Die Franse eiland Réunion is in die Indiese Oseaan geleë en ’n relatiewe kort vlug van Johannesburg af. Dit spog met ’n aktiewe vulkaan, pragtige natuurskoon, koraalriwwe en natuurlike heerlike kos!



En hier, waar inwoners meestal Frans en Réunion-Kreools praat, kan jy jou adrenalienvlakke opstoot en serotonien-vlakke aanvul met verskeie avontuur-aktiwiteite en natuurtonele wat wissel van maanlandskap tot woude.

Een van die eiland se groot trekpleisters is die aktiewe vulkaan Piton de la Fournaise of “Peak of the Furnace” wat ook een van die wêreld se mees aktiewe vulkane is.  


Hierdie vulkaan het juis in September vanjaar weer ’n uitbarsting gehad, vir die tweede keer dié jaar. Jy kan teen die vulkaan uitstap en klim as die oog nie aktief is nie. Die eiland het ook ou kraters wat ’n mens te voet of per motor kan besoek.

Die eiland spog met 'n aktiewe vulkaan.
Een van die aktiewe kraters op die eiland.


Liezl Neethling van LATTravel het onlangs ’n volgepakte week saam met haar man en vriende daar deurgebring, en sê ’n besoek op Réunion is baie anders as om Mauritius te besoek. “Réunion is nie jou tipiese oord-wat-alles-insluit-vakansie nie. Die eiland bied heelwat avontuurlustige opsies en aktiwiteite aan. Hier is selfs staproetes wat jy gratis kan aanpak.

Liezl-hulle se hoogtepunt was die berge en wat dit alles bied in terme van staptogte en trail running.

Maar die groep het ook baie ander aktiwiteite aangepak: kloofing, skubaduik, snorkel en skermsweef.

Wat kan jy alles op Réunion doen?


•    Stap, bergklim en trail running – daar is ongeveer 150 stap-/drafroetes wat baie goed gemerk is.
•    Bergfietsry
•    Perdry
•    Stap in lawa-tonnels
•    Witwater-kajakvaart
•    Skermsweef op jou eie of in tandem
•    Snorkel
•    Skubaduik
•    Kloofing

Kloofing is een van die aktiwiteite wat op die eiland aangebied word.


Volgens Liezl was hulle eerste dag die mees uitdagende een. Hulle het ’n staproete na die hoogste punt van die eiland gedoen. Daar is heelwat oornaghuise (gites in Frans – selfsorghuise wat jy kan bespreek) op die stap- en klimroetes. Liezl-hulle het egter nie genoeg tyd gehad om op die berge te oornag nie juis as gevolg van ’n volgepakte week wat nog voorgelê het.

“Twee van ons groeplede was die oud-Springbokkaptein Corné Krige en sy vrou, Justine, wat op dag een van ons besoek op die bergpaadjies van die roete gedraf het,” vertel Liezl.

Corné Krige en sy vrou, Justine.


Hulle het by Hellbourg weggespring, dit is 955 m bo seespieël en geleë in van die oudste vulkaankraters, genaamd Salazie.

Die bergroete, wat draf en stap ingesluit het, het hulle geneem na die hoogste punt op Réunion, Piton des Neiges (3 000 meter bo seespieël.) Piton des Neiges, is die hoogste punt tussen twee massiewe vulkaankraters wat nie meer aktief is nie. 

Nádat hulle hierdie hoogste punt bereik het, daal die roete af na die dorpie Cilaos op ’n hoogte van ongeveer 1 200 meter. Cilaos is in ‘n caldera geleë – ’n soort sinkgat wat ontstaan as ’n magmatonnel ineenstort. Die Kriges het die hele roete van 23 kilometer in 6 uur afgelê. Ander lede van die groep het 15 kilometer van dieselfde roete gestap in 9 uur – wat nie die hoogste punt insluit nie.

Die terrein binne-in die kraters wissel tussen bosse en paadjies in welige bergwoude. Daar is ook dele wat soos ’n maanlandskap voor jou uitstrek en dan bevind jy jou weer tussen boomwortels wat oor paadjies groei en hemelhoë bome wat na bo strek.


Die groep het een dag ’n uitdagende kloofing-roete aangepak teen rotswande en ‘n waterval af.

Die hoogste punt waar hulle moes af, was 55 meter en is gewis nie vir iemand met senuweeprobleme nie. Daar is gelukkig ook makliker en beginnersvriendelike opsies om van te kies.

Nog ’n lekker stap-en drafroete is na die Mafate-krater wat net per voet bereik kan word. Dié roete is ongeveer 21 kilometer lank.

Liezl-hulle het ook in die volgepakte week tandem-skermsweef vanaf die Weskus van Réunion gedoen en geduik by Tour de Boucan. By Saint-Gilles-les-Bains het hulle tussen koraalriwwe gesnorkel. 



Interessante feite

Réunion se hoofstad is Saint-Denis. Die eiland se bevolking is sowat 870 000.

Meeste mense daar praat die plaaslike taal, Réunion-Kreool en die amptelike taal is Frans.

Kos en restaurante is Frans en kreoolse styl.

Die eiland is 63 kilometer lank, 45 kilometer breed en beslaan 2 512 vierkante kilometer.

Lekker kos!



Reisfeite:

•    Vlugtyd is vier uur van Johannesburg af.
•    Geldeenheid: Euro’s
•    Suid-Afrikaners het nie visums nodig nie.
•    Besoek LAT TRAVEL vir meer inligting: www.lat.co.za, Facebook & Twitter @TravelLAT


Maak tyd om langs die strand te stap en die sonsondergang te geniet.