Een van sy bekendste boeke, Hiking Trails of South Africa, is al vyftien jaar lank op die rakke. Die bygewerkte vierde uitgawe is onlangs voltooi. Hierdie omvattende gids lys en beskryf meer as 500 plaaslike staproetes, wat 25 nuwes insluit! Willie vertel meer. 

Waar het jou passie vir stap begin?

My oorlede pa het vir die destydse departement van bosbou in Tokai gewerk. Ek het reeds op ’n vroeë ouderdom die Tokaiwoud en -omgewing verken – die plantasies en berge was my speelplek.

Jy is al byna vier dekades lank ’n ywerige stapper. Het die roetes, staptoerusting en stapervaring oor die jare baie verander?

Die meeste staproetes in die tagtigerjare was lineêr en fisiek uitdagend. Daaglikse afstande langer as 20 km was nie ongewoon nie. Die afstande het mettertyd korter geraak en die meeste roetes sirkel- of agtvormig.

Jy kry ook deesdae meer dagstappe wat van ’n basiskamp af ontstaan. Die staptoerusting het beslis meer gesofistikeerd geraak, maar soms ten koste van goeie gehalte. Die roetes wat in die algemeen korter is, beteken jy het meer tyd om die buitelewe te geniet. Iets wat my bekommer, is dat veiligheid ’n groter uitdaging raak, soos in die Drakensberg en elders.

As jy al die kilometers wat jy al gestap het sou saamtel, wat sou die som wees?

Ek het al jare gelede ophou tel, maar ’n hele paar duisend kilometer sou nie ’n oordrywing wees nie.  

Hierdie boek is al verskeie kere uitgegee. Wat is die vernaamste bygewerkte inligting?

Eerstens moet ek seker maak dat al die inligting en detail korrek is. Verder is dit vir my belangrik om staproetes wat gesluit het met nuwe roetes te vervang. Dié boek is ’n kombinasie van jare se eerstehandse ervarings op staproetes en ontelbare ure se navorsing, wat terugstrek na 1988 toe ek The Guide to Hiking Trails geskryf het – ’n boek waaraan ek sewe jaar gewerk het.

’n Nuwe weergawe soos hierdie een duur gewoonlik ’n paar maande om volledig by te werk.

Het jy die meeste van die roetes in hierdie boek self gestap?

Ek sou baie graag wou, maar dit sou te veel tyd in beslag geneem het aangesien ek meer as 500 roetes in die boek lys. Ek het al die roetes gestap wat deur die destydse National Hiking Way Board gevestig is, sowel as al die roetes in geproklameerde wildernisgebiede.

Ek het ook al ’n groot aantal begeleide en korter roetes gestap. Deesdae is daar baie nuwe staproetes – dit raak al hoe moeiliker om by te bly.  

Wie dink jy behoort die boek te geniet?

Ek lys baie dagstaproetes van verskillende afstande en moeilikheidsgrade. Gesinne met kinders en diegene wat nie oornagstaproetes kan aandurf nie, sal baie opsies vind. Ek sluit ook verskeie meerdaagse staproetes in vir die meer ervare stappers.

Deur die jare het ek baie positiewe terugvoer ontvang en die feit dat die boek al sedert 2003 op die rakke is en daar nou ’n nuwe vierde uitgawe is, wys dit werk.  

Noem ’n paar van jou gunstelingstaproetes.

Om roetes met mekaar te vergelyk is soos om die klanke van verskillende instrumente in ’n simfonieorkes te vergelyk.

Maar wat kort staproetes betref, hou ek van al die dagstappe wat die Drakensberg bied – die natuurskoon is inspirerend. Wat meerdaagse staproetes betref, is die Otterstaproete, die Sederberg-wildernisgebied en die Wolkberg-wildernisgebied van my gunstelinge.

Om roetes met mekaar te vergelyk is soos om die klanke van verskillende instrumente in ’n simfonieorkes te vergelyk...

Ek hou ook baie van die Wildekus se staproetes, veral tussen Msikaba en Port St. Johns en die bekende roete tussen Port St. Johns en Koffiebaai.

Wat is van jou beste herinneringe op staproetes?

Die een wat heel eerste by my opkom, was toe ek ’n haai se vin gewaar het in die Mtakatyerivier, oomblikke nadat ek heuphoogte deur die rivier gewaad het. Ander was om ’n groototter te sien (waar anders as op die Otter?) en lammergeiers wat verby my swiep in die Drakensberg.  

Het jy al in ander lande as Suid-Afrika gestap?

Ja, ek het die twee groot meerdaagse staproetes in Namibië gestap – die Visrivier-canyon en die Naukluft-staproete. Lesotho is ook ’n puik plek vir stap, hoewel daar geen formele roetes is nie. Die Malolotja-natuurreservaat in Swaziland het skouspelagtige dagstaproetes en oornagrugsakroetes.

Is daar nog plaaslike roetes op jou bucket list, of wat jy wil herbesoek?

Heel eerste is die Walvisroete in die De Hoop-natuurreservaat wat ek nog nie gestap het nie. Ek sal ook graag weer my ou spore in die Wildekus wil loop. Die natuurtonele is magies, veral die ongerepte strande en die gebied rondom Waterfall Bluff.

Jy het al baie boeke geskryf. Met watter skryfprojekte is jy tans besig?

Skryf kan uitputtend raak. Ek het die afgelope paar jaar ’n blaaskans gevat, hoewel ek tot twee ander boeke bygedra het. Ek werk tans aan voorleggings vir nuwe boeke, maar dit is nog te vroeg om meer te verklap!


Hiking Trails of South Africa word uitgegee deur Struik Travel & Heritage en kos R270 in boekwinkels.