Hierdie reis word aangebied deur Cape Union Mart, Jeep Clothing, Rehidrat en caminoways.com. In die eerste artikel vertel Gerda Engelbrecht hoe sy voorberei om 313 km in 14 dae te stap.
Dis moeilik om te sê wanneer die Camino in my kop kom sit het, maar jare lank al lees ek elke moontlike artikel, boek en gids oor dié bekende pelgrimstog wat jaarliks deur sowat 250 000 pelgrims voltooi word. Ek trek al ver verby die 20 boeke.
Soms is daar ’n sameloop van dinge in jou lewe wat op iets fantasties uitloop. Die eerste ligte stampie in die regte rigting was ’n seer rug vroeg vanjaar. Ná fisioterapie en hopeloos te veel pynpille, het ek ongemaklik in ’n ry gesit en wag vir x-strale – vas oortuig die diagnose gaan iets allerverskrikliks wees.
Die dokter kon niks groots fout sien nie, en het oplaas sy tong simpatiek geklik en gesê die rugpyn is maar van “gewone wear-and-tear” en verstaanbaar vir “iemand van my ouderdom” wat lang ure voor ’n rekenaar sit. Dit was net die skop op my agterent wat ek nodig gehad het. Ek is nog (kug) té jonk om nou al só sleg en só oorgewig te wees. Ek moes fikser word.
En toe begin die Camino net orals opduik in my lewe. Op Facebook, in die nuus, in die boekwinkels. (Dit het nie gehelp dat my kollega Erns dit pas gestap het nie.) As ek my kop links of regs gedraai het, het die Camino in my oor kom fluister. Toe ’n advertensiekliënt van Weg op ’n lui Vrydagnamiddag in ’n baie onskuldige aanmerking die Camino noem, het my kop teen ’n duisend kilometer per uur begin werk. En toe begin hierdie droomreis saam met vier droomvennote gestalte aanneem. Die afgelope weke is ek soos ’n “stalker”. Ek praat en lees oor niks anders nie. Die mense om my sê ek is effens obsessief.
Wat is dit?
Die Camino is een van die bekendste pelgrimstogte ter wêreld en word al sedert die tiende eeu geloop.
Die Camino spring in verskillende Europese lande weg en volg verskillende roetes, maar almal eindig by die katedraal in Santiago de Compostela. As ’n spesiale kopknik na reisverslaggewers, word die Codex Callixtus II, ’n boek oor die Camino wat in 1140 geskryf is, as die oudste reisgids ter wêreld beskou (terloops, ek het dít ook gelees!), en reeds daarin word van die roetes en die dorpe beskryf. Deesdae is dit ’n gewilde staptog vir Christen-gelowiges sowel as nie-gelowiges, en die pelgrims is meestal mense wat by kruispaaie in hul lewe gekom het.
Dis byvoorbeeld ’n avontuur vir pas-afgetredenes wat gewoond moet raak aan ’n nuwe pas in hulle lewe, of jonger mense wat groot besluite oor ’n loopbaan of ’n verhouding moet neem. Ander kom weer hiernatoe om te leer om die een voet voor die ander te sit ná ’n pynlike egskeiding of die dood van die geliefde. Dis kortom ’n kopskoonmaaktyd – jy bring baie (báie!) tyd op die pad deur en leef ’n “afgeskaalde”, eenvoudiger lewe. Almal lyk en ruik dieselfde, so jy kan op ander, belangriker dinge fokus. In die maande voor my vertrek moes ek oor die volgende dinge besluit.
Tekkies of stapstewels?
Almal waarsku jou dat jou voete Prioriteit Nommer Een is.
Blase kan jou hele reis ... wel, in die voet skiet. Ek is lief vir stap en het ’n paar goeie leerstapstewels, maar dit voel swaar aan my voete. As ek lang afstande stap, ook op vakansie, verkies ek iets ligters. Ek stap dikwels in Salomon-tekkies en het so twee jaar gelede ’n paar Salomon Speedcross by Cape Union Mart gekoop. Hulle is al kis geloop. Die Speedcross is veldloopskoene (“trail running shoes”) wat sneeu- en modderbestand is.
Ek het aanvanklik oorweeg om my paar te vervang met die Speedcross 4, maar Grant Stander van Cape Union Mart het my aangemoedig om ook die Salomon XA Pro 3D en die X Ultra te gaan aanpas. Albei het soos ’n vakansie aan my voete gevoel! Dis ook veldloopskoene (dus waterdig), maar het ekstra ondersteuning by die brug vir stappers. Veral vir my, wat nie soos Mej. Suid-Afrika gebou is nie, is daardie ondersteuning belangrik. Die Salomons gebruik ’n lekker veterstelsel waarmee jy ’n knippie het wat die veter stywer en losser trek, en daarna wegvou in sy eie flappie. Wat beteken dat jy nooit langs die pad hoef te buk om te sukkel met ’n driedubbele Voortrekker-knoop wat losraak nie.
Ek het gewik en weeg en die Salomon XA Pro 3D gekies, want dit het vir my gewerk. Dit sal nie noodwendig vir jóú werk nie. Gaan gesels met ’n produkspesialis by Cape Union Mart dat jy iets kan kry wat nommerpas is vir jou.
Vooruit bespreek of loop soos die wind jou waai?
Al droom ek al dekades lank van die Camino, het my moed my telkens begewe as my besorgde familie my herinner het aan hoe sleg ek sal vaar in herberge waar ek ’n slaapsaal met tot honderd ander snorkende mense moet deel. Blykbaar is ek ook nie ’n maklike mens nie? Die laaste strooi was die wenk in ’n reisgids dat jy liefs jou paspoort en kontant in ’n buidelsakkie (“moon bag”) saam met jou in die stort by die herberg moet neem.
Toe google ek ’n bietjie en lees vir die eerste keer die “alternatiewe opsie” raak, waar jy ’n agentskap gebruik om vooruit jou verblyf te bespreek. Ek het die agentskappe teen mekaar opgeweeg en op die ou end op Caminoways.com besluit. Hul webwerf is reeds ’n vakansie op sy eie! Hulle bied begeleide en onbegeleide toere op al die Camino-roetes en het nuttige inligting oor die weer, die roetes ens. Hulle beloof nie luukse vyfsterverblyf nie (jy stap in afgeleë dele van die platteland), maar bloot dat jy altyd jou eie kamer met ’n badkamer (dankie!) sal hê, plus ontbyt. Dis al wat ek nodig het.
Is dit in die “gees” van die Camino? Baie mense glo immers jy moet “suffer” om die wáre pelgrimservaring te hê en dat die herberge deel van die pyn en lyding is. Laat ek jou herinner dat ek selfs met 4 maande se ywerige oefening steeds ’n stewige 20 kg oorgewig is. Om dus 14 halfmarathons (plus nog ’n bietjie vir liefde!) 14 dae in ’n ry te loop, sal genoeg pyn en lyding wees, baie dankie. Suffer gaan ek suffer. Op die ou end moet elkeen self besluit waarvoor hy kans sien of nie. Maar onthou ook, die pelgrimstog word al van die vroegste eeue ook deur koninklikes en adellikes afgelê. En ek laat my nie vertel dat koning Ferdinand en koningin Isabella van Spanje dit in die gemeenskaplike slaapsale in die herberge “gerough” het nie.
Laastens het die bespreking op caminoways.com my die voordeel gegee dat ek vooraf presies vir my geliefdes kon sê waar ek op watter datum behoort te wees. Ek het bejaarde ouers by die huis en ’n veeleisende baas op kantoor (grappie!) en kan nie net my eie kop volg en verdwyn nie.
Die belangrikste voordeel van die bespreekte verblyf was egter dat ek nie ’n slaapsak hoef saam te piekel nie. (Sien “hoeveel bagasie?” hier onder.)
Hoeveel kos dit? Caminoways.com is een van ons borge en daarom het ek dit gratis gekry, maar presies dieselfde toer in dieselfde maand (14 nagte) sou vir ’n betalende pelgrim sowat R20 000 in ’n enkelkamer gekos het, en sowat R15 000 per persoon in ’n dubbelkamer. Dit sluit ontbyt in. Wees nou maar eerlik, verblyf in Europa kos selde minder. Dis ’n bietjie duurder in hoogseisoen (Junie tot Augustus), en bietjie goedkoper in April, Mei en Oktober, en daar is verdere afslag as jy vroeg bespreek. Vir sowat R1500 ekstra (in totaal) sal hulle daagliks jou rugsak by jou volgende hotel besorg. (“En lei my nie in die versoeking nie. . .”)
Ek het verskillende agente se pryse vergelyk en Caminoways.com het die beste kwotasie gehad. Ek sal deur die loop van die toer foto’s neem om te wys hoe die kamers lyk, maar die kommentaar op tripadvisor is baie positief. Hulle het ’n oulike program op die webwerf waar jy kan invul waar en wanneer jy wil begin stap/fietsry, dan werk die program vir jou ’n kwotasie uit. Speel bietjie rond met die verskillende roetes en datums.
Hoe ver gaan ek stap?
Om as ’n pelgrim te “kwalifiseer” en ’n Compostela (’n sertifikaat) te kry, moet jy ’n minimum van 100 km per voet of 200 km per fiets aflê tot by die katedraal in Santiago de Compostela. Gewilde wegspringplekke is Le Puy in Frankryk (1400 km), St. Jean-Pied-de-Port (750 km) in Frankryk en Lissabon in Portugal (550 km). Baie Europese pelgrims spring by hul eie huise weg (!) en stap dan elke jaar net ’n deel van die pad, na gelang van hoeveel vakansie hulle het.
Ek het my laat lei deur die hoeveelheid tyd tot my beskikking: twee weke. Wat beteken dat ek by Léon in Spanje wegspring. Ek het geen rusdag tussenin nie en gaan in totaal 313 km stap. Op my langste dag stap ek 32 km, en op die laaste dag stap ek die kortste afstand: 16 km. Jy mik om op jou laaste dag om 12:00 by die katedraal te wees vir die spesiale pelgrimsdiens. As jy nuuskierig is oor my program (en die daaglikse afstande wat voorlê), klik hier.
Hoeveel bagasie dra ek saam?
MIN. Jy kan net 10% van jou liggaamsgewig, tot ’n maksimum van 6-8 kg met jou saamdra.
Dus: ’n Vrou wat teoreties 50 kg weeg (helaas nie ek nie!), kan hoogstens 5 kg op haar rug dra. Op die meeste oorsese vakansies weeg my handbagasie meer as dit! Die meeste pelgrims pak slaapsakke en selfs dun matrassies in, wat die grootste deel van hul 6 kg in beslag neem, en los alle elektroniese toerusting (meestal ook kameras) tuis. ’n Reis deur Spanje sonder ’n kamera was vir my ’n sónde, daarom was die bespreekte verblyf (met beddegoed ingesluit) manna uit die hemel.
Ek het ’n paar rugsakke by Cape Union Mart op die rug gehad en besluit op die madeliefiegeel K-Way 35 liter. Hierdie Deuter-sak het ook vir my oulik gelyk (kyk die blommetjie!), maar ek was bang ’n groter sak sou my in die versoeking stel om ekstra twakkies “vir ingeval” saam te sleep. Die K-Way-sak het sy eie reënjakkie wat onder wegvou en altyd byderhand is, en twee groot ritssluiters sodat jy die inhoud van bo én onder kan bereik. Dan hoef jy nie die hele sak uit te krap om die Vaseline op die bodem by te kom nie.
Die voorste kompartement is lekker vir die elektronika, en op die heupbande het hy twee ekstra netsakkies waarin ek pleisters, Rehidrat en ’n bietjie kontant byderhand kan hou. Ek neem ook ’n waterdigte bladsak saam vir my kamera, beursie en paspoort, en ’n pienk K-Way-sakkie vir my elektroniese kabels. Laastens pak ek ’n veerligte K-Way-toksak (“overflow bag”) in sodat ek ekstra pakplek het vir geskenke met die terugvlug. Ek pak dikwels dié sak in op vakansie, want dit weeg ’n volle 260 gram en werk ook lekker as ’n wasgoedsak.
Die meeste pelgrims het net een stel klere aan die bas en een in die tas. Jy spoel maar elke dag die stinkste goedjies uit en dra dit weer die volgende dag. Jeep het my self laat kies wat ek wou inpak en ek moes my dikwels aan my 6 kg-perk herinner! Vir ’n volledige lys van wat ek alles inpak, klik hier.
Hoeveel het ek voorberei?
Baie mense “stap hulleself fiks” op die Camino, maar ek wou niks aan die toeval oorlaat nie. Veral ná die rug moes ek die kilometers geleidelik opskuif. Sedert Mei het ek 3 x per week sowat 3-5 km oor middagete gestap (met ’n paar lékker bulte hier in Kaapstad), en een “lang stap” op ’n naweekdag van 20 km of verder aangepak. Aanvanklik was ek dóód na die 20 km, maar die laaste maande gaan dit beter. Sedert einde Junie oefen ek in die skoene waarmee ek op die vliegtuig gaan klim. Ek het nog nie een blaas gehad nie. (“Touch wood. Unjinx.”) Ek moes dalk meer in die berge gestap het, maar ek kon nie altyd stapmaats kry nie en moes by die veilige roetes hou.
As ek langer as ’n uur geloop het, het ek ’n sakkie van die rehidrasiemiddel Rehidrat ingepak en langs die pad gedrink. Spanje is bloedig warm en as jy ure op die pad deurbring, het jy meer as net ’n bier nodig om te herstel. Jy moet die elektroliete vervang wat jy uitgesweet het. Jy kan Rehidrat voor, tydens en ná ’n oefensessie drink. Ek het verkies om dit langs die pad en soms ná die tyd te drink. Ek is geneig om ’n koppyn te kry nadat ek geoefen het, ’n teken dat ek nie genoeg vloeistof langs die pad ingeneem het nie, en Rehidrat het daardie probleem opgelos. Maar onthou: Dis nié ’n energiedrankie nie! Rehidrat is ook ’n goeie middel vir mense wat ontwater het weens siekte, maar die Rehidrat Sport lyk effens anders. Dis beskikbaar in nartjie- en lemmetjiegeur en kan by Takealot, Clicks of apteke gekoop word. Dit het nie ’n oormaat versoeters in nie en smaak nogals verfrissend as jy dors is.
Nou is ek opgepak en tel ek opgewonde die slapies voor my avontuur. Shirley Maclaine skryf in haar boek The Camino: A Journey of the Spirit dat geen mens wat soveel kilometers afgelê het, die versoeking kan weerstaan om daaroor te skryf. Haha. Ek ook nie! Ek sal elke dag laat weet hoe dit gaan. As jy enige raad of vrae het (of laerskoolatletiekliedjies om my aan te moedig!), los dit as ’n “comment” en ek sal jou antwoord.
Weg se Camino-avontuur is moontlik danksy borgskappe deur Cape Union Mart, Jeep Clothing, Rehidrat en Caminoways.com.
Caminoways.com reël stap- en fietstoere op verskeie roetes van die Camino de Santiago-roetes. ’n Sesdagreis op die bekende Camino Frances vanaf Sarria na Santiago begin by 420 euro (sowat R7 000) per persoon wat deel. (Vir besonderhede en ’n gratis kwotasie, kontak info@caminoways.com of besoek caminoways.com.)