toe ons weer tot verhaal kom. Wanneer die donderwolke aanbeweeg, los hulle ’n gloeiende oranje hemelruim agter en die ondergaande son verkleur die laaste paar streepwolkies in spatsels goud en rooi. Vir ’n beter vaarwel aan die Deceptionvallei kan ons nie vra nie.

’n Ikoon teen middagete

Die volgende oggend pak ons kamp op en val in die pad deur die Deceptionvallei in die rigting van Xade.

Gister se reënbui maak dele van die pad lekker modderig en ’n mens kan net dink hoe baie ’n paar dae se swaar reën die padtoestande geheel en al kan verander. Die pad van sowat 80 km tussen Deception en Piperpan is sanderig en op plekke kronkelrig. En alkant van die tweespoor staan die bosse hoog.

Ons druk deur vir die pan en skud so byna ons niere los op die laaste 10 km voor Piper, maar dis nogtans middagete teen die tyd dat ons die pan bereik. Piperpan is eintlik drie aaneenlopende panne wat meer as 10 km in ’n enorme C-vorm oor die landskap strek.

’n Mens se eerste indruk is dat dit poskaartmooi is. ’n Lugspieëling op die horison wek die indruk dat die hele pan vol water lê, en spierwit termiethope reik soos krom vingers na ’n potblou lug vol stapelwolke.

Onder elke boom staan die silhoeët van ’n gemsbok of blouwildebees geraam teen die groen, goud en oranje pastelkleure van die bosveld. Net anderkant die Piperpan 1-kampplek gewaar ons uiteindelik die Kalahari se mees ikoniese inwoner: ’n groot leeumannetjie met pikswart maanhare. Ons hou hom ’n ruk dop waar hy onder ’n boom lê.

Twee of drie keer staan hy op, loop ’n draai in die oopte en kom lê weer. Dan, net toe die helfte van ons voertuie begin aanbeweeg na ’n watergat, pyl hy skielik op ’n trop gemsbokke af en kry ’n kleintjie tussen sy kake beet. Die leeu verdwyn binne ’n oogwink met sy prooi aan die oorkant van die pan.

So word ons weer herinnner aan die Jin en Jang van die lewe in die Kalahari, want op dieselfde oomblik wemel die watergat met groot troppe gemsbokke, springbokke, blouwildebeeste, waaiersterteekhorings, sekretarisvoëls, swartaasvoëls en kraaie – salig onbewus van die moord agter hulle.

Tot ’n volgende keer

Die lug is al ’n donkeroranje wanneer ons laatmiddag by Xade se kampplek aankom. Teen die tyd dat ons kamp opgeslaan en vuur aangesteek het, gee die Kalahari ons weer een van sy kenmerkende sonsondergange. Al sien ’n mens dit elke aand, neem jy steeds foto’s.

Om die kampvuur gesels ons oor die afgelope week, ruil foto’s uit en maak planne vir ’n volgende toer.

Môreoggend mik elkeen op sy eie tyd terug Ghanzi toe met ’n verskriklike grondpad oor New Xade. Uiteindelik was ons toer ’n sirkelroete van sowat 900 km, wildritte ingesluit.

Op papier klink dié afstand oor vyf dae nie na veel nie, maar wat jy op daardie 900 km in die Sentraal-Kalahari kry, is herinneringe wat jou ’n leeftyd bybly. Selfs al wou die jagluiperds nie stilsit vir ’n foto nie.

WAT JY MOET WEET

Waar? Die Sentraal-Kalahari-wildreservaat het vier hekke: Tsau in die noorde, Matswere in die ooste, Khutse in die suide en Xade in die weste. Ry met die A3 in die rigting van Ghanzi vir die afdraaie na Xade en Tsau, onderskeidelik suid en noord van die dorp. Matswere lê naby die dorp Rakops op die B300 en Khutse is bereikbaar vanaf Lethlakeng op die B120.

Wanneer? Beplan jou besoek vir die maande net ná die somer se swaarste reën, van Januarie tot April, wanneer die landskap groen en nat is.

Jou voertuig: Jy het ’n volwaardige 4x4 met ’n goeie grondvryhoogte nodig. In die droë winterseisoen behoort laestrek en ’n ewenaarslot nie nodig te wees nie. Wees egter voorbereid vir nat en modderige paaie in die somerreëntydperk.

Toerusting: Bring alles wat nodig is vir kamp, insluitende drink-, stort- en skottelgoedwater, ’n ordentlike koelboks of yskas, braaihout en iets vir skaduwee. Pak ’n banddrukmeter, kompressor en jou herwinningstoerusting ook in.

Brandstof: Vir so ’n lang toer word ’n brandstof-reiksafstand van minstens 1 000 km aanbeveel. Bring ’n ekstra branstoftenk of jerrykanne om vol te maak in Ghanzi, Lethlakeng of Rakops, want daar is nie brandstof in die park beskikbaar nie. Soms is dié vulstasies ook droog – vra die plaaslike mense waar die volgende werkende vulstasie is terwyl jy reis, en maak vol waar jy ook al kan.

Grenspos: Bring jou paspoort en jou voertuig se registrasie- en versekeringsdokumente. As jy met iemand anders se voertuig of ’n huurmotor ry, het jy ’n toestemmingsbrief van hulle nodig wat sê jy mag met die voertuig oor die grens reis. Jy betaal padbelasting van P50 en derdepartyversekering van P80 per voertuig.

Bring ’n pen en genoeg kontant.

Wat nog? Jy moet ’n ZA-plakker agterop jou voertuig hê, plus ’n brandblusser, twee driehoeke en ’n weerkaatsende baadjie binne-in. Bring ’n noodhulptassie, basiese onderdele (smeltdrade, gloeilampe, waaierband en so aan) en ’n grasnet om jou verkoeler skoon te hou.


Dis die onverwagse wat die Kalahari uniek maak. Stel dit so: Jy het nog nie die Kalahari behoorlik ervaar as jy nie snags ’n leeu hoor brul, ’n donderstorm jou onkant betrap, jy vrek van die hitte of ’n ratel jou in die kamp kom pla het nie. Phil van Wyk