Die Cooks het vroeg verlede jaar ’n reis deur die land onderneem en ook Namibë vir die eerste keer besoek. Hulle het dit nie toe geweet nie, maar dit was nét voor die Covid-19-inperking. Terrence vertel...

Ons vertrek op Donderdag 6 Februarie 2020, maar kom heelwat later weg as wat ons beplan omdat ons eers by Canvas Safari Tents in Springfield Park moet stilhou vir herstelwerk aan die daktent, wat vir die volgende drie weke ons huis gaan wees. Nelson, die eienaar, help ons binne ’n oogwink, en kort voor lank is ons op die N3.

Ek wil Bloemfontein haal, want ek het plek bespreek by die River of Joy-woonwapark net buite die Rosestad. Ons bereik ons bestemming eers ná 19:00, en net mooi toe ons daar aankom, begin dit reën.

Bertha, die oordbestuurder, wag vir ons, handel die papierwerk af en sê ons kan enige staanplek kies. Die woonwapark is skoon en ons voel veilig.

Die Hilux met sy daktent.

Ons slaan die daktent sonder moeite oop en maak ons tuis onder die stoeptent om te braai. Deur die loop van die aand kom die oord se vriendelike kat en eende nader om te groet.

Ons verlaat ’n besige Bloemfontein die Vrydagoggend en soek op die GPS vir Sandgat, ’n kampplek op die oewer van die Oranjerivier onder die Vanderkloofdam.

Ons weet nie wat om te verwag nie, want ons was nog nie voorheen hier nie. Ek het met die eienaar, Liza Bredenkamp, op WhatsApp gesels en sy het ons staanpleknommer en die kode vir die hek gestuur.

Daar sak weer ’n bui uit terwyl ons verby Koffiefontein en Lückhoff ry en die swaar reën maak dit moeilik om die slaggate in die pad te sien.

Teen die middag is ons by die hek en volg die kort grondpad tot by die kampplek. Sandgat verras ons aangenaam, om die minste te sê. Die groen gras, silwerskoon ablusiegeriewe, plaasdam-swemplek en die eienaar se kreatiewe insette maak regtig van die kampplek ’n besonderse bestemming.

Dis naweek en dis lekker besig. Hier is ook ’n klomp laerskoolkinders op hulle jaarlikse skooluitstappie.

Ons is op staanplek nr. 4, skaars 10 m van die rivier af. Vir ’n beter plek kon ons nie vra nie.

Heel ontspanne langs die vuur.

Ons is van die kus en daarom nie vertroud met rivierhengel nie, maar ’n medekampeerder help ons gou reg en sê ons moet mieliebomme vir aas gebruik.

Tussen die twee van ons het ek en Debbie nog nooit soveel vis in ’n rivier gevang nie! Die geelvis was nog klein en ons het hulle teruggesit in die rivier wat voor ons verbyvloei.

Die rivier het ons ook ’n bietjie aan die see herinner, want hier is getye omdat hulle die dam se sluise elke dag om 06:00 en dan weer om 18:00 oopmaak.

Dit beteken die watervlak styg soggens en saans met sowat ’n meter. Ná twee nagte is dit tyd om verder te ry, en ons volgende bestemming is Aan-die-Oewer in Orania.

Dit is maar 40 km van hier af, en omdat ons al voorheen hier gekamp het, weet ons wat om te verwag. Dis presies soos ons onthou: skoon, veilig en altyd besig.

Dit is ook ’n gewilde oornagplek. Die volgende dag is ons basies heeldag in die kar. Ons ry oor Hopetown, met die grondpad Douglas toe, deur Campbell en dan op teer na Griekwastad.

By Witsand ontmoet die wit duine die rooi Kalahari-grond.

Die afdraai na die Witsand-natuurreservaat is sowat 80 km ná Griekwastad, gevolg deur 40 km grondpad tot in die reservaat. Dit is hier waar die wit duine en die rooi Kalaharisand ontmoet.

Dit is ons eerste keer hier en die netjiese kampterrein en goedversorgde ablusiegeriewe is indrukwekkend.

Ons is veral bly oor die swembad naby ons staanplek waar ons ’n bietjie kan gaan afkoel, want hier bak die middagson die wêreld behoorlik warm.

Ons sien ’n storm is aan die broei en slaan ons kamp naby die ablusieblok op. Ons gaan slaap met die geluid van reën op ons daktent en ’n wilde dier wat in die nag huil.

Die volgende oggend is ons weer vroeg in die pad, maar nou is die 40 km terug tot by teerpad ná die reën ’n nuwe uitdaging. Ek moet net keer of die Hilux wil gly. Ek ry altyd in 4H en blaas die bande af wanneer ek op grondpad ry.

Ek geniet dit gewoonlik, maar dié slag is ek verlig toe ons die teerpad Groblershoop toe haal. Ons ry verby Upington, maar hou gou by die Kalahari-vleishuis op Keimoes en die Pienk Padstal op Kakamas stil.

Hierna is dit ons en die N14 Pella toe. Ons besluit om by Klein-Pella te oornag, want ons was nog nooit hier nie. Die Klein-Pella-gastehuis op die Karstense se plaas stel ons nie teleur nie. Glenda ontmoet ons in die kantoor en wys ons waar ons staanplek is.

Die kampterrein het lowergroen gras, ’n swembad en private ablusiegeriewe. Dit is werklik soos ’n oase in hierdie woestynwêreld, want in Februarie is die hitte deur die dag byna ondraaglik.

Ná ’n goeie nag in Klein-Pella mik ons wes op die grondpad om Goodhouse se omgewing te sien. Goodhouse is ’n spookdorp waar ’n klompie veeboere in die verlate geboue woon.

Kort voor lank is ons op N7 in Vioolsdrif se rigting. Ons oornag by die Growcery-kampplek – omdat ons nog nie vantevore hier was nie, hoop ek heimlik dis ’n juweel.

Dit is immers Valentynsdag. Ons ry sowat 20 km wes langs die Oranjerivier om tot by die plek te kom.

Ons is nie teleurgesteld nie: Die personeel ontmoet ons by die bakkie, wys ons rond en stel ons voor aan die vriendelike honde, wat vir die res van die besoek aan ons sy bly.

Die staanplekke is goed versorg en die rivier naby genoeg dat ons gou kan gaan afkoel om van die Noord-Kaapse hitte te ontsnap.

Growcery het ’n kroeg waar ons ’n paar drankies geniet en stories met van die ander reisigers uitruil. Die personeel ken die omgewing goed en gee ook vir ons die vorms wat ons moet invul wanneer ons môre die grens oorsteek.

Vannag voel die sterre sommer baie naby én die vuurvliegies hou vir ons vertoning. Wat ’n ongelooflike ervaring!

Die volgende oggend ry ons die 20 km rivierlangs terug tot by die grenspos. Omdat ons vorms reeds ingevul is danksy die mense by Growcery, is die Hilux 20 minute later in ’n ander land.

Ons hou by die Engen-vulstasie anderkant die grens stil op voorstel van die Growcery- personeel. Hier is die brandstof sowat R2 per liter goedkoper. Die Hilux – én my beursie – is dankbaar vir dié gawe wenk.

Die kronkelende teerpad neem ons van Noordoewer na Aussenkehr. Die grondpad begin toe ons op die C37 na Ai-Ais draai.

Namibië se grondpaaie is in ’n goeie toestand en hier is nie sinkplaat wat pla nie. Ons ry in 4H teen 80 km/h en hoewel daar motoriste is wat vinniger as ons ry, is ek versigtiger.

Ek wil hê dieselfde Hilux moet weer op dieselfde grondpad terugry, en waag nie kanse nie. Ons sien heelwat gemsbokke langs die pad.

Ons kom vroegmiddag in Ai-Ais aan en die groot swembad lyk baie aanloklik. Dis nog Valentynsnaweek en ons maak gebruik van die spesiale aanbod van twee mense wat vir die prys van een kan bly.

Die kampterrein is droog met geen teken van gras nie, maar hier is heelwat koeltebome. Wees net lugtig vir die bobbejane wat probeer aas wat hulle kan.

Die groot swembad is verhit. Ek skat die water is 35 ºC, en buite is die kwik al verby 40 ºC. Dit gaan ’n lang middag wees in dié hitte. Ons maak ons tuis onder ’n boom om te braai en sien ’n storm is besig om op te steek.

Die lug word bruin van al die stof en ’n paar druppels val. Dit koel die wêreld genadiglik ’n bietjie af.

Die volgende oggend swem ons in die swembad en is slaggereed vir nog ’n dag in ’n nuwe land.

Ons trek by die Visriviercanyon by Hobas af en staan verstom oor hoe groot en skouspelagtig mooi dit is. Terug op die pad hou ons stil by die Canyon Road House. Dit is ’n kampterrein, vulstasie, winkel, kroeg, klerewinkel en restaurant met wegneemetes – alles in die middel van nêrens.

’n Toergids by Growcery het ons vertel van die wilde woestynperde in dié deel van die wêreld, en ’n petroljoggie in Aus het gesê die watergat is sowat 20 km buite die dorp op pad na Lüderitz.

Ons gaan soek die perde – Debbie laat my elke kilometer of wat stilhou om- dat sy dink sy sien ’n perd, maar elke keer is dit ’n gemsbok. Ons is teleurgesteld dat ons nie die perde sien nie en druk deur na Lüderitz, sowat 80 km from Aus af.

Hoe nader ons aan Lüderitz ry, hoe meer verander die landskap in duinewêreld. Ons ry verby die spookdorp Kolmanskop, sowat 10 km voor Lüderitz, en besluit om môre te kom kyk.

Ons slaan ons kamp by Shark Bay op, waar ons oor die hawe uitkyk. Die ablusiegeriewe is oud maar skoon.

Die volgende oggend besoek ons Lüderitz se toerismekantoor. Dit kos R100 om Kolmanskop te besoek – jy kan óf by die hek óf by die toerismekantoor betaal.

As jy voor 11:00 daar is, kan jy ’n gratis begeleide toer doen wat sowat 45 minute duur. Ons gids was kundig en entoesiasties oor die geboue en die geskiedenis van die plek.

Vir die res van die dag verken ons die roetes in en om Lüderitz en besoek selfs ’n skeepswrak by Grosse Bucht. Ons bring twee nagte in Lüderitz deur... en op die tweede nag kom stel die berugte wind hom voor.

Ons daktent staan sy man, maar dit is ’n raserige nag. Ons ry terug in Aus se rigting om weer die woestynperde te soek, en vandag is ons gelukkig: Ons sien seker 30 van hulle by die watergat.

Dit lyk nie eens of hulle van ons weet nie en ons voel bevoorreg om hulle in hulle natuurlike habitat te sien.

’n Paar minute later, op pad Aus toe, steek vier perde die pad voor ons bakkie oor en ons hou stil om foto’s te neem. Die perde kyk nie eens na ons nie en loop stadig oor die teerpad tot op die sand. Ons is in hulle wêreld, nie andersom nie.

Ons druk die bakkie se neus in Rosh Pinah se rigting. Dié dorp, op Namibië se suidelike grens, is ’n sinkmyndorp wat omring word deur berge en woestyn.

Die pad grens toe kronkel al langs die Oranjerivier, en die omgewing hier is onbeskryflik mooi.

Ons steek die grens by Oranjemund oor en ry sonder moeite oor die enkelbaanbrug. Ons is terug in Suid-Afrika en moet nog 90 km ry tot op Port Nolloth. Ons kamp by die MacDougallsbaai-woonwapark, waar ons al voorheen was.

Dit is ’n munisipale woonwapark, en ongelukkig is die plek besig om uitmekaar te val. Die heining teen die strand is vol gate en die ablusiegeriewe antiek.

Hier is baie dringend aandag nodig. Maar Port Nolloth self is pragtig en ons boek in vir twee nagte. Snags maak ons seker alles is toegesluit en bêre ook ons kampstoele en tafel.

Maar dit was nie genoeg nie, want een of ander javel besluit hy het ons daktent se leer nodiger as ons. Dit is geen grap om wakker te word en dan sowat 2 m ondertoe te kyk sonder ’n leer in sig nie.

Ek kom uiteindelik op die grond en help vir Debbie af. Volgens die sekerheidswag het ’n ander paartjie se goed ook in die nag verdwyn, maar hulle het reeds gery.

Ek gaan dien ’n klag in by die polisie – dit is belangrik dat hulle weet van die diefstal in die woonwapark.

Ons kry nie ’n leer op Port Nolloth nie en ek moet ons roete aanpas. Ons sou van hier af na die Weskus- nasionale park gery het, maar nou klim ek op die teerpad terug Springbok toe.

Op Vredendal kry ek ’n paar stukke aluminium en prakseer sommer net daar in die Strandfontein- woonwapark my eie leer.

Strandfontein is die juweel van die Weskus. Of altans só sê die verwelkomingsbord wanneer jy die dorpie binnery. Die woonwapark het twee dele: die perdeskoen wat ’n straat of twee weg van die see af is, en dan die staanplekke teen die see, waar jy die mooiste uitsig van die Atlantiese Oseaan het.

Hier is ook private ablusiegeriewe wat onlangs opgeknap is. Ons kan eerlikwaar sê dis een van ons gunstelingbestemmings.’n Sonsondergang op die Atlantiese Oseaan is iets om te beleef.

Ons ry oor Klawer na ons volgende bestemming, Clanwilliam. Daar is ’n grondpad wat van die suidelike deel van Doringbaai af loop tot op Klawer, en dan hoef jy nie deur Vredendal te ry nie.

Ons het gehoor hier is twee onlangse deelnemers aan die werklikheidsreeks Boer soek ’n vrou in die omgewing. Ons spoor vir Hantie op Clanwilliam en Sanel op Leipoldtville op. Albei is vriendelik en neem foto’s saam met Debbie.

Ons besluit om by Dwarskersbos naby Velddrif uit te span. Dit is Vrydag en die kampplek is vol met ’n heerlik feestelike atmosfeer.

Oral brand die kampvure hoog en die kinders geniet die buitelewe. Hierna mik ons vir Beaverlac in die Sederberg. Die kampterrein is vol en hier is nie afgebakende staanplekke nie.

Ons kies ’n kol onder ’n koelteboom en maak ons tuis. Hier is nie krag of selfoonsein nie, maar wel ’n winkel wat die meeste goed soos ys, hout, vleis en drank verkoop.

As net een ding van dié storie jou bybly, is dit dat jy Beaverlac móét besoek. Ons het na die natuurlike rotspoele gestap waar die water kristalhelder is en die klein vissies aan jou voete knabbel.

Hier is ook ’n oorhangrots waar dit veilig is om in die water te spring. Ons braai vanaand onder ’n ongelooflike sterrehemel.

Ek het die sterre laas in die Richtersveld só helder gesien.

Die volgende oggend slaan ons die daktent plat en mik suid. Ons is op pad na die Suid-Kaapse kus, ’n deel van die wêreld wat ons nog nie behoorlik verken het nie.

Die pad daarheen is skilderagtig en ons ry deur dorpies waarvan ons nog nie gehoor het nie – plekke soos Gouda en Wolseley.

Ons ry verder verby Robertson en Ashton, en by Swellendam draai ons wes op die N2 in Kaapstad se rigting.

Debbie dink seker ek is effens van lotjie getik toe ek in dié rigting draai, maar ek het ’n plan: Ná 13 km draai ek weer suid op ’n grondpad in Malgas se rigting. Ek wou nog altyd met die pont oor die Breërivier ry – en hier is die geleentheid.

Die grondpad is besiger as wat ek verwag het, met heelwat verkeer van voor af. Duidelik is almal op pad huis toe vir die naweek.

Ons wag in ’n kort ry by die pont, en sommer vinnig word ons beduie om op te ry. Die Hilux is een van drie karre op die pont, en die twee manne wat die storie beman, begin aan ’n staalkabel trek om ons oor die rivier te kry.

Ek het nog nooit so iets gesien nie. En ek is selfs meer verbaas toe ek hoor daar is nie ’n koste aan verbonde nie. Ons los wel ’n fooitjie.

Ons haal die tweede Witsand van ons reis teen die middag en geniet ’n ete by die Anchorage-restaurant op die strand. Witsand is op die oewer van die Breërivier en een van die gewildste plekke om walvisse te sien aan die Suid-Afrikaanse kuslyn.

Dit is ook enige hengelaar se droom en beslis die moeite werd om te besoek. Ons kamp in die munisipale oord naby die restaurant en die kampplek is netjies met skoon ablusiegeriewe.

Die wind is nogal erg vandag, maar volgens ’n klompie plaaslike inwoners is dit niks vreemds nie. Die volgende oggend pak ons vroeg op en klim op die R322.

Ná ’n entjie draai ons af op die grondpad na Vermaaklikheid. Buiten die beesplase is hier nie veel langs die pad nie, maar ’n grondpad is vir ons altyd beter as ’n teerpad.

Ons bereik Jongensfontein, maar die woonwapark – wat op die strand is – is vol en ons ry verder tot op Stilbaai ’n paar kilometer verder. Daar is niks stils aan Stilbaai nie.

Dit is ’n besige klein dorpie wat deur die Goukourivier in ’n oostelike en westelike deel verdeel word. Hier is twee woonwaparke, maar ons ry tot by Gouritzmond.

Ons was nog nie hier nie en is beïndruk met die klein en skoon dorpie aan die oewer van die Gouritzrivier. Hier is ’n munisipale woonwapark op die dorp en daar word mooi omgesien na die plek. Daar’s groen gras en staanplekke in die koelte.

Ons bring die nag hier deur en ry weer vroeg die volgende oggend met die N2 langs Plettenbergbaai toe. Ons het al voorheen by Plet gekamp, by die Keurboomslagoon-woonwapark, maar dié slag wil ons iets anders probeer en draai by die Forever-oord in.

Dit is taamlik vol met langtermynkampeerders, maar ons is gelukkig om ’n staanplek langs die rivier te kry in hierdie uitstekende woonwapark.

Ons bring twee dae hier deur, maar kom beslis weer terug.

Ons volgende bestemming is ook ’n Forever-oord, maar dié lê sowat 850 km van hier af by die Gariepdam. Ek het die padkaart bekyk en hier en daar stukkies grondpad op ons roete bygevoeg.

Ons kom vroeg weg en draai op die R340 na Wittedrif. Ná 30 km teerpad klim ons op grondpad in die Prins Alfredpas se rigting.

Die pad is smal en die uitsigte werklik iets onvergeetliks. Dit is ’n lang dag in die bakkie met baie reën langs die pad, iets waarvoor ek seker is die inwoners van Graaff-Reinet en Middelburg baie dankbaar is.

Sommer gou is ons op die N1, verby Colesberg en op pad na ons gunstelingdam. Die pad is besig met veral baie vragmotors wat goedere tussen die Kaap en Gauteng vervoer.

Uiteindelik bereik ons die Forever Gariep-oord waar ons op groen gras naby die dam kamp opslaan. Die badkamers is sedert ons laaste besoek opgeknap – dit lyk indrukwekkend en presies soos iets wat ons van hierdie groep oorde verwag.

’n Mens hoef mos nie altyd terug te jaag huis toe nie – soms moet jy tyd maak om die res van die land te verken. Die Cooks het ’n bietjie tyd by die Gariepdam deurgebring.

Die dam is so te sê 80% vol en dit is lieflik om te aanskou. Met ons daktent opgeslaan besluit ons om water toe te gaan om te sien of ons iets kan vang. Die klein geelvissies speel saam en binne ’n uur vang ek en Debbie omtrent tien van hulle, wat ons weer vrylaat.

Ons braai onder die sterre en vertel vir mekaar hoe ongelooflik dit is om hier te wees. Ons bring nog een dag hier deur terwyl dit geleidelik voller raak soos die naweekbesoekers aankom.

Die Saterdagoggend vertrek ons met meer as 800 km tussen ons en Amanzimtoti. Dit was nog ’n fantastiese vakansie wat ons terdeë geniet het.

Ná ’n week by die huis word Covid-19 ’n werklikheid – met Vlak 1-inperkingregulasies en grensposte wat gesluit word.

Ons besef hoe bevoorreg ons was om iets positiefs te beleef aan die begin van ’n onbekende 2020.

Die Cooks wen ’n Camp Cover Bundu-sak ter waarde van R400. Dié veeldoelige sak is só ontwerp dat jy hom as ’n noodhulp- óf smuktas kan gebruik. Gaan kyk na Camp Cover se beskermende oortreksels by campcover.co.za.