Oaksrest is een van daardie kampplekke wat ’n tweestryd by jou ontketen: Jy wil graag vir die wêreld daarvan vertel, maar jy hoop ook diep binne jou dit kan ’n geheim bly. Want jy weet: As jy vir iemand van die juweel vertel, gaan jy kort voor lank nie meer plek kry nie.

Gelukkig sal Oaksrest se drumpel nie deurgetrap word nie, want dis effens uit die pad, tussen Oudtshoorn en Laingsburg. As jy dus hier ’n draai wil maak, is dit omdat jy spesifiek hierheen kom – die pad loop min of meer dood by Oaksrest.

Maar sorg dat jy bespreek, want hier is net vyf staanplekke waarvoor mense moet armdruk.

Die Klein-Karoo is nie bekend vir sy groen grasvelde nie; dis eerder ’n verskroeide stuk aarde waar water en ’n stukkie koelte skaars is.

As ’n mens uit die Kaap hierheen mik, kan jy jou verkyk aan die Tradouwspas tussen Swellendam en Barrydale wat jou langs die diepste klowe oor die Langeberg kry. Maar dan word jy aan die ander kant uitgespoeg in die vaalte van die Karoo.

As jy al in dié koers gery het, weet jy wat voorlê sodra jy verby Ronnies Sex Shop en die Warmwaterbergoord ry. In die somermaande knip ’n mens nie ’n oog nie as jou sleepvoertuig se termometer wys dis 43 ºC buite die kar. Dan is dit net meer as 50 km tot by Oaksrest, maar 4 km voor die kampplek – net voor jy oor die Dwarsrivier ry – draai ’n grondpad links af. In hierdie laaste stuk voel dit of jy die land van Kanaän binnery.

Jy sukkel om dit klein te kry, want regs van jou strek die groenste wingerde denkbaar, en dit hou aan tot jy deur die hekke van Oaksrest ry.

Die grondpad is heel gaaf. Dit is effens klipperig, maar niks waaroor jy jou hoef te bekommer wanneer jy sleep nie. By Oaksrest lyk sake egter anders: Hier raak die pad te smal vir ’n padwoonwa en daar is een slegte knik waaroor ’n lang woonwa nié gaan kom nie.

En dan, by die skerp draai net voor die kampplek, gaan ’n dubbelaswoonwa vasdraai. Die pad is nommerpas vir boswaens en boswoonwaens wat tot so groot is soos ’n Conqueror Commander.

Niks keer jou natuurlik om ’n tent in jou Datsun GO se bagasiebak te gooi en vir ’n naweek weg te kom nie.

Die pad na die kantoor is direk regs af met ’n enkelpad langs ’n paar kampe verby met die oulikste miniatuurperdjies waarmee die eienaars ook boer. Op dié punt is daar ’n groot parkeerplek met genoeg omdraaiplek vir sleepkombinasies. Neffens die kantoor is ’n boord met wat lyk na perskebome. Maar die eienaar, Phillip Pretorius, wat jou ook ontvang, verduidelik dis eintlik amandels. Dié bome groei normaalweg nie in die sanderige vallei nie, maar hulle het dit op perskebome geënt.

In die kantoor wys Phillip na ’n kleurlugfoto teen die muur. Hierop verduidelik hy waar jy staan en hoe om tot by die kampplek te kom. Jy kry ook ’n stel sleutels vir die badkamers.

Jy is nou pens en pootjies in die Dwarsriviervallei met die Klein-Swartberg voor jou, aan die voet van Towerkop. Om tot by die kampplek te ry moet jy ’n entjie teen die berg uit ry.

Maar eers ry jy op jou spoor terug tot by die hek. ’n Smal betonbrug regs het ’n skerp afdraandeknik asook ’n steil kant waar jy weer moet uit – dis op dié einste plek waar die lang waens gaan haak.

Van hier af klim jy die rantjie uit tot jy naderhand die boorde regs van jou uit ’n hoogte sien. Oomblikke later loop die paadjie tot op ’n damwal: Die kampplek is nou links van jou, oorkant die waters en teenaan die oewer.

Die vyf staanplekke is langs mekaar, en as daar iets is wat jy onnodig ingepak het, is dit jou geweefde grondseil, want hier is ’n lieflike gesonde groen grastapyt.

Skop sommer nou al jou plakkies uit, want dit voel of jy op die skoonveld van die beste gholfbaan in die land staan. Die strook is omtrent 70 m lank, met die vyf staanplekke mooi in gelid – almal net meer as 10 m breed.

’n Houtpaal met ’n lig bo-op staan soos ’n totempaal op elk van die staanplekke. Jy het jou ’n eie skakelaar, en onder die skakelaar is die boksie met sy 220 V-driepuntsokke. Die staanpleknommer is op dié boksie se deksel aangebring.

Jou kraan staan ook by die paal, asook die vullisdrom. Hiernaas is ’n ronde vuurput wat ’n baksteen of twee hoog staan en met klip gebou is. Al wat kort, is ’n rooster – bring dus jou eie.

Reg waar jy die kampplek binnery, is ’n pomphuis. Hier staan ’n paar sakke swartwattelhout wat jy mag gebruik as jy nie jou eie braaihout saamgebring het nie. Wanneer jy vertrek, kan jy regmaak met Phillip – dit kos R35 per sak.

Hier staan wel ’n boom of drie, maar niks wat noemenswaardige skaduwee gooi nie. Die middelste staanplek (nr. 3) het ’n paar bome bymekaar en gee die meeste koelte vergeleke met die ander.

Jou staanplek het ’n laaste skuinste tot teen die water, en behalwe vir die inrypad aan jou staanplek se rugkant, strek ’n pinotage-wingerd van hier af bergop.

Die badkamers is gewoonlik wat ’n kampplek maak of breek, maar by Oaksrest is die geriewe waarlik puik. Die gebou is net verby die heel laaste staanplek soos jy inry. ’n Dubbelglasdeur maak oop in ’n ruim kombuis.

Hier is ’n ys-vrieskas asook ’n mikrogolfoond, en jy was jou skottelgoed in die wasbak regs van jou. Op albei die verste hoeke is ’n deur na ’n badkamer – noem dit maar gesinsbadkamers, want albei geriewe is vir vroue én mans.

As ’n mens die badkamer binnestap, sien jy wat ’n verskil goeie materiale, stylvolle afwerking en slim uitleg maak. Die toilet is by die deur met die wasbak in ’n marmerblad skuins oorkant dit.

Die storthokkie strek oor die hele breedte van die vertrek en is afgeskort met ’n deursigtige glaspaneel.

Karooland van melk en heuning: ’n Kampplek waar waters is. En wingerd. Selfs ’n amandelboord. Voeg daarby ’n dam waarlangs jy rus kan vind op groen gras, onder ’n klos blome... wie sou kon raai jy sit nou êrens in die middel van die Klein-Karoo? Oaksrest se staanplekke het alles wat jy nodig het: ’n paal met ’n lig, kraan, vullisdrom en ’n plek om te braai.

Ongelukkig is die gasgeiser effens nukkerig en jy moet soms met jou hand op die kraan gereed staan om ’n vlaag van té koue of warm water af te weer.

Nietemin bederf dit nie jou uitsig nie... onder die stort se water kyk jy uit oor die  dam.

Om dit verder af te rond het elk van die badkamers ook ’n haardroër as jy wil keer dat die kroos met hulle nat hare die koue aand inhardloop.

Vyfsterweelde: Van buite af lyk die badkamergebou heel beskeie, maar binne wys dit dat goeie materiale, stylvolle afwerking en slim uitleg die wenresep is vir ’n puik badkamer. En dan praat ons nie van die uitsig wat jy oor die dam het terwyl jy staan en skrop nie.

As jy hier sit en niks doen, doen jy byna te veel. Om só deel te word van die natuur is een van die vernaamste redes hoekom ’n mens Oaksrest besoek.

Dan is daar die dam langs die staanplekke. Oorkant die verste staanplek is ’n klein pier van planke – daar’s selfs ’n handreling as jy dalk in die water wil klim. Die water is kristalhelder, en as die kinders ’n bietjie wil ronddryf, is daar in die pomphuis ook ’n paar lyfplanke.

As swartbaars jou opgewonde maak, gaan jy jouself skop as jy nie jou visstokke ingepak het nie. Die baars val keer op keer vir jou kunsaas en jy trek hulle omtrent oral uit.

Natuurlik geld die vang-en-laat-gaan-reël, maar dit maak die hengelry geensins minder prettig nie.

Op die skerp draai reg voor die kampplek is ’n tweede, kleiner dam regs van die pad. Dis weggesteek, maar dis die moeite werd om ook hier ’n swartbaars agter jou naam te kry. Dis waar ons die grootse een van die naweek uitgetrek het.

Omdat die son vroeg al agter die Swartberg verdwyn, is die dag effens vinniger verby as waaraan ’n mens gewoond is. Jaag die kinders vroeër badkamer toe en steek jou braaivuur ook vroeër aan.

Sodra jy jou kamplig afsit, is dit stikdonker, en as die maan wegkruip, is dit net die sterre wat lig maak. ’n Buitelig by die badkamer gaan outomaties teen skemer aan.

Teen inkruiptyd raak alles doodstil... tot die paddakoor se dirigent stelling inneem. Hierdie ouens lewer heelnag ’n klomp vertonings wat jy kan waardeer terwyl jy in jou kampbed lê; darem met pouses.

En dis nie elke aand dieselfde storie nie: Op ons tweede aand was die paddakoor tjoepstil, maar ’n enkele piet-my-vrou het ’n solovertoning gelewer.

As swartbaars jou enigsins opgewonde maak, gaan jy jouself skop as jy nie jou visstokke inpak nie.
Kortliks | Oakrest Vineyards-gasteplaas

Kampplek: 5 staanplekke in gelid op die oewer van ’n dam – op een van die lieflikste grasperke.

Ablusiegeriewe: Eenvoudig vyfster. ’n Gebou met ’n kombuis en 2 badkamers vir almal se gebruik.

Prys: R180 p.p.p.n. (R100 vir kinders 4-12 jaar; gratis vir o.4’s).

Aankoms- en vertrektyd: 12:00.

Kontak: 028 551 2027 of 079 491 1420

oaksrest.com, info@oaksrest.com

Naaste dorp: Ladismith 11 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 3,7 km is ’n skaflike grondpad, maar die paadjies net voor die kampplek is te smal vir ’n gewone padwoonwa.

GPS: S33.476655 E21.170812

Ry & Sleep sê: Die wifi is gratis en beskikbaar op al die staanplekke.