Hy reis weer wyd en na wilde plekke in sy nuwe boek, Erfgeld is swerfgeld: oor die waters na St. Helena-eiland, diep in yskoue Siberië in Rusland, doer in Chili se Atacama-woestyn in Suid-Amerika... Maar in dié outobiografiese boek reis hy ook veral na binne, “die ste-ste plek”, met sy oorlede pa as inspirasie en rigtingwyser. Hy vertel meer.

Wat het jou laat besluit om dié boek te skryf?

Die boek het self besluit om geskryf te word. My eerste boek, Moertoe die vreemde in (2001), was my “laaste” boek. Soos al opgemerk is, is skryf vir my ’n neweproduk van die reis. Maar só maak die neerpen van die reis dat jy die “onthou” onthou.

Só sit ek in Desember 2018 in my eie kroeg in die Paarl. Ek verlang na my pa. Vir seker het ’n greep Duitse musiek en ’n fles Kaapse Rooi ’n rol gespeel. Ek onthou die stories wat hy my vertel het en skielik besef ek: Maar as ek dit nie oorvertel nie, sal dit in die niet verdwyn. Toe begin ek skryf. Want só is skryf ook ’n terminale siekte. Ek was wel onseker of ek die boek moet uitgee vanweë die persoonlike aard daarvan.

Waar kom die boek se titel vandaan?

My pa, komdt.dr. Cas Bakkes, militêre geskiedskrywer, soldaat en reisiger, beland soos die lewe maar maak uiteindelik half in ’n koma in ’n ouetehuis se siekeboeg. Ek besoek hom so gereeld as wat ek kan, maar normale gesprekke het vergaan. Dan skielik in ’n oomblik van helderheid uiter hy sy laaste sin. “Johannes, onthou, erfgeld is swerfgeld.”

Beskou jy die boek as ’n huldeblyk aan jou pa?

Ja, dit is ’n huldeblyk aan ’n man wat nooit self ’n pa gehad het nie, maar sy bes probeer het om sonder enige verwysing ’n goeie een te wees. Nie net vir my nie, maar vir al sy kinders. En ek glo hy het dit reggekry.

Wat is die belangrikste lesse wat jy by jou pa geleer het?

Jy mag oordeel, maar nie veroordeel nie. Deernis, en verstaan waar jy vandaan kom.

Die geskiedenis maak die verstaan van die nou en toekoms meer draaglik. “Lojale verset” soos Van Wyk Louw gesê het, is belangrik. Bevraagteken, maar luister. Vat niks persoonlik nie en moenie jou geluk deur ander probeer bewerkstellig nie. Wees eg en eerlik met jouself.

Waar kom die term “katonkstorie” vandaan?

Die katonkstorie-konsep is ’n Bakkes-binnekringbenaming vir ’n liegstorie. Ek vertel die ontstaan daarvan in detail in die boek.

Die leser sal maar self moet lees – dis nou nadat hy die boek aangeskaf het.

Jy skryf oor ’n reis na St. Helena-eiland. Wat was vir jou die hoogtepunt van daardie besoek?

Die hang van die Vrystaatse en Transvaalse Vierkleur-vlae by die Boere-krygsgevangenegrafte te Knollcombes vir daai burgers wat nooit huis toe gekom het nie.

Waarom was Petroplavlovsk-Kamchatski in Rusland vir jou ’n teleurstellende plek (jy gebruik ’n sterker woord in die boek...) 

Geen plek wat ek al ooit besoek het, was “teleurstellend” nie. Dat dit momenteel goor was, is ’n gegewe...

Maar wanneer jy weer by die huis is, wens jy binne twee dae jy was nou weer in Petroplavlovsk-Kamchatski, aan die vodka drink met ’n smorgas-bord van Russiese skoonhede.

Jy beveel in sommige hoofstukke spesifieke liedjies aan. Waarom het jy hierop besluit?

Musiek maak onthou. Musiek skep atmosfeer. Musiek is ’n reis. Die musiek gee vir my ’n dieper dimensie aan die leeservaring. Alle sintuie is betrokke. Ek kan nie sonder musiek skryf nie – so ook nie sonder ’n glasie vog nie. Daarom werk ek die proe-ervaring soos Russiese “Grenki” of Brasiliaanse “chimichurri” ook in my stories in.

Hoe lank het jy aan die boek gewerk?

Drie weke en 43 bottels wyn.

Hoe sal jy sê verskil hierdie boek van jou vorige reisboeke?

Dit is tot ’n sekere mate biografie én outobiografie. Anna Hertzog (wyle Piet Botha se sussie) sê: “Memories and nostalgia can be cruel companions.” Hierdie boek is my onthou en nostalgie en ongeag dat ek al met my een been in die sipresse staan, is die nou vir my ’n heerlikheid. Die boek is steeds ’n reisverhaal, maar dalk meer persoonlik.

Jy en jou seun Marc het die eerste keer wyd gereis na Brasilië en Chili. Wat het jy by hom geleer?

Ek en Marc se reis na die droogste plek op aarde (iewers in Chili se Atacama-woestyn) was ’n ervaring van leer en verstaan. ’n Beter verstaan van my seun en hoe die jonger geslag reis. Ek het baie by Marc geleer, gaan lees maar self.

Beskryf jou ideale reisgenoot.

Ek is my ideale reisgenoot. Alleenreis vereenvoudig die reis. Maar as dit moet, moet jy en jou medereisiger mekaar ruimte gun binne dieselfde reiservaring.

Was jy weer by jou “stamkafee”-kuierplek sedert die inperking begin het?

Gedurende die inkerkering kon ek nie my stamkafee te Klapmuts Hotel aandoen nie. Om die waarheid te sê is my reis tot halt geroep. Maar toe gaan ek in my kop op reis... En ek reis en ek reis. Sou ek nie die herinnering en die onthou gehad het nie, sou ek van my kop af geraak het.

Jy sinspeel daarop dat hierdie dalk jou laaste boek is. Maar hopelik nie?

Soos gesê, my eerste boek was my laaste boek. So ook die boek Openbaring (2016). Ek is tans meer as reg sou dit die Walkures behaag om my oor die Styx na Walhalla te karwei. Om daar saam met ontslape makkers en my pa ’n feesmaal te nuttig en stories te ruil. Tot dan bly reis en skryf ’n terminale siekte.


Erfgeld is swerfgeld word uitgegee deur Protea Boekhuis en kos R250 in boekwinkels. Ook beskikbaar as e-boek by proteabooks.com