Die Tankwa-Karoo is sinoniem met droogte, stof, dorre vlaktes met yl plantegroei en bloedige hitte. Maar op ’n manier is dit juis dié ongenaakbaarheid wat die streek so mooi maak, en daar is beswaarlik ’n beter plek in die land om van die mensdom te ontsnap.

As daar tog net ’n lekker rivier iewers was waar ’n mens van die hitte kan ontsnap... Die goeie nuus is daar ís so ’n plek op die westelike rand van die Tankwa.

Die Mond is waarlik ’n oase in die woestyn, met die kamp op die oewer van die Grootrivier, ’n breë strook water wat deur die droë landskap kerf. Die staanplekke, in die koelte van groot koeltebome, is só ná aan die water dat jy omtrent uit jou tent kan visvang.

Kyk weer. Voordat die skynbaar eindelose R355-grondpad nóg langer word, maak die eienaars van Die Mond seker jy ry nie verby die afdraai na hulle toe nie.

En soos dit ’n ware oase betaam, is Die Mond effens weggesteek – jy kom heel onverwags op die groenigheid af ná ’n lang rit deur die woestyn.

En sodra jy presies weet waar die heilige bron van lafenis lê, is die versoeking groot om vir niemand anders daarvan te vertel nie.

Die Mond se afdraai is op die hoofroete deur die Tankwa-Karoo, die 250 km lange R355. Dit is Suid-Afrika se langste ononderbroke grondpad tussen twee dorpe – Ceres en Calvinia – en ’n belewenis om te ry, veral as jy hou van wye ooptes.

Maar die R355 is berug daarvoor dat hy bande stukkend kou; pas dus altyd jou voertuig se banddruk aan vir grondpadry en jy behoort nie sommer jou noodwiel nodig te kry nie.

Buitendien sal jou agterstewe jou bedank vir daardie laer banddruk op die stukkies sinkplaatpad wat jy teëkom. Koop jou laaste Wimpy-koffie op Ceres voor jy die R46 in die rigting van Touwsrivier neem.

Sowat 40 km buite die dorp kry jy die Touwsrivier-afdraai, maar jy hou reguitaan tot waar die teerpad grond word. Nóú is jy op die R355.

Dit is ’n instelling om 40 km verder by die Tankwa-padstal af te trek vir ’n roomys of koue koeldrank. Die winkel het ook ’n verskeidenheid snoepgoed en snuisterye, sowel as noodonderdele en bandhersteltoerusting indien jy iewers op die pad vasgeval het.

Knoop gerus ’n geselsie aan met die eienaar, Hein Lange. Hy is die een met die rastalokke en het ’n hele paar interessante staaljies oor die Tankwa en sy mense.

Sowat 30 km ná die padstal moet jy op die uitkyk wees vir ’n trekkerband langs die pad. Hier draai jy af, en 20 km verder kom jy uit by die ingangshek van Die Mond.

’n Laning palmbome loop op na die ontvangskantoor, wat ’n kamer aan die plaashuis is.

Skielik is dit asof jy die deur van ’n binnehof agter jou toemaak: Ná die warm, stowwerige vlaktes van die Tankwa bevind jy jou skielik in ’n welige groen affêre.

Skop sommer dadelik jou skoene uit, want daar is g’n ander plek in hierdie geweste waar jy gras tussen jou tone sal voel nie.

Lindie Haugh verwelkom gaste by Die Mond. Sy vertel haar skoonouers, Hannes en Linda Haugh, het in die laat jare tagtig besluit om ’n kampplek te bou op die groenste kolletjie van hulle plaas van 11 000 ha.

“Destyds was hier net een huisie en een of twee bome,” sê sy. “Oor die jare het hulle die heeltyd uitgebrei en aangeplant tot waar dit nou is.” Deesdae boer die Haughs met skaap en lusern, en rondom die kampplek is dit steeds pure plaas.

Eenkant staan ’n klompie ou trekkers en verroeste implemente, en aan die verste punt van die kampplek is ’n skaapkraal. Die kanse is goed dat Hansie, Grietjie en Heidi, die plaas se mak boerbokke, in ’n stadium by jou kamp sal kom inloer.

Die kampplek het nie afgebakende staanplekke nie. Jy kies bloot ’n kol iewers langs die 200 m lange rivieroewer en skop nes onder die beste koelteboom.

Indien al die staanplekke op die waterfront vol is, is daar verder terug van die oewer af nog heelwat plek, plus ’n oorvloeideel nader aan die plaashuis.

Tot 100 mense het al by Die Mond ingepas; dus hoef jy nie bang te wees daar gaan nie plek wees vir jou en jou mense nie.

Digby die badkamers is drie geboude braaiplekke, maar die res van die braaiplekke is dromme wat op kruiwaens vasgesweis is sodat jy dit maklik kan skuif na die staanplek wat jy gekies het.

Onthou net om jou eie rooster saam te bring én ’n driepoot vir die rooster.

Hier is nie kragpunte nie, maar verskeie krane is reg oor die kamp versprei. Die badkamers se ligte werk met sonkrag en die storte se water word douvoordag en heeldag lank met ’n donkie verhit.

Die mans- en vrouebadkamer het elk drie storte en drie toilette. Langs die badkamers is twee wasbakke onder ’n afdak waar jy ná ete die Jimmy’s-sous van jou bord kan afwas.

Indien jy eerder in ’n bed wil slaap, is daar vyf selfsorgkothuise agter die kampplek wat elk ses mense kan huisves. Hulle het egter nie badkamers nie en jy moet die kampplek se ablusiegeriewe gebruik.

Daar’s ook twee groter huise vir gesinne van tot sewe – dié het wel badkamers.

As jy langer by Die Mond vasdraai as wat jy beplan het – niemand sal jou kwalik neem nie – kan jy ys (R20), hout (R35), petrol (R20/l), koeldrank (R25 vir 1,5 l) en plaaskonfyt by Lindie koop.

Onthou net, dit is ’n werkende plaas en die kantoorure is net van 09:00 tot 11:00 en dan weer van 15:00 tot 16:30.

Jy kan ook vooraf met Lindie reël dat hulle vir jou ’n braaipak gereed kry.

Onthou jou visstok, ’n klompie spinners en jou gunstelingkunsaas, want die Grootrivier is propvol kleinbek-, grootbek- en spikkelbaars. Hier is ook twee bedreigde spesies, die clanwiliam-geelvis en sandvis.

Vir húlle geld ’n streng vang-en-laat-gaanreël, maar as jy ’n baars uittrek (hulle is indringers) kan jy hom op die kole gooi. “Nie almal hou van sy smaak nie,” lag Lindie, “maar as jy hom reg spice, is hy lekker!”

Sy stel voor vir ’n smaaklike aandete maak jy die vis skoon, pak hom met uie en tamatie en draai alles dan in foelie toe wat jy oor die kole sit.

Moenie die kleintjies se fietse, rugbybal en frisbee vergeet nie. Die kamp se groot grasperk is net die regte grootte vir ’n wedstryd en jy mag ook ’n ent op die plaaspaaie gaan trap.

Jy kan boonop ’n kano of binneband saambring en die rivier verken. Lindie-hulle het twee kano’s te huur, maar bote word nie toegelaat nie.

Doen jouself ’n guns en gaan stap teen die rivier af.

Stap verby die badkamers en kyk uit vir ’n leertjie bo-oor ’n draadheining. Van hier af volg jy ’n voetpaadjie langs die rotswande wat sowat 1,5 km rivierlangs loop.

Die landskap is pragtig, en as jy gelukkig is, sien jy die kleurryke kuifkopvisvanger. Die Mond het meer as 100 voëlsoorte wat, nes jy, dié oase in die andersins dorre gebied ontdek het.

Af en toe sien jy ’n visarend en selfs ook ’n witkruisarend.

Kyk fyn na die rotswande terwyl jy stap: Hier is ’n indrukwekkende versameling rotskuns met skaars swart en geel pigment. Hier is selfs drie groot olifanttekeninge en op ander plekke handafdrukke, mensfigure en ’n volstruis.

Aan die oorkant van die rivier is ’n grot, ’n lekker plek vir ’n piekniek (maar jy mag nie hier vuurmaak nie). Om die grot te bereik moet jy verby die skaapkraal aan die onderkant van die kampplek stap en die rivier met ’n laagwaterbruggie oorsteek.

Wanneer die son uiteindelik ondergaan, het Die Mond nog een troefkaart om jou te wys. Saam met die donkerte daal ’n rustigheid om jou neer, en wanneer jy vir ’n oomblik jou oë van jou bostelevisie se flikkering wegvat en opkyk, hang ’n skitterende, kristalhelder Melkweg in die hemelruim.

Dis tonele soos dié wat jou lank bybly, veral wanneer jy weer tuis is en ’n braaivuur saam met jou stadspêlle aansteek.

Dis dan wanneer jy moet besluit watter een van hulle verdien om te weet van daardie oase in die Tankwa.

Kortliks

Die Mond

Kampplek Die staanplekke is informeel en jy kamp op ‘n grasperk waar jy wil. Dis langs ‘n rivieroewer.

Ablusiegeriewe Afsonderlike geriewe vir mans en vroue, elk met drie storte en drie toilette, plus twee opwasbakke.

Prys R100 p.p.p.n.

Aankoms- en vertrektyd Geen vasgestelde tyde, maar jy moet voor 11:00 vertrek.

Kontak 023 317 0668; diemond@breede.net; “Die Mond” op Facebook

Naaste dorp Ceres 160 km (grondpad).

Hoe lyk die pad? Die R355 is meestal ’n netjiese grondpad, maar hier en daar is stukke sinkplaat. Jou boswa sal nie kla nie, maar ’n padwa gaan ’n bietjie sukkel.

GPS S32.543559 E19.542576

Ry & Sleep sê Hierdie is die koelste plek in die ganse Tankwa!