Die Vrystaatse landskap is meestal plat en uitgestrek, maar by dié provinsie se oostelike grens is dit ’n ander storie: Die Maluti-bergreeks loop soos ’n natuurlike kaplyn tussen die Vrystaat en Lesotho deur, en dis hier waar jy dié wêreld se bekendste natuurlike verskynsel, die Brandwag-gesteente in die Golden Gate Hoogland- nasionale park, aantref.

Golden Gate is dus hoog op enige toeris se lys, maar vreemd genoeg kan jy die kampplekke in die omgewing omtrent op die een hand tel. Buiten Golden Gate se eie kampplek, Glen Reenen, is ’n besoek aan die Uithoek-natuurpark beslis die moeite werd.

Uithoek is die nuutste kampplek in die omgewing, ’n plek waar jy in absolute stilte teen die noordelike voet van die Ventersberg kan kom uitspan.

As jy steeds in die omgewing wil vertoef, kan jy ook by die Bassfeather Country-lodge naby Reitz gaan draai.

Dis net so rustig hier, en as jy ’n visstok saamgebring het, kan jy sommer vir ’n klompie dae bespreek.

Die warmer maande is die beste tyd om kamp op te slaan in die Vrystaat, maar Uithoek is mooi sentraal geleë as jy oorslaapplek soek tussen die noordelike binneland en die Kwa- Zulu Natalse kus.

Uithoek-natuurpark

Om die draai Uithoek se afdraai is 8 km buite Fouriesburg op die R26 na Bethlehem.

Van hier af is dit grondpad (2,8 km) met klipperige dele, maar ’n gewone padwa gaan dit maak as jy dit rustig vat.

Met ons besoek het dit goed gesous in die Oos-Vrystaat, en net ’n dag later was die pad drooggebak en in ’n goeie toestand.

Op dele het die verkeer letterlik klei getrap, maar hou net op die vasgetrapte plekke tot by die hek regs van die pad.

Ventersberg is nou voor jou, met die sandsteenrantjies wat links en regs uitstrek – amper soos twee klein Brandberge.

Soggens gloei die regterkantse rant, en as die sonnetjie water trek, is dit die oorkantste een wat verlig word.

Hou ook jou oë oop vir die swartwildebeeste, springbokke en sebras wat regs van die pad wei.

’n Mens sien hulle beter uit jou motor, want as jy uitklim en probeer nader stap, kies hulle die hasepad.

Die pad loop al langs ’n doringdraadheining, en net voor die kampplek staan ’n paar eikebome regs.

As jy dus met jou breë padwa kom kamp, sal jy nader aan die heining moet ry om seker te maak die wa tref nie die bome nie, maar hier is genoeg plek om deur te kom.

Die kampterrein is rofweg in ’n groot driehoek uitgelê.

Die staanplekke is hoofsaaklik teen die kante uitgelê met enkeles in die middel.

Die badkamergebou is ook in die middel en die swembad op die verste punt.

’n Geplaveide pad loop in ’n wye sirkel deur die oord en gee toegang tot die meeste staanplekke.

Verder is daar ’n lieflike groen grasperk.

Wanneer jy die kampterrein binnery, kry jy ’n netjiese klein sandsteengebou links wat as kantoor en kiosk dien.

Hier en daar is koeltebome, maar by die staanplekke direk ná die kantoor is ’n laning eikebome links teen die grensdraad af, en anderkant die badkamergebou is daar groot bloekombome.

Elke staanplek het ’n plaatjie met ’n nommer wat op die plaveisel vasgesit is.

Die kragpunte (gewone driepunt) staan ente uitmekaar en is teen sandsteenpilare vasgesit.

By elke kragpunt is daar ’n vullisdrom en kraan plus ’n sproeier.

Oral staan los ploegskaarbraaiers met verstelbare roosters rond.

By die laaste staanplek aan die binnekant van die pad – oorkant die staanplekke onder die laning – is ’n netjiese sinkdaklapa met plaveisel.

Hieronder is ook ’n paar kragpunte en ’n lekker kuierplek om te deel as julle ’n paar vriende is wat saam kamp.

Op daardie punt: Hier staan ook ’n paar los braaidromme as jy meer vleis op een slag gaar moet kry.

By die staanplekke teen die verste been links is daar ’n spruit wat in die reënmaande loop tot by ’n dam nie te ver van die staanplekke af nie.

Op die stroom se oewers staan groot wilgerbome, maar jy het nie regtig koelte op jou staanplek nie.

Die staanplekke is – net soos dié in die middel – mooi gelyk en plat.

Langsaan die laaste staanplek staan nog ’n sinkdaklapa met die dam aan die ander kant.

Onder die dak is ’n spesiale braai – ’n koekepan – met ’n rooster wat slim ontwerp is sodat jy dit lekker kan vasvat.

Die rooster het twee handvatsels – een op die hoek regs by jou en die ander een op die verste hoek links.

Vir gholfliefhebbers is hier ’n unieke uitdaging: Op die dam dryf ’n klein setperk met ’n putjie in die middel.

Jy kan kyk of jy van die kant af ’n balletjie kan sink en die eerste een word wat dit regkry.

Op die kant is ’n staalraam met ’n paar ysters, en jy speel volgens die eerlikheidsbeginsel: Op die raam is daar ook ’n kluis vasgesit waarin jy R10 gooi as jy een van die balle in die melkemmer vat.

As jy wil kyk of jy ’n swartbaars of karp uit die water kan kry, mag jy, maar alles aan die hoek moet weer teruggegooi word.

Die dam se watervlak is afhanklik van reënwater, wat beteken somer is die beste tyd vir hengel.

As jy terugstap na die kampplek toe, is die badkamers voor jou met die ry bloekombome daaragter.

Net voor die badkamers, aan die binnekant van die sirkelpad, staan ’n lieflike kliptafel van sandsteen wat ’n paar ton moet weeg.

Al gebruik ’n mens dit nie noodwendig vir ’n tafel nie, is dit omtrent ’n monument wat netjies inpas by die omgewing én die kampplek.

Die badkamergebou, ook van sandsteen, staan dwars voor jou met die opwasplek heel links onder ’n stoepdak, gevolg deur die vroue se geriewe met die mans s’n heel regs.

Binne is drie moderne wasbakke wat op een soliede houtblad gemonteer is – dit lyk asof ’n boom in die lengte deurgesny is.

Die drie wasbakke is wel effens naby mekaar en hoogstens twee mense sal saam hier hulle staan kan kry.

Die sandsteengeboue soos dié waarin die kantoor en badkamers gehuisves word, is nou maar net eie aan die Oos-Vrystaat. Dit lyk aards en pas mooi in by die omgewing, maar binne is die geriewe heel modern afgewerk.

Hier is ook drie storthokkies met net ’n nat deel, maar jy het darem ’n bankie en hake om jou goed droog te hou.

Die stortkop is effens laag – as jy by die 6 voet lank is, kyk die stortkop jou in die oë.

Die laaste ry staanplekke is in die oopte, al teen die heining af van waar jy inry tot digby die swembad.

Hulle nommerplaatjies is teen die heining agter dit vasgesit. Van hierdie staanplekke het ook ’n effense helling.

Onder die bloekombome is nog ’n paar staanplekke, maar daar trek die gras uiteraard swaar.

Tussen die laaste staanplekke langs die heining en die swembad is nog ’n lapa met plaveisel.

Die swembad het ’n vlak kant, maar dis eerder bedoel vir laerskoolkinders en groter.

Vir veldryers is daar ’n 4x4-roete teen die berg uit, maar ’n waarskuwing by die begin sê dis slegs vir viertrekvoertuie.

Dis gratis as jy by Uithoek oornag.

As jy fyn kyk in die blou lug tussen die rante, sien jy kabels wat van die een kant na die ander strek.

Dis die ritslyn met sy vier kabels wat altesame 1,1 km lank is.

Dit kos R500 p.p. as jy tussen hemel en aarde wil gly van die een rant tot by die volgende een.

Kortliks | Uithoek-natuurpark

Kampplek 50 staanplekke op ’n grasperk met heelwat koeltebome.

Ablusiegeriewe ’n Netjiese badkamergebou tussen die staanplekke.

Prys R100 p.n. per staanplek plus R100 p.p.p.n. (R50 vir kinders o.12; gratis vir o.3’s).

Aankoms- en vertrektyd 14:00 en 10:00.

Kontak 072 660 0840 of 071 400 5013; uithoek.cominfo@uithoek.com

Naaste dorp Fouriesburg 11 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 2,8 km is ’n skaflike grondpad waarop jy ’n gewone padwa kan sleep.

GPS S28.542495 E28.213146

Ry & Sleep sê Honde van 12 kg en minder word hier toegelaat.



Ry ’n bietjie rond

Terwyl ’n mens nou in van die mooiste dele van die Vrystaat rondry, kan jy net sowel ’n draai maak by Golden Gate én gaan inloer by Clarens.

Die openbare pad tussen Clarens en Phuthaditjhaba (die R712) loop deur die park.

Omtrent 17 km buite Clarens ry jy deur ’n hek (wat onbeman was met ons besoek).

Die Golden Gate-hotel is 3 km verder aan die regterkant, met die Brandwag wat links van die pad oor die omgewing uittroon.

Regs, net voor die afdraai na die hotel, staan een van daardie groot geel staalrame waardeur jy ’n foto van die omgewing kan neem.

Dit is ’n paar treë teen die bultjie op, en hier kan die gesin mooi in die raam van jou foto pas met die Brandwag in die agtergrond.

Laatmiddag is die beste tyd, want die son verlig die enorme stuk sandsteen dan die mooiste. Sanparke se kantoor is ’n kilometer verderaan.

Hier is ’n vulstasie, en die Glen Reenen-kampplek – deel van Sanparke – is oorkant die pad.

Met ons besoek was die dinosourus-interpretasiesentrum teen die kampplek nog in aanbou.

Boonop het dit gelyk of hier baie lank nie ’n grassnyer naby die kampplek gekom het nie.

’n Mens verwag nie so ’n verwaarloosde gesig in een van Sanparke se kampe nie.

Clarens is een van die Vrystaat se gewildste toerismedorpe.

Hier kry ’n mens ’n verskeidenheid interessante winkels wat wissel van kunsgalerye tot lekkergoedwinkels.

The Nutty Bears roem hom daarop dat hy die grootste verskeidenheid teddiebere in die Vrystaat het.

Paul Kruger en van sy manskappe was meer as ’n eeu en ’n half gelede hier slaags met die Basotho’s.

Die dorp is hoeka genoem na die Switserse dorp met dieselfde naam waar Kruger sy laaste dae as uitgewekene deurgebring het.

As jy dus meer van hierdie nostalgie wil ervaar, stap ’n blok af in Van Zylstraat aan die onderpunt van die sirkel.

Soek die rooi hoenderhaan op ’n hoë houtpaal. Dit is die Roter Hahn-restaurant met sy kenmerkende Duitse spyskaart.

Hoe lekker om so ’n netjiese groen grasperk op die Vrystaatse vlaktes aan te tref. Hier kamp jy langs ’n selfgeboude dam, maar jy val nie die heeltyd oor ’n ry visstokke nie. Hier is ook staanplekke verder weg van die water waar jy die kinders kan dophou terwyl hulle in die swembad baljaar.

Bassfeather Country Lodge

Dam se kant

Van Uithoek af is Bassfeather skaars 100 km verder: Jy ry deur Bethlehem tot by Reitz, met die oord dan skaars 10 km buite die dorp.

’n Mens ry nou weg van die lieflike berglandskap af. Soos die vlaktes weerskante van die pad uitstrek, ervaar jy die ander skoonheid van die Vrystaat.

Ons ry deur Reitz, want ons maak ’n draai by die Nayela-woonwafabriek. Om by Bassfeather uit te kom ry jy noord uit Reitz, verby die graansilo’s, maar die teerpad het beter dae geken.

Naderhand draai ’n mens regs af op die Wardenpad wat die eerste stuk verby die township Petsana loop.

Dié pad is net so hopeloos en ’n mens moet dit stadig vat, veral rondom slegte plekke en padgebruikers wat lyk of hulle die padreëls verontagsaam.

Gelukkig is Bassfeather net 4 km verder waar jou frustrasie oor die pad oorgaan in ’n lieflike rus op ’n ordentlike grasperk.

Soos ’n mens uit die naam kan aflei, is hengel ’n groot deel van die kampervaring hier.

Die damwal lê aan die pad se kant waar jy indraai, en die inloop van die Langspruit is ongeveer 1,8 km stroomop.

’n Groot grasperk strek teen die waters af, en saam met al die wilgerbome wat aangeplant is, is dit omtrent die goue akker vir hengelaars.

Van die pad tot by die kantoor loop daar ’n netjiese grondpad van 1 km.

Die grasperk begin net ná die damwal regs van jou.

Die kantoor is regs van die valboom voor in die pad, waar daar ’n kennisgewing is dat booteienaars hulle papiere daarvoor moet saambring.

Die parkie vir die kinders is skuins agter die kantoor, water se kant toe.

Hier is swaaie, ’n hoë glyplank en ’n rondomtalie – en jy kan sien hulle doen al etlike jare diens.

Dié wêreld het vroeër vanjaar goeie reën gehad, en dit was ook die tyd wat ons kom inloer het.

Die water het oor die oewerstaanplekke gestoot en selfs die braaiplekke was halfpad onder water, maar die kragpunte het darem op droë land gestaan. (Hulle gebruik die blou woonwasok, wat splinternuut lyk.)

Die 14 of wat oewerstaanplekke was dus uit vir ons, maar hier is altesame 21 staanplekke, wat beteken ons kon darem geholpe raak.

Soos jy deur die valhek ry, kom jy by ’n groot onthaalgebied met ’n grasdak.

Hou links om die gebou totdat jy die badkamers regs van jou kry. Die res van die staanplekke is hier uitgelê, ’n goeie 140 m van die water af.

Die eerste paar staanplekke is links van jou op ’n gelykgemaakte terras. Hiernaas staan uitgegroeide bloekombome wat vroegoggend en laatmiddag skaduwee gooi.

Regs hiervan, nader aan die swembad se kant, is nog drie terrasse waar jy ook kan opslaan.

As jy graag ’n oog oor die kinders wil hou in die swembad, kies die onderste terras. As jy hier staan, versper jy die uitsig vir die twee boonste terrasse.

Die badkamers is basies en die storthokkie is ’n nat deel waarvan die deur na binne oopmaak.

Hier is darem rakke om jou droë goed droog te hou.

Die storthokkie op die verste punt is effens groter, want hier staan ook ’n wasbak.

As jy die omgewing uit ’n hoogte wil bekyk, stap na die koppie agter die kampplek. Hier wei ook onder meer swartwildebeeste.

Die koppie verg skaars 50 m se vertikale klim, en die hoogste deel is net 300 m van die kampplek af.

Dis met gras bedek en dit neem jou skaars 10 minute tot bo – en van hier af kan jy oor die hele dam, kampplek én die vlaktes rondom jou uitkyk.

Bo-op die koppie is ’n paar klipskeure vanwaar blink ogies jou dophou, én hier is ’n hele kolonie dassies wat nuuskierig is oor jou doen en late.

Kortliks | Bassfeather Country-lodge

Kampplek Onafgebakende staanplekke vir 21 woonwaens op ’n lieflike grasperk met heelwat koeltebome.

Ablusiegeriewe 1 badkamergebou. Aan die manskant is 2 storte en 3 toilette, en aan die vrouekant dieselfde plus 2 ekstra baddens.

Prys Afhangend van die seisoen R200-R220 p.n. per staanplek plus R80 p.p.p.n. (R30-40 vir kinders o.12; gratis vir o.6’e).

Aankoms- en vertrektyd 14:00 en 11:00.

Kontak 082 378 6991; bassfeather.cominfo@bassfeather.com

Naaste dorp Reitz 9,6 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 1 km is ’n goeie stukkie grondpad.

GPS S27.812397 E28.504346

Ry & Sleep sê Om te hengel is gratis, maar laat gaan die groter visse wat jy haak.