Deel

Op ’n ysterperd deur die Karoo

akkreditasie
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Uit die argief: Meer as sestig jaar gelede het Giel Bezuidenhout (84) van Brakrivier en sy vriend Dennis Buys deur die Karoo getoer op ’n motorfiets. Hier is hulle storie.

Ek het die artikel “Die Karoo kom lê in jou hart” in Weg #178 vreeslik geniet. Sestig jaar gelede het ek en my pêl Dennis Buys (ek en Dennis is al vriende van sub B af) ook deur die Karoo getoer op ’n motorfiets. In 1956 was ek ’n deeltydse rekenmeesterstudent aan die Howard College in Durban (nou die Universiteit van KwaZulu-Natal) en Dennis ’n “appy mechanic”. Ons het besluit om oor Bloemfontein, waar my tannie Anna van Tonder gebly het, Kaap toe te ry vir ’n vakansie.

Ons rit het dramaties begin. Dit motreën in Durban en by die Berea-afrit gly die ysterperd onder ons uit en ons slaan neer! Gelukkig was daar geen skade nie en kon ons verder ry. Ek het vir my pa ’n telegram gestuur: “Afgeval, seergekry, opgeklim, weer gery.” Hy was nie beïndruk nie.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Ons rit oor die Van Reenen-pas was net so opwindend. Die pas – toe nog grondpad – was nat en glibberig. Toe ons ons weer kom kry, lê ons in die pad en die motorfiets op ’n plat rotslys sowat 2 m onder die pad. Uiteindelik kom ’n bakkie verby wat hulp gaan vra op die dorpie Van Reenen. Daar kon iemand die motorfiets regmaak. Die rekening? ’n Volle drie pond.

’n Kilometer buite die dorpie Prins Albertweg tref die noodlot ons weer: ’n pap wiel. Dennis ry terug en ek stap. Dis ’n Sondag en die dorpie is verlate. Ons kry wel die plaaslike werktuigkundige om te help, maar hy het net “patch & solution”. Ons moet dit maar probeer en hoop op die beste...

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Ná 10 km sien ons dit werk nie! Ons maak beurte om weer terug te ry tot op Prins Albertweg. Daar is natuurlik nie bande nie – Worcester is ons enigste hoop.

Gelukkig is daar ’n ou omie op pad soontoe wat ons en die motorfiets op sy bakkie laai. Daar gekom, maak hulle die band vinnig reg. Maar nou sit ons sonder geld...

Beste oplossing? Terug Bloem toe. Tannie Anna het vir ons vyf pond geleen, wat my pa later terugbetaal het. Die volgende Desember het ons die rit weer aangepak –dié keer met twee motorfietse – en darem die Kaap gehaal.


Hierdie artikel het in Oktober 2019 (#180) in Weg verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.