Die KwaZulu-Natalse Middelland verander drasties saam met die seisoene. In die winter is die gras doodgeryp. Die dae is vaal, swart brandpaaie skend die landskap en mis draal triestig oor die vallei.

Dan skielik onthou die veld sy potensiaal en lowergroen somer beur baldadig uit die grond. Krismiskewers is óral en donderstorms bring elke dag lafenis.

Soos nou, terwyl ek met die R103 langs na Nottingham Road ry. Al was ek op skool laas op Notties, voel dit snaaks genoeg steeds asof ek nou op pad is na ’n hokkiewedstryd op die buurdorp (ek het op Hilton grootgeword).

Notties lê sowat 20 km noordwes van Pietermaritzburg en 25 km suid van Mooirivier. Voordat die N3 gebou is, was hierdie die hoofpad tussen Durban en Johannesburg. Dis vol knap draaie en ek kan raai dat menige reisiger in daardie dae vreeslik karsiek geword het!

Piggly Wiggly

Bekende bakens skuif verby: Die Belgiesesjokolade-winkel, die plek waar Nelson Mandela in 1962 in hegtenis geneem is, die Piggly Wiggly-inkopiesentrum, Michaelhouse se indrukwekkende skoolterrein en dan die Rawdon-landgoed – die laaste baken voordat jy Nottingham Road bereik.

Die dorpie het sy ontstaan aan die spoorlyn te danke. In die óu dae, voor 1910, toe KwaZulu-Natal nog die Kolonie van Natal was.

Dié lyn het van Durban se suikerrietlande binneland toe gestrek, verby Pietermaritzburg, Mooirivier, Estcourt, Ladysmith en Dundee. Die spoorlyn het dié afgeleë plase meer toeganklik gemaak en die mense van die omgewing met die beskawing verbind.

Maar nog lank vóór die spoorlyn se koms het die Boere hierlangs grond bewerk, en ná die Republiek van Natalia in 1843 geannekseer is, hulle plase aan Britte verkoop.

Heelwat van dié setlaars was van Skotse herkoms – vandaar die buurdorpies met name soos Balgowan, Gowrie, Glencoe en Dundee. Die setlaars het dit nie maklik gehad nie, en in 1853 skryf hulle aan die Natalse goewerneur om hulle teen aanvalle van die San wat hulle vee steel, te beskerm.

Nottingham Fort

In reaksie hierop word ’n fort in 1856 gevestig en genoem na die 45ste Regiment – die Sherwoord Foresters van Nottingham in Engeland.

Die idee was dat troepe aan diens by die fort as ’n buffer tussen die setlaars en die San, wat in die Drakensberg se voetheuwels gewoon het, moet optree.

In 1885 het die spoorweg dié punt in die platteland bereik en kort op sy hakke het ’n jong gemeenskap gevolg.

Met verloop van tyd het die nedersetting die fort (15 km hiervandaan) se naam aangeneem en aanhou groei tot ’n landelike episentrum. Die Railway Hotel (vandag bekend as die Nottingham Road Hotel) is in 1891 gebou en in 1905 is Nottingham Road tot ’n volwaardige dorp verklaar.

Dit voel dus net gepas dat ’n mens se eerste stilhouplek op Notties die hotel behoort te wees. Meer spesifiek: die hotelkroeg. Dit is vandag nog die saamtrekplek van die gemeenskap en veral op ’n Vrydagaand kom mense van heinde en ver hier kuier.

Clive Foss, die eienaar, is dikwels self aan diens agter die kroegtoonbank en deel graag staaltjies oor die rol wat die hotel in die dorp se verlede gespeel het.

Die kroeginterieur se houtpanele is glo nog die oorspronklike en elke skuurmerk op die vloerplanke vertel ’n storie van vervloeë dae toe reisigers nog moeg hier ingestrompel het nadat hulle die perde se halters buite vasgebind het. Dit voel kompleet asof die tyd hier stilstaan.

Dalk is dit die ou foto’s van krieketspanne teen die muur, of die bierbekers wat aan ou houthake agter die kroeg swaai. Ek het egter ’n sterk vermoede dis die vuurherd wat vir dié gevoel sorg – sy begroet jou by die deur, en nooi ’n mens nader om op die óú manier – sonder haas – te kuier.

Nottingham Road is ’n plek wat jy liefs te voet moet verken. Los jou motor in die skadu van ’n populier- of akkerboom en dwaal deur die lanings van winkel tot winkel.

Die dorpie het heelwat uitgebrei vandat ek laas as kind hier was: Ek gewaar ’n spoggerige nuwe woonontwikkeling, Gowrie Village. En hier’s ook nou Meander Square en The Junction, met handwerk-, geskenk-, boek- en koffiewinkels, sowel as Notties se Engen en ’n Spar.

Ek talm lank by Aladdin’s de-Light, Jan en Louise van Niekerk se glaswarewerkwinkel. Dié twee spesialiseer in gebrandskilderde glas, ’n kunsvorm wat hulle al sedert die 1970’s beoefen.

Die hele winkel tingel en klingel soos wat die glasgoed saggies in die briesie wieg en hulle kleurespektrum teen die mure en plafon weerkaats. Dit voel asof ek binne-in ’n kaleidoskoop staan!

Aladdin’s de-Light Skaf gebrandskilderde glas-artikels aan, van lampe tot vensters of deure. Hier is ook brandskilderklasse.

KONTAK 033 266 6460; aladdins.co.za

Van Aladdin’s af drentel ek na nog ’n vertoonlokaal. Hier is dit koel en doodstil, met oral stapels matte en komberse.

Elizabeth Gwatidzo, Shuttleworth Weaving

In die een hoek sit ’n vrou ’n donkerpers sybokhaarkombers en uitkam. Ek ontmoet Elizabeth Gwatidzo van Shuttleworth Weaving en sy nooi my om te sit.

“Sien, om een só ’n kombers se vesels donsig te maak vat my twee dae se kamwerk. Alles wat jy hier om ons sien, is handgemaak – deur vroue,” vertel sy. En voeg dan met ’n glimlag by: “Want vroue het geduld.”

Shuttleworth weaving

Die meeste van die matte is van sybokhaar, wol of goiing en al dié natuurlike vesels kom uit die Oos-Kaap, Lesotho of Namibië.

En elke mat, tapyt en kombers word net hier anderkant, op ’n plaas 10 km buite die dorp, gespin, gekleur en geweef.

Twintig minute later word ek op die Shuttleworths se plaas deur ’n trop baldadige honde verwelkom. Julia kom uit ’n groot stoor aangestap om te groet en gaan wys my die weefstoele binne.

Rob en Julia Shuttleworth

Alles was ’n mens hier sien, is van ou onderdele en met die hand gebou. “Ek en my man, Rob, het ses jaar gelede die wewery oorgeneem toe sy ouers afgetree het,” vertel sy. “Hulle woon steeds op die plaas.” 

Die “plaas” waarna sy verwys, is dié kleinhoewe waar Rob se ouers, Helen en Andy, hulle in die 1970’s kom vestig het. Die Shuttleworths het tóé reeds, lank voor probleme soos beurtkrag ’n werklikheid sou word, heeltemal selfonderhoudend hier gelewe.

Aanvanklik was die weefwerk ’n stokperdjie, iets om saans voor die kaggel te sit en doen. Nadat hulle die spinwiel baasgeraak het, het hulle ander vakmanne en kunstenaars in die omgewing begin kontak en saam die beroemde Midlands Meander-toeristeroete gestig.

Dié inisiatief het klein kunsondernemings in die omgewing met mekaar verbind. En Rob en Julia sit hierdie familietradisie nou voort.

Ek snuffel ’n bietjie aanlyn rond om my vermoede te bevestig: Jip, die Shuttleworths se produkte is wêreldbekend… net soos een van hulle gelukkige kliënte, die akteur Liam Neeson. Nie sommer van hier rond nie!

’n Mens kan die wewery op die plaas besoek, maar maak vooraf ’n afspraak. Die produkte is te koop by die Shuttleworth’s se winkel Weaving in die hoofstraat.

KONTAK 076 709 3049; shuttleworthweaving.com

Sowat 4 km anderkant die Shuttleworths se wewery draai ’n grondpad na regs weg en lei ’n mens tot by die geskiedkundige fort waarna die dorp genoem is. (Ja, ek weet: Nottingham Road, Nottingham-fort, die Fort Nottingham-pad… toemaar, as jy eers hier is, sal jy dit gou onder die knie kry!)

Dis ’n nedersettinkie van sy eie, en buiten die fort ook ’n paar omliggende kleinhoewes. Hier’s selfs ’n stadsaal.

Maar ek kan nie help om te giggel nie: Dié wit geboutjie is sekerlik nie groter as ’n enkele vertrek nie. Omheen lê net oop, groen velde.

As dit nie was vir ’n bordjie waarop “Town Hall” staan nie, sou ek dit misgekyk het. Die fort self, tesame met die klein regiment wat hier gestasioneer was, se klipmuurbarrakke en stalle staan op grond wat deesdae aan Louise Fox en haar familie behoort.

“Dis die derde oudste militêre gebou in KwaZulu-Natal,” vertel sy my op pad soontoe. Die fort is nou ’n museum en ek verkyk my die uniforms, diervelle, briewe, pype, knope en pyl en boë uit daardie jare.

Aantekeninge oor die omgewing se geskiedenis word ook hier in ’n klompie dokumente bewaar en ek blaai nuuskierig daardeur. Buite die fort is steeds ’n digte, inheemse woud. Óú bome.

Ek wonder of hulle al in die Sherwood Foresters se dae hier gestaan het? Heel waarskynlik, want afgesien van die aanbouings op die dorp, het Nottingham Road nie veel verander nie.

Bel Louise indien jy die fortmuseum wil besoek: 082 490 9951. Toegang is gratis, maar maak ’n skenking. 

’n Paar dae later groet ek Notties en vat die R103 terug Hilton toe, maar ek hou nog een keer stil om die uitsig te geniet.

Die November-hitte laat die namiddaglug biggel, en teen die omliggende heuwels wei nguni-beeste op die groen gras.

Dit herinner my aan Alan Paton se woorde oor die Middelland in sy boek Cry the Beloved Country: “These hills are grass-covered and rolling, and they are lovely beyond any singing of it.”

Op ’n dag soos dié besef ek opnuut presies hóé lief jy ’n landskap kan kry.

Bronne nottieshotel.co.za; web.archive.org; zulu.org.za

*Loer in by die Notties-toerismekantoor vir ’n geselsie en ’n Midlands Meander-pamflet in die Sherwood Centre langs die R103. 033 266 6308

The Junction


5 DOENDINGE

1 Proe bier

Dis ’n moet om by die Nottingham-brouery, een van die land se oudste onafhanklike brouerye, in te loer. Die keuse van biere is groot: die Pickled Pig porter, Tiddly Toad lager, Tipsy Tiger IPA, Whistling Weasel pale ale, Pye-Eyed Possum pilsner…

’n Bierproe in die tapkamer kos R60 p.p., en jy’s welkom om die middag in The Boar’s Head, ’n kroeg op die perseel, deur te bring. Proe ook gerus die boetiekjenewer wat hulle onlangs begin distilleer het!

Waar? By die Rawdons Hotel

Kontak 083 782 8959; nottsbrewery.co.za

2 Hou piekniek by The Junction

The Junction is langs ’n dam. Vat ’n kombers en gaan span uit vir die dag. Dié plattelandse leefstylsentrum het baie om die lyf – van die Ugly Duckling (waar ’n mens enigiets van windklokke tot deurknoppe kan koop) tot die Dirt Road Trackers-buitelewewinkel en die Madame Butterfly-dekorwinkel.

Die kinders kan hulle gô uitspeel op die klimraam en grasperk, of jy kan hulle bederf met ’n sjokoladedoop by Chocolate Heaven (R95). Hier’s ook ’n selfsorgrestaurant, District 103, waar jy vars vrugtesap, koffie, toebroodjies en deliprodukte kan aanskaf.

Indien jy by The Junction wil piekniek hou, moet jy jou peuselhappies hier aanskaf.

Waar? In Hoofstraat

Kontak 033 266 6116; junctionshopping.co.za

3 Maak lyn nat

Die Middelland is een van SA se mees gesogte vlieghengelbestemmings. Van die blyplekke het damme op die perseel; andersins kan jy die volgende opsies oorweeg:

Of bel vir Gareth George by Wildfly (033 266 6981) of gaan na wildfly.co.za vir raad oor hengelkolle in die omgewing.

4 Vat die R103

Op pad Nottingham Road toe sal jy menige aanloklike bordjie langs die pad opmerk. Sit ’n dag opsy om al dié pottebakkers, wewers, kaasmakers, bakkers en ander kunstenaars langs die hoofpad te ontmoet.

Die R103 is al sedert 1985 deel van die Midlands Meander toe ’n groep plaaslike kunstenaars met dié toerismeroete vorendag gekom het. Sedert daardie eerste roetekaart (sommer op bruinpapier!) gedruk is, het die Midlands Meander se ledetal al tot 150 ondernemings gegroei.

Al die mense sal – buiten hulle produkte – ook vir jou iets van ’n stadiger lewenstempo kan leer. Hier heers ’n kultuur van rustig leef.

Van my gunstelingstilhouplekke is: Ardmore Ceramic Art, Swissland Cheese, Spiral Blue, Tsonga, Groundcover Leather Company, Terbodore Coffee Roasters en Indezi River Creamery. Laai die kaart hier af: midlandsmeander.co.za.

5 Bring ’n nag in ’n spookhotel deur

In die Nottingham Road Hotel spook dit glo in kamer 10. Die mense vertel dat ’n vrou die blomme-rangskikkings rondskuif en die beddegoed regtrek... Of dit waar is, weet ek nie – gaan vind maar self uit!

Die hotel is wel een van die oudste geboue op die dorp en – kamer 10 ter syde! – ’n gerieflike plek om oor te slaap. Hier’s 14 kamers en 10 tuin-suites.

Waar? In Hoofstraat

Koste ’n Hotelkamer kos R850 p.p. wat deel en ’n tuin-suite R970 p.p. wat deel. Afslag geld op weeksaande.

Kontak 033 266 6151; nottieshotel.co.za

Wat nog?

• ’n Boeremark in ’n boere-gemeenskap is net soveel lekkerder, want jy weet alles is outentiek – die waterstewels waarmee almal rondloop, is nie net ’n modegier nie! Die Karkloof-boeremark is sowat ’n halfuur se ry met die Karkloof-pad langs. Gaan laai jou kattebak vol van die omgewing se varsste voorraad. (Hier’s ook heelwat om die kleingoed besig te hou.) 082 820 8986; karklooffarmersmarket.co.za

• Al ooit van ’n buitelug-inkopie-sentrum gehoor? Jy kan nie Middelland toe kom en nié by Piggly Wiggly – 24 km van Notties af – ’n draai maak nie! Die kinders kan op ’n treintjie of ’n foefieslaaid ry terwyl jy leer kerse doop, klei-potte verf, minigholf speel, of by die sjokoladewinkel alles van biltong tot aarbeie in sjokolade doop! Of hoe lyk dit met ’n skeppie Wedgewood-nougatroomys terwyl jy op die gras ontspan? En dan is daar nog al die winkeltjies... En die kunswerke by Zulu-Lulu. pigglywiggly.co.za

•  Bring jou gholfstokke saam vir ’n potjie by Gowrie Farm (in die hoofstraat). Dit word gereken as een van die top-50 gholfbane in die land en 18 putjies kos R400 p.p. Bespreek by 033 266 6248; gowrie.co.za Die negeputjie-Bosch Hoek-baan lê ook net 15 minute se ry op die Curry’s Post-pad uit. Nege putjies kos R310 p.p., 18 putjies kos R445 p.p. en leerders en spelers jonger as 25 kry afslag. 033 234 4232; boschhoek.co.za

Blueberry Café

EET HIER ONTBYT

Blueberry Café

Die restaurant is bo-op ’n heuwel en het vensters van die vloer tot die plafon met ’n onbelemmerde uitsig oor die Drakensberg – nét die regte omgewing saam met jou oggendkoffie.

Bestel die jogurt-panna cotta (R80) of ontbytstapel met spek en eiers (ook R80). Dis ook ’n gunsteling-brêkfisstop vir Durban se Harley-Davidson-entoesiaste!

Waar? Op die plaas Netherwood, 5 km noordoos van Nottingham Road langs die R103

Kontak 033 266 7132

Caversham Mill

MIDDAGETE

Caversham Mill

Dié restaurant langs die mooi klipbrug oor die samevloei van die Lions- en Impafanarivier is genoem na die eerste watermeul in die omgewing.

Gaan sit op die dek en bestel ’n peuselhappie soos Zoeloe-rolletjies (Chinese rolletjies met chakalaka; R61) of ’n stewiger maaltyd soos forel met suurlemoen en knoffel (R173).

Waar? Op die plaas Impafana suid van die dorp. Volg die R103 vir sowat 15 km tot waar die D182-grondpad na die Caversham-vallei afdraai en jy aanwysers na die restaurant sal sien.

Kontak 082 389 1395; cavershammill.co.za

AANDETE

Nottingham Road Hotel

Dié plek is al sedert die 1800’s die hart en siel van die dorpie. Die minste wat jy kan doen, is om dit met ’n besoek aan die hotelkroeg te eer.

Bestel gerus die klassieke steak, eiers en aartappelskyfies (R105).

Waar? In Hoofstraat

Kontak 033 266 6151

Midlands Inverness Cottages

BLY HIER

Midlands Inverness Cottages

Hier lyk dit nes die Skotse Hoogland! Die vier selfsorgeenhede is privaat met ’n braaiplek en ’n uitsig oor die Caversham-vallei – jy sal elke aand op ’n ander mooi plekkie vir skemerkelkies kan gaan sit.

Drie van die huise het slaapplek vir twee, en een huis het slaapplek vir vier. (Hulle kan nog matrasse verskaf indien julle ’n groterige kroos het.)

Waar? Op Inverness Farm. Volg die R103 vir sowat 15 km tot waar die D182-grondpad na die Caversham-vallei afdraai. Inverness is net ’n klipgooi verby die Caversham Mill.

Koste Vanaf R745 p.p.; R360 per kind tussen 4 en 12)

Kontak 082 445 7397 (Jayne); midlandscottages.co.za

Beacon Vlei

Beacon Vlei-gasteplaas

Hier kan jy hengel, voëlkyk, draf, roei, swem, piekniek hou... Die vier huise het slaapplek vir tussen vier en ses gaste.

Elke huis het DStv en ’n braaiplek. Die Farm House is geskik vir groter groepe (slaapplek vir 12). Laat weet hulle vooraf indien jy aandete en ontbyt wil bestel.

Waar? Volg die R103 suid uit Nottingham Road en draai ná sowat 10 km links op die Curry’s Post-pad. Die plaas is kort na die afdraai op linkerhand.

Koste Huise: vanaf R1 300 p.n. vir 2. Farm House: van R2 500 p.n. vir 6 gaste en R4 500 p.n. vir die hele huis.

Kontak 071 872 1360; beaconvlei.co.za

Otter’s Den

Vier strooidak-selfsorghuisies met elk slaapplek vir 2 gaste. Die huise het ’n dek met ’n uitsig oor die Lionsrivier (ja, jy mag maar gaan swem!) en ook sy eie jacuzzi. Bring jou bergfiets en verken die agterpaadjies!

Waar? Sowat 15 km suid van Nottingham Road op die Fort Nottingham-pad.

Koste Vanaf R1 370 p.n.

Kontak 082 972 5537; ottersdensc.co.za

Waterwoods

Dié mooi plaas het ’n dam en hope ruimte vir bene rek. Hier is sewe selfsorghuise, ’n selfsorghouthut en ook dubbelkamers indien jy net vir een nag slaapplek soek.

Die huise het slaapplek vir twee mense en wissel van grasdakrondawels tot spoggerige kothuise. Die hut het twee dubbelkamers en ’n dak-vertrek met vier enkelbeddens.

Waar? Sowat 14 km suid van Nottingham Road op die Fort Nottingham-pad.

Koste Dubbelkamers: vanaf R750 p.n. Kothuis: R850 p.n. Houthut: R2 500 p.n.

Kontak 083 236 3535; waterwoods.co.za